Wednesday, September 28

Tussen stasies in die Overberg (2)

Ons doen nog die treinspoor roete net 'n klein entjie vanwaar ek bly.

Die bordjie wys name aan wat nie eers Google kan antwoord nie, alhoewel dit se die twee dorpies le teenaan mekaar.  Mens kan skaars die huise van Klipdaale sien, so waar begin en eindig Carolineville en wie was sy?

Hier op Klipdale, stop die trein om nog 'n paar trokke aan te haak.  Lyk nie asof iets die trein of werkers aanjaag nie, alles is rustig en behalwe vir die trein, raas die stilte. 

Ek dink dit was vroeer die stasiegebou en mens voel half hartseer oor hoe dit nou lyk.  Ek kan my net indink hoe dit in die beginjare gelyk het.

Net so langs die stasie is die ou huis, miskien die stasiemeester sin?  Dis net hier waar my kop weer die gedagte van 'n treinrit en piekniek optel en nog verder uitbrei.  Die ander kant van die huis wat op die spoorlyn uitkyk is bietjie toegegroei so mens kan nie foto's neem nie, maar ek sien 'n teetuin.  As die trein stop met sy "Overberg toeriste", kom hulle in die tuin sit en kan kies van koffie en tuisgebak, of selfs 'n tradisionele ete om die gevoel van die dorp en platteland te kry.  Sien jy dit saam met my?

'n Aktiewe skool wys dat daar nog jong mense in die dorp is en die dorp waardeur ons ry na die skool toe, is skoon en netjies.  Klipdale het ook baie baie jare terug een van die grootste plaasskole in die omgewing gehad.
En net omdat my teetuin nog nie daar is nie, moet ons by die winkel/poskantoor stop vir 'n drinkdingetjie en dan is dit verder na die volgende treinstasie ....

"Wees altyddeur bly.  Bid sonder ophou
Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God
in Christus Jesus oor julle
(1 Tessalonisensie 5:16-18)

 Lekker dag, ek praat weer

Sandra




Friday, September 23

Tussen stasies in die Overberg (1)

Tussen treine, tussen stasies
Le daar basies net die lee spore
Tussen treine, tussen stasies
Le die lee spasies van die onskuld nou verlore

Dan dink ek terug aan soveel dae, soveel stawe op die spoor
Ja, daar was voorheen 'n tyd van treine,
waar en wanneer het ons dit verloor?

Onthou jy daardie liedjie van Richard van der Westhuizen?  Met 'n rit deur die omgewing draai daai liedjie nogal in my kop.  Ons stop by die stasie wat duidelik nie meer is nie en die mooi van ou murasies trek my aandag.  
Die spoorlyn vorm deel van die Overberg lyn wat graan vervoer.  Konstruksie begin reeds in 1914 en in Januarie 1914 kom dit tot by Rietpoel, April tot by Klipdale en Protem in Junie van dieselfde jaar. Met die aanle van die spoorlyn word 'n groot probleem om die graan te vervoer opgelos en help dit om die area een van ons grootste koringproduksie gebiede te maak.  


Groot was die blydskap toe die trein ons waarsku, die lyn word nog gebruik.  

Dis so 'n mooi wereld, mens wil eintlik se, haak 'n passasiers wa aan, verkoop kaartjies en laat ander dit ook sien en selfs kom piekniek hou by die eindpunt - of soos later 'n ander idee ....

Ons ry verby pragtige plase met die mooiste groen, perde met vulletjies, skape met lammetjies, verskeidenheid voel en ou gebou wat 'n storie of twee kan vertel.  Volgende stop Klipdale ...

"U sorg vir die land en gee oorvloed,
U maak dit baie vrugbaar.
Die groot riviere is vol water, U laat die koring welig staan ...
U laat alles wwelig groei
(Psalm 65:10-11)

Praat later so tussen die loadshedding weer
Mooi dag

Sandra 

Thursday, September 8

'n Soet bederfie

Die inleiding waarmee ek wou begin was, wanneer jy in Riviersonderend stop, maak seker dat jy ook opstock vir die pad by Mari's Fudge in die Hoofstraat.  Maar as 'n ma/ouma weet ek dat 'n lang pad met gesonde woelige kinders vol soet, kan baie lank word of miskien hou jy nie van deel nie ... wat ookal die rede, die online opsie is selfs beter, want jy gaan beslis meer bestel as net 1 houer en jy kan dit "wegsteek" voordat die kinders van die skool af kom.  Loer later aan die einde vir die skakel. 

Die winkel begin met 'n storie in 2011.  Ses maande swanger met 'n bekommernis om finansieel voorbereid te wees vir die baba se koms.  Dieselfde week wat sy God vra om haar te help en lei, trap haar huishulp se man op hulle (die huishulp) se baba hondjie. Christene kom vra hulp en hulle neem  "Ounooi" na die SPCA waar hulle twee opsies kry.  'n Operasie vir die gebreekte heup wat R800 gaan kos of hulle moet haar aan die slaap sit. 

Mari dink heelaand aan hoe hulle die geld in die hande gaan kry en die volgende oggend bel sy vir Christene om vinnig te kom, hulle gaan fudge maak en in die dorp verkoop.  Die golf klub het 'n golfdag en Andre die klubkaptein bied aan om die fudge op te veil en nodeloos om te se hulle maak R800.  

Daarvandaan is daar geen einde nie, en 11 jaar later het sy 4 plaaslike mense wat saam met haar 2 ton fudge elke maand maak.  Jip 2 ton, dis baie! 


Hulle voorsien aan oor die 250 winkels en maak ook hulle eie kondensmelk om die fudge te maak.

Die moeilikste deel is om te besluit watter een jy wil proe.  Die "Crumbly Caramel" Fudge gemaak met die heerlike selfgemaakte kondensmelk, die "Chocolate Crumbly" Fudge met die kondensmelk en donker kakao, die "Honey Crumbly" fudge gemaak van kondensmelk en fynbos heuning of die "Salted Popcorn Brittle" met donker sjokolade en almond of cranberry by.  

Ek weet net een ding, en dit is dat jy dit moet proe.  Fudge is nie die maklikste soetgenot om te maak nie, dit vat werk en hier by Mari's is daar 'n toegeweide span wat dit met die hand maak vir ons wat hou van 'n soetdingetjie of twee.   

So moenie volgende keer net deurry nie, stop vir daai bederfie of bestel hier by Mari's (kliek op hier)

"Soet soos heuning is vir my U woorde,

nee, soeter as heuning, want hul gee my raad ..."

Lekker dag vir julle

Sandra