Monday, June 30

Ons koel so 'n bietjie af

Enige sport wat mens met 'n A/C kan speel, is redelik gewild hier, met sport op die ys as van die gewildste. So dis net goed dat ons tussen die rugby, sokker en krieket kyk op die televisie 'n bietjie gaan ysskaats ook. Hulle waarsku ons dat 'n groep van die "summer holiday camp" ook op die baan is, maar alles is redelik stil terwyl die skoene aangetrek word. Meisies en seuns trek apart aan want mens kan tog nie jou enkels vir die ander een wys nie ...Die baan is redelik vol en dit nogals tienuur in die oggend. Kyk die ou op die linkerkant met sy "rok" aan. In die winter kan hulle ook ander kleure as wit rokke dra en hierdie ou het sy winteruitrusting aan vir die skaats. Ek moes hierdie ou oppad baan toe afneem .... sy skaatse is nie vas nie en hy loop behoorlik langs die skoene. Bbbrrrr dis koud om met 'n rok te skaats. Van die meisies het jeans aan maar dra nog steeds die kopdokke terwyl hulle skaats. Ek dink dit hellp seker met die koue ook. Leane se voete is 'n bietjie wankelrig aan die begin maar sy bly bo. Die seuns kom vinnig om die baan geskaats. Kyk ma geen hande .... Leane skaats mooi op haar eie met James wat die agterhoede dek. Iets wat mens nie aldag sien nie. 'n Meisie en seun in hulle tradisionele drag saam om die ys en hulle hou mekaar vas!! Sjoe as hulle ouers moet weet sal hulle seker die ysskaatsbaan 'n sondige plek noem.

Sunday, June 29

Een van ons dorpie se sentrums

Toe ons klompie jare terug in Abu Dhabi aangekom het, was 'n winkelsentrum iets wat mens in Dubai kry. Ons het dan ook een keer 'n maand die koelbokse gelaai en die hobbelpad (wat nou 'n agt baan snelweg is) gevat om kruidenier en vleis te gaan koop. Niks vulstasies langs die pad soos nou nie en met kleiner kinders was die "woestyn ultra-city" 'n groot probleem, net sulke gat in die grond toilette. Nou is Dubai se winkelsentrums nog meer indrukwekkend en groot en ek blog en vertel graag daarvan, maar ons ou dorpie Abu Dhabi wat die hoofstad van die Emirate is, het self nou 'n paar winkelsentrums wat glad nie terugstaan vir Dubai nie. Om die waarheid te se ons verkies die rustigheid van ons winkelsentrums bo die besigwees van Dubai s'n.

Een van die winkelsentrums is die Abu Dhabi Mall. Hierdie sentrum het in April 2001 oopgemaak en het behalwe 8 rolprentteaters, 'n speelarea vir die kinders, 'n kegelbalbaan, 40 restaurante van verskillende lande (waaronder ons eie Mugg & Bean) ook 220 winkels en vorm dit ook deel van 'n groot hotelkompleks waar nog restaurante ens. is.


Die kinders het 'n bietjie daar gaan rondloop op soek na "broodnodige" klere, (het hulle ooit klere nie nodig nie?) En as hulle rondloop is dit al drie vlakke glo my.


Hier is die meisies besig om skoene aan te pas in 'n favorite van hulle Vero Mode. Dis nog lekker stil en ons het amper die mall vir onsself. Hulle drie verdwyn gou-gou in die aantrekkamers van een van die winkels, maar loer vinnig toe ek roep...


Duidelik kan mens sien wie hoef nie te loer nie, sy kan sommer bo-oor kyk. Mammas herken julle jul dogters?!

Die winkel begin besiger raak en nog steeds loop ons rond. Die meisies kyk ernstig na die specials ....

Elkeen besig met sy eie soektog. Voor regs die shop-boffen se dogter wat haar ma 'n go kan gee, en links 'n toekomste Dubai-shopper se dogter. In die middel staan die shopper!


Hier is darem nie net klere winkels nie, maar ook juweliers, skoene, rekenaars, fone, huisware en klomp meubelplekke waar onder andere my gunsteling Marina en The One. Hierdie een het egter die beste foto gemaak.

Hier is die klompie in die Beach Rotana foyer afgeneem net na ete ... (ja mens moet mos eet ook)

