Showing posts with label Fuijerah. Show all posts
Showing posts with label Fuijerah. Show all posts

Friday, March 16

Lank, lank, gelede

Baie jare terug toe ons hier in die woestynland aangekom het, was naweke en malls heeltemal uit om die eenvoudige rede dat daar geen malls in ons dorp was nie. Dus was een van die naweekaktiwiteite vir ons om sommer net so langs die strand te gaan kamp

. Page1

Een so 'n "gewilde" plek vir jare was op die strand by Fuijerah net so onder die berg. Daar is mooi gesoek na die regte plekke sodat mens windbeskut kan wees, en tog 'n lekker strand he, ens. ens. Dan met die aankom, het elkeen presies geweet wat sy/hy werk was vir die opslaan en inrig van die kampplek.

img354

Dit was oopsee, maar die water was spieelglad en stil, en ons kon vir ure daarin rondhang. Vir ons Kapenaars was dit spesiaal want hier het ons die see en 'n berg gehad.

Page2

Die kinders het hulself ure lank vermaak met allerhande wateraktiwiteite en ons het nie vir een sekonde gekommer oor waar hulle is en wat hulle maak nie - die hele strand was hulle sin.

Page3

Daar was stortgeriewe en met 'n grafie en toiletpapier was daar ook 'n toilet :-) (op die foto is een juis oppad badkamer toe). Ver van die winkels is daar na die naaste moskee gery, onder die boom parkeer en dan waterbottels volgemaak.

img353

Saans met sonsondergang was dit die mooiste prentjie en so doodstil, nie eers 'n brandertjie nie.

img340

Die kinders het kampvuur gemaak met hout wat saam aangery is, en daar is vir ure lank lekker kampvuurstories vertel.

img352

Dit was ons uitsig op snoopy eiland.

DSCF2738

Vandag se uitsig vanuit 'n hotelvenster teen die berg na snoopy eiland. (foto van internet)

img344

Die uitsig na die anderkant.

DSCF2744

En vandag presies op dieselfde plek, die uitsig (foto van internet)

Ons het geweet hoe om 'n kampplek uit te kies ne? :-)

Wednesday, April 7

Die UAE Ooskus

Die UAE Ooskus is heeltemal anders as die groot en blink in emirate soos Dubai en Abu Dhabi wat ek al van vertel het. Ja, ek het al ‘n paar keer oor die Ooskus geblog, maar hierdie naweek was ons weer daar en behalwe vir die groot hoeveelheid trokke op die pad, en hier en daar nuwe huise, is dit maar nog net soos ons dit baie jare terug hier gekry het.
Page1

Ons bestemming was Fujairah en hierdie emirate is die enigste een wat nie teen die Arabiese Gulf gelee is nie en dan het dit ook die mooi anderste Hajar bergreeks. Die arabiere kan hulle geskiedenis terug nagaan tot die 17de eeu en vanaf Yemen wat hulle rondom 570 in die area kom vestig het. Die “stamvader” was Abdulla bin Mohammed Al Sharqi wat hard baklei het om die vier tribes in die gebied te verenig. Die oupa-grootjie van die huidige sheikh het die stamvader in 1888 opgevolg en hy was die heerser tot in 1932. Lank ne!? Hy het hard baklei om sy mense van die Brits beheerder Sharjah los te kry. Daar was selfs ‘n aanval deur die Britse vloot in 1925 op die kasteel wat 90 min geduur het en die skades kan nog vandag aan die fort en muur gesien word.

Page2_2

Oppad na Dhiad toe is die baie bekende en gewilde Friday Market waar mens regtig vir enige iets kan stop. Matte, speelgoed, vars vrugte en groente, plante en pottery. Die winkels het al baie uitgebrei en meer geword vandat ons die eerste keer gegaan het, maar dis altyd lekker om op die kleurvolle straatmark op die lang pad af te kom.

Page2

By een van die hotelle kan mens altyd lekker eet op die see en dis dan ook ons middagete stop. Hulle is besig om bietjie die plek op te gradeer maar dit gee ons nog tyd om ietsie te drink en te eet en van ons om langs die see te gaan stap. Hierdie restaurant kan nogal hittig raak in die somer ….


DSC_0094

Dan moet mens altyd by die ou Fort gaan stop. Hy staan op so ‘n klipperige koppie met die Hajar berge op die agtergrond.

Page2_1

Die fort is in die 18de eeu gebou en was die blyplek van die heerser van Fuijerah en sy familie. Die fort het beide ‘n vierkantige en ronde toring en mens kan sien hoe dit later jare met klip herstel is. Mens kan nie binne gaan kyk nie, maar dis ook maar goed want dit lyk nie verskriklik veilig nie. Elriza en Nelmari het gaan aanklop vir tee, maar niemand was tuis nie.

Page1_1

Van die ou village huisies se raamwerk staan nog, maar mens kan steeds ‘n goeie idee kry van hoe dit gelyk het. As mens so deur die dorpies ry voel dit baie keer asof die tyd stilgestaan het, maar op die een foto’tjie kan julle die ontwikkeling ver op die agtergrond sien.

Page3_1

Op die fort se perseel is ook nog ander geboue en die put waar hulle water gekry het. Ek’s seker die ou fort sal baie stories kan vertel.

Oppad terug huistoe ry mens ook verby ‘n klein village Bidiyah waar mens die oudste moskee in die land kry. Dit word die Ottoman moskee genoem, vernoem na die argitek Othman en nie die Ottoman tydperk nie. Die moskee het slegs een pilaar en geen minaret nie. Hulle vermoed dit is gebou selfs voordat die islamiese geloof in die area aanvaar is. (Hierdie foto's het ek op 'n vorige besoek geneem - onder labels "Fuijerah" kan julle meer van die vorige trips sien)

Page4

En wat is ‘n rit deur die woestyn sonder kamele. Op die roete is daar baie troppe en hierdie klompie was lekker naby die pad sodat ons kon foto’s neem. Verseker kan mens nie se jy was in die UAE sonder dat jy die regte “platteland” dele ook gesien het nie.
Geniet die week

Saturday, June 21

Leane word losgelaat

In die afgelope tien jaar het ons besoekers gehad met verskillende belangstelling en behoeftes - daar was die wat met 'n shopping lys gekom het, die wat net wou kuier, die wat restaurante wou besoek, die wat die besienswaardighede wou sien, die wat mall crawling doen en hierdie keer 'n unieke eerste ....een wat die klippietjies van die land interessant vind. Ja glo dit as julle wil. Natuurlik het ons nou nie 'n wavrag berge hier nie en hoeveel klippe kan mens nou in 'n woestyn kry, maar sy is besig om nie te sleg te doen in haar soektog nie. Leane wat swot om eendag as sy groot is 'n geoloog te wees, was al die tweede aand met 'n besoek aan die Cornish by ons huis geinteresseerd in die klippe langs die water. Hier het sy oor die heining moes klim om te kyk. (O en daai stil "rivier" is deel van ons woeste see) James voor ons eie oase net om die draai. Oppad Fuijerah toe stop hulle by die Friday market waarvan ek ook al vertel het. Dis 'n deel van die land wat wel "berge" en klippe het en daar vat sy die pad. Hier skrop sy nog steeds in die grond rond, langs die groot pad en neem foto's van die klippe.By die hotel en kans om af te koel ... lyk dit nie lekker nie. Dis die hotel in Fuijerah se strandjie. Vir lekker vis langs die see is dit een van die beste plekke in die UAE. Ek praat van vis om te eet nie om te vang nie, alhoewel mens seker dit ook kan doen. Die hotel se binnehof met lekker tradisionele plekke om te sit. Hulle gaan besoek ook die Al Bidyah moskee teen die berg. Dit is die oudste moskee in die UAE waaroor ek ook al geblog het. Voor die moskee is daar nog 'n tradisionele waterput en bietjie woestyn groenigheid. Die twee stap op na die toring/fort agter die moskee. Kyk net al die groenigheid op die agtergrond, dis alles ou oases in wadi's. Mens moet darem ook 'n bietjie in die woestyn by die duine uitkom. Wat sal dit nou beteken seun? Is jy bly om terug te wees in die woestyn? In die hitte het Leane darem ook Bloemfontein se koue in gedagte gehou en hierdie uitrusting in Ajman probeer. In die lewe ... dat hulle sulke klere hier in die hitte verkoop.

Wednesday, September 26

Bulgevegde in Fuijerah

Met ons vorige trip na Fuijerah het ons nie weer by die bulgevegte uitgekom nie, maar ek wou julle nog daarvan vertel het. Laat ek net eers gou slim klink. Die Arabiere noem dit Mnattah wat "head-butting" beteken - 'n terme wat hulle gebruik vir bulgeveg.

Anders as die Spaanse bulgevegte is hierdie een sonder bloed en slegs 'n vertoning om te sien watter bul die sterkste is. Hulle gebruik hulle horings en stoei totdat een van die tweee, die geveg gewonne gee, omdraai en wegloop.

