'n Tydjie terug het ek vertel van een van die nuwe malls in Dubai hier en gedurende die week was dit ons beurt om die akwarium van naderby te gaan besigtig. Hier het ons so lank spandeer dat daar baie plekkies/winkels was, wat ons nie eers verby geloop het nie. Op wikipedia word dit nie verniet aangegee as die grootste mall ter wereld nie - wat nauurlik nie heeltemal korrek is nie want dis net die grootste buite Noord-Amerika.

Maar ons fokus was die seewereld hierdie keer .... Moet ons of moet ons nie ingaan nie? Die haai is so bly toe ons uiteindelik ingaan, dat hy vir ons die mooiste van glimlaggies gee.

Eers gaan ons deur die watertonnel om die visse van nader te bekyk en sommer by die ingang wag 'n hele skool haaie ons in. Ons verkyk ons na alles. Hierdie tenk is drie verdiepings hoog en het tot 10 miljoen liter water waar die visse van alle groottes in rondswem.

Maar onder waar die mense deurstap is dit meestal haaie wat kos soek en pylsterte wat ons kom beloer. Elriza wil hulle bietjie vryf maar hulle wil nie stil-swem nie.

Na 'n lang tyd in die tonnel gaan loer ons op die boonste vloer na die see-dieretuin en hier het die tyd ook stilgestaan.

Daar word by elke tenk tyd afgestaan en nog steeds probeer sy die vissies vryf ....

Nelmari wys ook opgewonde dat daar nog iets is wat ons moet kom kyk, terwyl Elriza in 'n waterborrel inklim om die tenk van binne te beloer (seker omdat sy die kleinste is). Is dit nie wonderlik hoe Vader elke dingetjie in detail en kleur gemaak het nie.

Hier staan die twee meisies by baba-krappe ... volgens die mense wat daar werk, kan hierdie krappe so groot soos 'n beetle-motor raak.

Dan die sterre van die "dieretuin" - vir ons in elk geval. Die seerotte wat so cute was, die seeleeus en die pikkewyne wat mal was oor die mense en hulle aanmekaar kom "pose" het vir 'n foto.
Ons het onsself maar moeilik van die see-dieretuin weggesleep en die uitstappie vreeslik geniet - en die mall met die 1000+ winkels was ver-ver uit ons gedagtes. Verskoning vir die foto's - die beligting was nie vir kameras nie en die dik glase by die tenks het ook nie gehelp nie.
