Showing posts with label Sheikh Zayed moskee. Show all posts
Showing posts with label Sheikh Zayed moskee. Show all posts

Friday, December 2

Die woestynland word 40 jaar oud



Elke jaar rondom 2 Desember, blog ek oor die woestynland en sy feesvieringe rondom hulle Nasionale dag. Ek wys die versierde motors, die geboue en liggies! Vanjaar het ek nog nie daarby uitgekom om regtig klomp foto's te neem nie - dis op die bucket lys vir die week.

Hierdie jaar is dit egter 'n spesiale viering want die land is 40 jaar jonk. Dis partykeer moeilik om te glo as mens sien wat hulle alles in die 40 jaar vermag het. En om te dink al die plaaslike mense ouer as 40 en selfs 50 het nog in die regte egte woestyn gebly en kamele gery en dit net nou die dag!



Ek dink hierdie land het met reg rede om groot fees te vier.

Een van my gunsteling plekke om hier af te neem is die groot moskee soos julle wat gereeld hier lees weet, en dit was een van die plekke wat deel van die vieringe is. 'n Laservertoning wat die oorlede Sheikh se visie dmv ligte wys. Hier is 'n paar foto'tjies daarvan.



Page2



Daar is twaalf tonele op die mure van die moskee gegooi wat die storie uitbeeld. Die eerste toneel was sy persoonlike gevoel oor die moskee en dit het gepaardgegaan met die swaai van ligte en klere orals oor die mure.



Page3



Dan was daar 'n toneel wat die verskillende patrone wat in die moskee gebruik is.



Page4



Die grootste kandelaar se patrone is ook gebruik en met 'n ander een die blomme wat groei simboliseer.



Page5



Ander tonele uit die hoofgebed saal is ook gewys en dan die koepels se kleure.



Page6



Palmbome was gewys wat groei verteenwoordig is oa ook gewys.



Page7



Kleure, lig, teeltonele en sterre is gebruik vir van die ander tonele.



2471966236



Hierdie foto was in die koerant en wys die ten volle verligte moskee uit die lug .... werklik iets besonders. Sal na die naweek vir julle van die ander foto's en die-land-gaan-oorboort-stories wys en vertel.



Geniet julle naweek!




Thursday, November 4

Saam met “predikante” in Dubai – deel 2

'n Blits toer deur Dubai in die dag en 'n vol program in die aande hou Willem lekker besig.

Page1

Een van die dinge wat 'n moet is in Abu Dhabi is die groot Zayed moskee. Die versoeking was groot om weer duisende foto's te neem, maar ek het mooi my hande agter my rug gehou.

Page2

As julle meer van die moskee wil weet en foto's wil sien van hoe dit binne lyk - loer op die tag oor die moskee onder.

Page1

Die groot ding op die agenda was eintlik om met die Burj Khalifa, die hoogste gebou ter wereld op te gaan. Nie te mal oor hoogtes nie, het ek darem my brawe kamera saam met Elriza opgestuur. Hierdie gebou hou sommer baie rekords.

Page2

Dis nie net die hoogste gebou ter wereld nie (828 meter en 160 verdiepings), dis ook die hoogste vrystaande gebou ter wereld, die meeste verdiepings, die hoogste vloer wat mense bly, die hoogste uitkykvloer, die hysbak wat die langste afstand gaan ter wereld en ook die langste/hoogste dienshysbak. Lyk dit of die gebou in 'n woestyn is as jy so afkyk?

Page3

Om tot bo te kom gaan mens eers op 'n roltrap vir 65 meter waar jy na Dubai se geskiedenis kan kyk. Dan begin die "stadige" reis na bo teen 10 meter 'n sekonde. Bo het jy 'n 360grade uitsig oor Dubai en bo is 124 verdiepings hoog.

Page4

Daar bo is ook teleskope waar mens kan in zoom op plekke onder.

Page5

'n Bustoer deur die nuwe en ou Dubai was volgende en ons het laat eers weer die pad aangepak terug Abu Dhabi toe.

