Sunday, January 31

Wanneer is mens "te" oud?

Mamma julle is soos klein kindertjies hoor ek baie as ons "ouer" vrouens somtyds bietjie verspot is. So terloops noem ek dat dit ok is, en as ek weer verjaar gaan ek 'n kinderpartytjie he.

Page1_0

Nelmari het dit onthou en die laaste week is daar hard gewerk en geoefen vir die tannie-kinderpartytjie. Sy het die oulikste blommetjies en hoedjies en handsakkies gemaak en almal moes net gedurig proe en kyk.

Ek weet party van julle het reeds die storie op Charmaine se blog gelees, maar dis vir die ander wat dit nog nie gesien het nie.

Page1

So Saterdag het Nelmari in samewerking met my maatjie vir my 'n vroee kinderpartyjie gehou. Van die cupcakes wat Nelmari gemaak het, tot die ballonne en lekker ander eetgoed het bygedra tot die heerlike partytjie. Kyk net my verjaarsdagkoek was 'n reuse cupcake!

DSC_0007

Die maatjies het almal haarstrikkies en kroontjies gehad en het te oulik gelyk.

DSC_0015

Daar is lekker gekuier en gesels terwyl ons vir almal gewag het.

Page2

Soos met alle goeie kinderpartytjies is daar ook speletjies gespeel en die maatjies het musical chairs baie geniet. Hulle het met skelmstreke soos "ou" hande vorendag gekom om die stoele gedeps te kry en Amelia wat uiteindelik gewen het, was die voorbok. Op die foto bo-regs kan julle sien hoe sy die hele ry agter haar gehou het sodat sy die stoel eerste kan kry - nie mooi nie.

Page3

Daar was ook aktiwiteit/crafts tyd en ons moes 'n gogga/insek of ietsie maak van klompe lekkergoed en versiersuiker. Kyk net hoe hard konsentreer die maatjies terwyl hulle dit maak en let op daardie strikkies in die hare :-).

Page4

Van die eindprodukte en ek was nogal beindruk met die maatjies se vindingrykheid. Hulle self was net so trots op hulle handewerk.

Page5

Tyd vir kersies blaas (met klein Dante in die arms) en dan word daar lekker geeet aan die soetgoed en heerlike sout- en melktert! Alles my favorites! Heleen wat is die probleem?

Page6

Geskenkies en kaartjies word oopgemaak en van die maatjies is heeltemal uit hulle kassie uit. Baie verspot en baie grappies :-). En vir een of ander rede is dit altyd dieselfde mense wat stout is.

DSC_0083

Onder groot lawaai en gelag en met geen kennis van wat is links en wat is regs nie, word daar gestem vir die beste versierde insek en Mariette se skoenlappertjie wen die eerste prys!

Page7

O en ek het vergeet om te noem van die GROOT ballon wat buite op die stoep vasgemaak was! Al die maatjies skryf 'n boodskappie daarop.

Baie dankie vir die reelings Charmaine en Nelmari en dankie vir julle ander wat kom saam speel en kind wees het. Dit was heerlik!


Tuesday, January 26

Berge en dale

Wat’s die prentjie wat jy kry wanneer jy dink aan ‘n woestyn? Sand, sand en nogmals sand? Miskien het van my stories al 'n ander prentjie in jou kop gesit :-). Maar komende van die Kaap is 'n groot gemis die berge!! Ry mens so bietjie weg van ons dorpie na van die ander in die emirate is daar egter 'n berg of drie te sien, veral naby wadi's.

20932_270165981851_670056851_3905789_4163154_n

Vir die wat nie weet nie, ‘n wadi is ‘n plek in die berge waar daar deur ‘n natuurlike proses ‘n pad, vallei, ens ontstaan. Dis nou nie soos daai foto'tjies geneem in ons mooi land nie Sonja, maar tog het dit sy eie bekoring.

. 20932_270142091851_670056851_3905703_483411_n

Water van opvanggebiede hardloop hier deur na enige plek waarnatoe die water wil gaan, soos die see, ‘n dam of net die vlakte. Dus is ‘n wadi soort van ‘n waterpad. Vir die arabiere beteken wadis egter valleie.

