Showing posts with label toer2. Show all posts
Showing posts with label toer2. Show all posts

Wednesday, August 29

Ibn Battuta mall 2 - die ander helfte

Die Persie court is net so 'n mooi een met al die teels dat ek net nog 'n foto van dit moet wys.Dis 'n klein koffiewinkel in die middel van Persie waar mens 'n effense blaas en/of ruskansie kan vat.
Die twee bewonder die teelwerk met hulle nuwe aankope.
Ons gaan loop 'n draaitjie en Charmaine verskyn vars en reg vir die tweede deel van die mall.
Ons is nou in die Egipte court. Die tema is "Modern Trends" In hierdie deel is baie bekende winkels soos Magrudys, Sun & Sand en Studio R. Ons moes al die pad Egipte toe om uiteindelik vir Nelmari skoene te kry wat haar pas. (William sy is eintlik kwaai dat ek nie 'n foto daarvan het om vir jou te wys dis ook weird nie. Sal een moet neem)
Die Court se mure is met Egiptiese prente en skrif versier. Dis baie besonders
Amper klaar met die lande. Die Tunesie Court nog voor en hulle tema is Family Fun. Dit beeld 'n Noord Afrika markplek uit en dis hier waar die foodcourt gelee is. Nou is dit tyd vir koffie.
Tog te lekker hier is 'n Seattle koffiewinkel en ooooo die sonde Cinnabon. Nelmari en Charmaine bestel vir ons ys-koffie en 'n "klein stukkie" Cinnabon.
Nou het mens weer energie vir die laaste land, maar eers 'n foto van die leeufontein.
Die laaste plek is die Andalusia Court. Hier is die tema Convenience. Die tonele skep 'n aand toneel en dis hier waar mens alles kry wat nodig is om jou dagtake af te handel soos bv. banke, bloemiste, droogskoonmakers etc. Plekke wat jy in die aand na werk sal gou-gou wil besoek.
Oppad terug en mens sal hierdie spieel wil huistoe vat
Ek kan glad nie onthou waar ek hierdie foto geneem het nie, behalwe dat dit oppad terug is. (Seker 'n slim San gaan my help hiermee)
Nou moet julle weet as selfs Nelmari die kaart bestudeer om die uitgang te kry, is die mall groot. Nie 'n plek wat mens sonder platskoene of nuwe Sketches sal aanpak nie. Vir my nie 'n mall vir elke dag nie, maar pragtig om te sien en vir besoekers te wys soos hieronder toe Corli en James gekuier het.
In die Andalusia court







Monday, August 27

Trippie na Fuijerah 4 - Kontraste oppad terug

Na al die opwinding van snorkel, forte en moskees was dit tyd om terug te ry Abu Dhabi toe. Die omgewing langs die pad verander by die minuut en ek kan nog steeds nie verstaan hoekom hulle Fuijerah die "ghetto" noem nie. Kyk 'n bietjie na sommige van die interessante plekkies en dinge.
Moskee's is volop en op elke hoek en blok. Verskillende groottes, ouderdom en vorms. Hierdie een dink ek klassifiseer as "moderne" en van ver lyk dit net soos 'n ruimteskip.
Daar is die mooiste fonteine langs die pad. Hier is 'n besonderse skulpfontein. Die Cornish is geplavei en dit is moontlilk om tot by die volgende klein dorpe Kalba al langs die strand te loop. Ek dink 'n 5 min rit met die taxi is 'n baie beter opsie in die hitte.
Ek kan net wonder of hierdie geboude palmboom enige koelte verskaf, want die ware Jakob kan dit nie eers in hierdie hitte doen nie.Gelukkig is daar darem 'n effense windjie wat waai - maar eintlik dink ek dit versprei net die hitte eweredig.
Ons ry verby hierdie restaurant ......en besluit om maar deur te druk en die dors op 'n ander plek te les. Baie van hierdie ou geboue langs die pad het sedert die 1960s nie veel verander nie alhowel groot nuwe huise nou orals gebou word. (Wonder hoe vars is die koffie?)
Net ingeval julle dink ons is kieskeurig .... die Al Kaabi Restaurant se aircon lyk of dit stukkend is en ons wil nie regtig in die hitte verversings geniet nie ....ons hou maar deur na die volgende koel hotel toe.


