Sunday, April 22

Baie SAND met 'n bietjie Suid-Afrikaans

Met geen kind of kraai in die huis nie besluit ek en Charmaine om bietjie in Dubai se malls te gaan rondloop. Dubai het klompe malls met almal 'n spesifieke tema waarby ons net nooit uitkom nie, want mens shop nie in Dubai tensy jy 'n toeris is nie - dis hopeloos te duur. Ek weet 'n opvolg van James se "blits eetprogram" is belowe, maar kom lees dit more. Kom nou eers saam met my Dubai toe..... Eers wil ons 'n draai gaan maak by die Bar Al Shams hotel wat almal op hol het en ons wil gaan kyk hoekom en sommer 'n teetjie daar drink. Oppad herinner die verkeer my aan nog 'n rede hoekom ons baie selde Dubai toe ry. (kyk weer die spelling ... Dubai nie Doebai soos orals in SA geskryf word nie). Die verkeer op die Emirates pad is CHAOS!!

Ons ry verby 'n nuwe ontwikkeling waar hulle die grootste hotel ter wêreld gaan bou tesame met ander hotelle (30 000 kamers) en ontspanningsfasiliteite wat hulle die Desert Gate noem en 10 km lank gaan wees. Ek het foto's geneem en vertel later in die week daarvan. Na die Bab Al Shams hotel ry mens regtig in die woestyn in en by tye dog ons ons is oppad Saudi toe. Eintlik sien ons die hotel bo die duine uitsteek.
Die hotel is in die Arabiese boustel gebou en bestaan uit baie klein hoekies en draaitjies wat baie tradisioneel versier is. Hier is een van die binnehofies.Uit die aard van die saak na 'n lang rit in die woestyn moet mens die kleedkamers besoek. Was aangenaam verras met die binneversiering.
Orals is daar sulke hoekies met plek om te sit, dis baie oulik.
Nog 'n binnehof met 'n "visdammetjie" sonder visse.

Die swembad reg langs die woestyn. As 'n dagbesoeker is jy welkom om 'n dagpakket uit te neem wat 500 dhs (rondom R800) per persoon uit te neem. Dan mag jy in die swembad swem en 'n middagete geniet. Ons het die foto's neem en tee drink pakket geneem.
Hierdie prentjie het my dag gemaak en ek moes dit net afneem. Een van die hotel se skoonmakers besig om die woestyn te vee .... jip en daar is regtig net sand. Hy het die heeltyd terwyl ons tee gedrink het daardie selle kolletjie oor en oor op sy skoppie gevee.
Die hotel se tuin is woestyn met palms en water "features".
As dit nie vir daardie sproeier was nie, kon mens dink die duin was nog altyd daar maar hy's mensgemaak.
Oppad terug van die hotel het ons by heelwat van hierdie paaie wat doodloop in die woestyn verbygery. Dis vir toekomstige ontwikkeling. Hier moet jy nie die verkeerde afdraai vat nie.

Daarna is ons na die Mercato Mall in Jumeirah Dubai toe. So lyk die winkeltjies binne die mall.
Nog 'n paar winkeltjies.
En ons eerste Suid-Afrikaanse treat van die dag. 'n Juicy Lucy en Milky Lane!!!
Van die mall is ons na die Souk Madinat Jumeirah mall toe vir 'n laat middagete. Hierdie mall se boustyl is weer heeltemal anders en ook tradisioneel met klein winkeltjies soos "souks". Hier is een van die gangetjies.
Die hotel reg langs die mall ook in 'n tradisionele boustyl. Hier is van die kamers wat 'n "dam" uitsig het. Die ander kant se uitsig is die see.
Nog 'n deel van die hotel.
Ons gaan eet by 'n Suid-Afrikaanse restaurant "Meat & Co" met geregte soos Boerewors op die spyskaart. Dit mag dalk nie indrukwekkend klink nie maar ouens hier in die UAE is boerewors baie skaars.
En die vleis is al die pad van die huis af
Dan kom die vleis en pap!! Ok ek eet nie pap behalwe vir ontbyt nie, Charmaine doen, maar dis steeds lekker om te kelners te hoor "pap" sê.
Rondom 5 moeg by die huis en alhoewel Dubai se malls mooi is, baie dankbaar dat ek nie daar bly nie.










1 comment:

Muriel said...

Mense maar dis 'n pragtige inskrywing!

Daardie lamp in foto 3 is "to die for"