Tuesday, April 29

'n Eerste vir AISA

Ek moet nog ernstig dink wat die voordele van "een" skool maar "twee kante" is. Dis nie 'n nuwe ding nie, want die kinders is al tien jaar hier in die skool, en op vele geleenthede was dit vir ons moeilik om met die segregasie te deel. So kon Nelmari 'n jaar of so terug nie gaan kyk as die seuns 'n wedstryd speel of omgekeerd nie en selfs tydens haar konserte, kon haar boeties nie inkom om haar te sien optree nie. So toe die skool eintlik besluit om iets te reel waar ALMAL kan saamkuier, was dit 'n groot ding en niemand was seker hoe dit in die gemeenskap aanvaar sou word nie.

Daar is besluit op 'n fondsinsameling festival wat saam met die sokkertoernooi (gister se blog) sal val. Die fondse sal gaan vir die oprigting van 'n nuwe skool vir die "special needs children" in Abu Dhabi. Die kinders en onderwysers het regtig hulle hart in die beplanning gesit want baie sou afhang van die "eerste" saam-funksie. Donasies is van maatskappye gevra van ouers van kinders en voor die funksie was daar reeds Dh90 000 in donasies ontvang. Ja julle lees reg, R180 000 om die funksie te begin reel!!

Met die geld is oa tien "karnival" speletjies gehuur waarop die kinders sal kan ry/speel en al die geld wat gemaak word gaan vir liefdadigheid. Hier wag die bul geduldig op die karnival om te begin
Daar was ook speletjies vir die kleintjies. Dit was slegs 'n skoolfunksie en elke kind kon twee gaste bring wie se name vooraf op die lys moes wees. Dus kon niemand wat moeilikheid maak ingelaat word nie.
Een van ons plaaslike hotels die Beach Rotana het die kos geborg. Die tafels word gereed gemaak en almal wag vir die funksie....gaan dit werk?Toe die hekke oopmaak, was dit sommer gou-gou of die kinders stroom in. Ek verkoop speletjie kaartjies en binne die eerste uur moet ons van die geld begin wegvat want die kas word vol. Ons tel eers ....dhs16 000 (R32 000) en die aand is nog lank. Jinne die mense het nie 'n probleem om geld te spandeer nie.

Vir die middelgroep is hierdie stoeiers/boksers die gewildste en nogal snaaks. Die klere is ongemaklik en groot en as mens eers geval het kom jy nie maklik op nie. Die kinders staan tou om hieraan deel te neem.
Die seuns hou van die watersokker en party ouens speel sommer heelparty wedstryde. In die hitte is die water ook lekker.
Meisies en seuns geniet die klimmuur baie en dis die tou wat die tweede langste is by die festival.
Die kleintjies steek ook of probeer die leeu se stert aansteek en hulle geniet dit.
Hierdie ou wag vir iemand om die teiken raak te gou dat hy in die water kan val, maar partykeer het dit bitter lank gevat.


Maar loshande die gewildste was die bul en die toue was vir ewig lank. Hierdie dogter probeer haar bes om bo te bly.
Dis laat aand en ons tel sommer die geld op die grond. Ek weet nog nie wat die insamelingsbedrag was nie, maar dis baie. Wat ek wel weet is dat behalwe vir een of twee ouers wat "gekla" het oor die seuns en meisies saam, was die aand 'n reuse sukses en het die kinders dit vreeslik geniet. 'n Eerste vir AISA maar ek kan julle vertel dis nie 'n laaste nie. Geluk AISA studente en onderwysers, veral Brett (natuurlik 'n Suid-Afrikaner) vir 'n baie goeie funksie.

