Sunday, September 23

Wat is Iftar?

Ek het julle al 'n bietjie vertel van Ramadan en hoe ek dit beleef. Een van die dinge wat ek genoem het was die Iftar ( إفطار) wat verwys na die aandete en die breek van die dag se vas gedurende die maand van Ramadan. Dit geskied direk na sonsondergang en tradisioneel is dadels en water veronderstel om die eerste ding te wees wat hulle geniet.

Dit is iets wat as 'n gemeenskap en/of familie gedoen word en almal kom graag saam om die vas te breek en te kuier. Ek het so 'n paar tente gaan afneem in die omgewing waar Moslems gereed maak om mense te onthaal en te voorsien van kos. Hierdie was 'n taamlike standaard tent. Kyk die oulike armlenings vir wanneer jy op die vloer sit.


Dis die eerste keer dat ek een van hierdie deurskynende tente sien. As julle die foto vergroot sal julle die tafels en stoele aan binnekant mooi kan sien. Kyk ook al die lugreelings en waaiers wat verskaf word om dinge bietjie af te koel.


Hierdie hengse groot tent is voor een van die paleise opgeslaan. Om 'n prentjie te kry van hoe groot dit regtig is, kyk na die lugverkoelingseenhede wat langs die tent is. Daar is tien van hulle .... dis baie lank en groot!!!

Hier is nog 'n groot voor een van die villas. Kyk die wasbakke en water wat aangelê word dat hulle hande gewas kan word. Hierdie ouens doen nie sommer iets kleins nie ne. Die gekuier in die tente kan baiekeer tot in die vroee ure van die oggend aangaan.


Die Moslems glo ook dat om iemand te voed tydens Iftar is 'n groot en goeie daad. Daarmee het ek nie 'n probleem nie, maar julle moet sien hoe die mense bakke en komme voor die hekke van die villas sit om kos te kry. Ek was nog elke keer te besig om foto's van die toue en toue mense te neem (rugby en krieket ja), maar met die neem van die tente, was hierdie paar bakke reeds voor die hek om 14:00 'n hele 4 en halfwe uur voordat die vas gebreek kan word.

Vorige jare het ek gesien hoe mense in taamlike "grand" motors, 'n entjie van die villas stop en dan hulle kinders stuur om met die bakke in die ry te gaan staan. Sê mos ons moet dit ook probeer. Dis vir my partykeer al te veel na bedel ...wat natuurlik hier verbied is. As dit behoeftige mense is, is dit 'n ander saak. Miskien is dit die buurvrou wat wil sien watter kos die ander ouens vir aandete het :-).


Ek het julle mos ook vorige keer gesê dat daar baie keer kos by die moskees verskaf word. By die Lootah Moskee in Deira Dubai gee hulle daagliks vir 4800 moslems kos tydens Iftar. Hierdie tradisie het 30 jaar terug begin toe daar vir 150 honger aanbidders by die moskee kos gegee is en vandag stroom duisende, selfs van nabye Emirate soontoe om te gaan eet. Plaas hulle die taxi geld gebruik om kos te koop.


Maar soos so baie tradisies hier in die UAE is selfs die Iftar besig om te verander. Elke hotel het 'n spesiale aanbieding van etes waarvoor mens ten duurste betaal. Een goeie ding gedurende Ramadan is die feit dat daar nie alkohol gedrink mag word nie


Weg met die dadels en water, dis fancy buffets en goeters. Vanaand gaan ons Vrouegroep ook 'n Iftar bywoon, en ek vertel en wys julle more hoe dit gegaan het. Wat ek wel weet is dat ek nie daai bedrag gaan betaal vir dadels.... wat ek nie eet nie!

1 comment:

Muriel said...

Sandra ek sit verstom oor die bakke voor die hekke???? Wat gaan hier aan? Weird!
Ek hou van daardie armleunings!!