Op vorige besoeke aan die dorp het Eddie ons geneem om te kyk hoe hulle die visse uittrek op die strand en dit was nog altyd besonders. Met ons wat so vodde was na die snorkel het ons nooit daarby uitgekom nie, maar was opgewonde om vissies langs die pad te sien. Wat ek nooit geweet het nie, is dat hierdie sardientjies gedroog word om later as "fertiliser" (kunsmis) gebruik te word. Ek dog hulle word soos bokkoms geeet.
Hierdie 4x4 het sy dae gehad dit kan mens sien, maar nog steeds in 'n werkende toestand.
Daar is heelwat ontwikkeling langs die paaie en ek voel half benoud as ek dink hoe hulle AbuDhabi se strande so stadig maar seker weggevat het en met ontwikkeling toegebou het. Ek hoop nie dat dit hier gaan gebeur nie.
Is dit nie pragtig nie? Die berge, see, strande en palmbome? Hoe lank voordat 'n hotel die stukkie grond kom toe bou?Dan draai ons effens weg van die see en vat die pad oor die berge terug. Die land het soveel interessante borde langs die pad - wonder wat bedoel hulle met hierdie een "For family only" - want ons drie is nie familie nie en ons is op die pad ...of ons moet op die pad wees, hoe anders?
Nog 'n klein dorpie met 'n groot moskee. Hierdie is 'n meer tradisionele een maar groot!!
Langs die pad is daar heelwat "wadi's" in die berge. Kyk die grys stof berge en die groen kolletjie grasHet hierdie boot "te ver" probeer gaan?

Ons stop vinnig by die Friday Market vir 'n koffiebeker vir Charmaine en kieries vir Amelia.
Wanneer ons hierdie verkeer in Sharjah slaan, weet ons ons is oppad huistoe .....



Dit was 'n heerlike trippie en die dames het hulle meestal gedra. Volgende keer durf ons weer Dubai se winkelsentrums aan.









































Thursday, August 23

Trippie na Fuijerah 2 - Ou tannies en branders

Soos ek nou die dag vertel het, het ons besluit, op daardie stadium sonder om te weet hoekom, bietjie te gaan snorkel terwyl ons dan nou in Fuijerah is. Van 'n vorige keer het ek onthou dat die vissies daar baie mooi is...maar ek het ook onthou van stukkende voete teen die rotse en haaie wat saamswem. Maar mens wil nou nie die ander teveel afskrik nie en ek noem net van mens se voete wat bietjie kan seerkry.

Snoopy eiland lê in Khor Fakkan in die emirate van Sharjah (reg langs Fuijerah) en dis 'n pragtige prentjie toe ons aangery kom. Van ver af lyk die swem na die eiland nie so ver nie, maar die vorige keer was ek amper tien jaar jonger, so ek's so effens bekommerd.

Ek moet ook noem dat ons verskriklike gesoek het na "kick-boards" langs die pad want sê nou maar raak moeg. Maar dis Vrydag en die winkels is meestal toe ... gelukkig kry ons 'n opblaas ene wat vir kinders ouer as 3 jaar is - maar met die waarskuwing "not to be used as a life saving devise". Die branders is maar rof met ons "ou tannies" en ek dog ons haal nooit die eiland nie. Gelukkig is daar nie foto's geneem nie, want soos ons darem omgeslaan is voordat ons nog knie diepte was, was nogal 'n grap (nie vir ons nie).

Aan my linkerkant lê twee GROOT nuwe hotelle en aan die voorkant die eiland, en ek besef weereens toe ek dit laas gedoen het, was daardie hotelle nog net planne op 'n stuk papier. Om die waarheid te sê, ons het op daardie presiese plek met ons tentjie gekamp.

Toe ons nou eers verby die woeste, ongeskikte branders is, is die water redelik kalm en nogals lekker warm. Dis seker nie verniet dat hulle sê Snoopy Eiland is vir die onervare duikers. Maar die water lyk pragtig ne?

Dan is dit tyd om ons koppe onder die water te druk en die vissies/visse wat ons sien is verskriklik mooi. Allerhande kleure, groot en klein. Die vissies lyk heel rustig met ons, seker kan hulle sien dat ons onervare is en swem hulle baie naby ons verby. Ek het redelik gemik en gedruk met die kamera, maar bitter min van die gekleurde vissies kon raakneem. Hulle was heeltemal te vinnig en dan natuurlik slaan die klein brandertjies mens nog heeltemal uit fokus uit.

Van hierdie vissies het ek gesien maar kon hulle nie afneem nie. Maar ek dink julle kry die prentjie.

Die koraalriwwe was net so mooi, ongelukkig kan mens dit nie regtig met die mik-en-druk afneem nie. Met tye was ek erg benoud om te sien hoe diep dit werklik kan gaan. Ek lees die diepte daar is enigiets tussen 5 - 14 meter. Daar is regtig allerhande soorte visse, seeslange (daar was maar ek wou nie naby genoeg vir 'n foto nie), seeskilpaaie (hulle was te diep vir my snorkel wat pal vol water was) en haaie (wat ons gelukkig nie gesien het nie.)

