Friday, April 20

Ek skool alweer 'n bietjie

Gister weer 'n bietjie by die skool gaan aflos. Eintlik was dit baie dom van my. Met 80% van die huishouding iewers in 'n ander land, kon ek mos heeldag in die bed bly maar nee vroeg oggend moes ek reeds by die skool wees. Maar die Graad 4 kindertjies was oulik en ek het dit geniet. Die skool is deel van die PYP program wat beteken dat die kinders baie van die inligting wat hulle moet leer, self moet navors, opsoek, uitwerk en waarneem. Dit beteken egter nie-tradisionele klasse tydens hierdie periode.


Die graad werk aan die Ontwikkeling, werking en instandhouding van die liggaam. Hier is 'n groepie besig om inligting op die internet te soek vir hulle projek.

Hierdie outjie maak 'n arm en hand met "skaniere" om te wys hoe mens se arm werk.

Die seuns doen verskillende oefeninge om hulle hartklop te bepaal en daarna moet dit op in 'n grafiek aangedui word. Een van die minder entoesiastiese studente het op die mat gelê en toe ek hom vra wat hy doen vir sy projek sê hy dat hy 'n pasient is met 'n besering en sy liggaam moet rus. Ek neem aan dit kan ook as 'n "waarneming" beskou word.

Die manne bespreek ernstig die inligting wat hulle ingesamel het.

Een van die kinders maak 'n plakkaat met al haar inligting waar sy "noodhulp-toerusting" gebruik as deel van die plakkaat. Sy is een van ons Suid-Afrikaanse kinders in die klas. Jip ek hou daarvan op spesiaal ons kinders ook af te neem. En na 'n lekker dag by die skool is ek ook 'n bietjie slimmer met al die Engelse termes en nuwe spelwoorde wat ek moes leer. Of ek graad 4 deur is weet ek nie, sal maar Sondag moet teruggaan vir nog 'n les of twee

No comments: