Thursday, July 31

Aan alles moet daar 'n einde kom

Aan alle goeie dinge kom ook 'n einde, en dis tyd om terug te ry Amman toe om die volgende dag terug te vlieg, maar eers .....  

Page1_0

'n Besoek aan Mount Nebo.  Dis nogals 'n steil bult van 1000m onder seevlak reg op tot 1000+m bo seevlak en die omgewing verander om elke draai.
DSC_0561

 'n Bietjie bekendheid van waar ons vandaan kom, 'n troppie kamele.
Page2

Mount Nebo waarvan ons lees in Deut 32:48-50.
Page3
Langs opgrawings van 'n ou kerk, is 'n nuwe kerkie in 1933 gebou om Moses se sterfplek te "herdenk". Met die opgrawings is 6 grotte gevind (grafte) waarvan die vloere van mosaiek was.
Page4
In die "museum" is ook heelwat van die opgrawings en mosiaek werk.
DSC_0640

Die "Serpentine Cross" simboliseer Moses se tyd in die wildernis in Num 21:4-9 en die kruis waarop Jesus gekruisig is Joh 3:14.

Page5
Dis hier waar Moses gestaan het en oor die beloofde land uitgekyk het.  Hulle se op 'n helder dag is Jerigo tot sover as Jerusalem sigbaar van hier af.  Wat vir my baie interessant was, was dat afhoewel daar lande is wat maak asof die land aan die anderkant van die Dooie See nie bestaan nie, praat ieder en elk van die Holy Land.  

DSC_0647
Ook 'n besonderse plek om te sien en te ervaar.  Ons ry daarna deur die stad Madaba wat self baie ryk aan geskiedenis is. Baie mosiaek opgrawings is in hierdie dorp gekry toe hulle begin nuwe huise bou het en daar is heelwat mosiaek fabrieke wat deur baie toeriste besoek word hier.  Madaba is ook die dorp in Jordan waar die meeste Christene bly. 

Page6

Ons laaste stop, reg in die middel van die stad is 'n ou Griekse kerkie.  Op die foto onder links sien julle 'n ou kaart van die antieke "Holy Land" en binne in die kerk is daardie kaart in mosaiek gedoen  Die kaart is in 1897 ontdek toe hulle besluit het om 'n kerkie daar te bou en hulle begin uitgrawe vir die fondasie.  Die kaart het al die groot stede van die Heilige Land met Jerusalem reg in die middel as die belangrikste stad.

Madiba die dorp is ten minste 4500 jaar oud en in die Bybelse tyd (Num 21:30) praat hulle van die stad as Medeba.  

Wat 'n einde tot die toer en net  nog meer goed om aan te herkou! 

Ons slaap die aand in Amman om die volgende oggend vroeg terug te vlieg.  Bietjie bekommerd dat hulle gaan vra waar ons was, maar weereens is 'n Groter Hand in beheer van alles.  Ons loop deur paspoortbeheer binne 10 min en ons tasse is onmiddelik beskikbaar!

'n Ongelooflike twee weke!!

Wednesday, July 30

Vader se hand oor ons terugrit en grenspos en 'n lekker bederf

Vroeg oggend die pad terug Jerusalem toe om die motor te gaan teruggee en sommer te hoor wat die skade van die ongeluk is.   Die kaart word mooi bestudeer dat ons asseblief vir Tel Aviv mis ry, maar ondanks al ons beplanning land ons weer vierkantig binne in die dorp en sommer in van die klein straatjies.  Die padkaart wys net geen uitgang nie en ons begin benoud raak toe ons op Beach Road sien daar is nou 'n bordjie na die streek waar die oorlog is.  Seker amper 'n uur van rondry, kry ons eintlik iemand wat Engels verstaan en ons kan wys hoe om op die grootpad te kom, wat 'n verligting!  Die dorp waar rondom ons seker die meeste beplanning gedoen het, veral om dit te vermy het my die grootste les geleer.  Ons kan beplan soos ons wil, dinge werk nie altyd uit nie, maar ons Pa is alom teenwoordig en Hy beskerm ons van enige gevaar, altyd.  

