Friday, February 26

Die lang stilte

Die afgelope paar dae was dol waar baie geseend. Dit was tien dae waaraan ons voluit met en vir ons jeug hier in die UAE gewerk het en tyd vir blog was daar nie. 'n Volledige storie oor alles sal op ons kerkblog wees, maar hierdie is vir Nelmari wat een van die kampers was en natuurlik vir julle om te sien :-). Verlede naweek het ons met 'n klomp SA kinders by 'n terrein in Sharjah gekamp en ons tema was Voluit vir Christus - Olimpiese spele.

DSC_0103

Die kerk het spesiaal vir Elriza laat kom om die "jeug-predikant" op die kamp te wees en sy het verseker haar hande vol gehad met ons baie geesdriftige klomp tieners. Hier word die kamp amptelik met die aansteek van die olimpiese-fakkel gedoen. Saam met die fakkeldraer is Elriza regs (die kortste een) en die vier groepleiers, Nelmari staan net agter haar.

DSC_0105

Die vier groepe het hard gewerk aan baniere en krete vir wanneer die kompetisie begin. Die name van die groepe was die Efesiers, Romeine, Judiers en Hebreers.

DSC_0202

Na 'n eerste nag van amper niks slaap nie en waarin ek hulle verskeie kere moes vra om bietjie sagter te raas lyk hulle maar vaal en moeg tydens die eerste sessie.

DSC_0247

Op 'n stadium deur die oggend het Elriza ook vir die leiers en 'n paar jonger kampers, 'n koordans geleer wat hulle die aand sou doen. Ek het 'n video maar sukkel om dit opgelaai te kry - gaan aanhou probeer julle moet dit sien.

DSC_0407

Nelmari en haar pelle op die kamp wat vir baie min slaap maar groot geesdrif gedurende die kamp gesorg het.

Page1_1

Die spele het vir groot pret gesorg en die kinders het dit geniet. Nelmari se groep die Romeine het gewen!

DSC_0448

Die lofprysing was met groot geesdrif gedoen, deur die seniors en ...

DSC_0167

die ander kampers.

DSC_0450

En soos ons kinders dan ook baie geesdriftig gesing het, "One way Jesus, you're the only one that I live for ...."

Page2_1

Dit was maar moeilik om na so 'n kamp totsiens vir mekaar te se en die 6 legends het klomp foto's vir "onthou's" geneem.

DSC_0011

Maar die kamp was nie die einde nie, want daarna het ons tussen die emirate gery waar Elriza orals gaan praatjies met ons jongmense hou het. Dit sal ook op ons kerkblog kom. Hier is 'n paar wat die aand in Abu Dhabi nog in die gees van die kamp nie kon ophou worship nie!

Ons is almal lekker moeg maar dit was goed om te sien hoe ons jongmense nader aan Vader wil wees en met Hom 'n spesiale liefdesverhouding wil he. Dankie vir jou aandeel hierin Elriza, hoop jy het 'n veilige vlug en ons sien uit om jou baie binnekort weer saam met ons jongmense te he. Wees gewaarsku hulle beplan al klaar die volgende kamp!

Lekker naweek julle!

Liefde

Monday, February 15

Die drie wyse manne in die woestyn

Die drie wyse manne het die afgelope naweek bietjie in die woestyn gaan oorslaap - net om so 'n bietjie nader aan die sand te kom. Waar ons vroeer jare ver moes ry woestyn toe, sien mens deesdae die dorp met al die huise wat hulle al in die woestyn gebou het.

DSC_0069

Nou moet julle weet dat oorslaap in die woestyn nie sommer net iets is nie. Dis die tyd/geleentheid wat die manne al hulle sandput speelgoed kan uitpak en speel.

DSC_0070

En kamp word nie sommer net opgeslaan nie, daar word gekyk na die son, wind, maan, sterre en alles wat mag kom en uit watter rigting sodat die tent se opening op die regte plek kan wees.

DSC_0075

Eddie se lego-karretjie staan eenkant in die wind, weet nie hoekom nie. Kyk net die mooi formasies wat die sand al gewaai is.

DSC_0076

En dan staan die tentjie, bietjie skeef lyk dit vir my en mens kan ver agter die dorp se liggies sien.

DSC_0078

Daar word ernstig gekuier en gebraai en ek is seker meeste van die werk, dorp, land en wereld se probleme is aangespreek en 'n oplossing voor gekry.

DSC_0085

Sonopkoms die volgende oggend en soos ek verneem het was almal behalwe die kameraman wakker. Die ander twee het hulle bydrae tot die nag- en woestyngeluide gemaak.

DSC_0089

Die son trek water en al wat oorbly van die trippie is om nog die sand in die huis te gaan aflaai.

