Monday, August 27

Trippie na Fuijerah 4 - Kontraste oppad terug

Na al die opwinding van snorkel, forte en moskees was dit tyd om terug te ry Abu Dhabi toe. Die omgewing langs die pad verander by die minuut en ek kan nog steeds nie verstaan hoekom hulle Fuijerah die "ghetto" noem nie. Kyk 'n bietjie na sommige van die interessante plekkies en dinge.
Moskee's is volop en op elke hoek en blok. Verskillende groottes, ouderdom en vorms. Hierdie een dink ek klassifiseer as "moderne" en van ver lyk dit net soos 'n ruimteskip.
Daar is die mooiste fonteine langs die pad. Hier is 'n besonderse skulpfontein. Die Cornish is geplavei en dit is moontlilk om tot by die volgende klein dorpe Kalba al langs die strand te loop. Ek dink 'n 5 min rit met die taxi is 'n baie beter opsie in die hitte.
Ek kan net wonder of hierdie geboude palmboom enige koelte verskaf, want die ware Jakob kan dit nie eers in hierdie hitte doen nie.Gelukkig is daar darem 'n effense windjie wat waai - maar eintlik dink ek dit versprei net die hitte eweredig.
Ons ry verby hierdie restaurant ......en besluit om maar deur te druk en die dors op 'n ander plek te les. Baie van hierdie ou geboue langs die pad het sedert die 1960s nie veel verander nie alhowel groot nuwe huise nou orals gebou word. (Wonder hoe vars is die koffie?)
Net ingeval julle dink ons is kieskeurig .... die Al Kaabi Restaurant se aircon lyk of dit stukkend is en ons wil nie regtig in die hitte verversings geniet nie ....ons hou maar deur na die volgende koel hotel toe.


Op vorige besoeke aan die dorp het Eddie ons geneem om te kyk hoe hulle die visse uittrek op die strand en dit was nog altyd besonders. Met ons wat so vodde was na die snorkel het ons nooit daarby uitgekom nie, maar was opgewonde om vissies langs die pad te sien. Wat ek nooit geweet het nie, is dat hierdie sardientjies gedroog word om later as "fertiliser" (kunsmis) gebruik te word. Ek dog hulle word soos bokkoms geeet.
Hierdie 4x4 het sy dae gehad dit kan mens sien, maar nog steeds in 'n werkende toestand.
Daar is heelwat ontwikkeling langs die paaie en ek voel half benoud as ek dink hoe hulle AbuDhabi se strande so stadig maar seker weggevat het en met ontwikkeling toegebou het. Ek hoop nie dat dit hier gaan gebeur nie.
Is dit nie pragtig nie? Die berge, see, strande en palmbome? Hoe lank voordat 'n hotel die stukkie grond kom toe bou?Dan draai ons effens weg van die see en vat die pad oor die berge terug. Die land het soveel interessante borde langs die pad - wonder wat bedoel hulle met hierdie een "For family only" - want ons drie is nie familie nie en ons is op die pad ...of ons moet op die pad wees, hoe anders?
Nog 'n klein dorpie met 'n groot moskee. Hierdie is 'n meer tradisionele een maar groot!!
Langs die pad is daar heelwat "wadi's" in die berge. Kyk die grys stof berge en die groen kolletjie grasHet hierdie boot "te ver" probeer gaan?

Ons stop vinnig by die Friday Market vir 'n koffiebeker vir Charmaine en kieries vir Amelia.
Wanneer ons hierdie verkeer in Sharjah slaan, weet ons ons is oppad huistoe .....



Dit was 'n heerlike trippie en die dames het hulle meestal gedra. Volgende keer durf ons weer Dubai se winkelsentrums aan.









































1 comment:

Anonymous said...

Ek hou van jou beskrywing dat die wind net die hitte eweredig verspei. Dis baie waar. Jou foto's is pragtig.