Monday, April 28

Moeiliker langs die veld as op die veld

Soos julle weet was Nelmari taamblik besig op die sportveld vanjaar, maar met haar besering is sy buiteaksie vir die res van die skooljaar (tot September). Alhoewel dit vir my lekker was om haar weer vir 'n slag "normale" tyd by die skool te gaan haal, het dit baie vinnig verander toe hulle haar vra om 'n sokkerspan te help afrig vir die AISA Sokkertoernooi. En eintlik verlede week was dit groot geleentheid daar.
Ek daag laat op en die "afrigtig" is doodhonger. Op hierdie stadium het hulle al hulle wedstryde gewen en nog een nodig om te kwalifiseer vir die eindstryd twee dae later.
Die toernooi se reelings was in beheer van een van die onderwysers (natuurlik van Suid-Afrika) en het daara verskillende spanne (10 van die middelskool en 10 van die hoerskool, seuns en meisies) aan die "sokker festival deelgeneem". Met die spanne wat geborg is deur groot maatskappye in die dorp was dit baie kleurvol rondom die veld.
Sommige van die toeskouers/spelers wat na die wedstryde, seuns een kant en meisies ander kant, kyk.
Dan is dit Nelmari en Minri se span wat speel (hulle is in blou).
Terwyl hierdie klomp sit en Burger King eet. En dis dan wat die "afrigter" agterkom twee van haar spelers kuier saam en sy kom so vinnig die veld afgestap dat ek nie 'n foto kan neem nie.
Hulle word ernstig aangespreek en op die veld gestuur. Hier moet ek natuurlik ook eers vertel wat met dieselfde tweetjies met die eindstryd gebeur het. Terwyl hierdie einste twee laat opdaag vir die wedstryd, roep die "afrigter" van die ander kant van die veld hulle in 'n kwaai stem .... en daar loop die tweetjies ewe doodluiters in die middel van die veld, in die middel van die wedstryd oor na die ander kant toe. Dit gebeur nou as mens wil speel en dit oor die seuns ipv die sokker gaan. Die ene met die kopdoek is ook op 'n stadium gedwing om te kies tussen sonder of met dit speel en toe sy dit nie wil afhaal nie, is dit met heelwat "force" in 'n strik onder haar ken vasgemaak :-). Ek twyfel of hulle volgende jaar weer sal wil probeer.
Hier kom die wenspan met afrigter afgestap na hul wedstryd. Ek dink dat gedurende die volgende seisoen party mense meer aandag aan die afrigter sal gee na hierdie ondervinding. ('n Foto van die span met hulle medaljes volg binnekort)Hierdie ou wys duidelik waar sy lojaliteit le.

As 'n finale speel die onderwysers teen die eerste span en wen. Hier warm die klompie op. Ek dink dit was 'n baie suksesvolle "sokker festival" wat omtrenet 300+ kinders betrek het net deur te speel, en dan tel ons nog nie die toeskouers by nie. Hierdie gaan 'n jaarlikse ding word ek sien.

Saturday, April 26

'n Baba partytjie

Klein Emily het die 16de 'n hele 2 jaar oud geword en sy en 'n paar maatjies het "partytjie" gehou. Natuurlik wou ek, een van die twee selfaangestelde "ouma" ook die partytjie bywoon. Die kleintjies was soooo oulik en behalwe vir een, sal hulle mekaar almal in Afrikaanse babataal kan verstaan. Hier's 'n paar prentjies (moeilik om ene uit te los) vir die ouers's, oupa en ouma's
Klein Jennifer het so groot geword. Hier is sy saam met mamma Sonja.
Dis klein David, hy was die kleinste onder die klompie.
Die verjaarsdagmeisie of feetjie. Die vlerkies was bietjie lastig en later in die partytjie het sy soos 'n tipiese "social vlinder" van klere verander.
Die feetjie lyk ernstig vir die foto terwyl die ander klomp hulle sit probeer kry.
Die verjaarsdagmeisie is baie dors en drink 'n glasie lemoensap voor die partytjie (of etery) amptelik begin.
David kry 'n soentjie van mamma Lizel. Ek's seker hy wens hy kan al saam speel!
Jennifer lyk ernstig terwyl sy ook 'n drukkie en soentjie van haar mamma kry.
Is verjaarsdagmeisies nie veronderstel om koek te kry nie wonder Emily met die komkommer in haar bord.
Nog 'n maatjie klein CJ en sy mamma Santie (Elise dis spesiaal vir jou)
Die verjaarsdagmeisie met haar mamma Marina en pappa Salvador tydens die partytjie.
Partytjies kan bietjie raserig raak, dan sit mens maar onder die tafel vir stilte.
Emily blaas haar kersie dood, terwyl die maatjie kyk en ons vir haar sing.
Die blaasoefening het 'n paar keer gebeur en elke keer heet sy hom doodgeblaas ---- sy oefen vir baie kersies op 'n slag.
Dan sny sy vir ons almal 'n stukkie koek. 'n Groot verskil van die eenjaar partytjie toe sy die koek met die hand bygedam het. (Loer terug op blog van April 2007)
Die drie "oudstes" geniet die koek. Kyk net klein CJ se hande en mond.
Hier kan julle beter sien hoe hy die koek geniet het.
Emily eet stadig met die vurkie
Maar alles, ook partytjies kom tot 'n einde. Vir party net vinniger as ander. David het sommer in die middel van sy ete aan die slaap geval.

