Elke liewe dag wat ek in die dorp ry is daar iewers nuwe geboue wat opskiet waar ek nie eers geweet het hulle bou nie en Abu Dhabi ontwikkel met die spoed van wit waks. Net gister staan ek op die boonste vloer waar ons hare laat sny en sien hoe "nuwe" ou geboue platgeslaan word sodat groter geboue gebou kan word. Om die waarheid te se mens kan amper nie meer onthou wat daar was nie. Wys net dat mens so gewoond raak aan alles en later net nie meer die mooi geboue, tuine en goed sien nie. In die afgelope jare van blog het ek al baie van die mooi winkelsentrums en geboue en goed van die dorp vertel en selfs 'n bietjie van die ou Abu Dhabi. Vandag is ek regtig spyt dat ons nie meer van die dorp en geboue afgeneem het toe ons gekom het nie want alles het verander.

Die van julle wat nie weet nie, Abu Dhabi is mos 'n eiland en hoofstad van die UAE. Almal weet waar "Dubai" is (of hoe skryf almal nou weer in SA, Doebai :-) - dog ons het geleer op skool plekname verander nie) maar min mense weet van Abu Dhabi. Ons self moes op die internet kyk voordat ons baie jare terug hierheen gekom het. Nie eers 40 jaar terug nie was dit die Cornish van die dorp.
Ek lees in 'n baie interessant boek wat deur 'n ou wat hier grootgeword is geskryf is, dat dieselfde landjie wat ons land so aangeval het en mense in konsentrasiekampe geplaas het, het ook hier kom oorneem destyds nadat olie ontdek is. Hulle het die geld "beheer" en vir baie jare het Abu Dhabi sonder die nodige mediese fasiliteite, onderwys, elektrisiteit ens. moes klaarkom totdat die toe heerser besluit het om beheer oor hulle eie land te neem. Saam met dit het die ontwikeling begin. Die Cornish in die jare daarna.
Die heerser van die land het toe vir elke plaaslike inwoner van die land, 2 plotte grond verniet gegee. Een in die dorp in een verder uit die dorp wat vandag die industriele gebied is. Hierdie is 'n storie op sy eie wat ek later sal vertel. Daar is toe besluit om die Cornish projek aan te pak en 'n nuwe een te bou.
Soos altyd wanneer hulle 'n nuwe pad bou, word die omgewing met fonteine, parke, ens. saam met die projek gedoen. Hierdie is nog in die begin maar kan mens reeds sien waar die bekende volcano fontein en ander bekende bakens sou wees.
Maar steeds was dit nie goed genoeg nie en in 1998 word nog 'n nuwe Cornish gebou en van hierdie een is ons deel van die bouery en onthou mens baie. Julle ouens wat al lank hier is sal dit seker onthou - Kathy julle het mos net 'n kort tydjie na ons hier aangekom, het julle nie 'n foto van daai ronde pizza plek wat op die Cornish gesit het nie? Of die ou Co-op?
Saam met die nuwe paaie het ook 'n nuwe strand en baie bome gekom. Daai groen strook bome bo regs in die foto, is waar die pad/brug nou oorloop na die Marina Mall wat toe nog nie eers begin is nie. Die strand na daardie strook is waar die bekende Emirates paleis nou gebou is.
Op hierdie strook sand het die kinders vroeer jare baie vlieers gevlieg en gespeel. Kyk net hoe klein is Nelmari en William nog hier. James staan ver regs in die prentjie ook besig om te speel.
En om van die Cornish te vertel, moet mens die aaklige versierings oor die paaie in Desember ook noem. Wie van julle onthou dit? Hierdie was een van die beter enes, party was regtig verskriklik oordoen en lelik. Dit was om National Day te vier.
.
Dit was die foto van Abu Dhabi wat almal kom neem het en die dorp en Cornish wat ons leer ken het. Daai bal op die hotel en die een op Etisalat was ons baken en as mens verdwaal het, kon jy net die bal soek en weet waar jy min of meer is.
Die dorp het "gesettle" en die paaie het gebly waar hulle is. Ons het selfs 'n teetuin gekry langs die see waaroor ons dames baie opgewonde was. Links op die foto met die groen sonkappies op die vensters. Ek het ook al vertel hoe Charmaine met 'n kuier daar langs die water gestaan het en van haar foto's in die water geval het.

Die Cornish was nou mooi groen met baie bome vir skadu en plekke om te loop. Nelmari 'n bietjie ouer saam met Jessica besig om deel te neem aan 'n Terry Fox wedloop op die Cornish
Soos ek gese het daar was lekker plekke en mens kon so al langs die see loop. Hier kon ons ook 'n boot kry om oor te vaar na Lulu eiland vir 'n lekker braai of swem - daar was nog niks op Lulu eiland nie en mens kon sommer oorgaan. Links is daar sulke glaskoepel goed waar jy kon wag vir die boot.
Maar iemand het weer 'n jeuk gekry en die Cornish moes weer verander word - so saam met die bou van Marina Mall. Hierdie foto is op presies dieselfde plek as die boonste een geneem, maar hier kan julle sien ons sal nou bietjie langer vir 'n boot moet wag want weer is 'n groot deel van die see droog gele.

Van die nuwe Cornish het ek vertel en foto's gewys en nou is dit een groot snelweg met 6 lane beide kante toe maar steeds lekker plekkies om te loop, mooi parke en tuine en selfs 'n nuwe strand. Nelmari nou heelwat groter stap langs die Cornish. Ek dink nie daar is meer baie water oor om nog 'n Cornish te bou nie, so miskien eindig die storie nou hier.
