Soos in baie jare vantevore, word James en Elriza se verjaarsdag saam gevier.
Friday, June 27
Verjaarsdag Dhow
Soos in baie jare vantevore, word James en Elriza se verjaarsdag saam gevier.
Monday, June 23
High tee op vloer 74
Wednesday, January 1
Oujaar by die see
Laaste dag van die 2013 jaar en ons kry bietjie kans om saam met Lara by die see te wees.
Die juffrou geniet dit om in die sand te sit en die son.
Dis 'n heerlike "herfs" dag en almal ontspan lekker. Nelmari en Elriza gebruik ook die kans om bietjie te kayak.
Ai en die sand tussen mens se vingers is soooooo lekker.
Hoe kan mens dan nou nie gelukkig wees met almal se aandag en liefde nie .... mens raak sommer verspot
:-).
So geseend dat ek kan sien hoe Lara al die nuwe goedjies ervaar en geniet!
Sunday, December 29
Nelmari gaan dieretuin toe
Die probleem van so lank in die deel van die wereld bly, is dat iets "allerdaags" hier nie noodwendig vir ander is nie. Selfs met Nelmari wat nou ampertjies 3 jaar weg is weens studies ... uitgevind "Ma ek was nog nooit by die kinder-dieretuin nie".
Maak nie saak hoe groot of klein mens is nie, en nou praat ek van ouderdom nie lengte nie, om in 'n dieretuin te wees is om weer klein te wees.
Een van die beste interaksie dieretuine wat ek al in was en weereens 'n heerlike dag! Nou om uit te vind of William al hier was ...
Wednesday, May 1
Nuwe pret in Abu Dhabi
Thursday, April 26
Dinge verander by die dag
Saturday, February 25
Wind waai ‘n hond uit ‘n bos
Die afgelope paar weke is die weer iets afgrysliks hier. Ek hoor dat Tom in sy nuuste rolprent 'n sandstorm "beleef" en volgens mense wat dit gesien het, is dit 'n vulletjie teen wat ons die laaste tyd mee moes deel.
Die laaste paar dae/weke is dit wat ons meestal ervaar op die pad.
En mens moet mooi kophou want die sig het niks aan die mense se kan-nie-bestuur-vernuf gedoen nie.
Die ergste wat ek in al die jare hier nog beleef het, was verlede naweek toe ons Ruwais toe gery het. Ons het eenmaal 'n maand 'n uitreik-diens daar in die woestyn.
Die wind was iets ysliks en met niks geboue langs die pad nie, net woestyn was dit by tye skrikwekkend.
So 'n paar kilometer voordat ons moet afdraai was dit ons uitsig en ons was effens bekommerd ons gaan die brug mis en in Saudi opeindig :-).
Hoeveel mense gaan in die weer vir die "diens" opdaag - ons het geweet die wat met die boot kom sal beslis nie opdaag nie. Maar soos altyd is God baie getrou en het ons in hierdie winderige, sanderige Shamel storm, 100% meer mense as verlede maand gehad. Die storms kan maar kom en ons probeer weghou, maar hier in die woestyn is groot goed aan die kom ook :-)
En dan natuurlik op bietjie stiller wind-dae (jy kan nog die sand in die lug sien) is dit ook 'n werkskeppingsgeleentheid - hoe anders kom die paaie weer skoon. Gelukkig is ons sandhoop in die portaal bietjie kleiner en mens stofsuig dit sommer.
Sunday, May 29
‘n Lekker nuwe ontwikkeling
Die naweek weer in Dubai gewees. Het die laaste tyd soveel gehoor in die nuus, tydskrifte en by mense hoe stil Dubai nou is .... wens ek het geweet watter paaie hulle ry, want ons het maar redelik die normale malhuis verkeer op hulle paaie gekry. Dis wanneer mens deur Dubai ry dat jy weer van vooraf waardering het vir Abu Dhabi se beplanning.
So 'n week of twee terug gehoor van die nuwe sport resort wat hulle behoorlik onder my neus gebou het en natuurlik moes ons gou gaan kyk want die tieners en jongmense soek 'n plek vir 'n uitstappie. En watter aangename verrassing was dit nie. Dis nog nie 100% klaar nie, en het slegs 'n "soft" opening maar ek kan al klaar sien dat hier nog baie gekuier gaan word.
Ons eerste besoekpunt was een van die skietbane. Die nuutste tegnologie word gebruik op die professionele skietbaan waar hulle selfs skietlesse aanbied en vuurwapens verkoop. Dit gaan natuurlik deur die proses van polisiegoedkeuring, maar die baan bied selfs persoonlike kluise waar die wapens gehou kan word. Elriza het hier 'n bietjie die laserbaan gaan uitprobeer en dit was nogal groot pret. Pyl-en-boogskiet bane word ook nog op die oomblik gebou.