20932_270142101851_670056851_3905704_5674355_n

‘n Ander “tradisie” hier is dat wadis gebruik word om van een plek na ‘n ander tussen villages en berge ens te ry. Hier in die UAE is baie wadi’s waarvan party nog gereeld in vloed is en ander weer heeltemal uitgedroog het.

20932_270142081851_670056851_3905702_2222683_n

Van die mooiste natuurskoon hier in die UAE, is te sien wanneer mens deur so ‘n wadi ry.

20932_270165956851_670056851_3905787_5553757_n20932_270165941851_670056851_3905785_7210949_n

Hulle se as mens deur ‘n wadi ry is dit soos ‘n reis deur die geologiese geskiedenis van die aarde.

20932_270142076851_670056851_3905701_5645058_n

James ek kan sien jy en Leane slaan hier tentjie op sodat sy na die klippies kan kyk :-).

20932_270142256851_670056851_3905719_342274_n

Dis natuurlik 'n gewilde naweek aktiwiteit hier. Kyk net daai kamp!

20932_270142261851_670056851_3905720_1932628_n

En een van die redes is beslis die poele waar mens kan swem.

20932_270165946851_670056851_3905786_5983864_n

En by party hoef mens nie eers te kommer oor die ablusiegeriewe nie :-). Kompleet met plastiek afvoerpype en alles.

20932_270165971851_670056851_3905788_6502618_n

Natuurlik moet mens versigtig wees waar jy kamp opslaan want dit gebeur baie dat dit hoog op in die berge reen en dan kom die water sonder waarskuwing by die wadi's af. So 'n wadi besoek is beslis iets wat jy ten minste een keer hier moet doen.

Dankie Edna vir die foto's ek waardeer.

Saturday, January 23

'n Winter namiddag

So 'n bietjie hersiening .... julle weet dis nou winter hier en julle onthou die dorp is op 'n eiland ne?!

Een van ons gunsteling kuierplekke(lees eetplekke) is by die Sharangila-hotel net af van die eiland en die rede? Daar is heelparty nice restaurante en twee wat meer gunstelinge is. Die eet is vanaf SA, die die Meat & Co en 'n ander een het SA geregte op hulle spyskaart.

Noudat ons in die hoog winter seisoen is, kan ons self partydae buite sit en eet. Gister was een so 'n dag. Net voor William egter terug is, het ons by 'n ander plekke daar gaan eet en die ou het bietjie met ma se kamera gespeel. Wil julle net wys hoe lyk 'n wintersnamiddag hier.

DSC_0049

Daar is actually wolke en heelwat van hulle ...

DSC_0053

Vanaf die balkon by die restaurant 'n deel van die hotel links en die strandjie.

DSC_0055

Drie kano's op die strand en dis my gunsteling foto wat hy geneem het.

DSC_0057

Die moskee aan die anderkant wat vinnig besig is om toegebou te word.

DSC_0060

Die hotel na die regterkant en van die bote wat vasgemeer is.

DSC_0062

Die woeste, storm see waar mens liewers nie in die winter swem nie.

DSC_0074

Van die binnekant op die stoepie.

DSC_0070

Son besig om onder te gaan en ons eet nog steeds ....

Lekker naweek vir julle!

Thursday, January 21

Wat gaan gebeur?

Elke seisoen maak nie saak watter sport, watter span en op watter vlak, begin die span nuut en het al die betrokke ondersteuners hoop of nie vir die seisoen. Die ondersteuners van die Varsity Dogters Basketbalspan is geen uitsondering nie. Maar soos alle spanne se ondersteuners begin ons ook nou-al dink aan moontlike verskonings sou die span nie heeltemal bereik wat ons voel hulle moes nie. Ek meen in hierdie span van 10 het slegs 3 dogters verlede jaar in die span gespeel, hulle is spik splinternuut! Verlede jaar se span het bestaan uit ten minste 7 uitstekende spelers wat in enige varsity span kon speel - en nou vanjaar ....?

Dxb college

En wat gaan doen die afrigter met hierdie "groentjies"? Hy reel in die eerste vier wedstryde van die seisoen, 3 teen die beste en sterkste skole hier in die UAE en ons begin kyk na nog 'n verskoning .... hoekom moet hulle moed gebreek word al in die eerste paar wedstryde, dis so verkeerd en so onregverdig. Die dogters moet mos eers hulle basketbalvoete vind of hoe? Ons eerste wedstryd is teen Dubai College en alhoewel dit vir die eerste 2 helftes kop aan kop verloop, wen ons dogters 31 - 18. Nie sleg nie. En natuurlik speel nr 25 met die blou kniestut 'n uitstekende wedstryd :-).

DAA

Maar ons moet nie gerus raak nie, want die tweede wedstryd word gespeel teen DAA (ook van Dubai) en nog altyd ons menace. Dis 'n naelbyt stryd en die meisies speel hard. Ons arme ondersteuners op die pawiljoen se hart gaan elke keer staan as die kompetisie die hele span sub en vars bene opsit terwyl ons dogters blaas - maar hulle het hart en daar word geklou vir al wat hulle werd is aan die bal - ons wen 36 - 27!!! Yippie!!!

Choiffat

Die derde wedstryd is 'n oefening wedstryd teen Chouieifat en nadat die span 'n groot voorsprong opgebou het bring die afrigter die nuwelinge op terwyl die ander bietjie rus. Goeie oefening vir hulle en met 'n groot telling van 48 - 11 kry ek nie eers kans om die bord af te neem nie. Die kinders moet maar die oorwinning geniet want hulle grootste kopseer ACS le voor.

Page5

Dis altyd die wedstryd met die meeste ouers amper soos 'n Gim teen Paul Roos en synde dit by hulle veld is, is ons klomp Leeu-ouers in die minderheid. Maar hoe langer die wedstryd aangaan, hoe stiller raak dit rondom ons en ons dogters speel hulle hart uit. Min balle kom by 25 verby en al is sy gemerk in die wedstryd, deur die oposisie en skeidsregter speel sy net soos haar ander maats 'n baie goeie wedstryd.

Page6

Nodeloos om te se dat daar groot vreugde was met hulle 38 - 19 oorwinning. Nou le die eksamens voor en dan is dit alles weer van voor af vir hulle eerste toernooi van die seisoen. Mooi so meisies ons is trots op julle en nou het julle nie meer verskonings vir die ander wedstryde nie - julle het reeds die "vorige bestes" gewen, die toernooie is julle s'n!

Go Lions!

Monday, January 18

Braaivleis, winterweer en …..

Sekere advertensies sal mens seker nooit vergeet nie en die Chev se ene is verseker een van hulle. Hier in die woestynland is dit braaivleis (altyd), winterweer (asb net nie son nie) en perderesies.

DSC_0003

Een van die lekkerste uitstappies hier omdat dit in die winter plaasvind en gedurende die aand wat ons die geleentheid gee om buite te wees en nie te dood van die hitte nie, is die perderesies. Met 'n Suid-Afrikaner by die klubhuis het die golfbaan (wat in die middel is van die perderesiesbaan) die wedrenaande 'n braaiaand gemaak, en mens kuier daar vir die lekker braaivleis en bykosse en kan ook loer na die perde wat daar verbyhardloop.

DSC_0008

Hulle wys ook die wedrenne op tv's en orals word daar klein weddenskappe om die tafels vir die tafels gemaak. Party kyk na die kleure van die jokkie se klere, ander kyk of dit 'n sheikh se perd is of nie, en party kyk selfs of die perd al 'n vorige wedren gewen het. Die wedrenne is 'n halfuur uit mekaar en rondom ons tafel verloop die program min of meer as volg. Daar word ernstig besluit watter perd (die ou wat laaste se kry die perd wat niemand gekies het nie). Dan word daar voorgereg ingeskep en met die laaste happie is dit tyd vir die wedren.

Page2

Amper die hele "restaurant" beweeg dan af om langs die baan te gaan staan en hulle perde aan te moedig. Ek kan gewoonlik met vrymoedigheid foto's neem, want my perd is of gediskwalifiseer of vir een of ander rede reg agter.

