Friday, February 27

Drie-jarige Fees!!

Drie jaar terug op 10 Februarie het 15 persone in Dubai die eerste Afrikaanse diens van die Afrikaanse Gemeente in die UAE bygewoon en vandag is daar groot verjaarsdagpartytjie gehou. Die bedieningspunte van die gemeente is Dubai, Al Ain, Abu Dhabi, Sharjah (een Afr en een Engels) en vandag trek ons in Sharjah saam.Ons moes geweet het hier kom 'n ding wat oppad stop ons by die Adnoc (soos Ultra City by die huis) vir 'n koffie en jy hoor orals net Afrikaans. Buitekant staan die motors en die mense begin al klaar oor en weer kuier voordat ons nog naby Sharjah is. Nou Sharjah is nie een van die maklikste Emirate om in te bestuur nie en wat sal ons sien toe ons die "dorp" binnery - hierdie man (wat terloops nie Afrikaans kan praat nie) met 'n bordjie wat die rigting aanwys. Hy's ene glimlag en geniet elke motor wat afdraai en vir hom waai. Kyk bietjie wat staan op die bordjie en dit in 'n Moslem land! Dit gons soos die mense bekendes raakloop. Ek kry kans om met die oulike Lotman tweeling te kuier en hulle bietjie vas te hou en loop selfs familie raak! Ronelle die foto van Monique het ongelukkig bietjie geblurrrrrrrr. Ons begin later as beplan maar dit vat 'n tydjie om al 600 mense rustig te kry. Ja kan julle glo ..... 600 Saffers by 'n kerkdiens in die UAE.



Ons begin met lofprysing en alhoewel ek nie 10% van die atmosfeer kon vasvat nie, luister net 'n bietjie hierna. (ns hierdie video lyk my wil nie oopmaak nie, sal dit weer oplaai - netwerk net soooo stadig nou)Ek's daarna betrokke by die kinders en ons het 'n wonderlike klomp kinders wat kom saam deelneem aan die versie-boeresport. Meer daaroor op die kindergroep blog later die week. 'n Mooi klompie tieners sing vir die kleintjies 'n liedjie (Nelmari in die middel). Ek sien uit daarna om hierdie klomp jongmense op ons jeugkamp later die maand te he. Terwyl die diens en speletjies aan die gang is, is daar 'n paar mense wat swoeg in die woestynsand om oor die spitbraai (daar was heelwat skape) en rooster (lekker tjops en boerewors) ogie hou. Die afdakkies en stoele van baie is al uitgepak en gereed vir die groot eet en kuier na die diens. Ek het nie foto's van die kosrye en kos geneem nie, maar kan net se dat almal se borde lekker volgelaai was en daar is 'n hond uit 'n bos of is dit 'n kameel uit 'n duin uit gekuier. Die sandmense is ook terug van hulle vakansie en lyk hulle nie uitgerus nie?

Wednesday, February 25

Die dorre woestyn

Die hitte begin so stadig aan optel en oor drie weke is dit lentedag in hierdie dorp. Vanjaar het ons seker die langste en koudste winter in ons 10+ jaar hier beleef en vandag het die temp metertjie 33 geslaan - heerlilke amper lente weer :-). So orals word daar nou blomme geplant sodat alles mooi kleurvol kan wees. Hierdie foto's is vandag oppad mall toe geneem. Maar dit was nie altyd so nie, want al is hier die mooiste fonteine, is dit 'n woestyn! Die ou sheikh het 'n groot rol gespeel in die "groen maak" van Abu Dhabi toe daar vroeg hy in bewind gekom het, begin is met die aanplant van bome orals.Maar dis nie net vir plant en laat staan nie, want elke blom of boom wat hier geplant word, kry sy eie persoonlike sproeiertjie wat sorg vir water regdeur die jaar. Eers word die grond bewerk, dan kom die besproeiingstelsel en dan die boom, struik of blom. En indien nodig word hulle lekker warm gehou en beskerm sodat hulle mooi groot en sterk kan groei. Ek sal moet jok as ek in al my tyd hier meer as 'n handvol dooie bome gesien het. Ek dink regtig ek het nog net 'n gat gesien waar een uitgehaal is. Op hierdie spesifieke strandjie moes ons sonder skaduwee toe die boompies klein was, en later lekker skaduwee toe hulle groter geword het. Nou is al die bome en struike baie groot. Kyk bietjie hier wat het William in 2007 by die dieselfde strandjie se bome aangevang. Maar vir al die groenigheid en besproeiing is water nodig en Abu Dhabi wat 90% woestyn is, het nie juis natuurlike waterbronne nie. En weet julle wat nog? Met die warm weer wat ons hier kry, het die UAE die hoogste "water consumption per capita" in die wereld in 2006 gehad, en die aanvraag word net meer en meer. En water is nie goedkoop hier nie! So waar kom dit vandaan? Die meeste van die water wat ons elke dag gebruik kom van seewater wat deur 'n streng proses van ontsouting en ontsuiwering gaan. Vir die bome, blomme en fonteine word water gebruik wat vir die tweede keer hergebruik en deur 'n suiweringsproses gaan. Die slim mense se met die geweldige groei in die UAE sal die land slegs 24 uur water he as een van daardie aanlegte moet stilstaan. Daar word ook water so 60 myl van die kus in die Liwa woestyn gepomp sodat die woestyn as watertenk dien om eendag as dit nodig is, die water weer te kan uitpomp vir gebruik.
Maar niks keer hulle om nog steeds aan te plant, fonteine te he en parke aan te le nie. Die doel van die omgewingsdepartement is in hulle woorde : "creating an oasis in the desert" en hulle het beslis in hulle doel geslaag.

Saturday, February 21

In en om die huis

Die afgelope week was 'n goeie een van twee van die Holloway kinders. Die derde een daar in Bloemfontein is doodstil en die twee by die huis wil graag spesiaal met hom deel wat met hulle hierdie week gebeur het. William jy beter van jou laat hoor! James het uiteintlik na sy studies en vakansie in SA hier in Abu Dhabi kom kuier om werk te soek. Maar hier kan mens nie sommer net niks doen nie, en ek het hom vinnig nader getrek vir die rol van "Sjef JP" in ons Kindergroep wat op die oomblik besig is met Vrugte van die Gees. Loer bietjie hier. Hier wys hy vir die kinders die liefdes "ster" in die middel van 'n appel.


Die goeie nuus is ook na 'n 7 min onderhoud by sy ou skool, American Internasional School of Abu Dhabi het hulle vir hom 'n goeie aanbod gemaak, en begin hy 1 Maart daar in die PE departement werk. Ek's baie trots op hom dat hy die werk gekry het op sy eie kwalifikasies en repetasie by die skool en nie met "wasta" nie. Die man het besluit om sy behuisingsgeld te gebruik om sy Meester en ook 'n onderwysdiploma te doen terwyl hy werk en sal dus tot tyd en wyl by ons "plak". Dit beteken dat daar ernstig skoon gemaak en weggepak word aan al die seuns se ou goed sodat hy kan nesskop. Wiliam hy kom toe gister op hierdie 9 remotes van speletjies af en blykbaar is dit net die wat nie werk nie. Nou sien ek sommer waar baie van die sakgeld ingegaan het.Nelmari het die heel week wedstryde gespeel en die naweek ook 'n toernooi. Die wedstryde in die week het hulle almal gewen en hoe dan anders met so 'n "pom-pom" ondersteuningsgroep :-). Ons ou tannies het die werk maar sit-sit gedoen. Die naweek se toernooi was teen die sterkste spanne in die UAE nl. ACS (American Community School) die aardsvyand in Abu Dhabi, DAA (Dubai Academy) die aartsvyand in Dubai en UAS (Universal American School ) die skool wat Nelmari verlede jaar van die baan gespeel het. En raai wie wen al drie .... Jip die Lions!!! GO LIONS. Die ACS is die eerste keer deur enige dogterspan van ons skool geklop, DAA is in die doodsnikke geklop en UAS is geklop nadat ons 'n agterstand van 15 punte moes inhaal. Mooi so meisies julle het uitstekend gespeel. Nou wag ons vir ISAC en die toernooi in Oman! GO LIONS!

Wednesday, February 18

Abu Dhabi soos ek dit onthou (1)