Die motor se ingee verloop sleepglad, die pad grens toe is doodstil en ons is in 'n kort tydjie op die bus, reg om oor te gaan.  Sy hand was daar in alles, dankie vir almal wat saam met ons vir dit gebid het!
DSC_0470
Ons is jammer om die land te verlaat en spyt dat ons nie alles kon sien nie, maar ons is baie verlig om veilig in Jordan terug te wees.  Alhoewel ons nou aan die anderkant van die Dooie See is waar ons oorspronklik sou wees, is dit net so 'n amazing gesig vir ons.  

DSC_0520
Die volgende paar dae sal net 'n rustige tydjie wees van ontspan en verwerk wat ons alles daar anderkant gesien, ervaar, beleef en geleer het.   Eerste op die agenda is hierdie paadjie af om in die modder te rol en op die see te dryf :-).  En ons doen dit met oorgawe.  

Page2

Die eerste dag is ek en Charmaine, na al die drama nie lus nie, maar Elriza maak ten volle gebruik van die bederf om 'n blyplek by die water te he.  
Page3
Die ou tannies kom ook aan die beurt die volgende dag en ek's baie beindruk met die water wat my volle gewig kan bo hou   :-). Mens moet net nie dat dit naby jou mond kom nie, want hoe lief ek ookal vir sout is, dit proe jig. 

Page1

Die laaste dag by die dooie see is dit modder, dryf, spa en toe ons eie modder maskers in die kamer.  Dis beter dat die tannies se foto's nie op is nie.  

DSC_0469

Drie dae van heerlike bonus rus langs die dooie see en dis tyd om ook hier te groet.   More vat ons die pad Amman toe.


Monday, July 28

Berge, sirkels en mooi herinneringe


Ons planne vir die dag word omvergegooi deur 'n missiel van 'n ander land naby se kant en daar is 'n waarskuwing dat mense nie dorpies nader as 40 km van grense besoek nie.  Dis nogal sleg maar ons besluit om solank 'n ander dag se trip te doen en hoop dinge werk uit.  
DSC_0474

Beit She'arim is eerste op die lys en die gids is reg om ons rond te wys.  
Page1

Dis nogal interessant om ook 'n ander sy van die land en sy mense te sien.  Die "grotte" grafte wat oopgegrawe is en Charmaine staan by 'n amfi-teater.  Hulle het darem nie 'n plek gebou sonder een waar hulle kan vergader en kuier nie :-).   
Page2
Die bome en gras saam met die besienswaardighede (dis ook 'n natuurreservaat) maak dit 'n heerlike rustige plek om deur te stap.  Nogal snaaks was een van die geskrifte wat bo op 'n graf geskryf was "Good luck in your resurrection" :-).   
Page3

Volgende stop Mount Carmel waar die gebeure van 1 Konings 18:1-45 plaasvind.  By die monestery op die berg kan mens ver kyk, en al die plekke sien.  Die Kishon Rivier, Vallei van Megigo, ook bekend as die Vallei van Armageddon. 
Page5
Daar is mooi aanwysings en die gids wys ons ook waar is die Jazreel vallei waar die bybel van praat as die plek waar die "armies" gaan bymekaar kom, Mount Tabor, Mount Gilboa waar Koning Saul selfmoord gepleeg het, en die Harod Vallei terwyl sy die stories rondom dit vertel.  
DSC_0513
Ons het al lankal agtergekom dat die mense wil soveel moontlik geld uit die toeriste maak en 'n omie wat ons help met die pad, nooi ons om na hulle olyfbome en weet nie wat alles te kom kyk nie.  Ons stel dit duidelik dat ons nie daar wil eet nie, sy vrou het 'n tuisrestaurant, maar skaars het ons gesit of die voorgeregte word neergesit.  Elriza se nog, ons betaal nie meer as 50 shekel nie, toe se die omie 100 per persoon.  Aan die einde wou hy ook 28% belasting bysit en ekstra omdat hy met ons gepraat het :-).  Een van ons duurste etes op die toer en 'n duur les in om nie almal te vertrou nie. 

