Sunday, August 3

Tuine en feetjies

Ek skryf baie oor die ontwikkeling en wonderlike dinge hier in die UAE maar alles is nie altyd maanskyn en rose nie. Dinge wat by die huis allerdaags is, is hier baie keer 'n uitdaging en onmoontlik. Een so 'n dingetjie is 'n tuin. Ja daai stukkie aarde wat jy rondom jou huis het en na toe uitstap en nie altyd raaksien nie of kla omdat die gras te vinnig groei. Hier is dit nie sommer nie ... dis skaars en defnitief nie by jou woonstel of huis nie want die son bak dit dood. Die dorp se tuine is pragtig, maar dit het 24 uur besproeiing en tuinwerkers. Ek onthou toe die kinders klein was, wou hulle net op gras gaan rol om soos William gese het, 'n bietjie te jeuk :-). Charmaine het besluit al is sy in 'n woonstel, moet sy 'n tuintjie of iets wat groen is he, en het klomp nagemaakte plante vir die een voet balkon gekoop sodat sy kan uitkyk op iets groen. Maar met al die son en stof en sand bly die "plantjies" nie groen nie, en is daar gister besluit dat ons in die tuin gaan werk. Hier word die stowwerige bleek gebakte plante ingebring. Die honde verstaan nie die bleek goed nie. Die plante is te dood om gewas te word, maar die klippies word mooi skoongemaak. Dan word mooi nuwe groen plantjies in die potte gesit. Hulle kry ook voeltjies en bytjies en skoenlappers om dit vrolik te laat lyk en Dee, die kat verkyk hom aan die maklike prooi. Hier is van hulle van naby. Die vlerkies kan mooi in die wind beweeg. Dan gaan die tuin na hulle staanplek toe. Kyk hoe warm is dit, die kamera stoom sommer toe. (Dis nou half tien in die aand en die temperatuur wys steeds 41). Maar later toe ek en Nelmari huistoe gaan, kon ons die voeltjies en skoenlappers mooi sien flap van onder af.
As hierdie maat van my kon, sou sy soos jy Muriel ook haar tuin vol allerhande feetjie gehad het, ek is seker, maar met die anderse toestande is dit verseker nie moontlik nie ---- maar dit beteken nie sy het nie feeltjies nie .... mense hulle is in die kombuis en in die badkamer en orals!! Ek het soos een van daai CSI fotograwe gevoel toe ek deur die huis stap om hulle af te neem. Ek het haar maar gevra om te vertel hoekom en die rede vir al die feetjies en hier is haar storie ....

Anders as sommige versamelaars wat feetjies van porselein of klei of wol bymekaar maak, vertel my feetjies 'n storie van 'n tyd of emosie of plek en daarom is hulle almal baie persoonlik en spesiaal vir my en baie verskillend... As ek so na hulle kyk, dan sien ek die goeie en swaar tye amper soos mens 'n puzzle sou sien en dan weet ek dat alles tog uiteindelik ten goede uitwerk. Dit klink vreeslik ernstig ek weet en die waarheid is dat die meeste van die feetjies vertel van groot vreugde. Daaroom is daar n feetjie wat Joy is, 'n ander enetjie wat Sunshine is en enetjie wat die son se strale vang elke dag en Qumi is. Ander is engel feetjies wat met hulle sagte veertjies my herhinner dat daar iemand is wat lief is vir my. Ander vertel tong in die kies vir my dat alles wat ek eet op my heupe sal sit. In my badkamer is 'n feetjie wat fluister dat ons vir onsself moet lief wees en onthou dat ons spesiaal is. Daar is feetjies wat in my handsak bly as ek op vakansie is en enetjie wat van Nieu Zeeland af saamgekom het met haar wolrokkie en vlerkies en as ek so kla oor die hitte dan onthou ek dis baie erger om koud te kry. Sommige feetjies kom spesiaal oor Kersfees om vir 'n rukkie in die kersboom te bly. Daar is 'n sterk feetjie wat my deurwag is en nog een wat die boodskap dra dat ek nie self moet probeer om my lewe te beplan nie, maar dit aan Vader oor te laat. En so kan ek aan en aan vertel totdat julle skree genoeg!!!! want daar is amper sestig feetjies wat saam met my in die woonstel bly.