Wednesday, February 10

Iets besonders om te sien

Later vanjaar gaan 'n paar van ons bietjie Duitsland en Frankryk toe, en soos by alle lande is daar sekere plekke wat mens net eenvoudig moet besoek anders was jy nie daar nie. As ek 'n besoek aan Abu Dhabi moet bring, dan sal die Sheikh Zayed Moskee beslis een van my moet besoek plekke wees vir sy prag en praal. So het ek dan ook tot vervelens toe foto's van dit op my blog gesit. Loer bv hier. Maar die laaste twee aande het James en Eddie die moskee in die aand gaan besoek en hierdie is foto's van die moskee soos ek en julle dit nog nie gesien het nie.... Daar is vier baie groot minarets van 107 meter hoog op elke hoek van die moskee en die twee was op in een van hulle. Hierdie is die uitsig na die parkeerarea en tuine wat nog aan die ontwikkel is. Mens kan baie ver van hierbo af sien. Die klein helderverligte "moskee" is die graf van die gewese president van die land en 'n plek wat mens nie mag afneem nie, maar wat julle al ook op van my foto's gesien het. In die aand is dit 'n heeltemale ander prentjie.James heelbo met 'n deel van Abu Dhabi op die agtergrond.

DSC_0007

In die aand word die moskee verlig en die ligte verander in allerhande kleure wat dit 'n prentjie maak om te sien. Hier is die ligte nog nie aan nie.

DSC_0010

Een van die minarets van onder na bo afgeneem.

DSC_0022

Kyk net hoe mooi vertoon die marmer teen die lig.

DSC_0030

Alles lyk asof dit in blou gekleur is. Daar is 1096 pilare aan die buitekant van die moskee.


DSC_0033

James staan en kyk na die hoofingang terwyl die koepels blou vertoon.

DSC_0038

Die ligte, water en pilare maak 'n mooi prentjie

DSC_0039

Dis so die moeite werd om die plek te besoek.

Ons naweek begin vanaand, julle moet die res van jul week geniet.

Monday, February 8

Nuut op die spyskaart

Vir al julle “burger fans” hier is iets nuuts op die spyskaart om te probeer. Nie ‘n beef-, hoender of visburger nie, maar ‘n …… kameelburger!

2728808231

Volgens ‘n beriggie in die plaaslike koerant is hierdie burger besig om taamlik gewild onder die plaaslike inwoners en toeriste te word. En vir die vir wie dit belangrik is , en wie dit natuurlik sal glo, hierdie quarter-pounder is blykbaar vet en cholestrol vry!

Twee eetplekke in Dubai verkoop hierdie gewilde eetding en dis nogal nie in hierjy malls nie hoor!

Behalwe dat dit kameel is, wat my bekommerd maak is dat kameelvleis blykbaar harde vleis is en die eienaar van die restaurante se dis 'n geheim hoe hulle dit sag maak, behalwe deur speserye ens. te gebruik. Die prentjie wat ek in my kop kry vat my eetlus weg.

Die kameel-patty weeg so 120 gram en word bedien saam met skyfies en groenslaai. Hulle gebruik nie 'n gewone burger rolletjie nie, maar 'n vars gebakte "khameer" brood (ronde gis broodjie). Dan word die gebruiklike kaas en hulle eie maak sous bygesit. Dit kos so dhs20 (R40) en mens kan as jy wil dit afslug met kameelmelkskommel of koeldrank.

Enigeen honger?

Wednesday, February 3

Wat maak so? 'n Kat in die tuimeldroeer?

Hierdie huis en diere is iets ysliks. Ek het al baie vertel van die baba straatkatte wat Nelmari so makmaak.

P1110703

So 'n tydjie terug het hierdie brak ook by ons aangeloop gekom. Hy het seker vir Luie ons baster saluki gehoor en besluit om bietjie te kom kuier. Nie dat Nelmari dit nie geniet het nie. Nou is dit tyd om vir Friday (die dag wat hy by ons aangekom het) huis te soek.

Al die agtergrond is net om te wys dat ons lief is vir diere en hulle nie sal mishandel nie.

Die boetie en sussie straatkat wat nou al van geboorte by ons bly is iets anders. Hulle hardloop in en uit die huis asof dit hulle plek is en vergeet maar van 'n afstand hou dat mens nie kan bond nie, hierdie tweetjies maak seker dat hulle op gedruk en geliefie word.


DSC_0112

Die dogtertjie "pancakes" (haar boetie is waffles) sal enige iets doen om in die huis te kom. By die waskamer is daar sulke waaiertjies wat help as die a/c nie aan is nie en al draai die ding hoe vinnig - as sy iemand daar hoor wil sy in.


DSC_0151

Daardie pootjie en koppie is al soveel keer raakgekap as die waaier draai maar hoor is min en sy probeer elke keer weer van voor af

.

Hoe kan mens nou nie luister vir hierdie smeek nie?


Luister hoe kap die waaier daai pootjies :-). Gelukkig het sy nog nie seergekry nie.