Sunday, August 30

Hoera!!!! Die skole begin!!!

Vandag voel dit soos net 'n tydjie terug wat ek gese het 79 vakansiedae om te gaan!?! Uiteindelik amptelik het die skool weer vandag begin .... ook maar ampertjies nie. Met Ramadan wat tans aan die gang is, was daar 'n regeringsbesluit dat die skole toe moet wees tot na Ramadan en Eid, nog 30 dae ekstra!!! Gelukkig is Nelmari in 'n privaat skool en kon hulle normaal begin, kan julle net dink hoe vang 'n onderwyser 'n hele maand se werk op nog voordat jy begin het? Alhoewel James 'n paar maande terug tydelik by die skool begin het, is dit ook vandag amptelik sy "eerste" skooldag op die nuwe kontrak en die twee lyk baie bly om skool toe te gaan. (die fotograaf is net so bly!) Is die man nie gelukkig om so informeel aan te trek "werk" toe nie? Nelmari wou 'n uur voor skool reeds daar wees sodat sy eerste kan wees!!! Dit het my weer laat dink aan die normale probleem wat ouers het om te bepaal hoeveel is die sakgeld vir die nuwe jaar. Ek weet nie hoeveel sakgeld nou is nie en die lewenskoste is deesdae duur. Ja ek weet daar is ouens wat sal se dis goedkoop daar by julle. In sekere gevalle moet ek saamstem. Vir dhs 10 (R21) kan ek al hierdie koeldrank koop en ek neem aan dis sal bietjie meer kos by die huis nou, so dis goedkoper?!? My tenk brandstof vanoggend voor skool was dhs 60 (R120), en hy was leeg is nie te sleg as mens die pryse by die huis vergelyk, maar is dit alles regtig goedkoper hier?! Vleis kan enigiets van dhs47 (R96) per kg kos en party groentes is iets ysliks hier. Dit beinvloed natuurlik nie sakgeld nie, maar 'n fliekkaartjie van dhs30 (R62) kan 'n groot uitgawe wees. En lekkergoed. Verlede week het ek 'n interessante pakkie chips gesien wat ek wou he sy moes proe en omdat chips gewoonlik vanaf 50 fils (R1) kos, was ek nie bekommerd om dit te vat nie ......... maar toe dit by die betaalslag kom, kos dit n hele dhs10 (R21) vir 'n pakkie chips!!!! Genadiglik was hulle nie te beindruk met die nuwe smaak nie.
Ek gorrel baie en my kop is besig maar dit los nog steeds nie die probleem op nie, hoeveel sakgeld is "tiener-markverwant" en kan dit my baat!?

As ek dit weet kan ek my volgende probleem aanpak. My dogter wat glad nie sakgeld wil he nie - sy weier, se dis beter as ek vir alles betaal. Hoe draai ek dit om?
ns Ons was weer die naweek by 'n paar kinderbedienigspunte met ons Poppekas en sluit vanaand af in Al Ain - gaan loer gerus na die kinders se gesiggies op die kindergroepblog.

'n Geseende Sondag vir julle

Wednesday, August 26

'n Besige naweek

Verlede naweek was besig en hittig in Dubai en vir 'n verandering het ons glad nie in die winkelsentrums rondgeloop nie. Deel van ons kinderbediening vanjaar is 'n poppekas en alhoewel baie van die kinders nog op vakansie is, het ons karaktertjies Flatman en Bobbin (dis nou Batman en Robin se pop-familie) in Sharjah gaan kuier. Die twee het 'n blaadjie met die reddingsboodskap opgetel wat vertel hoe Jesus eintlik die super hero is en nie hulle nie. Hy het vir ons sonde gesterf omdat Hy baie lief is vir ons. Die kinders het doodstil gesit en luister. Julle kan ook by die kindergroep blog hier loer. Een van die dogtertjies wou persoonlik met hulle praat en het sommer reg voor die kas kom staan om haar vraag te vra. Sy't eers begin met "maatjies", "maatjies" en toe Bobbin nog besig is met haar storie, kliphard gese "maatjies, shutup" sodat sy haar vraag kan vra. Die enigste deel van Dubai wat ons gesien het die heel naweek was die foto vanuit my kamervenster vroegoggend en met die deiserigheid op die agtergrond kan julle sien, nog 'n koel dag in die land van sand. Saterdag was dit heeldag vergadering saam met die ander groepleiers van die verskillende emirate om ons jaar en doel vir die jaar te bespreek. Lekker gewees om almal te sien. Hierdie foto is vir my baie spesiaal :-) want hier het ek 'n bewys dat 3 van die leiers (en blogmaats) sowaar vir my geluister het gedurende vergadering....... Hoeveel keer gebeur dit hm Charmaine, Greg en Vicky? :-).

