Monday, April 30

Vergeet die PROTEAS, check ons LEEUS!!!

Die skool se Sport toekennings is gister gehou en ja ouens ons krieketspan kan dalkies nie internastionaal presteer nie, maar ons Leeutjies hier in die UAE kan. Hulle het onder andere vanjaar in Kuwait, Egipte, Doha en Oman ook gaan deelneem. Verdra asb my bietjie spog.Van die 7 Sportvroue van die jaar (elke graad vanaf graad 7) is DRIE van hulle deur Suid-Afrikaners gewen. Jessica van der Walt Graad 7, Nelmari Graad 8 en Almari van der Merwe Graad 12.
Hier is nog van ons meisies met medaljes wat hulle gewen het in hulle onderskeie sportsoorte. Nie sleg nie ...ek dink SA weet nie wat hulle mis nie.

Ons vier SA medalje wenners by die seuns, v.l.n.r Evan Carstens, William, Moopolea en Wynand vd Walt.

Die sportseuns van die jaar in elke graad v.l.n.r. graad 12 - 7 met regvoor op sy hurke die Sportman van die Jaar 2006/2007 - William Holloway!!!!!!

Nelmari se hoop medaljes en sertifikate. Altesaam 9 van hulle

Met haar twee medaljes!! Ons is trots op jou sussie!!

William se sertifikaat en medalje oes - altesaam 12 sertifikate en 3 medaljes

Mooi so seun ons is trots op jou!!

Sien James nou is daar nog 'n Holloway naam op die trofee!!!

(Sien ook aparte blok oor hulle sportspanne se prestasies wat ek die naweek sal plaas)

Pizza en Potatoes

Gisteraand het ons omgeegroep nog 'n boekie afgesluit met 'n lekker fliek en pizza aand. Ons het die rolprent "Faith like Potatoes", 'n ware verhaal van Angus Buchan geredigeer deur Regard vd Berg gekyk en dis 'n fliek wat ek regtig sal aanbeveel.
Ons het dit op die muur gegooi om dit lekker groot te kan kyk. Was ook lekker om saam met die storie, mooi SA tonele te sien en van ons mense se "Afrikaanse Engels" te hoor.
Tussen-in is daar pizza geeet. Louis ons het spesiaal chicken fajitas gehad vir jou......!! Sharyn en Ewert het nie elkeen hulle eie pizza gehad nie, hulle het mooi gedeel.
Die storie is so waar en was 'n goeie les. Ons moet geloof soos aartapels hê want ons kan nie altyd sien wat is die eindresultaat nie, ons moet net glo en vertrou dat dit gaan goed uitwerk. Nie noodwendig soos wat ons wil nie, maar Vader se wil wat baie beter is!! Dankie ouens dit was lekker. Sterkte vir die volgende paar weke met die nuwe groep uitdagings. Onthou ons gaan vereers nie Ellispark vul nie, slegs ons sitkamers.

Sunday, April 29

Ontmoet vir Begeera

So 'n tydjie terug het ek julle van ons brak Luie vertel en nou is dit tyd om julle van die ander troeteldiere te vertel. Ek laat haar self vertel.
So 'n klompie jare terug het ek en my sussie Baloe saam met ons mensfamilie Abu Dhabi toe gekom. Alhoewel dit warm is, is ons nie verskriklik uitgesit met die warm weer in die dorp nie, ons bly in die huis en wil glad nie saam met die straatkatte gesien word nie. Hier is ek en my sussie in ons mens mamma se studeerkamer besig om te rus
So 5 maande terug is Baloe oorlede weens longkanker en was daar groot hartseer in die huis. Dis toe wat ounooi agterkom sy het nie baie foto's van ons nie. Dit beteken dat ek nou orals rondgejaag word met 'n kamera en het ek partydae geen rus vir my siel nie. Ek is GLAD NIE beindruk met die fotonemery nie. (Terloops die van julle wat my nie kan identifiseer aan my strepe nie en net die donker sealpoint Siamese ken, ek's 'n Chocolate Tabby Point.
Ek moet noem dat ek 'n rype ouderdom van 11 is en baie van my tyd aan beauty sleep spandeer. Ek is GLAD NIE 'n oggendmens nie maar ek het my dae en oomblikke wat ek aktief is. Maar ek is 'n denker en daarop spandeer ek baie van my tyd in die posisie soos gewys op die onderste foto dat ek kan diep dink.

Maar van tyd tot tyd maak ek 'n tydjie om met ounooi te gesels, al wil my oe net toeval.
Vir oggend oefening sal ek partykeer met 'n toutjie speel.
Nuwe tegnologie fasineer my en ek probeer leer hoe om die rekenaar te gebruik, net vir ingeval ek 'n epos kry.

Wie is daai kat op die skerm ounooi? Watter knoppie moet ek druk om hom daar uit te kry?
Van al die speel en werk moet ek eers gou 'n breuk vat om myself skoon te kry - die woestynsand sit orals, selfs agter my ore.

Ag nee man kan ek nie in privaatheid bad nie?

Ek gaan soek liewer 'n plek waar ek in vrede kan rus. Kom jy saam?

Dis my slaapmaat en baba, Apie. Ek dra haar orals rond en kan nie sonder hom slaap nie.

Ounooi los haar uit, jy vat haar nie weg vir 'n foto nie.
Ek sal graag nog een keer met julle wil praat as ek 'n meer aktiewe dag gehad het. Julle moet weet ek speel sport ook. My huismense vermoed ek het Altzheimers omdat ek dingetjies vergeet, maar ek vertel julle daarvan op 'n ander dag.

Voor ek gaan .... my eintlike basie sit in Bloemfontein so ek moet gou die geleentheid gebruik om vir hom miaau te sê. Ek en Apie mis ons slaapmaat. Miaau miaau miaau!!!







Friday, April 27

Straatkuns

As daar nou enige diere vir hierdie Arabiere belangrik is, dan is dit die Kameel, Perd en Valk. Dis seker hoekom dit juis hierdie drie is wat gebruik is om 'n kunsprojek as 'n liefdadigheidsprojek te loots.


So 'n week of wat terug het ek julle vertel van die geverfde kamele (label - Kameelkuns) wat orals in ons strate staan. Voor die kamele was dit die Arabiese perd wat orals langs die strate van Dubai gestaan het. Hier is 'n paar foto'tjies van hulle. Waar daar meer as 80 kamele geverf is, was daar 100 Arabiese hingste geverf. Kyk 'n bietjie hoe kleurvol hulle was.

Met verlede week se besoek aan Dubai het ons gesien dat die laaste van die drietal nou sy/haar verskyning langs die strate maak, nl die Valke. Volgens die nuus is daar omtrent 100 valke wat langs die strate vertoon word.

Soos die kamele en perde is die valke van veselglas gemaak. Die vorm vir hierdie valk is in Colorado gemaak en toe hierheen gebring. Die volle grootte van die valk is 9 vt met die vlerkspan 6 vt.

Verskillende kunstenaars handig hulle ontwerpe in en dan kies die borg watter ontwerp hy/sy vir hulle valk wil hê. Die kunstenaar wat die ontwerp voorgelê het is ook die een wat die valk verf. Een kunstenaar mag selfs meer as een valk verf. Enige persoon en/of instansie kan 'n valk borg.

Die geld van die borge betaal vir die valke, verf, studioplek om te verf en die kunstenaar. Daarna word die valke op 'n veiling verkoop en die gelde gaan dan vir liefdadigheid. Soos julle sal onthou het die kamele 'n klomp miljoen gemaak.

Hier is 'n paar van die valke wat reeds op straat verskyn. Mooi kleurvol ne.

Die mense doen nie altyd dinge "normaal" soos ons dit ken nie, maar dis lekker om deur die strate te ry en sulke vrolike kunswerke langs die pad te sien. Bygesê, dit bly langs die pad en niemand steel dit nie.









Die "woestynhek"

Die van julle wat hier lees sou opmerk dat die hitte in ons dorpie nou vinnig spoed optel en gister was dit konstant in die 40's. Saam met die hitte het ons ou Proteatjies ook bietjie verwelk en ons almal 'n slegte nagrus gegee. Ek wil nie teveel hieroor sê nie die hart is maar seer, maar hulle bly nog my span en volgende keer skree en probeer ons maar weer. Dan wen ons dit nie omdat dit ons tyd is nie maar omdat ons goed is.
Die kinders het die ADSAC pluimbal toernooie gehad. William se span het bietjie teleurgestel nadat een ou vroeg geloop en sy wedstryde gemis het. Die hele span is daardeur geraak was. (ADSAC gaan oor hoeveel wedstryde die span wen en nie 'n indiviuele speler nie). Hy wat Will is het selfs maar net 3 van die 6 wedstryde gewen. Nelmari het behalwe een al haar wedstryde gewen en die dogters het tweede geeindig in die ADSAC!!!
VIr die ouma wat lees, die rapporte het ook gister gekom en dit sal teveel spog wees om 'n foto daarvan te neem - veral aangesien ons almal in "rou" is na die krieket - weet net dat beide van hulle 'n baie goeie rapport huistoe gebring het!!
Tydens verlede naweek se uitstappie na Dubai het ons verby advertensies vir 'n nuwe ontwikkeling in die woestyn gery. Ja reg in die woestyn waar daar niks anders as sand, sand en nogmaals sand is nie - ok miskien ook 'n bietjie graspoele en 'n kameel of twee - is die advertensieborde besig om op te gaan. Ek het so bietjie inligting gaan soek hieroor en dis iets wat mens bykans nie kan glo nie.
Op hierdie 10 km stretch woestyn gaan die wêreld se grootste hotel en die grootste gekonsentreerde groep van hotelle ENIGE PLEK TER WÊRELD gebou word. Hierdie is die baken wat die begin van die woestynhotelle genaamd "Desert Gate" aandui.

Verskillende "themed hotels" hotelle gaan gebou word. Altesaam 31 hotelle saam met winkelsentrums, teaters, restaurante ens. gaan deel van die projek uitmaak. Die wêreld se grootste hotel Asia-Asia sal alleen 6500 4- en 5- ster kamers verskaf. Hier is die advertensiebord van die hotel.

Van die 30 000 kamers wat beplan word sal 12 450 kamers deur die "themed hotels" verskaf word

'n Verdere 19 hotelle sal die orige 16,750 kamers verskaf.
Natuurlik sal daar ook ene met 'n Egiptiese tema wees.

Hierdie projek sal in 5 fases gebou word om met die groeiende getal toeriste na Dubai in pas te bly.

Amerika gaan ook hier verteenwoordig word. Die eerste 5 luukse hotelle word beplan om 2010 sy deure te open

Met 'n verdere 6 gedurende 2011. Hierdie hotel se tema lyk baie vrolik en musikaal. Gedurende 2012 sal nog 7 voltooi wees.

Natuurlik sal daar ook 'n hotel wees met 'n Afrika tema. In 2013 sal NOG 7 gebou wees en die laste fase 2014 sal nog 6 hotelle sien wat die totaal op 31 te staan bring. Ek's al so lank hier in Abu Dhabi en wonder of ek enige van hierdie hotelle sal sien open.

(Die foto's van die beplande hotel is lewensGROOT advertensie borde wat in die woestyn opgerig is, wat ek afgeneem het).