Hulle is deel van die Drews geloof en ons leer iets nuuts. MAAR glo my, om van hulle woonbuurt, op die berg af te kom, was erg en ons ry vir omtrent 'n uur in sirkels.  Eintlik dink ek ons het gesorg vir die dorp se vermaak, want ons het hoeveel mense in die nou straatjies 'n paar keer verbygegaan.  As ons stop vir aanwysings, verstaan hulle nie engels nie, maar se met 'n groot glimlag, nex left, then straight, then ask again. En so het ons heen en weer deur die dorp gekry.  Dink daaraan, as elkeen se aanwysings "left" is, dan ry mens in 'n sirkel... oor en oor en oor!

Orals oppad terug is die jongmense van die land besig om aan te meld vir weermag diens, en busse laai honderde jong manne en vroue wat langs die pad in hulle uniforms staan op.  Die land is besig om gereed te maak vir 'n grondaanval.  By die blyplek is hulle ook besig om die bomskuiling reg te maak en toe te rus en ons stem al drie saam, dat ons dalkies ons planne bietjie moet wysig en probeer om nou binne die volgende dag of twee oor die grens te gaan. (Ek verduidelik in die volgende blog hoekom). Met die besluit geneem, begin ons blyplekke kanselleer en nuwes soek, en weet net dit was die regte besluit en iemand groter is in beheer, toe die kansellasies presies op die laaste dag val wat ons dit verniet kan doen sonder om enige geld te verloor - en dit het ons nie voor die tyd geweet nie.  
Page6
Rustiger nadat al ons nuwe planne in plek is, pak ons die laaste dag langs die See van Galilee aan deur die Mount of Beatitudes te besoek.  
Page7
Die plek waar Jesus vir 3 dae gepreek het (Matthews 5-7).  Orals is versies uit Matthews langs die paadjies, dit is so rustig en die uitsig is ongelooflik.  
Page8

By 'n fonteintjie die woorde "Let anyone who thirst come to me and drink...."  Johnannes 7:38 "Anyone who is thirsty may come to me!  Anyone who believes in me may come and drink!  For the Scripture declare;  'Rivers of living water will flow from his heart'"
Page9
Dit was die uitsig van die duisende mense wat na Jesus se bergrede geluister het!  Dis ook die plek waar hy die duisende met 5 broodjies en 2 vissies kos gegee het.  

Die 5 dae wat ons langs die see en omgewing spandeer het, was 'n ongelooflike ervaring en blessings - 'n plek waarnatoe ek beslis weer sal wil terugkom.  



Friday, July 25

Bomskuiling, ongeluk en toe die see ...

Dis heeltemal nie ek om vir die grootste deel van die dag, op vakansie, geen foto's te neem nie, maar dinge was nie heeltemal maklik toe ons in Jerusalem wegry met ons gehuurde motortjie oppad Tiberius toe nie. Tel Aviv, 'n stad wat ons wou mis ry weens die misiel-aanvalle daar, is die plek wat ons moet stop vir 'n padkaart.  Padaanwysings is swak, malls is kantore en mense praat nie engels nie, ons sukkel.  'n Klein reisagentskap kom tot ons redding met 'n kaart en die sirenes begin afgaan.  Almal spring op ... come come se hulle en daar gaan ons straat af na 'n skuiling, saam met klomp ander kantoorwerkers, tot dit veilig is.  Die mense vat dit heel casual, want hulle doen dit 'n paar keer op 'n dag.  Met die kaart in die hand en glad nie veilige gevoel nie, besluit ons om so gou moontlik uit die stad te kom.  Maar selfs voor ons daar is, is daar nog 'n aanval en hierdie keer skuil ons saam met ander onder 'n brug.  Toe 'n vrou se stem hard oor luidsprekers oor die stad begin praat, besluit ons dit beteken seker alles is veilig en kan nie gou genoeg in die motor kom en die pad uit Tiberius toe soek nie.  

Dis een ding wat my opgeval het, dat in hierdie toestand van oorlog, daar nie regtig aan toeriste gedink word nie, tensy mens die taal verstaan ... toegegee daar is hier en daar 'n plakkaat in engels wat se waar 'n bomskuilding is, maar as jy nie die stad ken nie, help dit niks.  Nie 'n stad waar ek sal wil bly nie en sonder om iewers kant te kies teen die oorlog wat nou aangaan ... as die land nie 'n goed toegeruste weermag gehad het wat die klompe misiele daagliks afkeer nie, was dorpe soos Tel Aviv seker al plat.  

