Showing posts with label Onrus. Show all posts
Showing posts with label Onrus. Show all posts

Saturday, July 18

Terwyl ons uitbraai

Ja terwyl ons uitbraai in die hittige Abu Dhabi, is James en Leane in 'n veel koeler Onrus ernstig besig om aan die beplanning vir die troue te werk.

Page1

Soos julle kan sien is dit harde werk en dit hou mens ure besig want plekke moet bespreek word, gastelys moet opgetrek word, ens. Dit kan ure van mens se tyd vat.

Page2

Ten minste het hulle darem nou die "wedding-planner" (ai dit was sommer onsself in die vroee jare) gesien en die "venue" bespreek (foto regs in die hoekie). Ek kan sien dis nie 'n maklike twee maande vakansie nie seun ...julle twee moet die laaste paar dae saam geniet in die mooie ou Kaap en koue Bloemfontein. (Jaaaa maat, ek weet).

Tuesday, August 12

Die see by Onrus en Hermanus

Met die seuns se teruggaan het Eddie ook 'n paar dae gaan vakansie en bietjie in die strandhuis gaan bly. Ek's mal oor die see, en wil graag van die seefoto's wat hy geneem het met julle deel. Dis in Onrus en Hermanus geneem. Vir julle ouens wat by die see in SA bly, weet julle het baie om voor dankbaar te wees en julle ander wat saam met my die Kaapse see mis, is dit nie mooi nie? Ek dink nie dit het enige woorde nodig nie!








Monday, February 11

Kuiertjies in die Kaap

Die kuiertjie in die Kaap was maar kort, maar ons kom darem by 'n paar mense uitkom. So lekker gewees om saam met Des te kuier. Des wat die peetpa van die seuns is, is nou baie koppe korter as hulle. Johan het op Onrus 'n draai kom maak. Hier is hy saam met sy twee neefs William en James. Die Smithe bly sommer op Onrus, so daar is 'n paar keer saamgekuier, hier sit hulle om die vuurtjie vir 'n braaivleis. En ook vinnig 'n draaitjie op Swellendam by die Hammans. Wanneer kom julle Abu Dhabi toe?

Heel eerste dag ook 'n lekker kuier saam met die Du Toits en Campbells. (Ronelle spesiaal oor jou en Marie se gekla die foto waar ek op is). En net so terloops ek is nie besig om planne te beraam nie.

Ek dink die Kaap se foto's is nou afgehandel alhoewel ons nog honderde van die see het. Nou kom die trippie Bloemfontein toe.

ns Ronelle, dankie vir die mooi foto's van Clifton en ek stem saam mens moet ver soek om mooier te kry. Waar is jy op die foto?

Wednesday, January 30

Dis maar koud ...

Met al die reunie bloks het ek nie kans gehad om meer van ons "kort" vakansie te vertel nie. Alhoewel ons nou terug is in die UAE, wil ek dit nog graag met julle deel. Ek het altyd vertel hoe mens die Vaalpense in die Kaap identifiseer ... hulle is die ouens in die koue Kaapse see, maar hierdie keer het daardie gepraat terug geboemerang ... My twee jongstes wat nou al heeltemal gewoond moet wees aan die hitte van die woestyn en die warm see hier, wou opsluit in die "koeler" weer op Onrus gaan swem en dit is die resultate ...
Die dorpsmense is nêrens te sien nie, behalwe twee op kano's. Alhoewel ons strandhuis hier is, beteken dit nie ons is van hier nie en die kinders WIL opsluit swem. Ek dink veral William voordat hy die seelose Bloemfontein aandurf en Nelmari ter ondersteuning van haar boetie. Maar dit is 'n mooi prentjie.
Al durf hulle die "warmer" lagune in plaas van die see aan, lyk dit maar koud William probeer braaf lyk.
Nelmari is ook maar versigtig in die koue water terwyl William nou heeltemal nat is. Mens kan sommer sien hy beplan alweer iets.
Nelmari waarsku met die vinger (lyk asof sy by jou geleer het Marie), maar gaan William hom daaraan steur?
O nee nie Will nie En Nelmari kan maar net asem intrek vir die water oppad.Hy hou ook nie op totdat Nelmari behoorlik nat is nie Miskien het hy haar net gehelp om gouer aan die koue water gewoond te raak.
Eendjies, eendjies swem in 'n ry, een, twee, drie, swem hul verby! Hierdie drie stuur hul min aan die lawaai en geskree van die kinders in die koue water. Miskien wonder hulle net, wat presies maak hulle in die koue water.
Maar die swemmery duur nie lank nie en die twee is uit die water.
Terug huis toe met James se karretjie. Hierdie is die groen gevaar se debut op die blok al staan hy 'n paar jaar al op Onrus. Seker ons sal nou meer van hom sien en hoor noudat hy ook in Bloemfontein is!