Geniet die laaste deel van julle week, vandag is Vrydag vir ons.


Wednesday, February 10

Iets besonders om te sien

Later vanjaar gaan 'n paar van ons bietjie Duitsland en Frankryk toe, en soos by alle lande is daar sekere plekke wat mens net eenvoudig moet besoek anders was jy nie daar nie. As ek 'n besoek aan Abu Dhabi moet bring, dan sal die Sheikh Zayed Moskee beslis een van my moet besoek plekke wees vir sy prag en praal. So het ek dan ook tot vervelens toe foto's van dit op my blog gesit. Loer bv hier. Maar die laaste twee aande het James en Eddie die moskee in die aand gaan besoek en hierdie is foto's van die moskee soos ek en julle dit nog nie gesien het nie.... Daar is vier baie groot minarets van 107 meter hoog op elke hoek van die moskee en die twee was op in een van hulle. Hierdie is die uitsig na die parkeerarea en tuine wat nog aan die ontwikkel is. Mens kan baie ver van hierbo af sien. Die klein helderverligte "moskee" is die graf van die gewese president van die land en 'n plek wat mens nie mag afneem nie, maar wat julle al ook op van my foto's gesien het. In die aand is dit 'n heeltemale ander prentjie.James heelbo met 'n deel van Abu Dhabi op die agtergrond.

DSC_0007

In die aand word die moskee verlig en die ligte verander in allerhande kleure wat dit 'n prentjie maak om te sien. Hier is die ligte nog nie aan nie.

DSC_0010

Een van die minarets van onder na bo afgeneem.

DSC_0022

Kyk net hoe mooi vertoon die marmer teen die lig.

DSC_0030

Alles lyk asof dit in blou gekleur is. Daar is 1096 pilare aan die buitekant van die moskee.


DSC_0033

James staan en kyk na die hoofingang terwyl die koepels blou vertoon.

DSC_0038

Die ligte, water en pilare maak 'n mooi prentjie

DSC_0039

Dis so die moeite werd om die plek te besoek.

Ons naweek begin vanaand, julle moet die res van jul week geniet.

Tuesday, November 24

Een van my gunsteling fotoneem plekke

As daar nou een plek is wat ek al soveel kere oor geblog het, is dit die Groot Moskee hier in Abu Dhabi. Die van julle wat dit al gesien het, sal weet dis net iets wat mens nooit genoeg kan wys of oor vertel nie. Dis ongelooflik mooi en baie oorweldigend. Ek het net mooi honderde foto's van die plek en elke keer as ek besoekers soontoe neem, neem ek net nog en nog ... die plek vra daarvoor. En dis altyd lekker om iemand vir die eerste keer te gaan wys. So skuus as julle die prentjies reeds gesien het, maar hierdie is spesiaal vir Rienie en Ina wat ek vandag bietjie rondgewys het. (Vir meer foto's kan julle op die label onder kliek).

1

Natuurlik is daar duidelike voorskrifte oor wat en hoe jy geklee mag wees. By die ingang kry al die vroue sulke batman-pakkies om aan te trek en word daar oor en weer foto's geneem. Gelukkig is dit herfs en die temperatuur lae 30tigs want swart trek mos die hitte aan.

2

Die moskee was die droomkind van die vorige present en Sheikh. Hy wou he die moskee moes ook oa 'n skakel tussen al die nasionaliteite wees en iets unieks aan Abu Dhabi. Daarom staan dit presies in die middel van die twee brue waar mens die eiland binnekom. Dit is dan ook die eerste "gebou" wat mens sien as jy die dorp inkom.

3

Daar word vertel dat hy baie gereeld die bou projek besoek het, om te kom kyk of dit is wat hy gevra het. Een van die redes hoekom dit so lank gevat het om te bou, is blykbaar weens die sheikh wat partykeer nie tevrede was nie en dan moes hulle alles oordoen.