Vir die volgende twee naweke is dit nog poppekas en vergaderings, maar ek sien uit en is opgewonde vir die nuwe jaar wat voorle.

Sunday, August 23

Dis weer Ramadan

Dis alweer Ramadan in die land van die sand .. die heilige tyd van die jaar vir meeste van die UAE se inwoners .. met klomp voorskrifte vir ander wat nie dieselfde geloof het nie. Ek het nog elke jaar geblog oor die tydperk en hoe ons dit hier ervaar, so skuus as ek herhaal. Hierdie net in 'n neutedop.

Ramadan is hulle heilige maand en volgens hulle ook die tyd om meer van hulle heilige boek te leer om sodoende die boek se blessings te ontvang. (let wel “die boek” se blessing). Die maand word ook deur party die maand van die quran genoem. Deel van die groei proses is dan ook die vas om jou te reining van alles wat jy verkeerd gedoen het. As jy die maand streng by die vasreels hou, is al jou sondes ook vergewe. (dink net, 'jy moet ‘n jaar wag en hoeveel sondes doen ons in ‘n jaar?). Baie belangrik is dat gedurende hierdie maan jy jou humeur moet beheer, nie kwaad of sleg praat nie, vasbyt, versoekings weerstaan ens. en hulle moet vir die armes gee.

Hoe raak dit ons? Vanaf sonopkoms tot sonsondergang mag ‘n moslem wat vas, glad nie eet nie en dit beteken dat ons ook nie mag eet en drink in die publiek nie want hoe kan hulle “sterk” staan as hulle bv die water “ruik” wat ons drink? Dis nou nadat hulle lekker reuklose kos, donuts ens. gekoop het om vir hulle kinders te gee of gedurende die aand te eet. ‘n Goeie “ban” is die geen rook in enige publieke plek nie en jy mag ook nie lelik praat nie

.
d

Mens moet ook seker maak jy’s betaamlik aangetrek ingeval jy iemand in die versoeking lei en geen “display of affection among couples whether married or not in public areas” word toegelaat nie. Hier kan julle van die borde by die malls sien wat vertel jy moet reg aantrek.

Vir ons wat al lank hier is en sien hoe die “maand” deur baie net as verskonings gebruik word om op die pad te jaag asof die duiwel agter hulle is, hulle meer bakleierig en ongeduldig te maak kamstig vanwee te min slaap en kos, hulle meer gewig optel gedurende die vas maand van ooreet wanneer dit donker is, is die maand eintlik ‘n klug, maar ek kan nie veralgemeen nie, want daar is toegewydes wat alles doen wat vereis word en wonderlike mense is.

Dit laat my net weer besef hoe belangrik dit is om te doen wat mens se. Om vir almal te vertel jy’s ‘n Christen en dit nie wys in jou dade soos oa humeur, ongeduld en hoe jy leef nie, mag ander gelowe ook laat dink ons is ‘n klug …. Ons moet wys ons is anders in hoe ons optree en leef en maak ons foute soos ons almal doen, hoef ons gelukkig nie ‘n jaar te wag om vergewe te word nie.