Nog is dit einde niet, want daar is nie 'n pad uit nie :-)!  Ons stop en vra en eintlik kry ons dit, net om die volgende oomblik 'n bus te he wat uitdraai reg binne ons vas.  Terugkyk nou, kon ons seer gekry het want dis nogals 'n lelike duik, maar ons is beskerm.  Die busbestuurder blameer ons, sy engels sleg, maar gelukkig het 'n passasier gesien wat gebeur het en ons kan 'n naam en nr kry.  Ek vra nog ewe of ons die polisie moet bel, soos wat dit in SA en UAE gebeur, maar die jongman se, "die polisie het veel ernstige dinge soos 'n oorlog om te baklei, ongelukke is niks".  :-)

Ons bestuurderes, Charmaine kry ons veilig uit die dorp!  Soos ons ry, sien mens name van plekke wat jy nog net gelees het van, en agter in die motor sit 'n ensiklopedia met die naam van Elriza, wat ons vertel van berge, dorpe en wat daar gebeur het in die Bybelse tyd.  

As kinders het ons altyd gekyk wie sien die see eerste, en met dieselfde opgewondenheid na 'n paar uur se ry sien ons die See van Galilea!  
Page1
Ons kon nie gou genoeg afpak en ry om te gaan kyk nie.  Galilea, die plek waar Jesus meeste van Sy tyd op aarde gespandeer het en waar Sy bediening was.  Ongelooflik om daar te kan staan!
Page2
Ons kry die aand die oulikste eetplekke buite op die see om te eet en natuurlik is daar van ons wat onmiddelik die tradisionele varswater vis van die See van Galilea, die St.Peter's vis, moet eet.
Page3

Die volgende dag besoek ons Capernaum, daar waar Jesus vir Peter gese het "volg My" en ons kyk weer uit oor die see waar Hy die storm stilgemaak het en ook op die water geloop het.  Anders as in van die ou stede waar ander plekke bo-op die ander gebou is, is die see nog die see waar alles gebeur het.  Ons raak stil.  
Page4

Hierdie kerk is herbou op oorblyfsels van 'n vorige kerk.  'n Kerk op 'n rots.  Elriza staan hier by van die trappe van die vorige kerk.

Page5

Ons besoek vinnig die plek waar Jesus die bergrede (Matt 5-7) gepreek het, maar dis gesluit .... sal weer kom.
Page6

'n Draaitjie by die Ancient Galilee Boat museum.  Op die foto bo links 'n boot wat hulle uit die water gehaal het en wat dateer uit die tyd 40vC.

Page7

Hier is nog van die mosiak kunswerke aan die buitekant van die museum.  Kan julle sien watter storie dit uitbeeld?
Page8

Ons geniet die omgewing van die See van Galilee verskriklik baie en die volgende dag is dit tyd vir ons rit op 'n dhow op die see.

DSC_0442ii

Vandag maak mense gebruik van ander manier om op water te loop.

Page9
Ons boot se naam is Faith en dis die enigste boot wat deur Christene gestuur word op die meer.  Ons vaar 'n ent in die see in en luister na 'n kort boodskap uit Mattheus.  Daarna wys Daniel vir ons hoe hulle destyds visse gevang het, en sowaar ons vang ook een vissie :-).  Na dit lei hy worship van 3 liedjies, ek sal more probeer om een op te sit dat julle kan luister.  
Page10
Van die kunswerke rondom die museum en by die see.  Hierdie was so 'n spesiale paar dae sover ... ons geniet die omgewing, Tiberius en die See verskriklik baie.

Thursday, July 24

Ons loop waar Jesus geloop het


Ons is nog besig om die vorige dag se sien, ervaar en beleef te verwerk, toe is dit alweer tyd.  Met die mortiere wat die vorige nag hewig lawaai gemaak het, wonder ons of almal land uit is en iemand vergeet het om ons daarvan te se, maar ons sien vinnig dat die ou stad nog propvol toeriste is.  
Page1

Ons begin by die Mount of Olives waar Jesus opgevaar het (Hand 1:8-12) en waarna Hy sal terugkeer (Zach 14:4).  Ons kyk uit op die ou stad en waar ons die vorige dag geloop het. Ons toerleidster beduie ywerig van die olyfbome.  Oppad af sien ons ook die joodse begrafplaas wat al 3000 jaar gebruik word en waar daar plek was vir 150000 grafte.   Baie grafte deur die jare is beskadig en ook met die bou van die hotel en paaie meer onlangs.  Dis 'n belangrike plek vir die jode want hulle glo dat wanneer die opstanding kom, die wat hier begrawe is, eerste sal opstaan.  
Page2

Daar is heelwat kerke oppad af.  Omdat die berg 'n assosiasie met Jesus en Maria het, is dit 'n groot besienswaardigheid vir Ortodokse, Katolieke en Protestante.  
Page3

Die tuin van Getsema is ons volgende stop. 'n Plek wat Jesus en sy disippels besoek het en ook waar Judas Hom die aand van sy arrestasie gekry het.  'n Studie het bevind dat 'n paar van die olyfbome in die tuin van die oudstes ter wereld is - hulle praat van duisend jaar en meer.  DNA toetse het ook gewys dat al die bome van huidiglik in die tuin is almal van die selfde saad afkom.  Dit was vir my nogals amazing om hier die tuin te besoek en bietjie stil te wees daar.  
Page4

'n Katolieke kerk wat gebou is naby waar Jesus gebid het, die Church of All Nations kerk is ook 'n besonderse kerk om te gaan kyk.  

Page5

Vandaar is ons verder af met die koppie, terug by die ou Stad waar ons op die Via Dolorasa roete geloop het.  Alhoewel ons weet dis nie die regte pad wat Jesus geloop het terwyl Hy Sy kruis gedra het na die plek waar Hy gekruisig is nie, was dit 'n besonderse pad om te stap.  Die roete het al 'n paar keer verander deur die jare en vandag is daar 9 stasies van die kruis, met 5 wat in die Church of the Holy Sepulchre is. 
Page6

Dis nou gangetjies en kerke orals en 'n mens kan bietjie afdwaal.  Watter pad om te vat want elkeen wys 'n ander rigting ....
Page7

Die bad van Bethesda is nog 'n stopplek.  In Johannes word daar oor die "bad" geskryf en behalwe vir daar was daar geen bewyse dat so 'n plek bestaan het nie en het mense getwyfel of die boek wel deur Johannes geskryf is en nie deur iemand anders later nie. 

Page8

In die 19de eeu is oorblyfsels van die bad wat Johannes se beskrywing pas wel opgegrawe.  Daar is ook 'n klein kerkie naby gebou.  Die tuin was een van die rustige plekkies waar mens net wou sit en rus in die hitte. 
DSC_0267

Hoe moet ons nou weet waarnatoe volgende as die gids nie weet nie?   
Page9
Ai en daar het sy die plek wat sy soek en hier gaan ons weer, hierdie keer oppad na die church of the Holy Sepulchre.  
Page10
Hier was ek en seker die ander twee heeltemal verstom oor hoe besoekers inkom en voor van hierdie plekke buig, bid, glo 'n klip gaan hulle genees as hulle daaraan vat en dan aan die "siekplek", ens. ens. Alhoewel dit plekke en goed is wat dui op Jesus se kruisiging, die graf, die steen voor die graf, ens. word dit ook genoem dat dit nie die regte plekke is nie ... maar steeds "aanbid" mense dit.  Ek het hartseer daar uitgestap en dit het gevoel asof dit vir party soos afgodery is.  Ons hoef mos nie vir 'n klip te bid nie... ons het mos 'n Pa wat luister. 
Page11

Maar dit vat nie die feit weg dat hierdie kerke ongelooflike rykdom aan oa oorspronklike skilderye het nie. Party is so oud dat mens dit nie kon afneem nie, so donker was die skildery.  
DSC_0332
Na 'n lang dag, groet ons die ou Stad om aan die einde van die toer weer te besoek (wat nie gebeur het nie weens die oorlog).  Ons gids is nog fiks en sy ken die straatjies en die ou tannie kom agterna.  Ten minste kan ek foto's neem :-).  

