Sunday, September 30

Kampers

Die afgelope week het die twee seuns 'n Voortrekkerkamp in Bettiesbaai bygewoon. Ek hoop om binnekort foto's en 'n verslag hieroor van hulle te ontvang en dan te blog, maar die Smithe het vir ons die twee foto's gestuur. Omdat dit ook vandag die Voortrekkers se 76ste verjaarsdag is, deel ek die foto's met julle. Ek vermoed dit beeld die twee manne se kamp uit....


Gereelde lesers van die blog sal weet dat William van bome hou. Ek wonder of die mede-kampers en fotograaf besef het dat die man glad nie gewoond is aan Voortrekkerkampe en bome nie, want hier klim mens nogal nie palmbome nie - so as William 'n boom sien is hy binne hom. Kyk hierdie foto'tjie van hom met 'n vorige boom.

Weet nie presies watter gene dit is nie want in beide foto's lyk hy nogal gemaklik en tuis in die boom.

James darem 'n Voortrekker tot Graad 8 weet dat mens min of meer deur die program sit en kyk en tye soek waar jy 'n ruskans of 'n bad kan vat. Lyk darem of dit net na ontbyt tyd is, so hy mag dalkies kyk wanneer is die af periodes...

In iedergeval ek is seker die manne het dit geniet en ek sien uit daarna om daai foto's en kommentaar te sien en hoor!!

Saturday, September 29

Ons durf die woeste see aan

Met die somer wat nou amper op sy rug lê (as ons net vir humiditeit ook met verlof kan stuur), het ons so 'n tydjie terug vir "oulaas" bietjie gaan swem. Nie dat mens nie in die 28 grade winter kan swem nie, maar ons is nou ook lekker bederf, en mens wil in die water in sonder om asem in te trek.

Die see is vandag glad nie "rustig" nie, want die bote op die agtergrond sorg vir sulke klein golfies. Gevaarlik ek sê vir jou.

Hier en daar hang daar sulke groepies in die water

Is dit nie snaaks dat ons "rondhang" in 'n rustige see terwyl mens kry dat die mense swem in 'n onstuimige een soos by Blouberg? Charmaine ek het jou gesê ek gaan 'n foto plaas met jou in jou swemklere :-)
Terwyl ons "swem" kry die motors kans om bietjie op te vang oor die nuuste skindernuus op die motorfront. Daarvan vertel ek binnekort ....
In 'n land waar bome (behalwe palms) skaars is, vat hierdie een sy kans om by die groot dam te groei. Ek weet net nie van al die sout nie.
Die son begin ondergaan en meer mense kom koel af na die hitte
Einde van nog 'n dag. Mense hang maar nog 'n bietjie in die lou water, want hulle weet klim jy uit wag die humiditeit....

Friday, September 28

Dis jou verjaarsdag!


AMELIA


Baie Geluk met jou Verjaarsdag vandag!!

Ek weet ek gaan my rug moet dophou hierna, maar ek het jou iets spesiaals vir jou

verjaarsdag belowe.

Jy en die Papparatzi!!!!


Ek hoop jy het 'n wonderlike dag en jaar.

Liefde : Die Holloways

Thursday, September 27

Dis alweer sulke tyd

Die volleybal seisoen is op dreef en die wedstryde volg nou baie nader aan mekaar met ADSAC wat einde van Oktober voorlê.


Nelmari en Minri is op hulle pos as tellinghouers vir die Varsity span se wedstryd

Die toeskouers gereed vir die wedstryd en die groep Suid-Afrikaners hoop dis die begin van 'n goeie week vir sport


Die afrigters dink nog oor die laaste wedstryd planne en die maskot Louwtjie die Laeveld Leeu is nie teenwoordig nie. .. dis Ramadan. Wat het 'n leeu en Ramadan in gemeen? ...G'n idee nie.

En dan is die meisies ook gereed vir hulle wedstryd teen die Britse skool Al-Khubaira


Nelmari gereed en wag vir die afslaan.
Na drie naelbyt rondtes gooi hulle die hande in die lug !!!! Uiteindelik hul eerste oorwinning met 25 - 13, 22 - 25 en 25 - 23.

Go LIONS!!!

Wednesday, September 26

Bulgevegde in Fuijerah

Met ons vorige trip na Fuijerah het ons nie weer by die bulgevegte uitgekom nie, maar ek wou julle nog daarvan vertel het. Laat ek net eers gou slim klink. Die Arabiere noem dit Mnattah wat "head-butting" beteken - 'n terme wat hulle gebruik vir bulgeveg.

Anders as die Spaanse bulgevegte is hierdie een sonder bloed en slegs 'n vertoning om te sien watter bul die sterkste is. Hulle gebruik hulle horings en stoei totdat een van die tweee, die geveg gewonne gee, omdraai en wegloop.

'n Geveg duur gewoonlik twee tot drie minute. As daar nie 'n defnitiewe wenner by daai tyd is nie, is dit 'n gelykop uitslag.
Die "arena" is langs die Fujairah Cornish en mens sit sommer so op die walle of staan uit die bulle se pad en kyk. Mens loop nogals baie versugtig tussen die bulle deur wat so staan en wag vir hulle geveg want party lyk maar omgekrap.

Nadat hierdie "sport" in Sharjah verbied is, is Fujairah die enigste emirate wat nog elke Vrydag in die somer, afhangende van die weer (kanse 99% dit gaan erg sonskyn) 'n Mnattah het. Dit begin gewoonlik rondom 4 nm en duur tot 6 nm. Kalba 'n klein dorpie in die omgewing het ook 'n Mnattah liga vir die bulle. Gedurende Oktober saam met die Eid Al Fitr vieringe beplan Fujairah 'n groot bulgeveg festival vir die van julle in die dorp wat wil gaan kyk.

Tuesday, September 25

Ons speel volleyball teen Al Nahda

Na 'n redelike depressiewe sportweek met ons krieketspan wat uitgeval het en ons rugby wat maar sukkel-sukkel gewen het, het ek gehoop dat die JV Lion Volleybal span darem vir Al Nahda 'n ding of twee gaan wys.


Hulle wag .... wat gaan gebeur?

Die lyftaal sê dit gaan nie te goed met die Lions nie. So hier en daar is daar goeie spel, maar die span het teveel Philanders in wat nie die bal sien nie.

Nelmari het 'n goeie wedstryd gehad al het die Lions 3 - 0 teen Al Nahda verloor. Maar ek weet nie hoe goed die span in Syria gaan vaar nie .... die afrigters het nog baie werk. Hier slaan sy die bal terug oor die net.
Geen gebrek aan ondersteuning vir ons span nie. Behalwe vir die dogter op die linkerkant van die foto is AL die toeskouers Suid-Afrikaners. Die afrigter se probleem bly dat sy nie al die SAfrikaners laat saamspeel nie. Soos Mnr White van die Springbokke wil hulle ook die tweedes 'n beurt gee? Waarvoor tog?
Die meisies se geesdrif ontbreuk egter nie en hulle hoop dat soos verlede jaar hulle spoed op sal tel in die toernooie.

GO LIONS!!!

Monday, September 24

Vrouegroep hou Iftar

Nadat die Vrouegroep verlede week one bybelstudiekursus klaargemaak het, is besluit dat ons saam Iftar sal hou. Ongelukkig het Vanessa, Helene en Karin nie kon bywoon nie, maar ons ander het by die Hilton Towers bymekaar gekom vir 'n tradisionele Iftar ete.
Ek het gister mos vertel van hoekom en waarom hulle Iftar hou. Die hotel het nie 'n baie groot eetplek nie, maar daar was meer as genoeg kos om te eet en te probeer.
Charmaine en Emily skep van die lekker lamsvleis. Hulle noem dit Khuzi en dis 'n heel lam op gegeurde rys en 'n baie tradisionele dis.
Ooooo dit lyk asof Marina hou van wat sy nou proe. Saam met die slaaie was daar Humus (chick pea dip), Tabbuleh (slaai van gekapte tamatie, uie, mint en parsley), Baba ganush (eiervrug), Warak enab (gevulde wynblare), Felafel (patties van bone binne arabiese brood) en nog goed wat ek nie die name van ken nie.
Die klomp lyk nie heeltemal in hulle skik met my wat foto's neem terwyl hulle eet nie. Moet sê ek het hulle lanklaas so stil gesien. :-) Nog van die disse wat uitprobeer is, is die Makbus (meestal 'n lam of visgereg met rys), Biryani met gegeurde rys en natuurlik Lentil en Tamatie sop.
Nog mense wat deel van die groep is. Sonia se man was braaf genoeg om die klomp vrouens alleen aan te durf. Hulle is maar nog net 4 maande in Abu Dhabi en soos ons sê huil nuut.
Baie gou was ons by die nagereg tafel. Corinna wat self nog net 4 weke in die dorp is, skep van die lekker vars vrugte wat daar by die nagereg was .... maar laat ek julle vertel van die vroue wat agter haar wegkruip..... Elize gee nie om dat ek 'n foto neem nie, sy het mos net 'n klein baie soet verskoning vir 'n Arabiese koeksister in haar bord ....
Emily probeer die tradisionele poeding Umm Ali, 'n broodpoeding met rosyntjies en neute. Sy hou daarvan baie.
Natuurlik moet ek gou gaan loer hoe die ander dames by die nagereg vaar en met Amelia se hulp het Elize nou baie meer nagereg op haar bord. Ook sy gaan die Umm Ali probeer.


