Tuesday, February 13

Omgeegroep - God in Vlees en Bloed

Sondagaand het ons weer omgeegroep gehad. Ek deel dit graag met julle. Ons het die bespreking agterstevoor begin, maar die les was so moeilik, ons het nie eers agtergekom nie. Charmaine het die opsomming gedoen.

Een van die kragtigste gedeeltes in die Bybel is seker Johannes 1:1-14 en veral dan vers 14 wat sê: God het vlees geword en tussen ons kom woon en ons, Sy skepsels, het Hom nie geken nie, want ons was in die donker en die donker kan die Lig nie verstaan nie. Om uit die donker na die Lig te beweeg, het baie oortuigingskrag nodig. Daarom het Jesus volkome mens geword om ons van die donker te bevry, ons van sonde te red en vir ons Lig, waarheid en seën te bring.

Dit het van Hom gevra om Sy Godheid af te lê en Homself tot 'n arm mens te verneder wat honger en pyn en smart geken het, net soos ons. Hy was gehoorsaam tot die dood.

Hy stel die voorbeeld vir ons dat ons alles kan verduur, soos Hy het. En Hy het steeds nie gesondig nie. Dis moontlik vir ons om nie te sondig nie, maar nie in ons eie krag nie en nie as ons eie belange steeds so swaar weeg nie. Die enigste manier om weerstand the bied teen sonde is om baie naby aan God te kom. So naby dat Sy Lig deur ons sal skyn na ander en dat daar geen plek vir donker en sonde en selfsugtige belange is nie.

Hy vra dat ons bid en mekaar dien en die vergewe wat ons kwaad aandoen. Dat ons die mense sal liefhê wat ons haat en die sal groet wat ons nie groet nie. Hy het die voorbeeld gestel en vra dat ons Hom net sal volg.

Dit sal van ons vra om die minste te wees, uit te reik na, soos Sharyn sê, mense wat minder bevoorreg is as ons en soos Loius sê, ons geld, ook ons tyd en ons trots, sou mens kon byvoeg. Ons kan opsom en sê dat Vader net wil dat ons ons tot Sy beskikking stel om mense wat nie in Sy genade ingesluit is nie in te trek en so vissers van mense te word.

Ons het gedeel dat wat dit vir ons moeilik maak om uit te reik na ander, is dat ons moeilik vergewe en ou sondes teen mekaar hou, dat ons ongeduldig is om resultate te sien en dat ons net ongeduldig is...

Die dieptestudie uit Matteus 4:17-25 gaan oor dat ons Vader volg en beskikbaar is.

Uit Fillipense 2:5-10 kan ons besin oor wat dit vir ons beteken dat Jesus die geweldige offer vir ons gemaak het en as mens die res van die hoofstuk lees van vers 1-16, is die gevolgtrekking:
Wees niks, dien, wees gehoorsaam... tot die dood, buig die knie, erken God as ons Verlosser en hou op klae en stry. Skyn soos sterre tot eendag wanneer ons sal weet dit was nie verniet nie....

Wat 'n toets vir geduld!!!


Louis, Celeste en Anelda soek versies op. Dis baie lekker om sulke jong bloed ook in ons groep te hê.

Ewert en Sharyn drink koffie na die tyd.

Anelda maak tee en ons vier ook haar nuwe wiele. Hoop jy gaan baie wonderlike km met hulle hê Anelda. En geniet jou vakansie by die huis volgende week.

Die jong getroude paartjie. Louis hoekom maak jy eetgoed bymekaar, kook Celeste nie vir jou nie?

2 comments:

Anonymous said...

Hi! Hoop die "comment" sal hierdie keer deurgaan !? Baie geluk met'n
"knock out" site! Dis heerlik om te sien hoe dit met julle Dubai'ers gaan. Wonder net wat julle die kinders daar voer dat hulle so groot raak!!?? Moet seker maar die woestyn lug wees? Ha Ha.

Groetnis van oom tafelberg,tannie
blouberg strand, o ja , en neef
Schalk Viljoen!

Sandra said...

Dis die SA bloed verseker. En onhou ons is nie Dubai'ers nie maar Abu Dhabi'ers. Vir ons hier is dit nogal 'n groot verskil.