Saturday, November 12

Goeie terugblik en onthou

Dis nou al ampertjies twee maande terug wat ek saam met 'n klomp Gr 7's in die berge gekamp het, en mens wil die herinneringe vasmaak.  Boonop is die onthou's altyd spesiaal .  As jong st 2'tjie (nou Gr 4) sluit ek destyds by 'n groep Voortrekkers aan.  Ek se groep omdat ons net 5 is om mee te begin en val ons onder die vaandel van 'n groot kommando "Bellville".  Die herinneringe is vaag, mens word mos oud, maar ek onthou ons was lekker maatjies en ons het gekamp en vir een of ander rede onthou ek die feit dat ek geleer het hoe om 'n bed korrek op te maak :-).
Intussen het baie jare verloop en het ek deur die fases van Drawwertjie, Verkenner en Offisier gegaan.  Baie vriende gemaak waarvan 'n groot groep my Voortrekker familie geword het.  Vir 17 jaar is ek in die buiteland en mis ek uit,  maar met my terugkom is ek terug.  Die Gr 7 kamp was en is nog altyd een van my gunstelinge, indien nie die gunsteling.  Daar was baie kampe maar sedert 1979 hak ek gereeld by die kamp vas.  Rondom 19 keer voordat ek buiteland toe gaan en daarna weer, so vanjaar was dit nr 24.  En raai wat?  Die kinders is nog net so awesome en die leiers dierbare familie.  

Ons kamp by die pragtigeWemmershoek en na 3 baie moeilike jare laat die mooi en die mense vir my voel dis alles reg, ons gaan nou net vorentoe. Wie kan nie naby aan ons Skepper voel as mens die oggende met so 'n uitsig begin nie. 


Ek het hoop vir ons land as ek ons jongmense sien werk om dinge in die natuur te herstel en mooi te maak met soveel geesdrif.  Met al die nuwe tegnologie is baie van ons kinders skerm georienteer, en in die stilligheid wens ek die ouers kan sien hoe hulle dit geniet om te saag, vee, hark, plante te troetel en nog baie meer.

En aan die einde van hulle laaste Gr 7 kamp is daar groot vreugde vir alles wat nuut, opwindend en 'n uitdaging is vir wat nog voorle.  Ek deel hulle vreugde vir alles wat die Here vir hulle en vir my in die toekoms beplan!
"Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en 
laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid;
en wandel in die wee van jou hart en in die aanskouing van jou oe;
maar weet daat God jou oor al hirdie dinge in die gerig sal bring"
Pred 11:9
Mooi naweek!
Praat weer
Sandra

Saturday, October 22

Hier wil jy stop ... die Kaasfabriek

Een van my nuwe gunsteling paaie om te ry is die R406 en dis net daar waar ek nog een van die juwele van die omgewing raak ry, die Concordia plaas waar die Kingwill Kaasfabriek is.

Natuurlik is dit die "babatjies" wat eerste aandag trek.  Hier word die melk van die Jersey koeie gebruik om die lekkerste kase te maak. Die familie besigheid het in Januarie 2000, op 'n klein skaal sommer in die kombuis begin deur 'n verskeidenheid resepte te toets totdat hulle die perfekte een gevind het.  

Zelda is huidiglik die "kaasmaker", wat oorgevat het by haar skoonouers, maar almal spring in om te help wanneer daar tyd en hulp nodig is.  Haar regterhand, wat al 12 jaar deel van die kaasfabriek is, is Ngoni  wat ook help met die proses.  

Die kase het gou gewild geword en was dit nodig om 'n klein fabriek te bou sodat hulle kon byhou met die aanvraag na die kase. Kingwill kaas het ook toekennings gekry vir die kase wat hulle maak.  Tans is die kase by 'n verskeidenheid afsetpunte beskikbaar en ook elke Saterdag by die Greyton mark.

