Saturday, November 29

Die dorp is besig om wakker te word

Die UAE is besig om hulle vere reg te skud vir 'n groot feesviering en dis nie omdat ek op vakansie gaan nie. Onthou julle nog die Republiekdagvieringe by die skool? Miskien nie almal nie, maar ek onthou die standaard program van begin met die vlaglied, dan skriflesing, O God van Jakob, en die afsluiting met die Volkslied... Op die 2de Desember is dit die UAE se 37ste Nasionale Dag. Kan julle glo die land is net 37 jaar oud? In elk geval het al die skole hierdie week voordat hulle 'n paar vakansiedae het, Nasionale Dag gevier. Die kinders hou ook konsert maar baie anders as wat ons gedoen het. Almal is kleurvol aangetrek in Nasionale kleredrag en vlagkleure en dis liggies en vlae en ballonne en en en. Omdat ons baie van die royals in die skool het, en een van die Sheikhas dit bygewoon het (seuns en dogters se konserte was apart), mag daar geen foto's geneem word nie. Natuurlik kon ek so bietjie skelm voor die tyd neem. Hierdie graad 6 dogtertjies het later 'n liedjie gesing en omdat ek al vir die klompie skool gehou het, het hulle gese ek mag maar afneem en ek weet vir 'n feit hier sit 'n klein royaltjie ook. Die saal was opgemaak met die mooiste ballonne en blomme. Ook voor in die saal was daar swart leersitkamerstelle waarop die "belangrike" gaste gesit het. Ek was sommer op 'n witstoel. Ongelukkig/gelukkig vir my was baie van die BBP kinders naby en alhoewel die foto's onder moeilike omstandighede geneem is wil ek julle net bietjie van die klere wys. Kyk hierdie een se hooftooisel en dis goud en baie swaar. Ek sal 'n lekker hoofpyn kry as ek so iets moet dra. Hierdie BBP op die regterkant se rok was ongelooflik - en dan dink mens hulle dra net swart. Drie van hierdie dogters is bbp's maar ek wil julle net hulle lang hare wys. Die een met die pienk se hare hang langer as haar kniee. Die kinders het gesing, gedans en gedigte opgese en almal neem deel. Bv aan die einde van 'n gedig skree haar pelle van onder ook die laaste woord ... raaiserig mense. Die haredans was iets besonders en baie van die danse sou julle monde laat oophang het, ons dink hierdie mense is preuts, dink maar weer. Na die konsert het die hele skool 'n tradisionele ete, met nageregte en koeke geskenk deur die Sheikha geniet. In die dorp is daar ook woelinge want die liggies word opgesit. Op die sirkels, bome, middelmanne, strate, pale, enigiets wat beweeg word liggies gesit en oor 'n dag of twee gaan Abu Dhabi soos 'n pretpark lyk. Ek belowe om julle die liggies te wys. Loer hier om te sien hoe dit verlede jaar gelyk het.
Ek en Nelmari vlieg vandag SA toe vir 'n paar daggies en sal beslis vertel wat ons alles aanvang.

Thursday, November 27

Ons gaan Brasiliaans...

Met Eddie se verjaarsdag het ons by 'n nuwe Brasiliaanse restaurant gaan kuier - Nelmari se keuse. Natuurlik het ek voor hierdie restaurant, geen idee gehad watter kosse nou regtig van Brasil af kom nie. Vir meeste was dit 'n eerste keer en ons het baie lekker gekuier. Mens betaal per kop en kan jouself dan soveel as jy wil aan die sop en slaaie help ... dis al wat uitgepak was. Steven en sy vrou skep van die seekossop. Geen idee of die twee die aartappelsop of iets anders bespreek nie, maar dit lyk na 'n goeie onderwerp. Nadat jy slaaie geskep het, kry elkeen om die tafel so 'n sirkeltjie waarvan die een kant groen en ander kant rooi is. Sou jy wil vleis he, moet groen bo wees en as jy wil rus of genoeg gehad het is dit rooi se beurt. Volgens die kelner is daar 14 verskillende soorte vleis wat jy dan saam met jou slaaie en groente op die tafel kan geniet. Annemi wag vir die skaap tjoppies. Steve en Carola wag dat hulle van die lekker sirlion vir hulle bord sny. Mens maak natuurlik die fout om nie te sirkeltjie om te draai aan die begin nie en dan wanneer jou bord gevaarlik vol raak met vleis onthou jy om dit vinnig om te draai. En dan draai jy dit om en sien hierdie boudvleis en draai dit vinnig weer terug. Hermias vat sy stukkie vleis van die kelner. Ek moet byse dat hulle gelukkig net klein stukkies van die vleise sny. Ek weet nie hoeveel van die 14 soorte vleis elkeen gehad het nie, maar hierdie klomp lyk vrolik en heel versadig en reg vir nagereg. Lyk partymense nie skuldig toe ek haar met haar nagereg afneem nie. Steve is die ander ou wat nagereg eet en hier is klein Amber by haar pa. Ons het baie lekker geeet en gekuier en sal die seuns beslis soontoe moet neem as hulle kom kuier.

