Saturday, September 15

Dis Ramadan in die land van die Kamele


Hierdie beriggie het ek seker al honderd keer begin. Ek wou julle vertel van Ramadan en waaroor dit gaan en waarvoor dit staan met feite en alles, maar dan onthou ek van my ervaringe die afgelope paar jaar hier en dis alles vir my so 'n klug. Toegegee daar is baie moslems wat dit ernstig opneem, maar mens doen mos nie net goed en wys hoe sterk jou geloof en wilskrag is eenkeer 'n jaar nie. Dis mos 'n permanente leefwyse .... So ek gaan vertel van hoe ek die maand van Ramadan hier ervaar en seker 'n feit of drie iewers ingooi.

Vir my is die vasmaand hoofsaaklik 'n ongerief omdat mens nie kan gaan koffie drink nie, en vir die moslems is dit doodeet. Maar dis dan die maand wat hulle vas sal julle sê ... ja dis die maand wat hulle vas, maar as mens sien wat gebeur sal julle ook met my saamstaan dis eintlik 'n groot vreet kompetisie. Praat met oa van die jongmense en hulle sal jou vertel dis 'n maand waarin hulle gewig optel en hulle hou daarvan niks.

Hierdie is my tiende Ramadan en ek moet erken dat dit beter word met die tyd. Ek onthou daardie eerste jaar, dit was in Desember (volgens hulle kalender skuif dit elke jaar 11 dae vorentoe). Hier kom ons in 'n vreemde land aan wat ons eers moes plot op 'n wêreldkaart, dis warm al is dit eintlik winter en ons het niks behalwe 17 bokse met ons goed in en ken niemand. Toegegee ek het uitgesien om alles van vooraf nuut te koop. Maar dis Ramadan en die winkels maak toe in die middae wanneer mens wil shop en dan vanaand wanneer 'n normale mens in die bed hoort, kom almal uit om te shop, eet en kuier. Mens kan ook nie halfweg tussen die inkopies stop om ietsie te eet of drink nie, want die restaurante is toe. (Daardie jare was meeste van die restaurante in die hotelle ook toe). Die kinders is kriewelrig en dors en honger en moeg - julle weet mos hoe kinders is.

Dubai was toe amper in 'n ander land met die ou paaie wat nog nie 'n agt laan snelweg was nie, en hobbels gehad het soos op 'n kameelrug elke paar meter. Abu Dhabi het niks malls en/of supermarkte gehad nie en inkopie tyd was 'n uittog Dubai toe. Ons het skaars die eerste hobbel geslaan, dan is die kinders dors en honger (bederf met al die Ultra Cities by die huis). Vandag is daar vulstasies langs die pad, maar tienjaar terug net sulke klein gat in die muur winkeltjies. Dan word daar koeldrank gekoop en hulle moet plat op die vloer in die motor sit om dit te kon drink. Groot pret vir hulle om iets skelm te doen. Daar mag niks geeet en gedrink word tussen sonsopkoms en sonsondergang nie, maar ek dink my water in die motor solank daar geen ander voertuig langs my is nie. Nie net omdat dit wet is nie, maar ook omdat ek hulle gebruike respekteer.

Jinne my kop spring na allerhande stories deur die jare. Ek sal probeer konsentreer op een...

'n Normale VAS dag vir die locals, feit en werklikheid hoe ek en ander dit ervaar.

Net na 4vm in die oggend moet hulle hulself uit die bed sleep nadat hulle waarskynlik net 'n paar uur terug daar ingekruip het. Dan geniet hulle die "Suhoor" wat die laaste maal voor die vasdag is, en dit is veronderstel om hulle vir 14 uur gevul te hou. Weet jy hoeveel jy moet eet om jou gevul te hou vir soveel ure? Skaars klaargeeet en die ou begin skree dis bidtyd.

Indien die moskee naby is, gaan almal soontoe vir "fajr" gebed. Om te vas vereis goeie disipline en om nie te eet of drink nie vra ernstige wilskrag en daarom mag ons nie eet en drink voor hulle nie - dit mag hulle in die versoeking lei. Ek sou gedink het om te vas al eet mense rondom jou verg wilskrag...maar met die dat niemand mag eet nie en hulle ook nie kos mag ruik nie, sê dit nie veel van hulle wilskrag nie. Op hierdie punt verstaan ek ook nie hoe hulle in 'n supermark kan loop, die kosse kan sien en ruik en dit hulle nie in die versoeking bring nie. Ook is hulle veronderstel om nie hulle humeur te verloor nie (die meeste padongelukkige gebeur hier in Ramadan omdat almal of vaak of ongeduldig is weens die "honger" en dit dan op die pad uithaal - julle moet hierdie mense sien bestuur - staan terug SA taxi's) en hulle moet hul weerhou van slegte gedagtes...(ek veronderstel hier is dit elkeen vir homself. Ons weet dat ons gedagtes elke dag moet goed wees)

Kantoorure is korter en dit beteken hulle werk harder. Groot grap, hulle kom nog later by die kantoor aan, doodmoeg van heelnag se eet en sit en slaap agter die lessenaar. Bitter min werk word gedurende Ramadan gedoen en of voltooid.

Maar hulle kan ook nie lank sit en slaap in die kantoor nie, want daar moet gedink word aan die beplanning van "futoor/iftar" die breek van die vas, met kos natuurlik. Oor die Iftar wil ek julle nog in 'n ander beriggie vertel.
Na werk is hulle veronderstel om die tyd in gebed en met die lees van die Quran besig te wees. Maar baie mense loop in die dorp rond en die vroue is besig om die kos voor te berei. Ek wonder partykeer of hulle mag proe of die kos goed smaak gedurende Ramadan.

Dis 'n tyd van besoeke aan familie en vriende en hulle stuur ook van hul gunsteling disse na familie en vriende. Baie gesinne voorsien behoeftige mense ook van kos. Hiervan wil ek ook nog meer vertel met foto's. Julle moet sien hoe mense bakke voor hekke sit en toue staan om kos te kry. Ek het al gewonder of ek dit nie ook moet probeer nie net om te proe watter kos hulle het. Baie moskees sit ook kos uit vir mense om die vas te breek na bidtyd. Tradisioneel word die vas met dadels en laban gebreek. Ramadan bring mense nader en dis die tyd waarin ou vete's opgelos moet word.

Wanneer al hierdie verpligte formaliteite vir die dag afgehandel is, begin die pret vir hulle eintlik. Vriende en familie kom bymekaar in koffie winkels en shisha kafees. Baie mense het tente voor hulle huis opgeslaan waar die mans tot ligdag kuier en gesels en heel waarskynlik bietjie peusel aan kos ook.
Almal raak stil rondom 2am ... net sodat almal weer 4am kan wakker word om te eet. Gelukkig kan ek nog slaap.
Ek hoop dis vir julle ook interessant en ek vertel gou van die Iftar, kos aan minderbehoeftiges, Ramadan in die skool en enigiets anders wat in my kop spring hieroor.


2 comments:

Anonymous said...

hi tannie, laas jaar die tyd was ek daar, en ek dink dit was ook Rammadan. Waar't tannie gekry dat die arabiese omies so mooi vir tannie smile op die laaste foto ;-)
liefde groete Elriza

Charmaine said...

Dis 'n uitstekende artikel en sê presies hoe ons almal oor Ramadan voel.