Monday, December 31

Woestyn Pret

Een van die dinge wat 'n groot aantrekkingskrag vir besoekers in die UAE het, is die woestyn .... Met ons koms 'n klompie jare terug was die woestyn baie nader aan die dorp as vroeer, en nou moet mens nogals 'n klompe km ry om dit te kry. Naweke is 'n gewilde tydperk vir mense om hulle 4x4's te neem en in die woestyn te gaan rondry. Toeriste maak gewoonlik gebruik van 'n georganiseerde toergroep om hulle woestyn in te neem. So vir William was so 'n uitstappie 'n hele nuwe ervaring.
'n Paar van die 4x4's jaag oor die duine. Die een is redelik hoog bo-op die duin.
Die groep wat op die toer gegaan het vat 'n breuk

'n Paar huise anderkant die duin

Het jy vir ons mooi foto's geneem Elise?
Hier dúrf hulle 'n groter duin aan. Ongelukkig het die foto's waar Manie, Elise en Arina groot oe maak (kan van bangheid wees) nie duidelik uitgekom nie.
Dan is dit tyd vir "sandboarding" en ek's seker William is in sy element
Hier gaan hy ....
Wonder het hy na hierdie toertjie "af geval of nie"

Die Kruis gesin saam met wie hy gegaan het

Arina gereed om dit ook te probeer
Daar gaan Elma ook ....
En natuurlik William weer

Die einde van die dag en Arina skud die sand uit haar skoene

William het darem sy skoene voor die deur gelos toe hy vanoggend huis toe gekom het.

Saturday, December 29

Watersport

Vandag is daar weer Jet Ski kampioenskappe langs die Cornish. Abu Dhabi en Dubai is nogal gewilde venues vir allerhande watersport, ek neem aan dis omdat die see hier so rustig is. Komende van die Kaap hou ek nogal daarvan om die branders te hoor en die see te ruik, maar mens sal vir ewig wag as jy dit hier wil hoor. Ek kan my by tye verkyk aan die see wat so spieelglad soos 'n plaasdam is. Vroeer die maand het die motorboot resies hier plaasgevind en William het gaan foto's neem. 'n Deinserige oggend en die bote maak gereed om te begin. Ok hier is nou nie 'n boot op die foto nie, maar ek wil julle tog 'n storie vertel. 'n Jaar of so terug was daar 'n hotel, net so 3 verdiepings hoog. Een dag toe ons daar verby ry is daar 'n bord was sê "under restoration" en nie lank daarna nie, is dit heeltemal platgeslaan. Nou bou hulle 'n baie groter hotel.Kyk net al die hyskrane! Restoration kry regtig 'n ander betekenis hier.Die bote begin met hulle opwaringsrondte. Dan is dit merke gereed gaan!!Hierdie ou het 'n goeie wegspring ...Arina is reg om klomp mooi foto's te neem. Die bote jaag vinnig in die rondte en maak selfs effense brandertjies ... Hierdie ou het nie 'n saak met die bote en/of see nie, hy's besig in sy eie droomwêreld.

Friday, December 28

'n Les in geskenke oopmaak

Is dit nie lekker om vir kinders geskenkies te gee nie? Hulle vat gewoonlik die geskenk en skeur dit oop dat jy papiere orals sien spat. Hulle WIL so gou as moontlik by die present uitkom ...en geen papier en/of linte sal in hulle pad staan nie. Hierdie Kersfees het ek gesien dat dit ook anders kan werk ... 'n kleintjie wat 'n present soooo stadig oopmaak, dat die volwassenes later wil inspring en die papier skeur! Emily was ou Kersaand by ons terwyl ons na die Nativity fliek gekyk het en voor huistoegaan tyd wou ons graag hê sy moes haar geskenk van ons af oopmaak
Groot meisies en sy dra self haar geskenkie om dit oop te maak
Eers moet die lint en strik af
Dit geskied hiper stadig. Nadat sy eintlik die lint af het, gaan hang sy dit eers om haar mamma se nek.

