Saturday, August 27

Laslappie en kwilt wereld

Ek is tans handeviervoet binne in die geskiedenis boeke besig om stories en feite rondom die dorpie Riviersonderend op te lees.  Dit hou my lekker positief besig want ek kry die geleentheid om met "ouer" inwoners te sit en gesels oor dit wat hulle onthou en ek sal jok as ek se ek geniet dit nie.  

As jy nou in die rigting van die dorp ry, is die pragtige lappieskombers landskap die eerste indruk van die dorp en sy omgewing.  Wat ek van lappieskombers weet is gevaarlik min - natuurlik het ek al foto's van 'n lappieskombers gesien en stories oor die maak van 'n kwilt in Amish boeke gelees, en dis sover my kennis strek.  Mmmm miskien nie heeltemal nie, ek weet dis harde werk om een te maak, en ek weet dat die eindproduk ongelooflik mooi is - net soos die huidige landskap op die oomblik.  

Dis net hier waar ek besef kwilting is nie geskiedenis nie, dis baie aktief en lewendig hier in Riviersonderend en baie gewild onder vroue ouer en jonk.    Laat ek net 'n bietjie geskiedenis ook ingooi - kwilting het sy ontstaan in Swede rondom 1500 gehad en die oudste kwilt wat ontdek is, was in 'n Egiptiese graf van die 1700.  En hoor dit ... die duurste kwilt, die "reconcillation quilt" is in 1991 vir $264 000 aan 'n museum verkoop.  Kan jy dit glo, meer as 4 miljoen rand vir 'n kwilt.

Hier op die dorp is 'n besonderse klein winkel met die naam Quilt Den.  Dis in die hoofstraat, maar jy gaan dit nie sommer net raak ry nie - jy moet by die restaurant Vn'Desden stop en deur die restaurant loop om daarby uit te kom.  Daar is 'n 99% kans dat jy vir Petro, die eienaar van Quilt Den daar gaan kry besig om aan 'n kwilt te werk.  

Dis natuurlik ook 'n skatkis met die mooiste lap en alle naaldwerk produkte wat mens kan nodig kry om 'n kwilt te maak.  En as jy al die produkte het, of jy is soos ek wat nie kop of stert van naaldwerk weet nie (ek kan darem 'n knoop aanwerk en soom insit), Petro hou gereeld werkswinkels vir beginners en gevorderde kwilters. 
As mens by 'n werkswinkel sit en hulle hoor gesels, idees uitruil, lag, mekaar help en werk, kan jy ampertjies dink dis lekker. 😀Hier word kwilts vir kleinkinders en/of kinders gemaak, vir mense wat oorsee is, vir 'n familielid, 'n spesiale geleentheid of sommer so.  Tussen-in hoor jy ook dat "eendag as ek tyd het gaan ek vir myself 'n kwilt maak".  Party stik met die masjien en ander werk met die hand, maar elke steek met liefde.

Ek kan nie dink dat mens dit enigsins vir iets anders as liefde kan doen nie, want dis harde en lang ure werk, met die pragtigste eindresultate.
As jy weer deur die dorp ry, verminder bietjie spoed en stop by Quilt Den, Hoofstraat 30 (in die Vn' Desden restaurant) en gaan loer na klaar gemaakte kwilts, ens of materiaal om jou eie een aan te pak, jy sal nie spyt wees nie.  

U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my
moeder.  Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike
wyse geskep.  Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.
Psalm 139:13-15
Mooi dag, ek praat weer
Sandra

Saturday, August 13

Pssst, het jy hierdie een gehoor?

Psssst, het jy die storie gehoor ... is seker nie hoe hulle 'n storie in die 18honderds oorvertel het nie, maar ek kan 'n prentjie rondom 'n kampvuur, langs 'n wa of rondom 'n tafel in 'n kombuis sien terwyl die nuus gedeel is. 

Net so 'n entjie tussen Riviersonderend en Swellendam, by die Sonderend Rivier, le Stormsvlei.  Vroeer jare was dit die plaas Avontuur.   Rondom 1841 koop 'n silwersmit van die Kaapkolonie en sy broer die plaas.  Hulle laat hul neef William die plaas bestuur, maar nie vir lank nie, want in 1845 erf hy al sy oom se eiendom, die plaas ook. Vir 20 jaar boer hy as oujongkerel op die plaas totdat hy in 1864 met 'n weduwee trou. 

Sy, Annie, se eerste man het so 'n paar jaar tevore selfmoord gepleeg.    Die huwelik hou nie lank nie, want in 1871 word William in die ou Stormsvlei Inn vermoor en verloor Annie weereens 'n eggenoot weens onnatuurlike dood.   Sy het die plaas nog vir 'n paar jaar alleen bestuur voordat sy dit verkoop en saam met haar kinders Kaap toe trek. 

Die moordenaar van William is nooit gevind nie, en tot vandag is daar 'n groot misterie rondom die dood van beide haar mans.  Mens kan jou net indink hoe die storie stertjie gekry het met elke oorvertel. Met ons almal se kundigheid na baie episodes van Blue Bloods, NCIS, FBI ens, sou ons 'n fees gehad het met die oplos van die vrae. 

Die handelspos van destyds met 'n poskantoor, kerk, ens. is pragtig reggemaak deur die huidige eienaars, maar dit wys ek op 'n ander dag.

"Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk" 1 Korintiers 16:13

Mooi dag, ek praat weer

Sandra

Thursday, August 4

Kop skoonmaak op die stoep

Net so 'n klein entjie, die agterstoep van waar ek bly, is die Bontebok Nasionale park. Dus toe die geleentheid kom om weer daar te gaan besoek afle, was ek opgewonde.  

Hierdie park is rondom 1931 begin en was spesifiek vir die bewaring van die Bontebok wat besig was om uit te sterf.  Met my nalees oor Riviersonderend en omgewing se geskiedenis, is daar baie baie jare terug opgeskryf oor die groot troppe Bontebokke (van oor die 2000) wat voorkom.  Natuurlik is daar groot jag gemaak op die diere1800 was daar omtrent net 17 oor en is daar besluit om 'n park te begin.  Vandag is daar ongeveer 3000 van hulle in die park .  Dis nouwel die kleinste van die Nasionale Parke, maar heerlik om net 'n bietjie af te wen en ons mooi natuur te geniet.  Behalwe die bontebokke is daar ook die grys rooibok, rooi Hartebeeste, Zebras en nog ander kleiner diere.  Ook 'n gewilde plek vir die voelkykers.   

Die park is aan die Bree rivier gelee en maak dit gewild vir mense wat wil kom visvang.

Met lekker plekke waar jy kan piekniek hou.
Of chalets waar mens kan oorslaap.

Daar is net "iets" aan om in 'n omgewing te wees waar mens rustig kan afskakel en alles te kan geniet wat God geskep het.  Daai stilte rondom jou wat mens nie sommer elders kry nie.   Daai stilte wat ons nodig het om tyd saam met ons Skepper deur te bring.  

So as jy in die omgewing is, maak dit 'n stopplek en gaan geniet.  Natuurlik moet jy deur Riviersonderend ry om daar te kom, so maak 'n draai.  

"Wees stil en weet Ek is God!"  - Psalm 46:11

Mooi dag vir julle, ek praat weer

Sandra

Monday, August 1

Die stukkie wat ons mis

Ons het almal maar ons op en af ... tye wat ons God met ander vertrou maar nie met onsself nie.  

Dis 'n groot week wat vir my voorle, en daar is/was dringende goed wat afgehandel moet word sonder dat ek weet, waar, wanneer of hoe.  In my gebed gisteraand vra ek God, "asb Heer, kan ek 'n antwoord vir al die vrae moreoggend kry wanneer ek wakker word?"   Slaap is min en vanoggend is daar nog 100de moontlikhede in my kop, sonder 'n antwoord, of so het ek gedink. 

Wat ek wel kry, is om Daniel 3 te lees. Julle ken die storie van Sadrag, Mesag en Abednego wat geweier het om voor die koning te buig, in die oond gegooi is en sonder 'n skrapie lewend uitgekom het. Wat my egter tref is nie die stukkie waar hulle se "Ons het ons God vir wie ons dien, Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag" nie.  Dis die stukkie wat ons partykeer nie by lees nie.  Die stukkie wat se:  "selfs as Hy dit nie doen nie ..."

Hulle het geweet en geglo dat God dit kan doen sou Hy wil.  Die ware geloof is om te kan se, selfs as Hy dit nie doen nie, sal ek steeds glo dat God die enigste ware God is. 

Selfs al doen Hy nie wat ek wil he nie, is ek steeds lief vir Hom en vertrou ek Hom steeds.  Ek dink as ons, terwyl ons die aanslae in ons lewe ervaar, selfs al doen Hy nie wat ons vra nie, weet ons is geseend. Geseend omdat niks van waardeur ons gaan of waarmee ons moet deel, kan vergelyk met 'n ewigheid met Hom nie.  Die bietjie ongemaklikheid, pyn en ander dinge sal ook verby gaan. 

Ek hou van die gesegde wat se, om God te vertrou maak nie die berg kleiner nie, dit maak die klim makliker.  

"Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom, Hy sal sorg" Psalm 37:5

Mooi dag, ek praat weer

Sandra



.