Tydens hulle skoolloopbaan hier in die UAE was Engels hul eerste taal en vir 'n groot deel daarvan Arabies hul tweede taal. Later het dit af geskuif met Frans / Spaans in die tweede plek. Maar by die huis was dit Afrikaans en net Afrikaans.
Met die jare het Nelmari haarself ook leer skryf en lees in Afrikaans, die seuns het darem 'n bietjie skoolagtergrond gehad. Daar word baie gevra "ma wat beteken daai woord" as dit 'n nuwe woord vir haar is, maar nooit is/was daar 'n behoefte om liewers met ons Engels te praat nie.
Lang storie as agtergrond - maar hierdie week het ons so gelag vir Nelmari met die taal dat ek dit net op rekord moet kry .......
Sy's oa 'n goeie kok en probeer graag iets nuuts. Natuurlik is die Afrikaanse resepteboeke nie altyd maklik nie en daarom het ek vir haar 'n Engelse Kook en Geniet gekoop. Maar die van julle wat een het, weet dat die resepte in vergelyking met Wenresepte km lank is. En sy doen alles tot op die letter van die resep. As dit se bv. heel hoender se moet ek nie durf waag hoenderborsies koop nie. So wil sy 'n hoenderpastei maak en so vol selfvertroue dat sy eers die gaste nooi vir ete. (Ek sou eers wou kyk sal dit reg uitkom). Ek help net 'n bietjie in die kombuis en dan is sy op haar eie. Met die lekker reuke van onder weet ek iets is reg en dan kom sy uitasem die trappe op en baie "ontsteld".
"Ma, die resep se prik die boom .... wat beteken dit want ek het nie 'n freaking boom in die bak nie" .... Moes eers versigtig loer om te sien of ek mag lag, maar sy het darem later die grap of situasie net so geniet.
Die hoenderpastei was heerlik sussie en ongelukkig het die foto's nie wonderlik gekom nie, jy sal maar net nog een moet maak dat ons foto's kan neem!