Thursday, August 20

Diere en ander dinge

Die laaste paar dae was lekker besig en is dit nie snaaks hoe besiger mens raak hoe minder het jy om te vertel? Die weer is nog steeds warm (darem net lae 40'tigs nou) maar die humiditeit is in die omgewing van 70+% wat die neem van foto's maar moeilik maak. Ten minste het ons nou weer a/c in die huis, so dit is goed. Ons het bietjie weer by die Braziliaanse restaurant gaan eet en hierdie is die uitsig. Mens kan jou half verbeel dis mistig en koud buite .... tot jy dit natuurlik buite waag. Nelmari se vakansie raak ook minder en die sportspanne het begin oefen wat darem ook help. Intussen probeer sy nog straatkatte mak maak. Mariette dis Furby se sussie :-). Sy's regtig goed met diere en ek weet nie wat sy hier probeer doen nie, dalk vir Luie wys hoe bedel mens vir kossies. Ons gemmerkat het ook groot geword en sy is nou ampertjies heeltemal "mens" - sy gebruik haar groot agterpote om regop te bly. En nie net vir kort tydjies nie, as sy moeg raak gaan sit sy effens op haar hurke :-). Boks en speelgoed in die lug gooi is haar spesialiteit. Omdat sy so naby Luie groot geword het, vermoed ons sy dink sy's 'n hond want sy waai haar stert soos 'n hond as sy bly is en dan natuurlik fetch sy en bring haar speelgoed nader as niemand met haar wil speel nie. Fetch was egter nog altyd deel van ons katte ... maar die stert ding is nogal snaaks.
'n Besige naweek wat voorle, julle moet ook lekker naweek hou!

Monday, August 17

Nie so lank terug nie

Elke liewe dag wat ek in die dorp ry is daar iewers nuwe geboue wat opskiet waar ek nie eers geweet het hulle bou nie en Abu Dhabi ontwikkel met die spoed van wit waks. Net gister staan ek op die boonste vloer waar ons hare laat sny en sien hoe "nuwe" ou geboue platgeslaan word sodat groter geboue gebou kan word. Om die waarheid te se mens kan amper nie meer onthou wat daar was nie. Wys net dat mens so gewoond raak aan alles en later net nie meer die mooi geboue, tuine en goed sien nie. In die afgelope jare van blog het ek al baie van die mooi winkelsentrums en geboue en goed van die dorp vertel en selfs 'n bietjie van die ou Abu Dhabi. Vandag is ek regtig spyt dat ons nie meer van die dorp en geboue afgeneem het toe ons gekom het nie want alles het verander.


18


Die van julle wat nie weet nie, Abu Dhabi is mos 'n eiland en hoofstad van die UAE. Almal weet waar "Dubai" is (of hoe skryf almal nou weer in SA, Doebai :-) - dog ons het geleer op skool plekname verander nie) maar min mense weet van Abu Dhabi. Ons self moes op die internet kyk voordat ons baie jare terug hierheen gekom het. Nie eers 40 jaar terug nie was dit die Cornish van die dorp.


1



Ek lees in 'n baie interessant boek wat deur 'n ou wat hier grootgeword is geskryf is, dat dieselfde landjie wat ons land so aangeval het en mense in konsentrasiekampe geplaas het, het ook hier kom oorneem destyds nadat olie ontdek is. Hulle het die geld "beheer" en vir baie jare het Abu Dhabi sonder die nodige mediese fasiliteite, onderwys, elektrisiteit ens. moes klaarkom totdat die toe heerser besluit het om beheer oor hulle eie land te neem. Saam met dit het die ontwikeling begin. Die Cornish in die jare daarna.




2


Die heerser van die land het toe vir elke plaaslike inwoner van die land, 2 plotte grond verniet gegee. Een in die dorp in een verder uit die dorp wat vandag die industriele gebied is. Hierdie is 'n storie op sy eie wat ek later sal vertel. Daar is toe besluit om die Cornish projek aan te pak en 'n nuwe een te bou.


20


Soos altyd wanneer hulle 'n nuwe pad bou, word die omgewing met fonteine, parke, ens. saam met die projek gedoen. Hierdie is nog in die begin maar kan mens reeds sien waar die bekende volcano fontein en ander bekende bakens sou wees.




3


Maar steeds was dit nie goed genoeg nie en in 1998 word nog 'n nuwe Cornish gebou en van hierdie een is ons deel van die bouery en onthou mens baie. Julle ouens wat al lank hier is sal dit seker onthou - Kathy julle het mos net 'n kort tydjie na ons hier aangekom, het julle nie 'n foto van daai ronde pizza plek wat op die Cornish gesit het nie? Of die ou Co-op?


