Almal weet dat die kameel die dier van die UAE en ander Arabiese lande is, so dis niks snaaks om kameelmelk tussen die ander melk op die winkelrakke te sien nie.
Toe kameelmelkskommel sy verskyning maak moes mens begin mooi kyk wat jy neem wanneer jy melkprodukte wil koop. Was ook groot pret om die kinders dit te laat proe hier en selfs vir kuiermense te voer hier. Nou het die mense dit nog 'n stappie verder gevoer. Einde verlede jaar was daar 'n opskrif "Camals, ships of the desert, are now sailing onto desserts as well". Sjokolademakers (wat's die regte naam) het twee jaar gewerk aan hierdie sjokolade wat op die internasionale mark kan meeding. Jip, kameelmelk sjokolade!
Al die bestanddele kom van die Camelicious plaas - 'n plaas met 3000 kamele en die enigste plaas wat gewaarborgde kwaliteit kameelmelk verkoop word hier. Die sjokolades kom in verskillende geure met dadels (kan mens dit nou geraai het), neute, lemoen, donkersjokolade (sal dit nou die swart kamele wees :-)) en volroom kameelmelk. Daar is ook die praline reeks waar die sjokolade gevul is met nougat, koffieroom en pistachio. Hulle se dat kameelmelk baie gesonder is as koeimelk. Dit 'n 5x meer vitamiene C, minder vet en uitstekende produk vir diabete.
Maar moenie dink dat die sjokolade beskikbaar gaan wees vir elke Jan Rap en maat nie - ooo nee in 'n maand van nou af word die eerste sjokolades in die mark geloots en sal dit te koop wees by die winkel by die plaas en van die luukse hotelle. Een van die malls in Dubai sal ook 'n winkel he en hulle beplan een winkel in elke emirate. Uitvoer na Japan, Europa, ander Arabiese lande en selfs Amerika is in die pyplyn. Omdat dit 'n eksklusiewe produk is, sal dit in geen supermarkte beskikbaar wees nie.
Of ek dit ooit sal proe? Ek weet nie, maar dat ek dit vir mense sal gee om te proe, dis waar!






