Sunday, July 6

Museum uitstappie

Hoe hierdie sheikhs se koppe werk kan partykeer nogal 'n raaisel en verstommend wees. Dit sien mens veral by die privaat motormuseum van die Reenboog Sheikh. Leane moes dit natuurlik sien, so die woestynpad word aangedurf met "gevoel" want ons is nie heeltemal seker hoe om daar te kom nie (al was ons 'n paar keer al daar). Mens ry nog so deur die woestyn en as jy nie reeds daar was nie, kan jy dink ons het dalkies 'n verkeerde afrit Egipte toe gevat, want hier langs die pad sien mens 'n piramide nader kom. Dis die groot skuur wat die Sheikh opgerig het om sy motors in te hou. Wanneer jy nader ry is die eerste ding wat jy sien die aardbol karavaan. Op vorige blogs het ek reeds meer vertel hiervan, maar soos julle op die foto kan sien is dit groot en die kinders verdwerg heeltemal. Binne-in is dit 'n ten volle toegeruste karavaan om in te bly. By die ingang is hierdie Mercedes met die Sheikh se logo op. Leane sal defnitief 'n leer nodig he om in te klim. Dan die eerste ding wat jy sien as jy instap is die trok wat die karavaan getrek het! Hierdie 4x4 Dodge is groot mense. Hy het eens op 'n tyd wel 'n entjie gery. Kyk die leer wat onder uitsteek ....dis die ingang na die ten volle toegeruste "blyplek". Dis een van die wiele .... Daar is behoorlik motors van orals en van alle tydperke in die museum, kyk bietjie na van die foto's.
Orals sal mens sien hoekom die Sheikh die Reenboog sheikh genoem word. Hy's lief vir kleure ook by sy motors. Vir die wat nie die vorige blog hieroor gelees het nie, sy vrou het hom een jaar vir sy verjaarsdag 7 Mercedes in sy 7 kleure gegee met hierdie een in al die kleure. Dis regtig nie mooi kleure vir 'n Mercedes nie, maar wat gee mens iemand wat volgens die wereld alles het?! Buite is daar ook 'n kameel of twee waarop mens kan ry. Hierdie een is op ete maar hy/sy laat toe dat Leane bietjie die ore krap. 'n Lekker vrugtedrankie in die hitte is 'n moet. Die ander op die foto is Charmaine (wat keer vir die foto) en haar familie. Oppad uit moet ons eers gou by die Landrover stop wat verkeerd geparkeer het. Leane lyk verdwerg. Hierdie landrover is eintlik die winkel/restaurant. Die twee "kleintjies' by die spaarwiel. Aan die eenkant is 'n winkeltjie wat mens enigiets van koue water tot flitsligte kan koop. Die bokant is 'n restaurantjie wat uitkyk oor die woestyn. Hulle lyk nie baie besig nie. Hier waar baie mense mos dink die brandstof kom van, het ons nie eers nie !!! Nou weet julle hoekom die brandstofpryse daar so hoog is :-)

9 comments:

jackieo said...

Jinne maar dis interessant!! Ek is juis so lief vir motors en dit sal def op my uitstappie lys moet kom - dankie Sandra

Anonymous said...

Wou die kameel nie vir Elriza en Leane soen nie??????
Annie

Anonymous said...

Wou die kameel nie vir Elriza en Leane soen nie??????
Annie

Anonymous said...

Hallo Jackieo. Wanneer kom jy in Dubai aan?

Annie die kamele soen nie in 'n etenstydbreuk nie.

Muriel said...

Ag is daardie kameel nie te mooi nie. Jinne maar dit was 'n lekker inskrywing met baie dinge om te sien Sandra, Baie interessant!! Die Sheikh is regtig groot op kleur. Ughh ek sal nie met so mercedes wil ry nie. hie hie

Muriel said...

Liewe aarde ek sien dit is alweer erg warm by julle, hulle sal my moet lawe met piesangblare op 40 grade !!

Anonymous said...

Muriel 40 grade is eintlik darem nog nie heeltemal somer nie, so ons is dankbaar.

Die sheikh se vrou en dogter ry met 'n pienk Range Rover en klein Mercedes rond .... dis nou ugggh se ek jou

Muriel said...

Pienk??? Ja nee ek kan dink dat dit Ugghh is!!

ICE said...

Gedink jy sou die kameel opmerk, Muriel! ;)