Sunday, March 29

Waarmee speel die kinders hier

Soos julle almal nou al weet is geld nie 'n kwessie by die plaaslike of "locals" soos hulle genoem word nie. Die kinders is seker van die moeilikste, ongehoorsaamste, onbeheerbare kindertjies wat mens kan raakloop, juis omdat daar geen disipline in hulle vroeer jare mag wees nie. Self maak hulle ook nie regtig hulle kinders groot nie, dit is die kinderoppasser se rol, maar sy of hy mag nie met hulle raas nie - dus het ek al gesien hoe 'n kleintjie sonder om te dink 'n oppasser verskeie kere deur die gesig klap en dis maar ok. Hulle kry ook enigiets wat hulle wil he om mee te speel en net van die beste. Daaroor en partytjies kan ek seker 'n boek oor skryf ... maar ek dink so stadigaan besef die "ouer" geslag dat hulle kultuur en geloof (die twee loop maar hand-aan-hand hier) aan die westerlinge blootgestel is. Met die onlangse "Toy fair' het hulle ook saam met al die nuutste speelgoed op die mark, 'n bietjie van hulle "eie" speelgoed ook gehad. Miskien is dit 'n plaasvervanger vir lego of miskien vir 'n 3D legkaart, maar jy kan die moskee bou sou jy wou. Of wat van 'n piramide vir 'n pophuis? Verkies jy iets kleiners, kan hierdie handpoppe ook vir groot vermaak sorg. Die gewildste "plaaslike" speelding op die oomblik in die land is die poppe met name soos Um Saloom, Um Allawi en Um Saeed van die Freej vroue. (Volgens Nelmari beteken Um ma). Daar is tot 'n TV reeks hieroor en dis baie gewild. Hulle het 'n webblad ook waar mens meer van die karakters kan lees hier. Wat vir my interesant is, is dat die poppe ook sulke bullbars voor hulle gesigte dra soos die vroue hier wat beteken hulle spot eintlik met hulle self. Wie van julle ken die First Born poppe? Hier kry mens hulle ook met 'n witrok.:-) en dan is daar die eweknie vir die Barbie en Ken poppe. Dit kan mens nie baie kos aan popklere met alles wat swart is nie. Kyk die Fatima barbie het selfs henna op haar hande en voete. En Abdulla het sandale by sy witrok aan. Is dit nie oulik nie? My dogtertjie speel nie meer met poppe nie, so as daar enige dogtertjie is wat die stelletjie wil he moet julle my laat weet. Dan natuurlik niks met die toy fair te doen nie maar ek is ook verras met 'n nuwe speelding as 'n vroee herdenkingsgeskenk en om op die vroue Skotland/Ierland trip te neem. Pasop Annie en Charmaine (vir die toer) en almal rondom my nou, want die mamaratzi gaan nog meer foto's neem .... Kyk my nuwe Nikon D40.

Friday, March 27

Tekens van die tye?

My woorde is nog nie eers koud oor die shamal winde wat ons die afgelope dae teister nie en die weer maak nog 'n draai - net om te wys dat woestyne is nie meer wat dit was nie. Die wolke het defnitief niks goeds voorspel nie. En gou-gou val die reen in emirate soos Fuijerah, Sharjah en Dubai dat die water spat. 'n Nat rok kan nie 'n gemaklike ding wees nie ... maar nou kan ons darem sien dis koud vandag want die manne het lang onderbroeke aan :-). Thea sien jy die kompetisie vir die suidooster?! Maar anders as by die huis is hier nie stormafvoerpype nie en net 'n bietjie reen kan 'n vloed veroorsaak .... ek hoor die ou oor die radio vertel vanoggend vir die mense dat 4x4's nie van suiker gemaak is nie, hulle kan deur plassies ry. Dit bly nie by reen nie en die hael val in volle sterkte en verwar hierdie mense heeltemal. Die oproepe radio toe om die "blokke" ys wat uit die lug val te rapporteer en die sneeu was nogal baie snaaks. Hier is een van die "belangrike" opvolgmanne (2de in lyn) van Dubai met sy ou motortjie in die hael - en dit sonder 'n rok!! Wat dink julle, met al die oorloe en nou die weer en brande orals oor, is dit die teken?
(Die foto's kom van die plaaslike koerant)

Wednesday, March 25

Die woestynsand hier

Die laaste paar weke het ons nou nie 'n keuse van woestyn toe of nie want die woestyn kom na ons toe. Met die ernstige shamal wind word die woestyn dorp toe gewaai en alles is bo en onder vol sand - een van die dinge wat mens maar moet verduur en geen blink of hoe geboue of geld kan dit wegvat nie. Kyk hier hoe dit verlede jaar hierdie tyd gelyk. Na James se foto en die kinders wat so op die sandvlaktes moes slaap die afgelope naweek het ek geen ander keuse as om oor die woestyn te dink nie. Een van die "in" geskenkies jare terug was 'n raampie met die 7 sande van die UAE en vandag nog kry mens dit in die winkels. In 'n lang verduideliking beteken dit dat al 7 die emirates se woestynsand verskil in kleur van die ander. Nou hoe wil mens dan vra en is dit rerig egtig?! Ek het tussen ons ou en nuwer foto's gaan krap om te sien of ek 'n verskil kan opmerk. Die sand van Ras Al Khaimah is wit en selfs die berge daar vertoon wit.Kom mens by Abu Dhabi dan is dit ligte rooi en dis veral opmerklik as mens in die rigting van Al Ain ry. Natuurlik is daar ook al in die woestyn naby Abu Dhabi rondgejaag en vasgesit in wat vir my maar na witsand lyk. Na Dubai toe kry mens regtig rooi duine en is een van die grootste duine waarop 4x4's met toeriste jaag dan ook bekend as die "Rooi duin". Nelmari was klein en wou so graag daardie baba kammie he toe die foto geneem is. Reg langs Dubai le Sharjah ('n baie deurmekaar emirate) en sy sand is bruin. As mens na die naweek se sand op die kampterrein in Sharjah kyk, lyk dit maar ook rooierig vir my. 'n Paar km verder is dit Umm Al Qwain en volgens die raampies en botteltjies en kaartjies is die sand veronderstel om blou te wees. So het ek dit nog nooit gesien nie, maar miskien as mens jou verbeelding gebruik kan dit blou wees of hoe. Ajman is roomerig en hier waar hulle nog besig was om die souk te bou is die sand nogal roomkleurig. Fuijerah se sand is swart en hier waar James en Leane by die see in Fuijerah staan kan mens dit nogal duidelik sien. Is dit nie besonders dat elke plekkie sy eie kleur met of sonder verbeelding het nie? Nou wat ook al die regte kleure is, die sand wat nou in ons monde waai met die shamal is kleurloos maar dit proe soos sand en die suidooster in die Kaap en Augustus winde in Gauteng is 'n vulletjie teen dit.

Sunday, March 22

Ons oorleef die hitte

Wat 'n geseende kamp het ons die afgelope naweek beleef! Selfs die weer het saamgewerk en alhoewel dit gedurende die dag kokend warm was, was dit saans wonderlik. Op die kindergroep blog sal daar vir hulle hierdie hele week foto's en stories wees oor die kamp, so loer gerus in om te kyk na al die blessings van die naweek. 'n Totaal van 86 kinders en 12 volwassenes was op die kamp en glo my elkeen moes sy/haar deel doen. Terwyl die kinders lessies en/of sport gehad het, was daar gedurig iemand wat koelbokse met ys vol drinkgoed gemaak het sodat almal genoeg vloeistof kon inneem. Hier is Greg hard besig om die bokse te vul. Nelmari siek met griep en keelinfeksie wil op niks uitmis, veral nie as dit sport is nie. Geen seuns en dogters word vanjaar op hierdie terrein toegelaat om onder dieselfde dak te slaap nie, dus het die seuns die bykomende avontuur van tente in die woestyn gehad. En hulle is ver van die hoofgebou opgeslaan. En dis werklik woestyn, kyk net hierdie besonderse foto wat James van sy voetspoor oppad tente toe geneem het. Die jongmense het ook baie lekker gekuier in "af-tydjies". Saans was die lofprysing en sang iets om te beleef en die kinders kon nie genoeg kry nie. Die seniors was voordansers en sangers tydens die sang. En het hulle dit nie geniet nie. Waaroor lag jy so Nelmari? Soggens het die twee ou tannies die wonderlikste vriendin gehad wat hulle met tee en beskuit en 'n glimlag in die bed kom bederf het. Duisend dankie vir alles wat jy so in die stilligheid vir ons doen Vicky, jy's 'n baie spesiale vriendin en ons waardeer jou. James het ook saamgekamp en het gehelp by die "sports" gedeelte. Hier staan hy met arms vol chihauhaus. Dit was Charmaine se twee honde-seuns se eerste kamp en ek's seker sy sal nog daarvan vertel. Sien Sabeeha die oubaas het nou twee ander honde ....
Vir meer oor die kamp moet julle hier gaan lees.

Thursday, March 19

Hou duimvas ek maak dit

Die laaste paar dae gaan dit maar dol in die Holloway huishouding, want daar word voorberei vir ons jeugkamp dat die sand sulke stofwolke in die dorp waai! Julle weet mos wat gaan gepaard met 'n kamp, eers die bekommernis oor die min inskrywings en dan die blydskap vir die optel in getalle en dan die stres oor die teveel kinders en min spasie! Maar is dit nie 'n lekker probleem nie?! Na verlede jaar se 66 jeuglede wat gaan kamp het, staan die inskrywings vandag op 86 Suid-Afrikaanse kinders bo 10 wat more vir 3 dae 'n kerkkamp in Sharjah bywoon. Ons tema is Soldate vir Christus en ons is opgewonde en sien uit na alles wat voorle. Wees verseker ons gaan al die hoogtepunte en laagtepunte hier en op die kinderblog sit! Maar dink aan ons, want gister het die temperatuur so gelyk en die lente begin amptelik eers Saterdag! Dit gaan warrmmmmm wees!

As ons dit maak, praat ek weer in die nuwe week met julle! Geniet die naweek!

Tuesday, March 17

Wat kry mens in die woestyn?

Onthou julle daai advertensie van die man op die melkplaaas wat elke keer as sy vrou melk vra met die bakkie dorp te ry om melk te gaan koop ... net omdat hy 'n nuwe bakkie het? Ek dink dit was toyota of iets. Ons het nou so 'n situasie by die huis en die rede??!??! Danksy die feit dat ek sy vorige 4x4 afgeskryf het, kon hy vir hom 'n heeltemal nuwe speelding gaan koop. En nou hoef ek net te se ek het foto's van iets nodig en hulle spring in die motor om 'n mall te besoek. En dit van 'n man wat 'n mall in 5 min flat kan loop en altyd dink die res van die wereld is daar so hy wil liewers nie ook daar wees nie. En as mens nog oor die duine soontoe kan ry is dit nog te beter. Die misie hierdie week was die Outlet mall in Dubai. Oppad en dit lyk regtig nog soos die ou UAE wat ons leer ken het 11 jaar terug. Weg van die glans van al die malls waarvan ek al vertel het en die blink is hierdie een in die woestyn. Kyk net daar sit hy. Die mall van nader. Nog iemand wat die nuwe wiele geniet ... die foto is spesiaal vir jou William. Kom ons kyk bietjie wat is binne 'n woestyn-mall. Dit is uit en uit 'n "brand" winkelsentrum, amper soos die fabriekswinkels by die huis, net baie meer fancy. Hier word perels verkoop en die ou is besig om 'n string-te-string (is dit hoe mens dit se) op 'n klient se versoek. James aan die besluit watter winkel en hy het klaar 'n pakkie in die hand. En dan ontdek hy goud ....... 'n sportwinkel wat klomp nr 13's het!! Dis iets wat die seuns nog altyd mee gesukkel het hier - om hulle nr skoen te kry. En nou die keuses, wat moet ek vat?! William ek weet jy sou graag hier wou wees - sal jou maar Junie/Julie moet neem. Dan loop James 'n bekende raak en kyk net in watter wiele stel sy belang. Hierdie volgende foto's is spesiaal vir jou Leane. 'n Harley-fiets?! Wat volgende ... Sue die ding het nie a/c nie, jy sal warmmmmm kry!
Charmaine ons sal hier moet uitkom, daar is skoene en goed wat gekoop moet word vir daai Engeland trippie!!!