Tuesday, November 25

Markte is hier anders

Of mens nou gewoond is aan die ou markies by Groenpunt, Hatfield en Irene of die boeremark oorkant die WNNR, dis effens 'n kultuurskok om die markte in die UAE te ervaar. Ek lees 'n vlooimark is 'n plek waar gebruikte goedere verkoop word en 'n "craft mark" is heeltemal iets anders. Natuurlik mis mens dit en daarom is dit ook paslik dat 'n SAfrikaanse vrou 'n craft mark in April begin het, en dit nou weer in November gehou het. Kyk dis nog baie in die beginstadium en ek het ook oor die Aprilmark geblog, maar ons was nuuskierig om te sien of dit "gegroei" het. En dit het, want daar was 18 stalletjies en teen 11 uur was baie van die gewilde stalletjies se voorrade maar laag. Gelukkig vir ons was daar nog scrapboekpapier en goetertjies beskikbaar. Afrikaans kon mens orals hoor en jy loop baie bekendes raak. Party mense voel mens moet net eenvoudig ondersteun dat hulle volgende keer weer een wat nog groter is kan hou. Ons kon nie soos in April boerewors rolletjies kry nie, maar lekker biltong en droewors was een van die gewilde verkope. Die ander westerlinge is defnitief besig om 'n tand vir hierdie lekkernye te ontwikkel. Die arabiere aan die anderkant, noem 'n mark 'n "souk". Hier kry jy allerhande "souks" vanaf die Friday market in Fuijerah tot 'n Goud souk en 'n Vis souk en en en klomp ander. So na die vlooimark het ons die nuutste souk in Abu Dhabi gaan besoek. Kyk net die verskil in die "looks". Hier word nog gebou en gebreek, maar die uitsig is pragtig op die see en een van die grootste moskees ter wereld waarvan ek al hier, hier en hier vertel het. Die ingangsportaal is pragtig met rusplekkies en dan loop daar orals sulke gangetjies uit om die "mark/souk" effek te gee. Min van die winkels is al oop en dit lyk amper soos die Madinat Jumeirah waarvan ek vertel het. Wat besonders is aan hierdie souk is die waterkanale wat tussen en rondom die geboue loop. Mens kan dan sou jy in die hitte wou (dis darem nou winter) op een van die bote op die kanaal vaar. Ons sal defnitief weer kom kyk as daar meer winkels oop is EN een van SA se lekker restaurante Meat & Co het ook hier oopgemaak. 'n Baie goeie rede om weer te kom.

Sunday, November 23

Ons scrap les 3

Na ons les oor "Home" is dit tyd om te scrap wat ons in die les geleer het en vanaand is heelwat van die vrouens, omdat 'n besige werksprogram, voorbereid met 'n plan A. Dit beteken dat niemand haastig is om te begin nie en daar word rustig tee gedrink terwyl almal na hulle kaal bladsye staar. Wat so besonders is van hierdie studie is dat twaalf van ons dieselfde les kan doen en elkeen se scrapblad anders en uniek is. Selfs in ons "voorbereiding" en "tegnieke" verskil ons baie, kyk net hier .... Ons het die wat hard dink en staar in die verte opsoek na inspirasie. Een wat in haar sak sal krap opsoek na nog goedjies ... Partymense kom agter dat helfde van plan A by die huis is en nou word daar gewerk aan plan B. Ons het ook 'n spoeg en plak een .... Een wat in haar georganiseerde goed krap en glo in beplan en gaan volgens instink. En natuurlik een wat nie weet wat om te doen nie en liewers foto's neem as sy nie haar GROOT foute uitvee nie. En selfs as die inspirasie hulle beetpak werk elkeen op sy eie unieke manier. Ons het die wat met hulle self praat en nogal met die vinger vir niemand spesifiek beduie nie. En die wat met hulle tong konsentreer. Een wat 'n storie het agter elke foto wat sy gebruik. En ook een wat streng volgens haar beplanning gaan. 'n Klomp spesiale en unieke persone wat elkeen uit die les uitneem en 'n spesiale en unieke scrapblad maak. (Tydens die foto sessie was almal s'n nog nie klaar nie en het ek ook nog nie al ons internet groeplede s'n ontvang nie)
Hier is die bladsye ....Prent 1a Prent 1b Prent 2 Prent 3 Prent 4 Prent 5a Prent 5b Prent 6 Prent 7
Thank you, Lord, that you have not left me to flounder in the dark. You have given me all the direction I need, if only I will humble myself and go to your Word for the answers. Help me not only read and study the truths you have laid out, but also to incorporate them into every aspect of my daily life. Amen (van ons Studieboek God's Good Gifts)