Met my vorige besoek het ek geswem soos hierbo toe iemand van die eiland af "hi" skree. Pas in die land was ek nogal beindruk oor die vriendelike mense en wil net teruggroet toe ek 'n haaivin bo die water sien uitsteek. Dis toe wat ek agterkom daai rotspunte is baie skerp, want ek het dit omtrent uitgeloop - die groet was toe Suid-Afrikaners wat skree "haai" en nie "hi" nie. Het nie gedink ek gaan dit weer probeer nie - maar natuurlik het ek nie gedink die ander twee ouer tannies sal regtig wil snorkel nie.Die strand lyk ver en ons maak allerhande planne om die woeste branders te vermy en by die hotel op die strand se uitgang uit te gaan. Tot reg met name van prokureurs sou ons in die moeilikheid kom - te danke aan slim Amelia.
Stadig maar seker kom ons nader na die wal. Dit was 'n lekker ondervinding om weer te he. Dankie tog vir daardie baba opblaasborde ...










































Tuesday, August 21

Trippie na Fuijerah 1 - Oppad, die omgewing

Nadat ons vir Amerlia 'n Abu Dhabi toer gegee het, verkeer sy onder die indruk dat ons die plekke hier ken (moenie vir haar sê dis die verkeerde indruk nie). Toe sy dus 'n weereens 'n prys met een of ander kompetisie oor die radio wen, wat verblyf in 'n hotel in Fuijerah is, moes ons opsluit vir haar die plek gaan wys. Wat ek weet is ook maar net wat ons gesien het met vorige trippies na die dorpie toe en toe het Eddie bestuur. Maar met Eddie en William wat weg is, besluit ons om tog maar te kyk of ons vrouens self sal regkom om die dorp te kry. Gelukkig was Amelia nog nooit daar nie en sou sy nie weet as ons verkeerd sou ry nie.

Ons is mos oud-Voortrekkers, en ons eerste toets kom om Amelia te gaan oplaai. Sy bly in Al-Rahba en teken vir ons die kaart. So leer ons toe ook van "oop-sand" en "toe-sand" maar kry die huis sonder om te verdwaal - hoe moeilik kan dit dan Fuijerah toe wees?

Eerste stop die Adnoc vir brandstof en koffie


As ek nou 'n bietjie geskiedenis ook kan ingooi. Fuijerah is een van die sewe emirate wat die UAE uitmaak. Dis nie 'n baie groot emiraat nie, 4de grootste van die 7 maar met 'n populasie van slegs 130,000 inwoners. Ek lees in Wikepedia die emiraat staan bekend as die "ghetto" van die UAE. Alhoewel daar baie primitiewe plekke is, is dit 'n pragtige dorp en ek stem glad nie daarmee saam nie. Maar julle sal wel later op die foto's kan sien.

By Sharjah draai ons af na Fuijerah. Die paaie is 'n plesier om te ry. Ek kon die versoeking nie weerstaan om die straatligte af te neem nie. Is dit nie pragtig nie?

Eers is alles net woestyn met groen bossies, so ver jou oog kan sien. Daar is kamele maar aan die anderkant van die pad natuurlik, miskien is dit nie hulle dag vir foto's nie. Ons ry deur klein dorpies soos Masafi en Dhaid en verby die Friday Market wat ek julle al van vertel het. (Kliek op die label en kyk weer as julle dit nie onthou nie)
Dan tref ons die berge en pragtige oases en wadi's langs die pad. Fuijerah is al emiraat wat bestaan uit berge waar die ander hoofsaaklik woestyn is. Reenval is dus hier meer as in enige ander emiraat. Juis gister was daar 'n groot reenbui waar die strate oorstroom het en vandag is daar g'n teken daarvan nie.

Die dorp Fuijerah het sy moderne geboue ook. (Ek wys 'n ander keer meer van die geboue) Hier is die Etisalat gebou. Sien al hulle kantore het die bal op die bo-kant.

Eintlik by die hotel en ons moet gou-gou ietsie gaan eet voordat ons die res van die dorp en die see aandurf ...ons wil gaan snorkel ....wat 'n grap .....maar lees die opvolg stories as julle dit wil sien ook.

Dis lyk darem nie of die water te warm gaan wees nie ... sien die hotel wys dat die swembadwater slegs 29 grade is vandag. Hou haaie nou weer van warm of koue water?