Die cellotape sit vas aan haar vingertjie en nou word dit eers bestudeer. Gee vir my sê Marina

Terug present toe ... waar sal ek begin skeur

Die puntjie is nou oop


Skeur nou hier Emily wys haar mamma
Nou is sy darem al op twee hande wat skeur
Amper heeltemal oop
Teen hierdie stadium was ons al op die punte van die banke, reg om te help skeur. Maar eintlik is dit klaar en kan sy die boks oopmaak ......Kan julle raai wat was binne-in? Laat weet! Indien nie, die inhoud is 'n storie heeltemal op sy eie......


Thursday, December 27

Ons kyk perde

Dis nou winter in die land en mense soek elke moontlike geleentheid om buite te wees. Saam met die koeler weer word daar ook weer perdereisies gehou. Onder normale termperatuur hier is dit te warm vir selfs die perde. 'n Mede-SAfrikaner wat die gholfbaan bestuur het 'n gaping gesien en by die klubhuis tydens die perderesies begin BBQ aande hou.

Dit het so 'n gewilde bymekaarkomplek geword dat mens nogals voor die tyd moet bespreek. Ons vrouegroep het gaan "BBQ" as afsluiting vir die jaar voordat almal weggaan vir vakansie en natuurlik wou ons ook hê Annie en Corli moet saamkuier.

Die kosse is heerlik. Die buffet het vis, groente, slaaie en nagereg EN buitekant braai hulle allerhande lekker tjoppies, steak, mielies en aartappels (Ja ek weet ons eet alweer). Hier help Amelia en Annie hulle met bietjie groente terwyl Corinna ook naderstaan.

Op die resiesbaan langs die restaurant hardloop die perde wat behoort aan sheikh elke halfuur vir groot prysgeld.
So gou-gou word die perdeboekie beloer en perde gekies. Ek kan net noem dat dobbel in die land verbode is. Ons sou ook maar sleg gevaar het want mens kies g'n 'n perd volgens sy naam of die jokkie se hempkleure nie. Annie en Corli bespreek dit baie ernstig.
Amelia en Charmaine wil egter ook 'n perd kies wat moontlik kan wen.
Die seuns verkies om die kosse uit te probeer.

So tussen-in die etery kan ons afstap na die baan toe en die perde dophou en foto's neem. Dis 'n bietjie winderig vanaand.En dan wag ons vir die perde .....party se pink of pershemp jokkie se perd kom net nooit verby nie. Dis altyd 'n lekker aand ....buite, kuier en eet met mooi perde as bonus.

Wednesday, December 26

Eet, eet en nogmals eet

Ek dink julle almal weet waarvan ek praat as ek sê mens kan jouself nogal in 'n toestand eet tydens al die groot dae en feesvieringe. Ons het reeds met verlede week terwyl Annie en Corli hier was begin. As 'n laaste kuier/eet voor hulle vlug het ons gaan Friday Brunch by die Rotana hotel. Mense julle moet weet dat mens daar nogal kan eet totdat jy lam is.

Hier is 'n deel van die buffet. Al die restaurante in die hotel (en daar is nogal baie) pak kos uit en dan ipv jou doodeet by een restaurant, doen jy dit verskeie kere by al die restaurante.
Nelmari en Corli weet nie waar om te begin nie. Agter Corli is die nagereg buffet en iets wat mens nie kan mis nie.
Die twee durf die seekos buffet aan
Die weer is heerlik en ons kan buite sit en eet
Die volgende rondte en nou probeer hulle bietjie tradisioinele kosse
Water is gesond Annie!!
Die Mexikaanse kos word ook probeer
Almal verkeer vreetsaam
Nagereg word ook 'n viergang maal
Vrugte en water ....gesondheid!
So bietjie sjokolade en ander lekker goed ook
En roomys!!!
Nou ja toe Kersfees aanbreek is die buffet weer ons Kersete. (Mens moet nogal lank voor die tyd reeds bespreek) Die kosse is bykans dieselfde maar aan die groep wat optree kan mens sien dis nie ons gewone Buffet nie ---- dis Kersfees!
Die nagereg buffet is ook in 'n feestelik versier. Sjokolade in die vorm van kersbome en kersvaders ens. Sjoe die versoeking, wat vat mens en wat nie?
Oeps uitgevang ....Charmaine en haar seun Niel wat nou hier kuier
Van die hotel personeel sing kersliedjies terwyl hulle tussen die tafels deurstap.