Daar word 18 soorte cheddars met verskillende kruie en speserye gemaak van ongepasteuriseerde melk verskaf deur hul eie Jersey koeie.   Dis moeilik om te kies tussen die verskillende soorte:  Mild Cheddar, Pepper, Smoked Jalepeno, Cumin, Mixed herbs, Olives, Chilli, Chives & Onion, Garlic & Onion, Stinging Nettle, Mustard Seed, Italian mix (sundried tomato & Basil), Corinder, Rosemary,, Smoked cheddar, Nature cheddar, Teddy's cheese en One year mature - alhoewel ek natuurlik my gunstelinge het. 
Vir kwaliteit tradisionele kaas met heerlike geure, sonder enige kleursel, kom bederf julle self en besoek die kaasfabriek persoonlik.  Zelda is 'n uitstekende gasvrou en deel graag die inligting rondom die kase.

Hier is regtig 'n geur vir elke smaak.  Net wat mens nodig het in die warm somer maande en kragonderbrekings ... 'n heerlike kaasbord met koue vleise :-) of vir die wat hou van 'n kaas- en wyn kuier.  Of ...as 'n geskenk.

Gaan maak 'n draai, jy sal nie spyt wees nie.

"Die Here het groot dinge vir ons gedoen en ons is vol vreugde"

(Psalm 126:3)

Geniet die res van julle naweek!

Ek praat weer

Sandra 

Monday, October 17

Ons gaan see toe

Die pad see toe is nie altyd die N1 of N2 vanaf ander provinsies nie, dis partykeer die kleiner en grondpaaie vanaf die binneland.  Dis een van die blessings om naby die berg en die see te wees. Hier van Riviersonderend se kant, is daar verskei roetes en ons vat presies die regte een vir wat ek nodig het om te gaan vis eet.  (Ja want visse swem in die see, hulle klim nie berg nie)

Ek is gewoond aan kraanvoels wat saam met die skape kuier, maar hierdie is een van die grootste swerm (is dit die regte versamelnaam?) kraanvoels wat ek al sien uithang het met skape. Dit lyk asof die leier gehoor het van die haan wat op die mishoop staan.
Met 'n toet probeer ons die vergadering omvergooi, maar die leier verander net van posisie terwyl die ander doodstil staan.  Die heel pad het mens hierdie pragtige prentjie van verskeie groen / geel met kraanvoels, skape en oulike lammetjies.

Struisbaai is pragtig en rustig en dit wil wil somer word alhoewel die lente nog sukkel om kop uit te steek. 
Nog een wat besig is om ander toe te spreek.  Die voels weet defnitief iets wat ons nie weet nie.  Ons luister maar en los hulle uit om die vis te gaan eet waarvoor ons gekom het.

Soo lekker om Struisbaai te geniet voordat dit somer en vol van toeriste is.  

Ons gaan draai 'n entjie verder waar die water meer stormagtig by Kaap Agulhas en die skeepswrak van die Meisha Mari wat in 1982 gestrand het.  Wonder of hulle nie die vuurtoring se lig raakgesien het nie en wat die rede vir die stranding was.

Die Here is my lig en my heil;  vir wie sou ek vrees?
Die Here is die toevlug van my lewe:  vir wie sou ek vervaard wees?
(Psalm 27:1)

Mooi dag vir jou, ek praat weer

Sandra



Monday, October 10

Laaste stasie op die roete (3)