Page1

Dan weer terug om die volgende perd te kies, die volgende dis en halfuur later weer langs die baan. So gaan dit dan aan totdat die laaste resies verby is en dan het mens ookal heeltemal teveel geeet. Dis regtig een van die lekkerste dinge om hier te doen in die aand, net omdat ons buite kan wees sonder 'n lugversorging .... en natuurlik die lekker braaivleis.

Nou is die helfde van die kindertjies terug in SA. Ons sien uit na julle volgende kuier en begin al klaar soek na nuwe plekke om te doen en te sien!

Tuesday, January 12

Hier’s nie net water en sand nie

Ons ou landjie daar aan die suidpunt het baie mense wat hulle merk hier in die UAE maak, en een van hulle is Ronelle. Jare terug met haar kennis gemaak by die veearts en tot baie onlangs was sy ons buurvrou. Haar storie is 'n lang een, maar kortliks - sy het begin om na jagluiperds vir die sheikh te kyk en het ook so gehelp met die ontwikkeling van 'n wildpark hier in die woestyn in ons dorp. Menige diere is in haar villa met die hand grootgemaak. Maar ek kan jou belowe hierdie diere is nie troeteldiere nie. As hulle eers self kan eet dan is dit terug na 'n natuurlike habitat. So een oggend is ek en 5 kinders soontoe om 'n bietjie te gaan kuier.

Page1

Ons ry met lekker vierwiele na die hokke om eerste te gaan kyk wat die "mak" diere doen. Hierdie apie hou defnitief van die verversings en die "Dhabi" bokkie - lyk baie soos 'n springbok, en ook waar die naam van die dorp vandaan kom - is ook met die handgrootgemaak en kom vir 'n koppie krap van sy mens-ma. Die ontwikkeling en bouery aan die "park" is nog nie klaar nie, maar die eende en voels geniet duidelik die water so in die woestyn.

Page2

Hierdie bokke was vir my baie interessant. Met nie baie klippe tot hulle beskikking nie, is die arme skilpaaie gebruik vir orals waar hulle wou bykom.

Page3

Dis regtig mooi hier en hulle verkyk hulle aan die wit tier, 'n paar mara's en oa krokkodille. James lyk baie verlig dat die grootes in 'n omheinde plek is.

Page4

Dan is dit tyd vir die leeus en William het werklik uitstekende foto's tydens die uitstappie geneem. Sy het ook 3 wit leeus waarvan een ou grote 'n regte baba is. Hy wou net he "sy ma" (Ronelle) moet sy kop krap maar vir ons ander het hy baie honger en reg gelyk vir 'n happie. So twee plus jaar terug was die leeus in die linkerkant onder klein baba'tjies in ons buur villa en het die kinders kans gehad om hulle vas te hou hier. Later het William hulle gaan babysit terwyl sy gewerk het hier en hier en hy kon nie glo hoe groot die twee geword het nie. Nou sal mens dit nie waag om met hulle te speel nie.

Page5

Die jagluiperd en jakkals is baie rustig terwyl die tier kom loer wie maak die geraas. Lyk asof Elriza vir die diere se "stay" sodat sy 'n foto kan neem. Is dit moontlik dat sy die leeus met haar chihauhaus verwar?

Page6

Die kinders het hulleself geniet - kyk net hoe hou daai leeu vir Wiehann dop terwyl James styf vashou met 'n vrou agter die stuurwiel. Elriza en Leane praat en verduidelik vreeslik en dink nie dit het iets met troues te doen nie :-). Hierdie jakkals het sommer tande gewys van lekkerte toe hulle hom kielie.

Page7

Daar was wel baba leeus, maar as julle na hulle voete kyk sal julle sien hoekom mens hulle nie meer optel nie. Heelwat van die diere is swanger en ons sal maar weer moet gaan om na die baba's te kyk.

Page8

Lekker warm, moeg en dors na die uitstappie. Die kameraman moet in die kattebak sit vir die terugry en dis ook al ou foto'tjie wat ons van hom vir die dag het.