Thursday, August 23

Trippie na Fuijerah 2 - Ou tannies en branders

Soos ek nou die dag vertel het, het ons besluit, op daardie stadium sonder om te weet hoekom, bietjie te gaan snorkel terwyl ons dan nou in Fuijerah is. Van 'n vorige keer het ek onthou dat die vissies daar baie mooi is...maar ek het ook onthou van stukkende voete teen die rotse en haaie wat saamswem. Maar mens wil nou nie die ander teveel afskrik nie en ek noem net van mens se voete wat bietjie kan seerkry.

Snoopy eiland lê in Khor Fakkan in die emirate van Sharjah (reg langs Fuijerah) en dis 'n pragtige prentjie toe ons aangery kom. Van ver af lyk die swem na die eiland nie so ver nie, maar die vorige keer was ek amper tien jaar jonger, so ek's so effens bekommerd.

Ek moet ook noem dat ons verskriklike gesoek het na "kick-boards" langs die pad want sê nou maar raak moeg. Maar dis Vrydag en die winkels is meestal toe ... gelukkig kry ons 'n opblaas ene wat vir kinders ouer as 3 jaar is - maar met die waarskuwing "not to be used as a life saving devise". Die branders is maar rof met ons "ou tannies" en ek dog ons haal nooit die eiland nie. Gelukkig is daar nie foto's geneem nie, want soos ons darem omgeslaan is voordat ons nog knie diepte was, was nogal 'n grap (nie vir ons nie).

Aan my linkerkant lê twee GROOT nuwe hotelle en aan die voorkant die eiland, en ek besef weereens toe ek dit laas gedoen het, was daardie hotelle nog net planne op 'n stuk papier. Om die waarheid te sê, ons het op daardie presiese plek met ons tentjie gekamp.

Toe ons nou eers verby die woeste, ongeskikte branders is, is die water redelik kalm en nogals lekker warm. Dis seker nie verniet dat hulle sê Snoopy Eiland is vir die onervare duikers. Maar die water lyk pragtig ne?

Dan is dit tyd om ons koppe onder die water te druk en die vissies/visse wat ons sien is verskriklik mooi. Allerhande kleure, groot en klein. Die vissies lyk heel rustig met ons, seker kan hulle sien dat ons onervare is en swem hulle baie naby ons verby. Ek het redelik gemik en gedruk met die kamera, maar bitter min van die gekleurde vissies kon raakneem. Hulle was heeltemal te vinnig en dan natuurlik slaan die klein brandertjies mens nog heeltemal uit fokus uit.

Van hierdie vissies het ek gesien maar kon hulle nie afneem nie. Maar ek dink julle kry die prentjie.

Die koraalriwwe was net so mooi, ongelukkig kan mens dit nie regtig met die mik-en-druk afneem nie. Met tye was ek erg benoud om te sien hoe diep dit werklik kan gaan. Ek lees die diepte daar is enigiets tussen 5 - 14 meter. Daar is regtig allerhande soorte visse, seeslange (daar was maar ek wou nie naby genoeg vir 'n foto nie), seeskilpaaie (hulle was te diep vir my snorkel wat pal vol water was) en haaie (wat ons gelukkig nie gesien het nie.)

Met my vorige besoek het ek geswem soos hierbo toe iemand van die eiland af "hi" skree. Pas in die land was ek nogal beindruk oor die vriendelike mense en wil net teruggroet toe ek 'n haaivin bo die water sien uitsteek. Dis toe wat ek agterkom daai rotspunte is baie skerp, want ek het dit omtrent uitgeloop - die groet was toe Suid-Afrikaners wat skree "haai" en nie "hi" nie. Het nie gedink ek gaan dit weer probeer nie - maar natuurlik het ek nie gedink die ander twee ouer tannies sal regtig wil snorkel nie.Die strand lyk ver en ons maak allerhande planne om die woeste branders te vermy en by die hotel op die strand se uitgang uit te gaan. Tot reg met name van prokureurs sou ons in die moeilikheid kom - te danke aan slim Amelia.
Stadig maar seker kom ons nader na die wal. Dit was 'n lekker ondervinding om weer te he. Dankie tog vir daardie baba opblaasborde ...










































2 comments:

Charmaine said...

Jy is reg maat, daardie baba opblaasborde het waarskynlik ons lewens gered. :-)

Nelmari said...

Ek is baie bly julle drie het terug op ge kom!