Wanneer mens in die omgewing van Riviersonderend ry, is daar 'n paar bordjies wat Protem toe wys en ek was nogal nuuskierig om te sien hoe die dorpie lyk.  Die eerste keer wat ek van die dorpie lees is van die skool wat reeds in 1916 daar begin is, toe 'n mnr B Human 'n stukkie van sy grond afgebaken het en 'n skool en ablusie geriewe daarop gebou het.  
Baie van die omgewing se kinders het hier skoolgegaan voordat die skool in Riviersonderend begin is.  Gedurende 1915-1917 is die spoorlyn vanaf Klipdale gebou (soos vertel in vorige blog) en het die dorpie Protem as gevolg van die spoorverbinding ontwikkel.  
Graanprodukte, boerderybenodighede, lewende hawe en pos is per spoor vervoer en mettertyd het die dorpie ook sy eie poskantoor en handsentrale gehad.
Ek het ongelukkig nie 'n foto van die stasie kon neem nie, maar die spoorlyn is tot Protem aangele, met die doel om dit later tot by Swellendam te voltooi.  Omdat hierdie deel dan ook net "tydelik" was, het die stasie die naam Protem gekry, want "Pro" beteken tydelik.
Toe daar later besluit is om die spoorlyn te voltooi, was die spoorstawe te duur en die trein wat tot Swellendam moes loop te groot.  Die spoorstawe vanaf Klipdale tot Protem sou verwyder moes word want te stawe was te nou vir die groter treine.
Die gevolg was dat die spoorlyn nooit voltooi is nie, en vandag staan die woord Protem bekend as "tot hierso en nie verder nie".  Die trein vervoer nog steeds koring tussen Protem, Klipdale en Rietpoel.  

Die spoorlyn mag dalk doodgeloop het hier, maar die mooi is steeds daar en beslis 'n rit werd. 

"Alles het deur Hom tot stand gekom:  ja, nie
'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie"
(Johannes 1:3)

Hoop julle het die volg van die treinspoor saam met my geniet!

Tot 'n volgende keer

Sandra

 


Wednesday, September 28

Tussen stasies in die Overberg (2)

Ons doen nog die treinspoor roete net 'n klein entjie vanwaar ek bly.

Die bordjie wys name aan wat nie eers Google kan antwoord nie, alhoewel dit se die twee dorpies le teenaan mekaar.  Mens kan skaars die huise van Klipdaale sien, so waar begin en eindig Carolineville en wie was sy?

Hier op Klipdale, stop die trein om nog 'n paar trokke aan te haak.  Lyk nie asof iets die trein of werkers aanjaag nie, alles is rustig en behalwe vir die trein, raas die stilte. 

Ek dink dit was vroeer die stasiegebou en mens voel half hartseer oor hoe dit nou lyk.  Ek kan my net indink hoe dit in die beginjare gelyk het.

Net so langs die stasie is die ou huis, miskien die stasiemeester sin?  Dis net hier waar my kop weer die gedagte van 'n treinrit en piekniek optel en nog verder uitbrei.  Die ander kant van die huis wat op die spoorlyn uitkyk is bietjie toegegroei so mens kan nie foto's neem nie, maar ek sien 'n teetuin.  As die trein stop met sy "Overberg toeriste", kom hulle in die tuin sit en kan kies van koffie en tuisgebak, of selfs 'n tradisionele ete om die gevoel van die dorp en platteland te kry.  Sien jy dit saam met my?

'n Aktiewe skool wys dat daar nog jong mense in die dorp is en die dorp waardeur ons ry na die skool toe, is skoon en netjies.  Klipdale het ook baie baie jare terug een van die grootste plaasskole in die omgewing gehad.
En net omdat my teetuin nog nie daar is nie, moet ons by die winkel/poskantoor stop vir 'n drinkdingetjie en dan is dit verder na die volgende treinstasie ....

"Wees altyddeur bly.  Bid sonder ophou
Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God
in Christus Jesus oor julle
(1 Tessalonisensie 5:16-18)

 Lekker dag, ek praat weer

Sandra




Friday, September 23

Tussen stasies in die Overberg (1)

Tussen treine, tussen stasies
Le daar basies net die lee spore
Tussen treine, tussen stasies
Le die lee spasies van die onskuld nou verlore

Dan dink ek terug aan soveel dae, soveel stawe op die spoor
Ja, daar was voorheen 'n tyd van treine,
waar en wanneer het ons dit verloor?

Onthou jy daardie liedjie van Richard van der Westhuizen?  Met 'n rit deur die omgewing draai daai liedjie nogal in my kop.  Ons stop by die stasie wat duidelik nie meer is nie en die mooi van ou murasies trek my aandag.  
Die spoorlyn vorm deel van die Overberg lyn wat graan vervoer.  Konstruksie begin reeds in 1914 en in Januarie 1914 kom dit tot by Rietpoel, April tot by Klipdale en Protem in Junie van dieselfde jaar. Met die aanle van die spoorlyn word 'n groot probleem om die graan te vervoer opgelos en help dit om die area een van ons grootste koringproduksie gebiede te maak.  


Groot was die blydskap toe die trein ons waarsku, die lyn word nog gebruik.  

Dis so 'n mooi wereld, mens wil eintlik se, haak 'n passasiers wa aan, verkoop kaartjies en laat ander dit ook sien en selfs kom piekniek hou by die eindpunt - of soos later 'n ander idee ....

Ons ry verby pragtige plase met die mooiste groen, perde met vulletjies, skape met lammetjies, verskeidenheid voel en ou gebou wat 'n storie of twee kan vertel.  Volgende stop Klipdale ...

"U sorg vir die land en gee oorvloed,
U maak dit baie vrugbaar.
Die groot riviere is vol water, U laat die koring welig staan ...
U laat alles wwelig groei
(Psalm 65:10-11)

Praat later so tussen die loadshedding weer
Mooi dag

Sandra 

Thursday, September 8

'n Soet bederfie

Die inleiding waarmee ek wou begin was, wanneer jy in Riviersonderend stop, maak seker dat jy ook opstock vir die pad by Mari's Fudge in die Hoofstraat.  Maar as 'n ma/ouma weet ek dat 'n lang pad met gesonde woelige kinders vol soet, kan baie lank word of miskien hou jy nie van deel nie ... wat ookal die rede, die online opsie is selfs beter, want jy gaan beslis meer bestel as net 1 houer en jy kan dit "wegsteek" voordat die kinders van die skool af kom.  Loer later aan die einde vir die skakel. 

Die winkel begin met 'n storie in 2011.  Ses maande swanger met 'n bekommernis om finansieel voorbereid te wees vir die baba se koms.  Dieselfde week wat sy God vra om haar te help en lei, trap haar huishulp se man op hulle (die huishulp) se baba hondjie. Christene kom vra hulp en hulle neem  "Ounooi" na die SPCA waar hulle twee opsies kry.  'n Operasie vir die gebreekte heup wat R800 gaan kos of hulle moet haar aan die slaap sit. 

Mari dink heelaand aan hoe hulle die geld in die hande gaan kry en die volgende oggend bel sy vir Christene om vinnig te kom, hulle gaan fudge maak en in die dorp verkoop.  Die golf klub het 'n golfdag en Andre die klubkaptein bied aan om die fudge op te veil en nodeloos om te se hulle maak R800.  

Daarvandaan is daar geen einde nie, en 11 jaar later het sy 4 plaaslike mense wat saam met haar 2 ton fudge elke maand maak.  Jip 2 ton, dis baie! 


Hulle voorsien aan oor die 250 winkels en maak ook hulle eie kondensmelk om die fudge te maak.

Die moeilikste deel is om te besluit watter een jy wil proe.  Die "Crumbly Caramel" Fudge gemaak met die heerlike selfgemaakte kondensmelk, die "Chocolate Crumbly" Fudge met die kondensmelk en donker kakao, die "Honey Crumbly" fudge gemaak van kondensmelk en fynbos heuning of die "Salted Popcorn Brittle" met donker sjokolade en almond of cranberry by.  

Ek weet net een ding, en dit is dat jy dit moet proe.  Fudge is nie die maklikste soetgenot om te maak nie, dit vat werk en hier by Mari's is daar 'n toegeweide span wat dit met die hand maak vir ons wat hou van 'n soetdingetjie of twee.   

So moenie volgende keer net deurry nie, stop vir daai bederfie of bestel hier by Mari's (kliek op hier)

"Soet soos heuning is vir my U woorde,

nee, soeter as heuning, want hul gee my raad ..."

Lekker dag vir julle

Sandra 



Saturday, August 27

Laslappie en kwilt wereld

Ek is tans handeviervoet binne in die geskiedenis boeke besig om stories en feite rondom die dorpie Riviersonderend op te lees.  Dit hou my lekker positief besig want ek kry die geleentheid om met "ouer" inwoners te sit en gesels oor dit wat hulle onthou en ek sal jok as ek se ek geniet dit nie.  

As jy nou in die rigting van die dorp ry, is die pragtige lappieskombers landskap die eerste indruk van die dorp en sy omgewing.  Wat ek van lappieskombers weet is gevaarlik min - natuurlik het ek al foto's van 'n lappieskombers gesien en stories oor die maak van 'n kwilt in Amish boeke gelees, en dis sover my kennis strek.  Mmmm miskien nie heeltemal nie, ek weet dis harde werk om een te maak, en ek weet dat die eindproduk ongelooflik mooi is - net soos die huidige landskap op die oomblik.  

Dis net hier waar ek besef kwilting is nie geskiedenis nie, dis baie aktief en lewendig hier in Riviersonderend en baie gewild onder vroue ouer en jonk.    Laat ek net 'n bietjie geskiedenis ook ingooi - kwilting het sy ontstaan in Swede rondom 1500 gehad en die oudste kwilt wat ontdek is, was in 'n Egiptiese graf van die 1700.  En hoor dit ... die duurste kwilt, die "reconcillation quilt" is in 1991 vir $264 000 aan 'n museum verkoop.  Kan jy dit glo, meer as 4 miljoen rand vir 'n kwilt.

Hier op die dorp is 'n besonderse klein winkel met die naam Quilt Den.  Dis in die hoofstraat, maar jy gaan dit nie sommer net raak ry nie - jy moet by die restaurant Vn'Desden stop en deur die restaurant loop om daarby uit te kom.  Daar is 'n 99% kans dat jy vir Petro, die eienaar van Quilt Den daar gaan kry besig om aan 'n kwilt te werk.  

Dis natuurlik ook 'n skatkis met die mooiste lap en alle naaldwerk produkte wat mens kan nodig kry om 'n kwilt te maak.  En as jy al die produkte het, of jy is soos ek wat nie kop of stert van naaldwerk weet nie (ek kan darem 'n knoop aanwerk en soom insit), Petro hou gereeld werkswinkels vir beginners en gevorderde kwilters. 
As mens by 'n werkswinkel sit en hulle hoor gesels, idees uitruil, lag, mekaar help en werk, kan jy ampertjies dink dis lekker. 😀Hier word kwilts vir kleinkinders en/of kinders gemaak, vir mense wat oorsee is, vir 'n familielid, 'n spesiale geleentheid of sommer so.  Tussen-in hoor jy ook dat "eendag as ek tyd het gaan ek vir myself 'n kwilt maak".  Party stik met die masjien en ander werk met die hand, maar elke steek met liefde.

Ek kan nie dink dat mens dit enigsins vir iets anders as liefde kan doen nie, want dis harde en lang ure werk, met die pragtigste eindresultate.
As jy weer deur die dorp ry, verminder bietjie spoed en stop by Quilt Den, Hoofstraat 30 (in die Vn' Desden restaurant) en gaan loer na klaar gemaakte kwilts, ens of materiaal om jou eie een aan te pak, jy sal nie spyt wees nie.  

U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my
moeder.  Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike
wyse geskep.  Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.
Psalm 139:13-15
Mooi dag, ek praat weer
Sandra

Saturday, August 13

Pssst, het jy hierdie een gehoor?

Psssst, het jy die storie gehoor ... is seker nie hoe hulle 'n storie in die 18honderds oorvertel het nie, maar ek kan 'n prentjie rondom 'n kampvuur, langs 'n wa of rondom 'n tafel in 'n kombuis sien terwyl die nuus gedeel is. 

Net so 'n entjie tussen Riviersonderend en Swellendam, by die Sonderend Rivier, le Stormsvlei.  Vroeer jare was dit die plaas Avontuur.   Rondom 1841 koop 'n silwersmit van die Kaapkolonie en sy broer die plaas.  Hulle laat hul neef William die plaas bestuur, maar nie vir lank nie, want in 1845 erf hy al sy oom se eiendom, die plaas ook. Vir 20 jaar boer hy as oujongkerel op die plaas totdat hy in 1864 met 'n weduwee trou. 

Sy, Annie, se eerste man het so 'n paar jaar tevore selfmoord gepleeg.    Die huwelik hou nie lank nie, want in 1871 word William in die ou Stormsvlei Inn vermoor en verloor Annie weereens 'n eggenoot weens onnatuurlike dood.   Sy het die plaas nog vir 'n paar jaar alleen bestuur voordat sy dit verkoop en saam met haar kinders Kaap toe trek. 

Die moordenaar van William is nooit gevind nie, en tot vandag is daar 'n groot misterie rondom die dood van beide haar mans.  Mens kan jou net indink hoe die storie stertjie gekry het met elke oorvertel. Met ons almal se kundigheid na baie episodes van Blue Bloods, NCIS, FBI ens, sou ons 'n fees gehad het met die oplos van die vrae. 

Die handelspos van destyds met 'n poskantoor, kerk, ens. is pragtig reggemaak deur die huidige eienaars, maar dit wys ek op 'n ander dag.

"Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk" 1 Korintiers 16:13

Mooi dag, ek praat weer

Sandra

Thursday, August 4

Kop skoonmaak op die stoep

Net so 'n klein entjie, die agterstoep van waar ek bly, is die Bontebok Nasionale park. Dus toe die geleentheid kom om weer daar te gaan besoek afle, was ek opgewonde.  

Hierdie park is rondom 1931 begin en was spesifiek vir die bewaring van die Bontebok wat besig was om uit te sterf.  Met my nalees oor Riviersonderend en omgewing se geskiedenis, is daar baie baie jare terug opgeskryf oor die groot troppe Bontebokke (van oor die 2000) wat voorkom.  Natuurlik is daar groot jag gemaak op die diere1800 was daar omtrent net 17 oor en is daar besluit om 'n park te begin.  Vandag is daar ongeveer 3000 van hulle in die park .  Dis nouwel die kleinste van die Nasionale Parke, maar heerlik om net 'n bietjie af te wen en ons mooi natuur te geniet.  Behalwe die bontebokke is daar ook die grys rooibok, rooi Hartebeeste, Zebras en nog ander kleiner diere.  Ook 'n gewilde plek vir die voelkykers.   

Die park is aan die Bree rivier gelee en maak dit gewild vir mense wat wil kom visvang.

Met lekker plekke waar jy kan piekniek hou.
Of chalets waar mens kan oorslaap.

Daar is net "iets" aan om in 'n omgewing te wees waar mens rustig kan afskakel en alles te kan geniet wat God geskep het.  Daai stilte rondom jou wat mens nie sommer elders kry nie.   Daai stilte wat ons nodig het om tyd saam met ons Skepper deur te bring.  

So as jy in die omgewing is, maak dit 'n stopplek en gaan geniet.  Natuurlik moet jy deur Riviersonderend ry om daar te kom, so maak 'n draai.  

"Wees stil en weet Ek is God!"  - Psalm 46:11

Mooi dag vir julle, ek praat weer

Sandra