Vir 'n geruime tyd sien ek die veranderings in die dorpie waar ons bly word meer en meer. Dis ongelooflike verbeterings, maar hulle dink sommer niks daarvan om ou bestaande goed en bakens heeltemal tot niet te maak ter wille van ontwikkeling nie. Van die eerste "ou" goed wat ek wil wys en sommer op rekord kry, is die fonteine, want nog altyd was dit vir my ongelooflik dat mens in 'n woestyn soveel water kry - maar meer oor die water later. En as mens dan eers begin grawe in die ou goed, weet mens nie waar om te begin wys nie. Nou dwaal ek al weer van die fontein af, maar ek moet julle dit ook wys - met die aanplantings om die dorp groen te kry was daar orals in die dorp sulke draadbome. Die raamwerk was van draad en dan was daar sulke gate in waar hulle dan blomhouertjies met blomme ingesit het en dit het gelyk soos 'n boom vol in blom. As 'n houer blomme dood gaan is dit net eenvoudig met 'n nuwe houertjie vervang en die boom was altyd mooi groen. Besoekers is gewoonlik die boom by die ou Breakwater gewys waar ons altyd net 'n foto moes neem. Terug by die fonteine. Behalwe vir die parke was van die mooiste fonteine langs die ou Cornish (dis nou al drie Cornishe terug). Mens kon lang ente langs die see stap en orals was daar al die mooi fonteine. Seker die bekendste een en 'n groot baken was die Volcana Fontein wat 80 m hoog was. In die aand was dit verlig en het die water wat daar uitgekom het, gelyk soos 'n volkaan wat ontplot. Hierdie fontein was summier afgebreek toe hulle die nuwe Cornish gebou het. Die kinders het dit altyd geniet om rondom die fontein te loop en op en af met die trappe te hardloop. (Hulle het nie gehou van die foto nemery nie - of altans een van hulle). Nou hardloop my gedagtes al weer. Op hierdie foto sien julle die volkaanfontein op die regterkant en die linkerkant was 'n teetuin waaroor al die dames in die dorp baie opgewonde was. Vandag is dit natuurlik nie meer 'n tuin nie en is dit half in die middel van 'n baie besige snelweg en nie meer naby die see nie. Ek onthou met een van Charmaine se besoeke het ons daar langs die see gestaan en van haar foto's het in die water gewaai, vandag sien mens nie eers meer die see as jy daar staan nie. Terug fontein toe. Net oorkant die Hilton hotel was hierdie pragtige fontein wat vandag deel is van die hotel se klubfasiliteite. Daardie ronde gebou was die blyplek vir die oliemaatskappy se werkers, maar hulle is nou besig om dit ook af te breek vir iets nuuts en groter. Een van die mooistes vir my was die perelfontein. Charmaine onthou jy daai eerste besoek en die foto's wat ons daar geneem het? Daar is nou 'n perelfontein naby Marina Mall en ek's nie seker of dit dieselfde een is nie. Hierdie koffiekan met klein koppietjies wat vol water gegooi word was ook altyd een van my gunstelinge. Dan aan die anderkant van die Cornish naby die Hilton was daar ook 'n groot park wat twee pragtige fontein gehad het. Let wel gehad het! Die een was 'n aardbol en daar is ook menige foto's geneem waar mense by Afrika staan. Die ander een was van dhow bote en pragtig. Hierdie ou park word nou ontwikkel vir ek weet nog nie wat nie. Hierdie roeiboot fontein was net so besonders. Enige oud-Abu Dhabiers wat wil raai waar hierdie fontein is. In die hoofstraat het 'n klomp "monumente" (of soos James gese het toe hy klein was, ornamente) waarvan hierdie fontein een is. Die kinders bietjie ouer nou maar ook lank terug by die koffiekan. Een van die ander bekende bakens was die Valke-fontein. Hierdie fontein is afgebreek sodat die belangrike gaste 'n reguit pad na die Emirates Palace Hotel kon kry. In die aand was dit verskriklik mooi. Selfs lank terug het ons moeilik gevoel ons is in 'n woestyn as mens so by al die water verby ry. Vandag is daar selfs nog meer fontein en ek sal julle nog wys.

Monday, February 16

Is scrap Fun?

Ons vroue het weer begin met ons studie na die ongeluk en "toere" in die UAE en die onderwerp was Fun. Eerlik het ek nie veel gevoel na fun nie maar dan moet 'n mens gaan kyk wat is Fun en dankie tog Fun word nie bepaal deur mense en goed nie. Jy kry mos mense vir wie fun en pret te veel moeite is en in die proses mis mens uit op iets besonders. Maar mense kan ook deel wees van die fun en soos altyd het ons les 2 van die onderwerp, die praktiese scrap vir hope FUN in hoofletters gesorg. En hierdie keer "pik" ek op Heleen wat so mooi saamwerk vir die foto's.Om die les te scrap is glad nie maklik nie want watter papier is nou die regte kleur en wat is fun? Dit maak nie saak hoe mens daarna kyk nie .... op 'n afstand of van naby .... wat kies jy?!?!?! Nelmari weet wat sy wil doen en sy spring dadelik aan die werk en kry selfs tyd om koek tussen-in te eet. Het die flinke besluite iets met die ouderdom te doen wonder ek? Amelia is ook redelik seker van wat sy wil doen en knip en plak dat die spoeg so staan. Tussen-in kry ek 'n kyk of twee ook omdat ek van alles 'n foto wil neem ... maar mens wil dit mos verewig. Ek weet ek moet ook iets begin doen en die ligboks help. Dankie vir die raad om een te he Desire want sonder dit kan ons glad nie meer nie. En vervelig raak dit nie want ons kekkel en lag en luister selfs na 'n voorlesing deur Amelia. Weet nie hoeveel almal gehoor het nie, maar sy het in elk geval gelees. Ons mis vanaand vir Vanessa wat baie laat moes werk ... maar Heleen vat vanaand die koek met die maak van haar blad. Sy laat my dink aan 'n verkleurmannetjie want nie een foto het dieselfde kleur papier voor haar nie. Wat sal die hoofkleur wees .... pers? Miskien moet dit geel wees en sy kry nog tyd om vir Charmaine raad te gee oor kleur van alle dinge. Miskien moet ek net eers 'n teebreuk vat en weer dink wat ek regtig wil he.Wat van rooi .... dit is die kleur dink sy! Wat maak ek nou met die prentjies? Agggg nie ek sal dit maar by die huis moet klaar maak. En uiteindelik die pragtige, kleurvolle, FUN blad. Dit was al die dink en kopkrap die moeite werd Heleen!!! En hier is van die ander, voltooid of half-voltooid. As die lekker onderwerp moeilik was weet ek nie hoe gaan ons volgende week se les Freedom in Christ kan scrap nie. Enige voorstelle?