Saturday, April 21

'n ARME student en sy MAAG

Soos berig deur my korrespondent tans in Bloemfontein met 'n bylas hier en daar ....

James pleit altyd dat hy (a) 'n baie besige studente lewe lei, (b) 'n baie "boring" sosiale lewe "ly", (c) 'n verskriklike mal sportlewe beleef en (d) meestal in groot hongersnood die voormelde dinge moet doen. 'n Hoogtepunt is dus as pa of ma kom kuier. Ma se firma stuur haar nou nie so gereeld Bloemfontein toe soos Pa se firma nie, maar enige ou se beursie sal doen en is daar uitgesien na Pa se kuier en die KOS.

Met Pa se aankoms Donderdagaand het hy eers 'n pluimbalwedstryd vir sy koshuis gespeel (hulle het algeheel 6 - 0 gewen)


En daarna die oorwinning in die Spur gaan vier. Bloemfontein brei regtig uit hulle het al 5 Spurs terwyl arme ons hier in die woestyn NIKS het nie. (Mens kan sien hulle wil graag op die foto wees)

Vrydagoggend lyk die ou maar bietjie deur die weer .... (Ek kan julle sê wie nie die sms kry wat hy besig is om te stuur nie)


Na wakker word het Wimpy aan die beurt gekom. Ek onthou 'n hele klomp jare terug 'n seuntjie wat nie kon Wimpy sê nie en so graag ontbyt by die "oompie" gaan eet het. Kan ek raai die "worsie en tjips" is nie meer genoeg nie?

Ocean Basket is "bespreek" vir die aand, sodat die "meisie" ('n defnitiewe verskil tussen vriendin en meisie) ook kan saamgaan. Na middagete was dit tyd om die koskaste te vul en die swart sokkersokkies van die IOMA span te koop en seker te maak die verniet kontaklense uit die Paarl (dankie Madre) het vloeistof.

Dis nog nie die einde van die voer nie, ek vertel weer.
















No comments: