Thursday, July 3

Nuwe inligting oor die moskee

So 'n paar maande terug vertel ek van die groot moskee in Abu Dhabi en wys klompe foto's. Kliek op die label "Sheik Zayed moskee" hier onder en kyk gou na die foto's voordat jy hierdie lees. Gister wil ons vir Leane gaan wys en natuurlik met al die reels van wat mens mag dra en wat nie, moet daar opsluit vir haar 'n eie abaja gekoop word. Hier is sy reg vir die besoek. My voorneme om nie weer foto's te neem nie, waai by die deur uit toe ons binne is want weereens kan mens nie anders nie. Alles is so oorweldigend. Van die pilare en die hoeveelheid koepels het ek in die ander blog vertel, maar wat ek hierdie keer leer is dat meeste van hierdie marmer van Italie af kom. 95% van hulle marmer "myne" is tydens die proses gebruik om die moskee se teels te maak. Volgens die gids is honderde voorbeelde van marmer vir die destydse Sheikh Zayed gewys en het hy die keuse gemaak. Die teels in die binnehof het die mooiste patrone op. Op die foto sal julle sien dat daar oop gleufies tussen die marmer blokke is. Dis waar reenwater kan deurloop sou dit reen (ag tog dis die woestyn). Hierdie marmer blokke het dan ook 'n verkoelingstelsel onder ipv vloerverhitting sodat mens op 'n warm dag met jou kaalvoete kan bid. Die bidders lyn op in lang rye en die blok se lyne word as aanwysings gebruik. Elke ou het twee blokke vir homself sodat hy kan bid. Die hoofingang se kandelaar wat die kleinstes van al die kandelare in die moskee is. Die groot blom marmerversierings op die mure en sheikha Leane gaan onmiddelik na die klippe kyk. Die blomme is amper so groot soos sy. James moet ook kom loer terwyl sy vir hom die verskillende marmer wys. Nog van die versierings aan die buitekant by die hoofingang. Die twee reg om binne te gaan. 'n Laaste trek om seker te maak die hoofbedekking maak alles toe. Aanvullende tot my vorige blog oor die moskee en foto's leer ek vandag dat agter op hierdie muur die 99 name van Mohammed in arabies is. Hierdie name is omring met 'n blom patroon rand van witgoud. Die imran se "preekstoel" met die name op die agtergrond van naby. Die moskee het 3 imran(ne) wat om die beurt preek. Hulle is gekies omrede hulle kennis van die koran, hulle stem en hoe "goed" hulle is. Omdat dit die grootste moskee in die land is (3de grootste in die wereld), word die Vrydag "preke" ook weekliks direk vanaf die moskee oor televisie vertoon. Daar is ook 'n paar van hierdie "horlosies" wat die bidtye en datum in arabies wys. Die hopie pilare wat orals in die saal staan is eintlik ook die lugverkoelers wat die saal verkoel. As julle mooi kyk sal julle die suigapparaat wat die warmlug uitsuig aan die bokant sien. Diemarmer is van Turkye en die "blomme" van NZ. Dis na China toe gestuur waar die pilare gemaak is.Reg voor die muur met die 99 name kry die grootste moskee koepel ter wereld en van die koepel hang die grootste kandelaar ter wereld. Hierdie kandelaar (die ander is kleiner) week 9.5 ton en is aan die koepel vas met 3 dik kabels wat elkeen 8 ton kan hou. Dis regtig amazing, grootste koepel, grootste kandelaar en terwyl jy kyk staan jy op die grootste tapyt ter wereld! Kyk mooi na hierdie stukkie mat ... daai merk in die middel is nie 'n lasplek nie, dis een van die lyne wat in die mat ingeweef is sodat die manne kan weet waar die rye vir bid is. Die moskee word dan ook van voor af volgemaak en die gids se as die president laat is, moet hy buite staan want niemand hou vir niemand plek nie. Hy het ook gese dat die oomblik as jy in die moskee instap dan maak dit nie saak of jy 'n mercedes of toyota ry nie, almal is gelyk. (Dit werk nogal nie so as hulle daar uitstap nie)Aan die voorkant van die moskee is die mooiste mosaikteels en ek moet hulle eenvoudig net weer vir julle wys. Vir die eerste keer gaan ek af met die roltrappe na die wasgeriewe toe. Dit is waar die mans hulle hande en voete was voor bidtyd. Daar is 8 van hulle versprei oor die oppervlakte van die moskee en elkeen kan 500 mense op 'n slag vat. Die gids wys vir ons hoe hulle sit en was. Hierdie fontein is voor die ingang van die wasplek en is van 'n soliede stuk marmer gemaak. Ek kon nie hier ingaan nie want dit is die manstoilette, maar kyk net daardie muur! Van die mure buite die waskamers. James en sheikha Leane staan vir 'n foto. Die gids vertel ons dat die moskee oorspronklik 40% groter beplan is, maar dat die ou Sheikh Zayed dit liewer met 11 meter wou "lig". Hy het ook besluit dat die moskee wit sal wees. Abu Dhabi is 'n eiland wat slegs deur twee brue met die land verbind word. Die moskee is volgens die ou sheikh se besluit reg in die middel van die twee brue gebou en met die hoe torings kan almal dit sien as hulle inkom. Met al die sandweer is hulle besig om te toets hoe om die 80 koepels skoon te kry en tot op hierdie stadium het hulle al 17 koepels gewas en dit het 37 dae geneem. En met die sand is dit alweer vuil. As jy terugstap na die parkering sien mens 'n kleiner gebou waar daar arabiese musiek speel. Dit is die graf van die eerste president en leier van die land sheikh Zayed Al Nahyan. Mens mag nie daar foto's neem nie. As alles volgens plan verloop, sal die moskee oor 'n jaar voltooid wees. Wie weet dan wys ek dalkies weer ander prentjies?!

9 comments:

Anonymous said...

Hey
Jy kan nie nie fotos meer wil neem nie. Hoe sal ek dan nou weet waarheen ek wil gaan as ek ooit weer daar by jou kom kuier??
Wil di emoskee sien ASB!!
Annie

Anonymous said...

Annie hi daar's jy! Hoe gaan dit in die koue? Natuurlik sal ons vir jou die moskee gaan wys. Wanneer?

Anonymous said...

Baie interessante inskrywing! Ongelooflike mooi mosaiekteƫls en kandelaar! Die versiering is "out of this world"!!

Dit lyk vir my altyd of mens so warm kan kry met 'n abaja. Is dit warm of is dit van 'n dunnerige materiaal?

Anonymous said...

Thea dis 'n dunnerige materiaal, maar as mens warm kry en sweet dan klou dit so aan mens vas ugg, dis vreeslik ongemaklik en die kleur help mens nie juis afkoel nie.

jackieo said...

Hallo Sandra - baie dankie vir al die pragtige foto's en inligting - die matte, teelwerk en alles is ongelooflik !! Kan nie wag om dit self te sien nie - en Leane lyk nogals nie te sleg met die abaya aan nie, maar moenie dink ek gaan vir my ene kry nie!

Muriel said...

Dit is asemrowend!! Woorde kan dit nie beskryf nie, ek dink ek sal mal word as ek hierdie plek moet besoek!!

Dankie Sandra.

Anonymous said...

Sue ek dink nie jy het 'n keuse nie. As jy die moskee wil sien sal jy maar moet abaja aantrek!

Muriel? Eers as jy die plek besoek :-). Dit is onbeskryflik mooi en plek-plek bietjie oordadig.

Anonymous said...

Ja, en eendag gaan ek ook lank genoeg by die huis in Abu Dhabi wees om te kan gaan kyk.

Annie, maak net seker dat jy vir Gerhard by jou met die volgende keer, daar is daai ander plek van Duitse afkoms wat ek hom net moet gaan wys!

Anonymous said...

Hmm ja miskien die week van die 19de wat jy verlof het. Ons kan dit so tussen die curriebeker, 3nasies, grand prix en kriekettoer inpas dink jy nie?

Ek sal gaan seker maak dat die Duitse plek nog daar is terwyl jy doer annerkant sit, net vir ingeval.