Saturday, June 28

Bietjie langs die Cornish

Eintlik oppad om 'n bietjie kruideniers te gaan koop, ry ons so 'n draai langs die Cornish om vir Leane van die dorp te wys noudat die sand begin verdwyn. Eers ry ons na die hawe se kant toe omdat daar 'n mall is wat hulle eers wil besoek. Op hierdie kol draai mens links dan het jy 'n woestyn eiland op die agtergrond of mens draai regs en die dorp le op die agtergrond. Die lug is nog effens deinserig, maar met minder sand en net so in die vroee 40's al voel dit baie erger. Ons ry langs die "twak en toonnaels" souk af waar daar honderde potte en plante vir 'n baie goeie prys te koop is. Nie so duur soos by die huis nie. Miskien ook omdat dit nie altyd hou in die hitte en son nie en mense moet meer gereeld kom koop. By Al Dhafra wys ons vir haar al die dhows wat uitgaan om vis te vang. Die bote is soos sardientjies ingeryg. Ek wonder altyd wat as die een die verste weg eerste wil uitvaar? Hierdie dhow is die Al Dhafra eetboot wat langs die Cornish vaar terwyl mens tradisionele Arabiese kosse eet. Die restaurant self maak voorsiening vir families (dis nou as mans en vrouens saam is) en mens kan oorkant die pad van die hoofrestaurant in klein hokkies sit in eet. Hier is die hoof restaurant. Kyk die dakke het vars groen blare op om dit meer koel te hou. Verder langs die Cornish en die water lyk baie mooi vandag alhoewel dit bietjie "onstuimig" is. Ons ry langs die breakwater af en natuurlik moet sy die hoogste vlagpaal ter wereld sien. Die twee staan so, dat mens kan sien hoe breed sy onderkant is. James probeer die hele paal inkry van die onderkant af en vang die son bo by die vlag. Leane loop tot die anderkant van die pad terwyl sy probeer om die hele vlagpaal in te kry. Kyk hoe mooi is die straatligte. Abu Dhabi van die anderkant af en mens kan die hitte sien. Mens is dors en hierdie drinkgoedmasjiene het seker van die beste uitsig wat ek van weet. En dan as ek wegloop sien ek mens kan die hele vlag van hierdie kant af inkry! Die gebou op die voorgrond met die pragtige mosaikteels is 'n kunste teater.

Friday, June 27

Dit was nou oordadig

Ja spyt kom te laat en ons voel dit aan ons lywe. Soos ek al vertel het, het ons al Maandagaand begin met die verjaarsdagetes toe almal by Noodle House gekuier het. Dinsdagoggend staan Charmaine ons vir Elriza se verjaarsdagontbyt by Rosebuds. Die verjaarsdagmeisie by van die lekker soetgoed en sy neem net een klein stukkie. Ons almal verkeer "vreetsaam", iets wat vir 'n paar dae aanhou.

Woensdagmiddag se ons "lekker vakansie" vir Corine by Chocholat en almal in die bekende posisie. Miskien dink William aan die "vis" wat hy bestel het. Woensdagaand is dit Elriza en James se verjaarsdagete by Rodeo Grill en die foto's wys ek more saam met nog 'n ander ete.Nog is dit die einde want Donderdagoggend het James sy verjaarsdagontbyt by Rosebuds. Kyk hoe gesond eet hulle. Die twee se borde is ook nie vol nie en hierdie keer het Elriza selfs die soetgoed van die vorige ontbyt 'n skip gegee.Nou het ons genoeg gehad ek's doodseker ...

Thursday, June 26

"Spar" en "jankosie"

Eintlik het die laaste dag van verjaarsdagvierings aangebreek met James se verjaarsdag. Ons hou darem al verjaarsdag vanaf 'n dag voor Elriza s'n. Weer het ons gaan ontbyt eet by die hotel, maar daarvan vertel ek later .... kan op die oomblik GLAD nie aan kos dink of na 'n prentjie/foto daarvan kyk nie. Ek het vir James en Leane as 'n treat by die Eden Spa gaan aflaai met streng opdrag van foto's en hulle het tog so mooi geluister :-). Elkeen het sy/haar handdoek, kamerjas en pantoffels gekry en ek wonder so op my sigself hoe 'n "fit all sizes" met die twee gaan werk. Op die oog af lyk dit nie te sleg, te groot of te klein nie, tot mens van nader kyk. Amptelik eergister gemeet as die kortste van almal, selfs Elriza, en die kamerjas vir normale lengtes lyk bietjie groot. Gelukkig het mens nie nodig om met die ou jas te spa nie. Hulle hang eers in die bad met spuiters rond. Vra my dis heerlik as die water so orals op jou spuit en daar is selfs spuitertjies op die bodem vir mens se voete. Hierdie vals rots het ook 'n groot spuiter wat op mens se kop, nek en skouers spuit. Lekkkeeerrr!! En dan is dit die Turkse baddens. Dit is so 'n grot-opset met elke warm bad van verskillende temperature in 'n grot. Hier is James in 'n 36 grade warmwater grot.In die middel is 'n "chill-pool" van 0 grade wat mens tussen die warm baddens moet aandurf. Ek was nog nooit braaf genoeg daarvoor nie en dit lyk asof James dit ook nie maklik vind nie. Ek onthou 'n keer toe Charmaine vir Elriza dhs100 moes betaal om dit te doen. Leane in die 35 grade bad (terloops ek en Nelmari was by die Ladies Club swembad terwyl hulle gespa het en ons buiteswembad was 31 grade). James is behoorlik in die warm water met 38 grade. Hulle vertel dat hulle die hydro en baddens twee keer gedoen het. Al die ontspanning het hulle beslis ingehaal, want skaars by die huis het Leane uitgepass vir 'n slapie.