Thursday, July 31

Abu Dhabi droom groot

Daar word algemeen gese dat Dubai eintlik net een groot construction site is met al die bouwerk wat daar plaasvind. Hier in Abu Dhabi is daar sedert Sheikh Zayed se dood ook groot uitbreidings aan die gang, maar ons voel en sien dit nie altyd voordat dit klaar is. Een so 'n projek het ek tydens die kinders se besoek aan die Emirates Paleis van nader gaan bekyk en was vreeslik beindruk. Vir die wat nie weet nie, Abu Dhabi is eintlik 'n eiland wat slegs met twee brue bereik kan word. Orals rondom Abu Dhabi is daar kleiner eilande wat nog altyd lekker braai- en kuierplekkies was. Een van Charmaine se vriendinne het 'n paar jaar terug hier kom kuier en Eddie het ons met die boot uitgeneem na een van die eilande toe waar ons ontbyt geeet het. Hier kan julle sien hoe "vlak" die "diep" see rondom die eilande is, die boot moet ver vasgemeer word. En dan is die water so skoon, blou en warm dat mens net daar wil swem al is jou swemklere by die huis. Nog 'n eiland op die agtergrond.



Maar nou, net 'n paar jaar later het die stadsvaders geld geruik en een van die eilande Saadiyat (island of happiness) word ontwikkel. Die hele projek behoort teen 2018 klaar te wees (ek dink nie ek sal dan meer in die dorp wees nie). Die eiland sal in verskillende "distrikte" gedeel en in spesifieke temas ontwikkel word. As dit klaar is sal daar 7 distrikte wees wat oa ook behuising vir 150 000 en 'n Gary Player golfbaan insluit. Die eiland sal met twee groot brue aan Abu Dhabi verbind word. Die punt van die eiland op die foto uit hulle tydskrif sien mens die distrik wat my beindruk het, die kultuurdistrik. Dit sal oa uit 'n Guggenheim Abu Dhabi contemporary art museum, 'n Louvre Abu Dhabi universal museum, 'n performing arts centre, 'n maritime museum, die Sheikh Zayed National Museum en 'n Biennale Park met 19 paviljoene bestaan!! Leane loer na die voorbeeld van die Guggenheim Abu Dhabi wat die enigste van sy soort in die Middel Ooste sal wees en die wereld se grootste Guggenheim museum. Dit sal 320 000vk voet wees met 13 000 vk voet uitstallings spasie. Permanente en spesiale uitstallings, 'n kuns en tegnologie sentrum, opvoedingsdeel vir kinders, argriewe, biblioteek, navorsingssentrum en kuns labatorium sal deel van die Guggenheim uitmaak. Die ander een wat James so na loer is die Abu Dhabi Louvre. Hierdie projek is na aanleiding van 'n 30 jaar kultuur kontrak tussen Abu Dhabi en Frankryk en sal ook 6000vkm permanente uitstalling en 2000 vkm tydelike uitstallings huisves. Museum nr 3 is die Sheik Zayed Nasionale Museum van 130 000 vkm wat 5 uitstallings gaan huisves. Hierdie man het 'n groot rol in Abu Dhabi en die UAE se geskiedenis gespeel en selfs ons wat nog hier was met sy bewind weet dat hy 'n regte mens mens was wat omgegee het vir die land, sy mense en die besoekers aan sy land. Die uitstallings gaan (1) sy rol in die UAE geskiedenis (2) in die UAE se omgewing (3) die UAE se ontwikkeling (4) Opleiding en (5) Unity through Leadership uitbeeld. Dan is daar ook die Maritieme musuem wat geinspreer gaan is deur Abu Dhabi se natuurlik natuurskoon en die rol wat die see in sy geskiedenis gespeel het. Dis moeilik om te beskryf hoe die projek gaan lyk want dis soos 'n skip met water rondom en paadjies wat onder die water verdwyn waar besoekers na die uitstallings kan kyk. Die laaste gebou in die kultuurdistrik gaan die Uitvoerende Kunste een wees. En laat ek julle maar vertel dit is indrukwekkend. Dit gaan 62 meter hoog wees met vyf teaters, 'n musiek saal, operahuis, drama teater en 'n algemene teater wat 6300 mense kan huisves. Dit is 1100 meer as die London's Royal Albert Hall!!! Deel van hierdie kompleks gaan ook die Akademie van Uitvoerende kunste huisves.




Hierdie kultuurdistrik is die punt van die eiland, kan julle dink wat in die ander 6 distrikte beplan gaan word?!

Tuesday, July 29

Klein maatjies kuier

Die laaste paar dae is daar bietjie tong-in-die-kies gespot oor die ouderdom, maar die feit van die saak is - ons val nou in die ouma kategorie. Of soos ons nou die dag opgemerk het in 'n meningsvorm by die restaurant, die ouderdom tick is in die laaste blokkie ... ons is ampertjies van die bladsy af! Dit beteken nie ons is oud nie!

Een van die lekker dinge hier in Abu Dhabi is dat ons nou ook partykeer "ouma" kan wees vir kleintjies. Gereelde lesers sal weet dat ek graag ouma speel vir klein Emily want die meisiekind het hier by ons groot geword. Het lank laas van haar vertel want sy kuier bietjie by haar regte ouma en oupa maar gelukkig het twee oulike kleinmensies verlede week bietjie gekuier. Klein Christiaan het saam met pappa Siegfried, mamma Mariette en oom Jaco kom kuier en ek is verstom met sy woordeskat. Hy het die oulikste manier van praat en ek en Nelmari het hom vreeslik geniet. Die ou het bietjie trein-trein op die mat gespeel en gou gou was pappa Siegfried ook besig om saam te speel. Dankie vir julle kuier ouens. Dan 'n ander gesiggie wat julle behoort te herken is klein Jennifer. Sy word groter en ouliker by die dag. Sy is ons Abu Dhabi kleinkind en praat net so oulik. Ons het haar sing en dans vreeslik geniet. Sy is 'n groot Barny fan en sing graag "I love you".Natuurlik is sy 'n meisie en moes ons haar bietjie touwys maak om te shop. Hier vat sy en Nelmari die pad in Al Wahda mall. En soos julle weet word die kleintjies nie moeg nie, dis die mense wat agterna hardloop wat moeg word, so Nelmari besluit om haar liewer te dra. Dankie Sonia dat ons bietjie met julle oulike meisiekind kon kuier.

Monday, July 28

Hoe ver terug onthou jy?

Onthou julle nog die dae voor televisie? Die groot rol wat radio gespeel het? Ek het nie baie radio geluister nie, maar ek onthou hoe ons almal rondom een gesit en sport luister het. Hoe Gerhard Vivier die sportprentjie kon inkleur dat ons gevoel het ons sit daar op die pawiljoene. Ek dink daar was dalkies toe minder leunstoel-springbok-kykers ook en mens het staat gemaak op die kommentator en jou verbeelding. Jy het so saam met Ian McCullum agtertoe getree, vorentoe gehardloop en die bal sien trek .... mooi, dis oor ... nee dis mis! Of Charles Fortune wat so mooi kon vertel van die stadion waar die krieket gespeel is en die voeltjies wat wurmpies uithaal sonder om die telling te gee ...

Weeksdae het ons stories geluister op Springbokradio. Ek het nie regtig in die aand geluister nie behalwe die Top 20 en natuurlik die Sarie kompetisie. Partykeer op 'n vrydagaand het my pa ons inry toe geneem en dan moes ons wag voordat ons die luidsprekers in die motor kon aansit want pa het eers squad cars geluister. Onthou julle daardie dae? Pip Freedman, Leslie Green, Die Rise and Shine show/Ontbytsessie saam met Danie Smuts en Clark McKay? Of Esme en Jan se So maak mens Die ou advertensie klingels tussen die stories van oa Coke deur die Dealians, Chevrolet se Braai vleis en sonskyn advertensie of E N O! En die stories van Taxi, Inspector Car Investigates, Die Mannheim sage, Hospitaaltyd en Men from the Ministry. As jy op die links kliek gaan jy verseker terug in tyd want vanaf 1 Julie is Springbokradio terug op die lug (op die internet) met 'n argief vol van onthou's. Die jonges sal wil lag vir wat ons geluister het en die oues sal heerlike herinneringe he. Geniet

Friday, July 25

My laaste blog?

Ek lees op baie van die afrikaanse blogs dat die mense maar erg krapperig en moeilik met mekaar is en miskien is ek ook effens aan die moeilikheid soek met hierdie video :-), maar julle ken van versoekings ne .... Na baie oorreding van my en klomp ander .... hier is my maatjie besig om een van haar skoolhits te sing van die 40's of miskien die 20's ek's nie seker nie. (Sy was saam met emily hobhouse op skool as ek reg onthou )

Sy was oorspronklik besig om 'n liedjie te doen vir 'n kinderdiens vir Elriza toe sy teruggevoer is na lank lank lank gelede. Geniet!

ps Ek het toestemming om dit vir 'n kort tydjie gedurende 'n naweek wanneer min mense die blog lees op te sit. Al het ek toestemming gaan ek nou wegkruip vir 'n tydjie totdat die stof gaan le het. Lekker naweek almal!

Thursday, July 24

Swem saam met dolfyne en haaie

My 500 ste inskrywing vandag en die laaste stukkie oor die verlore stad. Hierdie is 'n uitsig vanaf een van die kamers op die swembaddens en hierdie een kyk uit op die waterpark ontwikkeling. Die waterpark is 17 hektaar groot.Soos ek met die vorige inskrywings vertel het gaan hierdie "Atlantis verlore stad" alles oor water, maar eers wil ek julle gou-gou wys hoe lyk die hotelkamers in die binnekant. Die kinders loer na die sitkamer gedeelte van een van die kamers. Nelmari sit by een van die skeidings tussen slaap- en badkamer. 'n Mooi groot bad om lekker in te ontspan. Die park gaan 7 waterglybane het waarvan die Ziggurat die grootste een is. Dis 9 verdiepings (30 meter) hoog en gebou op 'n Mesopotamian tempel.
Daar sal ook 'n 2.3 km witwater river rondom die eiland loop wat aansluit by dosyne onderwater tubes wat na die Atlantis ruines gaan. Die watersisteem gaan 18 miljoen liter varswater gebruik om mense by glybane op en af te skiet.
En dan is daar die "Leap of Faith" glybaan waar mense in 'n varswater glybaan laat afgly binne die soutwater lagoon vol haaie!!!

Die ouens op die glybaan kom gelukkig nie met die haaie in aanraking nie. Wat as daai buis breek?

Daar is ook die Torrent rit wat mense met "rapids" en branders van amper 2 meter stuur. By al hierdie "waterspeletjies gaan daar 3500 werkers van 20 lande wees wat toesig hou en help..

Die plek wat ek die interessantes vind is die "Dolphin Bay". Dis die grootste rehabilitasieplek vir dolfyne in die wereld en hier gaan huidiglik 28 dolfyne in 'n 11 hektar lagoon versorg word. Daar is 3 grotte kompleet met strande en selfs kwarantyn poele waar die dolfyne kan swem ens speel.Hier sal baie seediere versorg word en is dit die UAE se eerste "marina rescue and rehabilitation sentrum" en enigste in die Arabiese Golf.
Die sentrum gaan ook 'n opvoedkundige program he waar universiteite en plaaslike skole kan kom kyk en leer. Kyk net die fasiliteite.Die dolfyne wat hier is, kom almal van die Solomon Island Marine Mammal Education Center. William verkyk hom aan die TV skerms waar mens meer van die dolfyne kan leer. Net om te wys dat selfs die "dolfyne huis" soos die hotel met net die beste toegerus is. Kyk hierdie ligte.

Tuesday, July 22

Die verlore stad in Dubai

Die ondergrondse brug is nie die enigste manier om toegang tot die hotel te kry nie. Een van die mono-treine is spore loop ook oor die palm eiland en die see om by die hotel uit te kom. Op die foto kan julle mooi 'n paar van die "takke" van die eilandpalm sien. Wanneer mens eers binne is, is daar eindelose dinge wat jou mond kan laat oophang. Die gang na die ontvangsportaal toe. Die werkers nog erg besig met die afronding. Die kinders verkyk hulle aan die portaal waar daar as ek reg gehoor het, 500 mense op 'n slag in- en uitgeboek kan word. Waar sal al die mense tergelyke tyd vandaan kom wonder ek. Ek dink hulle probeer net se dat mens nie sal wag soos by party hotelle nie. Die portaalvensters wat uitkyk op van die waterparke en tuine. Dis groot ne. Dan net om te wys dat hulle nie verskriklik oorboord gegaan het nie .... die trappe van die ontvangs na die volgende vloer. Eintlik wil ek julle vandag net die vistenks wys. 'n Verteenwoordiger van die hotel se dat in groot tenke sal daar ongeveer 250 see-spesies gehuisves word wat visse eie aan die "Gulf" insluit. Baie van hierdie visse is nog nie in tenke buite die Middel Ooste gesien nie. Hulle praat van 42 miljoen liters soutwater in die tenke ...dit is huge mense. Die kinders lyk eintlik klein. In die middel van die hotel sal die "Lost Chambers" wees. Hulle se dis 'n "maze" van onderwater tonnels wat wys die land Atlantis het wel bestaan. Daar is altesaam 18 onderwater uitstallings. O en ek moet noem dat daar spesiale kombuise gebou is om al hierdie visse daagliks te voer. Hulle praat van 120 kg kos per dag!Hier loer William na een van hulle en hier kom een van die tenkinwoners hom groet. Ek wonder of die seuns hier die verlore stad bespreek? 'n Span van 165 werkers/duikers sal elke dag gebruik word om hierdie tenke skoon te maak en skoon te hou.Dis nie net die kinders wat na die visse kyk nie, hierdie ou was baie nuuskierig om vir Leane en Nelmari te kom loer. En hier hou die water van die hotel nie op nie want daar is nog 'n 4.5 h lagoon die "Dolphin Bay" en die slides maar nou het ek eers genoeg foto's afgelaai.