Die tweede stopplek was die go-karts wat 'n volledige 18 sirkel baan het waar mens kan rondjaag in motors van verskillende kragsterkte. Streng maatreels word hier toegepas en mens moet eers 'n aantal veilige rondtes met die kleiner motor doen voordat jy kan aanbeweeg na die groot perde. Die baan het selfs 'n pawiloen vir die wat wil kyk en aanmoedig. Mens kry die regte klere en valhelm om erg professioneel te lyk wanneer jy jaag. Hierdie lyk na iets wat ons tienerseuns sal wil doen.
Ons het heeltyd gedink dat paintball heelwaarskynlik die aktiwiteit sal wees wat ons kinders voor sal gaan, en kon heerlik rondkyk by drie van die vier bane wat reeds oop is. Hierdie buitebaan met spreiligte as mens in die aand wil speel, is ook die een wat kompetisies aanbied en waar spanne mekaar uitdaag.
Die Pacific World War 2 baan is ook verskriklik oulik. Ons toer het op dieselfde dag as die plaaslike koerante geval, en omdat ek met die kamera rondloop is ons orals toegelaat wat nogal lekker wees. Hulle wou net heeltyd weet in watter koerant hulle foto's gaan verskyn :-).
Ek het gedink die Wilde Weste se baan is die oulikste. Die kinders gaan verseker 'n fees hier he en met baie bloukolle wegstap.
Dan kon ek nie glo dat hulle sommer hier onder my neus twee varswater "lakes" gebou het vir die watersport nie. Hier kan daar allerhande watersport beoefen word en daar word lesse gegee as mens nou nie heeltemal dit self kan doen nie.
Bo en behalwe al hierdie goed is daar 'n equestrian baan waar perdry lesse aangebied word en selfs show jumping. Kleinduif skiet bane word ook ontwikkel saam met 'n offroad circuit vir motors. Daar is 'n swembad, gim, tennis-, volleyball en basketball bane en sokkervelde. Ek klink miskien soos 'n advertensie, maar julle moet weet hierdie plek wat baie baie groot is, is sommer so op my voorstoep gebou sonder dat ek dit geweet het. Ek weet net dat die kinders beslis hier gaan uithang.
Geniet julle laaste rusdag!
Thursday, May 19
Toegang tot die eiland
Met Nelmari wat nou haar laaste skooleksamen skryf, was ek die laaste tyd enige tyd van vroeg tot middag oppad eiland toe om haar by die skool af te laai en elke keer was daar honderde motors wat almal ewe ongeduldig is wat saam met my op die pad is. Mens mis die dae toe die dorp heelwat minder motors gehad het. Ek besef net weer dat hierdie dorp verskriklik gegroei het in sy kort lewe en dat onsself 'n paar nuwe toegangroetes tot die dorp/eiland beleef het.
Op hierdie foto wat ek van die internet af geleen het, kan julle mooi sien dat die dorp Abu Dhabi reg rondom hom water het.
In 'n boek wat ek gelees het, skryf hulle hoe hulle met 'n klein roeibootjie van die eiland na die vasteland geroei het. Die wagpos was die geboutjie op die foto onder regs.
Met ons koms was daar nog steeds net die een brug, maar daar was geboue en bome is orals begin aanplant. (Foto ook vanaf die internet)
Op 'n stadium het die verkeer meer geword en 'n tweede identiese brug is gebou.
Die ou waghuis is omskep in 'n museum en reggemaak en ek wonder hoeveel mense het dit al besoek omdat dit so half uit die dorp uit is.
Elke keer wat ek onderdeur die brue ry - dit is oppad na een van ons gunstelinge eetplekke - probeer ek altyd 'n foto van die toring neem want ek het nooit geweet hoe lank gaan dit nog staan nie. Hierdie mense het vroeer nie veel aandag gegee aan restoureer nie, maar ek sien darem die toring word reggemaak.
En toe rondom verlede jaar is daar weereens 'n brug gebou om te help met die toenemende verkeer.
Hierdie foto is deur 'n helikopter maatskappy geneem en wys baie mooi die drie brue langs mekaar met nog steeds die toring en waghuis te siene.
Die drie brue is al lankal nie meer die enigestes wat toegang tot die eiland verleen nie. Dit maak nouwel die verkeer bietjie beter, maar hoeveel motor kan die eiland nog vat. Ek weet ek en klompe ander motoriste voel dis nou genoeg. Wonder as hul die motor en brandstofpryse opstoot of dit 'n verskil sal maak - ek sien nie juis dat dit in SA 'n verskil maak nie.