Friday, February 24

My persoonlike Wonderwerk


So met die verloop van die jare in die woestyn, was daar baie keer dat God sy teenwoordigheid vir my baie duidelik gewys het, veral in digte mis wanneer mens niks kan sien nie. Hier is een van hulle. Dit was jare terug en die groot snelweg, was nog 'n kameelpad met baie hobbels.  My vriendin Charmaine het kom kuier en daardie jare was daar nog nie 'n lughawe in Abu Dhabi nie, ons moes vlieg vanaf Dubai  en die vlug was gewoonlik 2:40. Dit was my eerste "solo-rit" vanaf Dubai nadat ek haar afgelaai het en die mis was iets ysliks bo-op die vaak wees.  Die ou pad het reg langs die see afgedraai wat natuurlik die mis nog meer gemaak het.  Weens die bouwerk aan die pad was ek nie seker of ek op die regte pad was nie, toe daar skielik 'n verkeersman wys ek moet stop.  Vriendelik ou (dit opsigself is 'n wonderwerk) wat vra of ek ok is om in die mis te bestuur.  Terwyl ek met hom praat kom daar 'n groot trok verby met daai geel, rooi en groen liggies agter bo-op die trok.  Ek besluit om hom te volg want dan kan ek in niks vasry en niks kan in my vasry nie. Nie net is die liggies al wat ek sien nie, maar voel ek ook veilig dat niemand per ongeluk van voor in my sal vasry nie.  

Die heel pad deur die woestyn al langs die water, daar waar Al Raha en die malls en woonblokke vandag gebou is.  Die eerste geboue wat mens kry was die ou Militere wooneenhede en daar begin die mis lig.... en tot my verbasing is daar GEEN trok in sig nie.  4:00 in die oggend en die pad is doodstil. Ek sou later sien dat trokke in die eerste plek nie op die spesifieke pad toegelaat is nie. Nodeloos om te se het die hare op my arms regop gestaan toe ek besef dat die skietgebedjie van "asseblief hou my wakker en wys my die pad" tot op die letter uitgevoer is.  Hoe waar is die woorde van Lukas 12:7 "Indeed, the very hairs of your head are all numbered.  Don't be afraid, you are worth more than many sparrows."  

Daar was nog 'n paar keer wat God my baie beslis gewys het, Hy is daar vir my en met my en ek deel dit graag 'n ander keer met julle.  Vir nou weet net, dan geen versoekie, al voel dit hoe klein en hoe onbelangrik vir Hom onbelangrik is.  

Wednesday, February 22

Gawes


Wat is my gawe?  Ek weet, of altans dink want ek het nog nie alles probeer nie, dat ek beslis nie 'n gawe het om klere te maak, of koeke te bak, of te borduur nie ... ek kan aangaan, maar ek dink julle kry dit :-).   Dan kyk ek vir my jongste, wat geen probleem het om iets nuuts aan te pak nie.  Of dit nou brei, hekel, bordeer, iets maak, houtwerk (nuutste ding) of koeke bak is.   Dit wat sy nie weet nie, sal sy google en navors en voor jy jou oe uitvee, het sy dit gemaak.  Met my werk dit nie so nie.

Met al vandag se tegnologie is antwoorde orals beskikbaar behalwe oor die lewe.  As dit so maklik was dat mens al die antwoorde in boeke, notas of google kon kry.  Wat gebeur as ek nie die antwoorde of "hoe maak mens" oor my "lewe" kan kry nie.  Hoe hanteer ek dit wanneer my vertroue   in mense en dinge teleurgestel word, of wanneer dit nie binne my vermoe is om iets spesifiek te kan doen of klaarmaak nie?  Hoe dan?

Ek moet vashou en glo dat as God dinge in my hande sit, Hy my nie sal los of laat struikel nie.  Ek sal ook nie altyd alles perfek reg kry nie, maar daarvoor se ek ook dankie Vader, dat Hy in beheer is van alles.  Met geduld, tyd en vertroue in Hom en bewus van my eie beperkings kan ek Hom vra  en weet dat dit wat ek nie regkry of kan beheer nie, perfek deur Hom gedoen sal word.

Gelukkig is daar tuisnywerhede, markies en kinders om te help as ek nie self iets met allerdaagse goed kan maak nie, en groot dankbaarheid dat God 'n bemoeienis met my het, om oor te vat en beheer te neem as ek sukkel met die "lewe" deel.   

Saturday, February 4

Geskenke en verjaarsdae

Verjaarsdae .....is maar net nog 'n dag.   As kind weet ek die opwinding is groot en daar word uitgesien na partytjie en al die wonderlike geskenke, maar op my ouderdom het dit 'n klein bietjie afgeskaal na tee en koek sal lekker wees :-).  Dit was lekker om van almal te hoor en ek is lekker bederf met hope boodskappe.  Die een waarna ek die meeste uitgesien het was om met klein Lara te praat na skool.  Dis ook tydens die "gesprek/kuiertjie" wat ek my boodskap/les kry.

Baie opgewonde en Happy Birthday ouma en met baie energie, seker van die melkskommel wat sy en haar mamma gehad het, is sy soos 'n jack in the box en vertel vir my gou sy is baie bly dis my verjaarsdag maar sy het nie vir my 'n geskenk nie.


Ons blaas 'n verjaarsdag kersie dood oor Skype en sy bevestig net weer dat sy nie vir my 'n geskenk het nie.   Ek se dis heeltemal reg, sy moet net vir my 'n prentjie teken, maar sy is vasbeslote om vir my te wys dit is NIE haar skuld dat daar nie 'n geskenk is nie.  Die foon (waarmee ons besig is om te Skype) word in die lug gehou en sy draai dit orals deur die sitkamer en eetkamer en dan kom haar rede:  "See..... do you see a Christmas tree".  Asof daar net geskenke is wanneer daar 'n Kersboom is.

Is ons nie ook baie keer so nie?  Hoeveel keer vergeet ons dat die grootste geskenk ooit Jesus is.  'n Geskenk wat ons baie keer as vanselfsprekend vat en een wat ons nie verdien nie.  Ons hoef nie te wag vir 'n kersboom nie, en dankie tog daarvoor want as ons by kersvader moes geskenke kry net wanneer ons soet was, sou daar nooit ooit enige geskenke gewees het nie.  God is nie kersvader nie, en Sy liefde vir ons is onvoorwaardelik, al verdien ons dit nie en hoef ons nie te wag vir verjaarsdae of Kersfees nie

"For God so loved the world that he gave his one and only Son, that whoever believes in him shall not perish but have eternal life (NIV)" - John 3:16