Friday, January 18

Sommer lekker niks

Ons is nogsteeds op Onrus en ek kan vir julle vir dae seefoto's wys, (wat ek nog gaan doen) want die see lyk mos nooit 'n minuut na mekaar dieselfde nie. Die stilte en ver weg van die gewoel is baie lekker.
William se mondfluitjie speel verbeter by die dag. Sien die foon in sy hand? Hy surf die web vir mondfluitjie note (blase?) en speel dan so. Ons herken selfs van die liedjies. Alhoewel Kersfees nou al 'n maand gelede plaasgevind het, is veral Stille Nag baie sterk op die liedjie lys en vang ek hom kort-kort sit en speel.
Ons het ook heerlik saam met oom Jan en tannie Nell gekuier. Oom Jan was later toergids vir nog foto's van die see. Ronelle op die tafel lê jou prys vir die meeste reg raai, ek moes hulle eers wys en toe word dit natuurlik bespreek :-)
Terwyl ek lekker rustig sit, speel William en Ouma darts .....(Kliek op die foto as julle die byskrifte wil lees)
Die res van die huisgesin het gisteraand gearriveer en nou sien ons almal uit na die reunie more.

Thursday, January 17

'n Brand doen skade

Net so twee daggies terug het ek vir julle foto's gewys van hoe mooi groen die wêreld en berge lyk en hoe warm dit is. Daarna was dit die wind en het dit gewaai .... jinne die koerante sê nie minder as 100 km/h en mens moes vashou....regte woestyn winde. Iewers langs die berg het iemand, vermoedelik bosslapers vuur gemaak en met die wind het dit gou-gou versprei.
Ons kon nie die vlamme te duidelik tussen die rook deursien nie, maar die dorp, Hermanus, was vinnig heeltemal toe onder die rook. Paaie was toegemaak en mense wat in huise op die berg bly, kon nie by hulle huise uitkom nie.
Kyk hoe hardloop die vuur oor die berg .... Die koerant sê dat ongeveer 250 mense probeer het om die vuur onder beheer te kry.
Gister het ons na die skade gaan kyk en selfs na 'n nag van reen, was daar nog orals vuurtjies wat gesmeul het.
Hierde huis was gelukkig en slegs sy heining en hek het gebrand. Ek kan net dink hoe bekommerd hulle moes wees.
Hierdie stapper het hom min gestuur aan die berg wat afgebrand het, hy het nog steeds gaan stap.

Kyk hoe naby die vuur aan die huis gekom het.
Ons gaan loer by Hoy's se koppie in die dorp en dit lyk maar sleg. Hier neem tannie Nell bietjie foto's'.
Hierdie grasdakhuis het heeltemal afgebrand en ironies is dit nie eers naby die berg nie. Blykbaar het die wind 'n kooltjie vuur tot onder in die dorp gewaai wat die dak laat afbrand het.
Volgens mense naby die huis, het dit net 10 min geduur voordat dit heeltemal afgebrand het. Altesaam het 4 huise tydens die brand afgebrand.
Bo op die koppie kyk ons af na nog brandskade. Op die linkerkant van die foto sal julle Hoy's se koppie sien en die skade.
Maar so tussen al die swart roet en smeulende vure, is daar nogsteeds lewe en ek's seker dat die berg baie vinnig weer groen sal wees.

Monday, January 14

Oppad Onrus toe

Gister tyd in die mooi ou Paarl spandeer en vinnig self gaan kyk hoe die plek vir die reunie lyk en die kos en ander goed gereel. Oppad en die prentjie lyk nog presies toe ek klein was, net meer water. Kyk bietjie op die regterkant van die blog na die mooi prentjies van Mooikelder waar ons gaan kuier. Ek is baie seker dat julle die plek gaan geniet.
Daarna is ons Onrus toe en William het soos hy dit stel “sy eerste selfbestuur oor die berg gedoen”. Hy was vreeslik opgewonde daaroor en ek moes net keer of hy wil Du Toitskloof ook aandurf omdat daar ‘n tonnel is.
(Die foto'tjie wat hier moes kom wou nie aflaai vandag nie, kom loer more)
Was vir hom ‘n lang pad, maar dit het vir my geleentheid gegee om sommer so in die ry foto’s te neem en die omgewing te geniet. Die foto’s is eintlik om julle ouens daar in Abu Dhabi bietjie jaloers te maak. Dit was ‘n hittige 31 grade en sonder die lugversorging wat ons aan gewoond is, nogal warm.
William wou dadelik afsit water toe, maar dit was bietjie koud, so ons het net ‘n foto of twee kon neem.
Hierdie ou het ons gefasineer en dit wou lyk asof hy oefen om op die water te loop. Sekondes na die foto was hy in die water. Aand op Onrus en alles lekker rustig en warm.

Thursday, September 13

See en weer op Onrus

Met Eddie se onlangse besoek aan Onrus het hy die foto's geneem. Ek deel dit met julle, spesiaal die ouens ver van die huis, eerstens omdat al is ons op 'n eiland hier in Abu Dhabi, die see nie naastenby so lyk nie (dis 'n dooie see) en tweedens omdat ons nie sommer sulke wolke en donker weer sien nie. Geniet sommer net die foto's

Oom Jan merk iets in die water op


Lyk soos 'n walvis ....

Daar's die stert

Die kop kom op vir lug


Die vin
Wolke aan die saampak

Dis mooi


"Geen honde op strand toegelaat" so hy staan maar daar vir 'n foto