Showing posts with label Friday Market. Show all posts
Showing posts with label Friday Market. Show all posts

Monday, August 27

Trippie na Fuijerah 4 - Kontraste oppad terug

Na al die opwinding van snorkel, forte en moskees was dit tyd om terug te ry Abu Dhabi toe. Die omgewing langs die pad verander by die minuut en ek kan nog steeds nie verstaan hoekom hulle Fuijerah die "ghetto" noem nie. Kyk 'n bietjie na sommige van die interessante plekkies en dinge.
Moskee's is volop en op elke hoek en blok. Verskillende groottes, ouderdom en vorms. Hierdie een dink ek klassifiseer as "moderne" en van ver lyk dit net soos 'n ruimteskip.
Daar is die mooiste fonteine langs die pad. Hier is 'n besonderse skulpfontein. Die Cornish is geplavei en dit is moontlilk om tot by die volgende klein dorpe Kalba al langs die strand te loop. Ek dink 'n 5 min rit met die taxi is 'n baie beter opsie in die hitte.
Ek kan net wonder of hierdie geboude palmboom enige koelte verskaf, want die ware Jakob kan dit nie eers in hierdie hitte doen nie.Gelukkig is daar darem 'n effense windjie wat waai - maar eintlik dink ek dit versprei net die hitte eweredig.
Ons ry verby hierdie restaurant ......en besluit om maar deur te druk en die dors op 'n ander plek te les. Baie van hierdie ou geboue langs die pad het sedert die 1960s nie veel verander nie alhowel groot nuwe huise nou orals gebou word. (Wonder hoe vars is die koffie?)
Net ingeval julle dink ons is kieskeurig .... die Al Kaabi Restaurant se aircon lyk of dit stukkend is en ons wil nie regtig in die hitte verversings geniet nie ....ons hou maar deur na die volgende koel hotel toe.


Op vorige besoeke aan die dorp het Eddie ons geneem om te kyk hoe hulle die visse uittrek op die strand en dit was nog altyd besonders. Met ons wat so vodde was na die snorkel het ons nooit daarby uitgekom nie, maar was opgewonde om vissies langs die pad te sien. Wat ek nooit geweet het nie, is dat hierdie sardientjies gedroog word om later as "fertiliser" (kunsmis) gebruik te word. Ek dog hulle word soos bokkoms geeet.
Hierdie 4x4 het sy dae gehad dit kan mens sien, maar nog steeds in 'n werkende toestand.
Daar is heelwat ontwikkeling langs die paaie en ek voel half benoud as ek dink hoe hulle AbuDhabi se strande so stadig maar seker weggevat het en met ontwikkeling toegebou het. Ek hoop nie dat dit hier gaan gebeur nie.
Is dit nie pragtig nie? Die berge, see, strande en palmbome? Hoe lank voordat 'n hotel die stukkie grond kom toe bou?Dan draai ons effens weg van die see en vat die pad oor die berge terug. Die land het soveel interessante borde langs die pad - wonder wat bedoel hulle met hierdie een "For family only" - want ons drie is nie familie nie en ons is op die pad ...of ons moet op die pad wees, hoe anders?
Nog 'n klein dorpie met 'n groot moskee. Hierdie is 'n meer tradisionele een maar groot!!
Langs die pad is daar heelwat "wadi's" in die berge. Kyk die grys stof berge en die groen kolletjie grasHet hierdie boot "te ver" probeer gaan?

Ons stop vinnig by die Friday Market vir 'n koffiebeker vir Charmaine en kieries vir Amelia.
Wanneer ons hierdie verkeer in Sharjah slaan, weet ons ons is oppad huistoe .....



Dit was 'n heerlike trippie en die dames het hulle meestal gedra. Volgende keer durf ons weer Dubai se winkelsentrums aan.









































Tuesday, August 21

Trippie na Fuijerah 1 - Oppad, die omgewing

Nadat ons vir Amerlia 'n Abu Dhabi toer gegee het, verkeer sy onder die indruk dat ons die plekke hier ken (moenie vir haar sĂȘ dis die verkeerde indruk nie). Toe sy dus 'n weereens 'n prys met een of ander kompetisie oor die radio wen, wat verblyf in 'n hotel in Fuijerah is, moes ons opsluit vir haar die plek gaan wys. Wat ek weet is ook maar net wat ons gesien het met vorige trippies na die dorpie toe en toe het Eddie bestuur. Maar met Eddie en William wat weg is, besluit ons om tog maar te kyk of ons vrouens self sal regkom om die dorp te kry. Gelukkig was Amelia nog nooit daar nie en sou sy nie weet as ons verkeerd sou ry nie.