'n Geveg duur gewoonlik twee tot drie minute. As daar nie 'n defnitiewe wenner by daai tyd is nie, is dit 'n gelykop uitslag.
Die "arena" is langs die Fujairah Cornish en mens sit sommer so op die walle of staan uit die bulle se pad en kyk. Mens loop nogals baie versugtig tussen die bulle deur wat so staan en wag vir hulle geveg want party lyk maar omgekrap.

Nadat hierdie "sport" in Sharjah verbied is, is Fujairah die enigste emirate wat nog elke Vrydag in die somer, afhangende van die weer (kanse 99% dit gaan erg sonskyn) 'n Mnattah het. Dit begin gewoonlik rondom 4 nm en duur tot 6 nm. Kalba 'n klein dorpie in die omgewing het ook 'n Mnattah liga vir die bulle. Gedurende Oktober saam met die Eid Al Fitr vieringe beplan Fujairah 'n groot bulgeveg festival vir die van julle in die dorp wat wil gaan kyk.

Monday, August 27

Trippie na Fuijerah 4 - Kontraste oppad terug

Na al die opwinding van snorkel, forte en moskees was dit tyd om terug te ry Abu Dhabi toe. Die omgewing langs die pad verander by die minuut en ek kan nog steeds nie verstaan hoekom hulle Fuijerah die "ghetto" noem nie. Kyk 'n bietjie na sommige van die interessante plekkies en dinge.
Moskee's is volop en op elke hoek en blok. Verskillende groottes, ouderdom en vorms. Hierdie een dink ek klassifiseer as "moderne" en van ver lyk dit net soos 'n ruimteskip.
Daar is die mooiste fonteine langs die pad. Hier is 'n besonderse skulpfontein. Die Cornish is geplavei en dit is moontlilk om tot by die volgende klein dorpe Kalba al langs die strand te loop. Ek dink 'n 5 min rit met die taxi is 'n baie beter opsie in die hitte.
Ek kan net wonder of hierdie geboude palmboom enige koelte verskaf, want die ware Jakob kan dit nie eers in hierdie hitte doen nie.Gelukkig is daar darem 'n effense windjie wat waai - maar eintlik dink ek dit versprei net die hitte eweredig.
Ons ry verby hierdie restaurant ......en besluit om maar deur te druk en die dors op 'n ander plek te les. Baie van hierdie ou geboue langs die pad het sedert die 1960s nie veel verander nie alhowel groot nuwe huise nou orals gebou word. (Wonder hoe vars is die koffie?)
Net ingeval julle dink ons is kieskeurig .... die Al Kaabi Restaurant se aircon lyk of dit stukkend is en ons wil nie regtig in die hitte verversings geniet nie ....ons hou maar deur na die volgende koel hotel toe.


Op vorige besoeke aan die dorp het Eddie ons geneem om te kyk hoe hulle die visse uittrek op die strand en dit was nog altyd besonders. Met ons wat so vodde was na die snorkel het ons nooit daarby uitgekom nie, maar was opgewonde om vissies langs die pad te sien. Wat ek nooit geweet het nie, is dat hierdie sardientjies gedroog word om later as "fertiliser" (kunsmis) gebruik te word. Ek dog hulle word soos bokkoms geeet.
Hierdie 4x4 het sy dae gehad dit kan mens sien, maar nog steeds in 'n werkende toestand.
Daar is heelwat ontwikkeling langs die paaie en ek voel half benoud as ek dink hoe hulle AbuDhabi se strande so stadig maar seker weggevat het en met ontwikkeling toegebou het. Ek hoop nie dat dit hier gaan gebeur nie.
Is dit nie pragtig nie? Die berge, see, strande en palmbome? Hoe lank voordat 'n hotel die stukkie grond kom toe bou?Dan draai ons effens weg van die see en vat die pad oor die berge terug. Die land het soveel interessante borde langs die pad - wonder wat bedoel hulle met hierdie een "For family only" - want ons drie is nie familie nie en ons is op die pad ...of ons moet op die pad wees, hoe anders?
Nog 'n klein dorpie met 'n groot moskee. Hierdie is 'n meer tradisionele een maar groot!!
Langs die pad is daar heelwat "wadi's" in die berge. Kyk die grys stof berge en die groen kolletjie grasHet hierdie boot "te ver" probeer gaan?

Ons stop vinnig by die Friday Market vir 'n koffiebeker vir Charmaine en kieries vir Amelia.
Wanneer ons hierdie verkeer in Sharjah slaan, weet ons ons is oppad huistoe .....



Dit was 'n heerlike trippie en die dames het hulle meestal gedra. Volgende keer durf ons weer Dubai se winkelsentrums aan.