Friday, April 25

Loer bietjie hier voor die rugby

Die Super 14 staan einde se kant toe en die toetse begin binnekort. Vir party van ons is dit lekker om nou Saterdae te kyk want die Stormers vaar nie te sleg nie en vir ander van ons, sal nou nie die woord flou bulle noem nie, is Saterdae 'n nagmerrie. Maar dit kan vir almal van ons hier in die UAE en veral Abu Dhabi lekker wees om te kyk, want nou het ons ons eie slaghuis waar ons kan biltong, droe wors, ens. koop! Ja ek weet daar is heelparty Suid-Afrikaners wat hulle eie boerewors maak en persoonlik weet ek dat Sheryn & Ewert se kaaswors en Wilna & Len se chutney wors heerlik is, maar as jy biltong en droewors soek kom ondersteun Springbok Slaghuis!
Springbok Slaghuis het ookgemaak in die "vleis" gebou daar naby die groentemark by die Port en hulle is in winkel nr 37!!
Trevor is gereed om julle te help. En vir die van julle wat wonder .... ja dis Brian se boetie (mens kan sommer sien).
Die winkeltye is: Saterdae - Woensdae 08:00 - 13:00 en dan weer van 16:00 - 19:00, Donderdae vanaf 10:00 - 20:00 en Vrydae vanaf 10:00 - 14:00.
Ondersteun ons "eie" mense EN dit smaak lekker boon-op!

Thursday, April 24

My Saterdae

Die van julle wat my ken, weet dat Saterdae die meisies se mall/fliek oggende is. Ons kry nie altyd tyd om beide te doen nie, maar 'n vinnige in-en-uit in Carrefor of Lulu vir 'n paar goedjies en 'n lekker fliek is meestal waaruit ons Saterdagoggende bestaan. Met die loer deur die foto's van Afghanistan besef mens weer dat ons baie bevoorreg is om die Saterdagoggende te he, want wat sou ons doen, sou ons bv in Kabul gebly het op 'n Saterdag ....
Sou ons kon skoene koop ..... alhoewel dit tweedehand en klaar uitgetrap sal wees.
Die lywe pas nie meer regtig in denims nie, maar sou ons wou is denims wat ingedra is beskikbaar
Ons sou nie so hoef aangetrek het nie, maar 'n drinkdingetjie by die stalletjie is moontlik ipv Chocholat
Nou nie 'n foodcourt nie (alhoewel ons dit nie regtig ondersteun nie), maar dalkies KFC vir middagete
Of Pizza's ipv Bielle of FudruckersEn die Pretzelwinkel of Nacho's sou moes plekmaak vir lekker plat kaasbrode

Ek sou defnitief nie die straatmark aandurf met die heuwels nie en liewers maar ...
gaan fliek by Cinema Park soos elke Saterdag .... as daar 'n fliek wys.



Die mans kan gaan gholfspeel op Kabul se baan

Nie halfpad so sanderig soos Abu Dhabi se baan nie

En die ou kindertjies ...... wel tussen alles is daar 'n groen kolletjie gras om op te speel. Wat sal mense tussen al die vervalle, "motiveer" om met soveel moeite hulle plekkie groen te maak?