4

Verskeie lande se materiale is gebruik om die indrukwekkende moskee te bou oa Turkey, Italie, Duitsland, Morokko, China, Griekeland, Iran en natuurlik die UAE. Vier van hierdie "minarets" staan op elke hoek van die moskee en is 107 meter hoog.

5

Rienie kyk na van die marmer patrone op een van die mure in die portaal.

6

Een van sewe indrukwekkende kandelare wat in die moskee hang. Hierdie is die kleinste van die klomp en vir my die mooiste. Die kandelare kom almal uit Duitsland uit.

7

Die hoogingang wat yslik groot is!

8

Die vroue se gebedsaal. As julle mooi kyk sal julle sien die patroon op die dag, is presies dieselfde as die patroon op die mat - wat terloops een soliede mat is.

9

Een van die vensters wat op die groot moskee plein uitkyk.

Page2

Die houtdeur met blomme uit mother of pearl.


11

Die binnekant van een van die kleiner koepels met 'n kandelaar. Daar is 80 koepels by die moskee wat alles aan die buitekant van marmer gemaak is.

Page3

In die binnekant van die hoofsaal van die moskee is daar 96 pilare en aan die buitekant 1096!! Hierdie pilare dien ook as aircons - julle kan dit tussen elke vier pilare sien. Elke pilaar is ook met versierings van mother of pearl gemaak.

Page4

En dan die grootste kandelaar ter wereld. Hierdie indrukwekkende kandelaar wat lyk asof daar jellie tots aan hom hang weeg tussen 8 - 9 ton en is 15 meter in hoogte en 10 meter in breedte. Swarovski kristal en goud is gebruik vir die kandelare wat in Duitsland gemaak is.

15

Die voorkant van die saal waar die imran die "preke" lewer. Teen die muur is hulle profeet se 99 verskillende name in goud geskryf.


16

'n Mens voel baie klein in die groot saal. Die mat wat die grootste mat ter wereld is, was handgeweef in Iran. Omdat dit so swaar is (ek dink hulle het gepraat van 40 ton), is dit in dele opgesny en UAE toe gevlieg (in 'n paar vliegtuie). Die vroue wat aan die mat gewerk het, het saamgekom om die mat weer aan mekaar te werk sodat niemand kan sien dit was opgesny nie.

17

Ina hang aan die toergids se lippe om te hoor wat hy vertel en om hom natuurlik met 'n klomp vrae te peper.

18

Na die deurstap is dit skoene soek tyd. Die moskee kan as hy vol is 40 000 mense vat. As julle die lyne op die marmer kan sien ... dit vorm die lyne waar die bidders skouer-aan-skouer staan. Die gids het vandag vertel die rede hoekom vrouens nie saam met die mans bid nie, is as 'n mooi vrou met haar skouer teen joune staan, kan dit jou aandag aflei van die erns van die gebed :-) en daarom bid hulle apart.

Page5

Ek moes hulle natuurlik ook gou die badkamers gaan wys wat die mooiste mosaik prente en marmer bankies en wasbakke het.

20

Die sheikh se graf waarvan mens nie mag foto's neem nie staan aan die noordekant van die moskee en daar is 24/7 'n gebed wat daar speel. Die tuine word ook nou uitgele en as een van julle kom kuier en ek moet julle die plek gaan wys kan ek sommer die nuwe tuine sien. Reg op die voorgrond is een van die "lakes" wat hulle bou. Altesaam sal die water features reg rondom die moskee 7874 vierkante meter wees en se hulle dis ook om die moskee te reflekteer in die water.

24

Na die moskee besoek is ons ernstig dors en gaan gou tee drink in die toring by Marina Mall. Hier gaan ons met die hysbak boontoe.

. 21

Ons uitsig terwyl ons teedrink. Dis 'n pragtige dag!


22

Abu Dhabi skyline met die grootste vlagpaal ter wereld op die voorgrond.

23

Van die nuwe villas wat by die mall teenaan die see gebou is. Kyk net hulle ou klein bootjies :-)

Was lekker om saam met julle te kuier. Geniet die res van julle daggies en die kleinkinders.