9



Saam met die nuwe paaie het ook 'n nuwe strand en baie bome gekom. Daai groen strook bome bo regs in die foto, is waar die pad/brug nou oorloop na die Marina Mall wat toe nog nie eers begin is nie. Die strand na daardie strook is waar die bekende Emirates paleis nou gebou is.


13



Op hierdie strook sand het die kinders vroeer jare baie vlieers gevlieg en gespeel. Kyk net hoe klein is Nelmari en William nog hier. James staan ver regs in die prentjie ook besig om te speel.


4




En om van die Cornish te vertel, moet mens die aaklige versierings oor die paaie in Desember ook noem. Wie van julle onthou dit? Hierdie was een van die beter enes, party was regtig verskriklik oordoen en lelik. Dit was om National Day te vier.


. 12


Dit was die foto van Abu Dhabi wat almal kom neem het en die dorp en Cornish wat ons leer ken het. Daai bal op die hotel en die een op Etisalat was ons baken en as mens verdwaal het, kon jy net die bal soek en weet waar jy min of meer is.


5


Die dorp het "gesettle" en die paaie het gebly waar hulle is. Ons het selfs 'n teetuin gekry langs die see waaroor ons dames baie opgewonde was. Links op die foto met die groen sonkappies op die vensters. Ek het ook al vertel hoe Charmaine met 'n kuier daar langs die water gestaan het en van haar foto's in die water geval het.




17


Die Cornish was nou mooi groen met baie bome vir skadu en plekke om te loop. Nelmari 'n bietjie ouer saam met Jessica besig om deel te neem aan 'n Terry Fox wedloop op die Cornish


19



Soos ek gese het daar was lekker plekke en mens kon so al langs die see loop. Hier kon ons ook 'n boot kry om oor te vaar na Lulu eiland vir 'n lekker braai of swem - daar was nog niks op Lulu eiland nie en mens kon sommer oorgaan. Links is daar sulke glaskoepel goed waar jy kon wag vir die boot.

8


Maar iemand het weer 'n jeuk gekry en die Cornish moes weer verander word - so saam met die bou van Marina Mall. Hierdie foto is op presies dieselfde plek as die boonste een geneem, maar hier kan julle sien ons sal nou bietjie langer vir 'n boot moet wag want weer is 'n groot deel van die see droog gele.


10


Van die nuwe Cornish het ek vertel en foto's gewys en nou is dit een groot snelweg met 6 lane beide kante toe maar steeds lekker plekkies om te loop, mooi parke en tuine en selfs 'n nuwe strand. Nelmari nou heelwat groter stap langs die Cornish. Ek dink nie daar is meer baie water oor om nog 'n Cornish te bou nie, so miskien eindig die storie nou hier.

Friday, August 14

Net 'n klein loertjie

Ek gaan in soveel moeilikheid wees vandag .......

Ter versagting mag dalkies tel dat geen gesigte herkenbaar is nie!?!

Die vier meisies het na die "sports" mos 'n sleepover gehad en die van julle wat tieners ken, weet dat die feit dat ek foto's van hulle tydens die uitstappie kan neem 'n wonderwerk op sy eie is. Om dan nog te vra dat hulle toelaat dat ek foto's van die kuier neem is soooo "not cool".
Ek het toe die ou kamera'tjie by hulle gelos net ingeval hulle sou lus voel om dit te gebruik. Die deure was toe en so af en toe het ek stemme in die kombuis gehoor en tot baie laat giggels en musiek. Rondom half tien die volgende oggend wou ek net die ontbyt bestelling kry en het my ou kamera'tjie skoon verlate op presies dieselfde plek gestaan. Die versoeking om 'n foto of vier te neem was te groot, maar ek moes want julle wou mos sien :-)

Ontbyt was net na 10 reg en voor ek my oe kon uitvee was hulle na ontbyt terug in die slaapposisie!!!
As ek in die moeilikheid is oor die plasing ..... dan sit ek die foto'tjies wat ek nie nou op het nie op haar facebook :-), mens kom mos nie twee keer vir dieselfde ding in die moeilikheid nie?!

Ek's bly dat Nelmari darem 'n bietjie saam met haar maats kon kuier voordat die skool weer oor net 15 slapies weer begin!!!!

Wednesday, August 12

Pret met die maats

Baie water het in die see geloop .... of nee wag ..... baie sand het in die dorp gewaai sedert ek vertel het gese het daar is 79 vakansiedae vir Nelmari, hoe gaan ons die tyd in die hitte omkry? Dit was g'n maklik nie, maar nou's daar net 19 dae oor en dan begin die skool - vir 2 weke voor daar weer 'n kort vakansie is!!!! Anders as die eerste paar jare lank lank gelede is die dorp nie vanjaar teveel leeggeloop tydens vakansie nie, maar Nelmari se maats het wel bietjie by hulle huise gaan kuier. En so stadigaan begin hulle terugkom, dus kon sy gister bietjie saam met die maats kuier!!

Page1

Omdat mens nou nie buite kan fun he nie, is die jaarlikse "Summer Festival" onderdak en daar is omtrent iets wat in elke kind se smaak sal val. Terwyl ons vir die res van die maats wag, het die twee lekker opgevang met die lag en gesels.

Page2

En baie gewillig en verspot vir die kamera. Onder regs eet hulle een van die favorite nie-arabiese "snacks" hier - mielies wat in suurlemoen botter gemaak is.

Page3

Daar is verskillende sale met temas waar die kinders kan pret he. Gelukkig was dit nog vroeg met min mense en die meisies wat al 4 sport doen besluit die "sports" afdeling is eerste. Al daardie sport wat op die prentjies gewys word, was daar.

Page12

Daar is ook 'n gewone cinema waar rolprente vir kinders wys en 'n interactive cinema saam met die vele ander goed wat die klomp kan doen.

Page4

Die meisies besluit op een van die pretritte wat hulle baie vinnig in die rondte, vorentoe en agtentoe en op en af skud. Dis maar 'n dizzie spul wat uiteindelik afklim en besluit .... ander saal!

Page5

Hier word die volgende beplanning gemaak. In die nuwe saal is daar oa rotsklim en onder in die hoek sal julle 'n sweefstok sien. Wat sal mens die opset noem? Elk geval daar word ernstig verby gehou en ek weet nie of hulle bang is of nie. As verskoning noem hulle dat die sportdirekteur nie beindruk gaan wees as hulle met 'n gebreekte been opdaag nie. En maak sommer planne om die arme man 'n "prank" te speel .... die storie sal vertel word!

Page6

Die ander saal het baie meer aktiwiteite oa bo regs 'n foefie-slide wat hulle natuurlik nie die woord van verstaan nie, 'n reuse hindernisbaan in die lug, adventure park en science speelplek waar die meisies ook stop en loer. William hierdie deel sou jy geniet het.

Page7

Daar is ook 'n Culture/Heritage saal en hier het ons eers staan en luister na ons Zoeloe dansers. Hulle was net so een stalletjie ver van die Australie stalletjie waar die ouens 'n kangeroe storie vertel het --- of miskien was dit oor verskonings vir verlede week se wedstryd wat hulle verloor het

.Page8

Die Jungle adventure was meer vir die kleintjies - met watervore wat deur die park loop en orals diere uit Afrika wat eet en beweeg. Die kinders klim dan in 'n kano en roei deur die park terwyl hulle na die diere kyk.

Page9

Van die ander snaakse goed wat daar was, was singende kewers ... moenie vra nie want ek weet nie, maar hulle kom van Australia af. :-) 'n Groot ronde bal waarin jy klim en dan kegels probeer omrol, glybane en scary "house" waar mens seker jou longe uitgil.

Page10

Die meisies besluit op nog 'n rit en hier kon ek nie een foto kry waar hulle nie skree nie, maar dit lyk tog na vet pret.

Page11

Als en als het die meisies die middag geniet en dit word afgesluit met henna op die hande. Die mense doen so baie vir die kinders om hulle besig te hou en altyd is daar bietjie kultuur en geskiedenis by en probeer hulle die leuse van die ou President en sheikh wat so baie goeie dinge in Abu Dhabi gedoen het, uitleef.

20

Ek dink dis iets wat ons almal maar ter harte kan neem.