Ons is ook dankbaar om more in die rigting van Tiberius te gaan waar dit rustiger tov die konflikte in die land is.  






Wednesday, July 23

Ons besoek die Ou Stad

Vandag besoek ons die ou Stad en dis een van die plekke wat ek nog altyd wou sien.  Ons is super opgewonde.  
DSC_0064 (1)

Die Jaffa hek is sommer naby ons blyplek. In ons studie vir die dag word ons herinner dat ons vandag "bo-op" baie geskiedenis gaan loop.  Van Abraham tot David tot Jesus tot vandag....   
Page1
Nie op die beplanning nie, maar ons eerste stop is die David-toring museum en ons is glad nie jammer nie. Die naam is deur die Byzantine Christene gegee omdat hulle geglo het dit is die paleis van koning David. As hierdie mure kon praat, sou hulle vertel het van David, Solomon en koning Hezekiah.  Baie jare later word 'n muur en groot toring by gebou.  Herodus bou nog drie torings by 37-34 vC nie net om die stad te verdedig nie, maar ook om sy paleis op Mount Zion te beskerm.  Die hoogste toring is na sy broer Phasael vernoem, die tweede een na sy tweede vrou Miriam en die derde na 'n vriend Hippicus.  Slegs die Phasael staan nog vandag.  
Page4

As die mure hulle storie kon vertel ....Na die vernietiging van Jerusalem deur die Romeine was die plek gebruik om die Romeinse soldate te huisves en later het monnike hier gebly.  Vir 'n klompie jare ook arabiere.  Die Crusaders bou nog 'n toring as uitkyk om die pad van Jaffa te beskerm. Dit word 'n paar keer afgebreek en opgebou en vir 400 jaar gebruik Turkse troepe dit.  Die Ottomans bou 'n moskee en minerat wat vandag nog staan.  Meer jare later toe die Britte die stad inneem word dit amptelik vanaf die ingang van die toring afgekondig.  'n Klomp geskiedenis feite ek weet, maar terwyl ons daar was en oor die stad kon uitkyk van die mure kon mens die oud en geskiedenis voel.  
Page2

Ons "toerleier" pak hierdie strate aan asof sy hier gebore is :-), en ons volg. 
Page5

Ons loop op die stadsmure en het 'n uitsig oor die meer moderne stad buite die mure en oa Mount of Olives.

Page6
Die Davidson museum wat inligting en feite oor die Westelike en Suidelike Muur asook die Temple Mount het, is volgende.  Dit sluit ook die argeologiese park in.  Hier kan mens trappe klim wat 2000 jaar oud is en daar is baie opgrawings waar heelwat ontdekkings tov die geskiedenis van die stad gevind is.
Page7
Dis nogals 'n ondervinding om deur plekke te stap vanaf die Canaanite (brons tydperk) regdeur tot die tyd van is Eerste tempel periode, die tweede tempel van koning Herodus.  Hier kan 'n mens duidelik sien dat die paaie waarop ons loop in die huidige ou stad nie heeltemal die oorspronklike is nie, want die opgrawings gaan 'n paar verdiepings af.

DSC_0162

Dit raak baie warm :-).  Nie dat ons nie hitte in die woestyn gewoond is nie, maar hierdie is anders.

DSC_0168

Ons spandeer ook tyd by die Westelike muur en ek moet erken dat ek my by tye verkyk het aan die mense wat al die pad kom, om by 'n muur te kom bid en dan is daar al die rituele wat hulle glo help hulle meer om hulle gebede verhoor te kry.  Ek's bly ek het nie nodig om dit te doen nie.   
DSC_0179
Na 'n vol dag van sien, voel, ervaar, inneem is dit tyd om bietjie te gaan rus en by die Jaffa hek, sit iemand en harp speel.

Nie dat ons nog nie die alarms en ontploffings gehoor het nie, maar vanaand is dit erger en die sirenes is meer deur die nag.  Mens skrik wakker daarvan en wonder wat en hoe as daar nou iets naby moet gebeur. Gelukkig is die blyplek halfpad onder die grond.  Die eienaares se sy kyk nie eers meer nuus nie, want wat moet hulle doen, dis hulle huise en plek, hulle kan nie elke keer hardloop nie.