Wednesday, January 25

Groot bederf


Ek onthou tydens 'n familie reunie, die eerste vir my na baie jare in die buiteland, hoe die kleinkinders elkeen vertel het hoedat hulle ouma se favorite was.  Hoe sy vir hulle iets spesiaal gedoen het en dat hulle daardeur geweet het, hulle was die gunsteling.  Sy het beslis die manier gehad om elkeen spesiaal te laat voel.  

As kind was ek vinnig om uit te wys dat ek nie die gunsteling in die gesin was nie, en my kinders is maar dieselfde.  Sekere kinders is gunstelinge word gese en selfs met die honde het ek kamstig 'n gunsteling.  Wat hulle nie weet nie, is dat al drie kinders uitgewys word as gunstelinge om verskillende redes deur verskillende kinders, wat my punt bewys dat elke kind is uniek en word op 'n sekere manier hanteer wat vir hom/haar die beste is ... en ja ander kan dink dit is gunsteling materiaal.  
Ek lees in Romeine 12:6 "In His grace, God has given us different gifts for doing certain things well. So if God has given you the ability to prophesy, speak out with as much faith as God has given you. If your gift is serving others, serve them well.  If you are a teacher, teach well.  If your gift is to encourage others, be encouraging.  If it is giving, give generously.  If God has given you leadership abililty, take the responsibility seriously.  And if you have the give for showing kindness, do it gladly."


Is dit nie wonderlik dat God na my kyk as Sy kind nie.  Of ek nou geleerd is of nie, of ek 'n Christen is of nie, of ek al my tyd vir Hom gee of nie, of ek vet of maer is en of te kort skiet met so baie dinge, is ek nog steeds Sy kind, Sy gunsteling, want Hy bederf my met soveel dinge.

Hy wil he ek moet meer soos Hy raak, maar dis nie 'n vereiste om Sy kind te word nie. Hy wil he ek moet die persoon wees wat die meeste "ek" is.  Om dit wat Hy in my hart geplaas het, my passie te gebruik om nader aan Hom te kom en Hom aan ander deur my te wys.

Dink net daaraan, Hy se nie net ek of jy is sy gunsteling nie, Hy wys dit ook in alles wat Hy vir ons gee en doen.  En Hy doen dit dat almal kan sien!

Ek word selfs bederf deur twee van my gunstelinge dinge vandag, die see en bietjie reen en ek weet dat Hy ook vir jou spesiale dinge doen en jou bederf omdat Hy vir ons almal ewe lief is.

Thursday, January 19

Deur die Karoo



Verlede week het ek die geleentheid gehad om saam met 'n vriendin die pad tussen Hermanus en Johannesburg aan te pak.  Kyk, ek is baie lief vir die Kaap, maar die Karoo het sy eie bekoring.  Was baie lanklaas dat ek daar gery het, en ek het uitgesien om na die wyd uitgestrekte groot niks met bossies en koppies te kyk.  'n Stukkie aarde wat volkome van reen afhanklik is.
  
En dan vanaf Beaufort val die reen ...


God herinner my dat Hy die persoon is wat reen maak.  Alles in Sy tyd en perfekte tydsberekening.  Die pad is sommer korter en ons kan nie genoeg van die groen kry nie.  Ek kan nie regtig verduidelik nie, maar se die heeltyd vir Charmaine, dit lyk asof alles lewe.  Ek lees later by iemand wat oor die Kalahari na die reen  skryf dat die Kalahari nou wakker is,  en dis presies wat die Karoo vir my na lyk.  Dit lyk asof die koppies, die vlaktes,, die bossies, alles wakker is.  

Ek weet nie van julle nie, maar somtyds voel dit vir my asof daai patroon ook in my lewe herhaal. Erg droe tye waar mens die wolke sien maar daar is geen reen nie, en mens angstig raak oor die wag en nie weet wat om te doen nie.  


Die een ding wat ek wel weet, en wat ek ook nou in die Karoo gesien en ervaar het, is dat, God my nooit alleen los nie.  Hy is altyd daar en in Sy tyd sal die reen val soos wat ek dit nodig het.  Ek moet net geduldig wag en opkyk na Hom toe, Hy is getrou. 

En die reen wat ons soooo nodig het vir al die brande orals in die Kaap .... God is in beheer en Hy sal dit gee wat ons en die land/grond nodig het, in Sy perfekte tydsberekening ons moet net op Hom vertrou.  En terwyl ons wag, laat ons Hom gehoorsaam in alles wat ons doen, die reen is Syne om te gee.

Thursday, January 12

Nog steeds Kersfees

Dis 10 Januarie en ons Kersboom staan nog.  Die laaste paar jaar is dit tradisie dat Nelmari die boom opslaan "lei".  Die wat haar ken, weet sy kan nogal vol nonsens wees as alles nie daar is vir die opslaan nie, so  dis noodsaaklik dat sy ook leiding neem met die afslaan, sodat  alles op sy plek is vir volgende Kersfees. En met haar wat nou begin werk het, was sy lanklaas by ons.  'n Goeie verskoning vir die boom wat nog staan dink ek.  En die regte "beplanning" vir volgende jaar se opslaan.


Dis ook die tyd wat alles wat beweeg by die boom afgeneem word.  Ek sou so graag al die familie en kinders wou saamhe, maar met heelwat gebrom kon ek darem die wat by die boom opslaan is afneem. Weet nie van julle nie, maar die Kersseisoen gaan gewoonlik met heelwat beplanning gepaard.  Waar en wie gaan saamwees op Kersdag, wat gaan ons eet, en natuurlik die geskenkies wat gekoop word. Weereens vanjaar was ek kwaad vir myself omdat ek alles tot op die laaste minuut los. 

Ek dink dat vir baie van ons beteken Kersfees familie, geskenke en kos, baie daarvan.  Is dit nie maar dieselfde  soos wat ons "ander" blameer dat hul op die kommersiele uitbuit nie?  Ons kan dink ... nie ek nie, ek weet dat Kersfees oor Jesus gaan.  

Maar my vraag.  As daar nie 'n boom met versierings was nie, niks geskenkies nie, geen familie nie, sou dit nog steeds soos Kersfees gevoel het?

As Jesus se geboorte al was om te vier, sou dit nog soos Kersfees gevoel het?  Ek wil ampertjies dink nee, wat  beteken dat ek ander dinge en mense voor Christus plaas.  

Die boom kan maar nog daar staan of nie, die rede vir ons viering is Jesus se geboorte, ons Grootste geskenk. Nie net vir Kersdag nie, maar vir elke dag.
 

Friday, January 6

Saam met die haaie

So n paar dae terug het ek saam met die kinders gaan haaiduik. Ok ekself het nie regtig ingegaan nie, nie dat ek dink ek sou in pas nie,  maar ek wou gaan foto's neem. 


Met die boot wat heeltemal oorhel na die haaie se kant toe, en ek wat vastrap op die bo-dek sodat ek nie n sesgang maal word nie, sien ons baie opgewonde die eerste haai. Sy is nie gelukkig met ons nie  -  ja ons het voor die tyd geleer wat is n seuntjie en wat is n dogtertjie haai - maar dit maak vir heelwat foto geleenthede. 


By die huis toe ek rustig deur die foto's gaan, sien ek sy het n baie lelike wond en ek wonder of dit pyn soos ons wonde kan pyn. Sy moes defnitief terug baklei het toe iemand of iets haar probeer seermaak het of sy sou nie vir my fotosessie kon opdaag nie. 

Meeste van ons, ek beslis is nogals soos daai haai en altyd instinktief op die verdediging om terug te baklei.  Ek bou baie maklik n muur om te keer dat ek seerkry en maak nogals seker ek het die regte ammunisie om myself te beskerm. Bottom line ek is n vegter ook vir dit waarin ek glo. Ek lees in Exodus 14:14  (skuus my Bybel is Engels ) "The Lord will fight for you,  you need only be still. " Ek dink wat God vir my probeer se is,  Hy wil nie he ek moet altyd n vegter wees nie, Hy het iets anders in gedagte. Ek moet n oop, kwesbare, nederige en ontvanklike hart he. n Hart waar al my verdedigingsmure af is sodat Hy beter met my kan werk. 

Dis dan wat ek kan se, ek het nie myself of wapens nodig om my te verdedig nie, ek het n God. Een wat ek weet het my beste belange op die hart en wat beter na my kan kyk en omsien as wat ek ooit self kan doen. 

Hy kyk selfs na die haaie 

Sandra

Tuesday, January 3

'n Nuwe Jaar



Dis daai tyd van die jaar wat almal 'n Nuwe Jaars voorneming maak.  Het jy al?  Daai soort wat 3 dae hou en waar ons se ons gaan minder eet, meer oefen, meer met die honde stap, meer georganiseerd wees, ens.  

Vir baie bring 'n nuwe jaar, nuwe hoop en nuwe drome en ons wens dat ons die ou en slegte dinge van die vorige jaar vinnig kan vergeet.  Ek lees vanoggend in Jesaja 43:18-19 "Forget the former things, do not dwell on the past.  See, I am doing a new thing! ..."

Almal is altyd so gretig om van voor af te begin, terwyl ons weet 'n nuwe kalender, jaar of horlosie nie 'n lewensverandering kan begin nie.  Ek gaan deur 2016 se dagboek om te kyk wat moet oorgedra word vir 2017 of wat ek moet onthou of maar kan weggooi en daar is soveel goed wat ek nodig het vir 2017.  Ek kan nie net van die ou dinge vergeet nie.

Wat ek kan doen, is om 'n nuwe uitkyk op geleenthede te he en om met doelgerigtheid en passie te werk aan die nuwe uitdagings van die Nuwe Jaar... omdat ek dit kan doen in Christus.   Ek kan nie my omstandighede wegwens of verander nie, maar ek kan met n ander perspektief daarna kyk.  

So vir 2017 wil ek die jaar aanpak met God se perspektief.  Om nader aan Hom te kom en Hom deel te maak van alles wat ek doen en aanpak, om te luister as Hy praat en Hom te sien en hoor in alles rondom my!

Ek hoop ook om meer hieroor te blog.

'n Geseende 2017 vir julle!

Sandra