Ons is mos oud-Voortrekkers, en ons eerste toets kom om Amelia te gaan oplaai. Sy bly in Al-Rahba en teken vir ons die kaart. So leer ons toe ook van "oop-sand" en "toe-sand" maar kry die huis sonder om te verdwaal - hoe moeilik kan dit dan Fuijerah toe wees?

Eerste stop die Adnoc vir brandstof en koffie


As ek nou 'n bietjie geskiedenis ook kan ingooi. Fuijerah is een van die sewe emirate wat die UAE uitmaak. Dis nie 'n baie groot emiraat nie, 4de grootste van die 7 maar met 'n populasie van slegs 130,000 inwoners. Ek lees in Wikepedia die emiraat staan bekend as die "ghetto" van die UAE. Alhoewel daar baie primitiewe plekke is, is dit 'n pragtige dorp en ek stem glad nie daarmee saam nie. Maar julle sal wel later op die foto's kan sien.

By Sharjah draai ons af na Fuijerah. Die paaie is 'n plesier om te ry. Ek kon die versoeking nie weerstaan om die straatligte af te neem nie. Is dit nie pragtig nie?

Eers is alles net woestyn met groen bossies, so ver jou oog kan sien. Daar is kamele maar aan die anderkant van die pad natuurlik, miskien is dit nie hulle dag vir foto's nie. Ons ry deur klein dorpies soos Masafi en Dhaid en verby die Friday Market wat ek julle al van vertel het. (Kliek op die label en kyk weer as julle dit nie onthou nie)
Dan tref ons die berge en pragtige oases en wadi's langs die pad. Fuijerah is al emiraat wat bestaan uit berge waar die ander hoofsaaklik woestyn is. Reenval is dus hier meer as in enige ander emiraat. Juis gister was daar 'n groot reenbui waar die strate oorstroom het en vandag is daar g'n teken daarvan nie.

Die dorp Fuijerah het sy moderne geboue ook. (Ek wys 'n ander keer meer van die geboue) Hier is die Etisalat gebou. Sien al hulle kantore het die bal op die bo-kant.

Eintlik by die hotel en ons moet gou-gou ietsie gaan eet voordat ons die res van die dorp en die see aandurf ...ons wil gaan snorkel ....wat 'n grap .....maar lees die opvolg stories as julle dit wil sien ook.

Dis lyk darem nie of die water te warm gaan wees nie ... sien die hotel wys dat die swembadwater slegs 29 grade is vandag. Hou haaie nou weer van warm of koue water?

Wednesday, June 13

Enigiets van twak tot toonnaels

Drie kilometer annerkant 'n klein dorpie Masafi oppad na Dhaid en Sharjah is die "Friday Market". Weerskante van die snelweg is ry op ry stalletjies waar jy enigiets teen 'n "special" kan koop.

Dis 'n baie gewilde stopplek vir toeriste waar hulle pottery, masjien geweefde matte, vrugte, ens. kan koop. Kyk bietjie na die foto's hieronder.
Hier sien julle van die stalletjies.
Matte van alle kleure, patronne en vorms. Dis heelwat goedkoper as die oorspronklike handgeweefde matte. Elke eienaar adverteer sy produk as die beste en goedkoopste.
Onderhandeling oor die pryse is 'n moet. Indien jy nie die pryse ken nie, kan jy bevoorbeeld een van die geweefde kussingslopies wat in Abu Dhabi dhs25 kos vir 'n goeie special van dhs50 optel.
Rye en rye ruwe pottery produkte word ook verkoop.
Potte vir tuine is hier spotgoedkoop maar ongelukkig nie iets wat jy op 'n vliegtuig sal terugneem huis toe nie.
Nog matte. Jy kan selfs een van die vorige Sheikh Zayed koop sou jy wou.
Daar is ook honderde plante te koop.
Nie seker of dit tafels of net groot skinkborde is nie ....iedergeval jy kan dit hier vir 'n winskopie koop.En as daar enige kinders in die motor is, gaan jy nie verby hierdie stalletjie kan ry nie.