Ons het die eet en kuier baie geniet. Toe die spul "rustige" dames eindelik uitstap is daar geen ander siel meer in die restaurant oor nie en begin hulle al ernstig die tafels afdek. Ons het nog een projek volgende week voordat ons die nuwe studie aanpak .... Elize het jy jou man gewaarsku dat die dames baie sku en rustig is?

'n Paar kilometer verder by die golfklub neem Eddie 'n nuwe Suid-Afrikaner in die dorp, Steve vir 'n Iftar ete.

Julle manne wat golf speel en partykeer by die 19de putjie kuier. Hierdie eetplek is indrukwekkend ne?

Almal van ons het lekker geeet en ek sien net weereens dat die tradisionele Iftar en sy redes stadig besig is om te verdwyn want daar was slegs 'n paar dadels op die tafels en die bakke het oorgeloop van die kosse. Die mense was nie daar om die vas te breek nie maar om te EET. So ja wat hulle opmaak in die dag met vas gedurende Ramadan, vergoed hulle voor drie / viermaal meer gedurende Iftar ..... net om 'n paar uur later weer ontbyt te hê voordat die sonopkom.

Sunday, September 23

Wat is Iftar?

Ek het julle al 'n bietjie vertel van Ramadan en hoe ek dit beleef. Een van die dinge wat ek genoem het was die Iftar ( إفطار) wat verwys na die aandete en die breek van die dag se vas gedurende die maand van Ramadan. Dit geskied direk na sonsondergang en tradisioneel is dadels en water veronderstel om die eerste ding te wees wat hulle geniet.

Dit is iets wat as 'n gemeenskap en/of familie gedoen word en almal kom graag saam om die vas te breek en te kuier. Ek het so 'n paar tente gaan afneem in die omgewing waar Moslems gereed maak om mense te onthaal en te voorsien van kos. Hierdie was 'n taamlike standaard tent. Kyk die oulike armlenings vir wanneer jy op die vloer sit.


Dis die eerste keer dat ek een van hierdie deurskynende tente sien. As julle die foto vergroot sal julle die tafels en stoele aan binnekant mooi kan sien. Kyk ook al die lugreelings en waaiers wat verskaf word om dinge bietjie af te koel.


Hierdie hengse groot tent is voor een van die paleise opgeslaan. Om 'n prentjie te kry van hoe groot dit regtig is, kyk na die lugverkoelingseenhede wat langs die tent is. Daar is tien van hulle .... dis baie lank en groot!!!

Hier is nog 'n groot voor een van die villas. Kyk die wasbakke en water wat aangelê word dat hulle hande gewas kan word. Hierdie ouens doen nie sommer iets kleins nie ne. Die gekuier in die tente kan baiekeer tot in die vroee ure van die oggend aangaan.


Die Moslems glo ook dat om iemand te voed tydens Iftar is 'n groot en goeie daad. Daarmee het ek nie 'n probleem nie, maar julle moet sien hoe die mense bakke en komme voor die hekke van die villas sit om kos te kry. Ek was nog elke keer te besig om foto's van die toue en toue mense te neem (rugby en krieket ja), maar met die neem van die tente, was hierdie paar bakke reeds voor die hek om 14:00 'n hele 4 en halfwe uur voordat die vas gebreek kan word.

Vorige jare het ek gesien hoe mense in taamlike "grand" motors, 'n entjie van die villas stop en dan hulle kinders stuur om met die bakke in die ry te gaan staan. Sê mos ons moet dit ook probeer. Dis vir my partykeer al te veel na bedel ...wat natuurlik hier verbied is. As dit behoeftige mense is, is dit 'n ander saak. Miskien is dit die buurvrou wat wil sien watter kos die ander ouens vir aandete het :-).


Ek het julle mos ook vorige keer gesê dat daar baie keer kos by die moskees verskaf word. By die Lootah Moskee in Deira Dubai gee hulle daagliks vir 4800 moslems kos tydens Iftar. Hierdie tradisie het 30 jaar terug begin toe daar vir 150 honger aanbidders by die moskee kos gegee is en vandag stroom duisende, selfs van nabye Emirate soontoe om te gaan eet. Plaas hulle die taxi geld gebruik om kos te koop.


Maar soos so baie tradisies hier in die UAE is selfs die Iftar besig om te verander. Elke hotel het 'n spesiale aanbieding van etes waarvoor mens ten duurste betaal. Een goeie ding gedurende Ramadan is die feit dat daar nie alkohol gedrink mag word nie


Weg met die dadels en water, dis fancy buffets en goeters. Vanaand gaan ons Vrouegroep ook 'n Iftar bywoon, en ek vertel en wys julle more hoe dit gegaan het. Wat ek wel weet is dat ek nie daai bedrag gaan betaal vir dadels.... wat ek nie eet nie!