14 comments:

Anonymous said...

Die feetjies en skoenlappers en voeltjies lyk baie oulik maat. Dankie vir die groot help met stof afwas. Almal wat graag wou weet van Sandra, gaan loer gerus in by
https://www.kameelland.blogspot.com

Anonymous said...

Nou ja, wie't gesê daar is net kamele en sand in die woestyn? Ek het nou met my eie oë gesien daar's fairies ook! ;-)

Oulike versameling feetjies wat jy het Charmaine! En Sandra dis darem maar dierbaar van jou om jou vriendin te help om haar "tuin" skoon te maak!

Anonymous said...

Hallo Thea,
Dankie ja... ek lief my feetjies en Sandra is 'n dierbare vriendin :-)Ek is baie geseend.

Anonymous said...

Ek noem dit my ma se feetjie shrine ;-) maar ek ken ook 'n paar van die feetjies van baie jare terug en dis nogal lekker om hulle nogsteeds te kan sien, herhinneringe aan goeie en slegte tye. Groete en liefde. Elriza

Anonymous said...

Ja meis, dis omtrent 'n shrine. Lief jou

Anonymous said...

Hoe lyk daai vlinders en voeltjies in die daglug maat?

Thea jy sal moet kom kyk hier is baie meer as kamele, sand, feetjies en sheikhs :-)

Elriza om haar te hoor praat oor die feetjies is nogal iets ne! Jinne en die name.

Anonymous said...

Sandra as alles volgens plan verloop wil ek en my man volgende jaar bietjie Egipte besoek. Die idee is nog net genoem en ek het nog niks navorsing begin doen nie. Ek moet bietjie kyk of mens nie dalk sommer by Dubai kan aandoen met dieselfde trippie nie. Dan is daar ook 'n moontlikheid dat manlief een of ander tyd Pakistan toe moet gaan vir werk (net vir 'n week of so) en hulle vlieg met Emirates en stop oor in Dubai. Ek wag my kans af...

Muriel said...

Ek sit sommer met trane in my oge hier!! Dis so pragtig en dit vertel ook stories!! Elkeen van my feëtjies vertel ook 'n storie!! My vriendin wat laas jaar oorlede is aan kanker het vir my die mooiste feëtjies gegee, ek dink altyd aan haar en troetel haar feëtjies!!

Ek sou ook soos Charmaine plastiek groen plante ingebring het. Ek kan nie leef sonder plante nie!!

Baie dankie vir hierdie pragtige inskrywing Sandra en Charmaine!! Ek het dit vreeslik geniet!

Anonymous said...

Thea die planne klink goed en ek's seker Mariette sal soos ek vir jou se jy moet liewer in Abu Dhabi stop dan in Dubai. (Dis selfs goedkoper :-)). Egipte moet in elk geval 'n trippie UAE toe ook insluit - seker jy sal dit met die navorsing ook uitvind.

Muriel dankie. Al is hierdie maat van my partykeer moeilik ;-) kan niemand se sy is nie interessant en vol verrassings nie.

Anonymous said...

Ek kon nog nooit platiek plante of blomme verdra nie en nou staan dit op my stoep.. het darem regte plante in my woonstel ook. Dis regtig seker die ding wat ek die meeste van die huis mis... 'n ou tuintjie buite.
Muriel koester die mooi herinneringe . Feetjies is goed met stories ne?
Maat die voeltjies en skoenlappers lyk pragtig. Kom drink tee en kom kyk... tog te oulik

Anonymous said...

Moet ek nou by anonymous tee drink? Gaan jy skons ook maak?

Muriel said...

Charmaine, hierdie plastiek blomme lyk deesdae soos die regte ding. Ek het nou die dag vir my die mooiste plante by Lifestyle gekry. Die mense dink elke keer dit is eg. Ek is natuurlik vreeslik lief vir plante, maar ek het nie plante in my huis nie. Daar is te veel buite!! whahaha Ons sal in die straat moet slaap as ek nog plante inbring.

Jou plante lyk vir my na die ware jakob!! Ek is bv mal oor die skoenlappers en voëltjies daarin.

Oor die feëtjies ja, elkeen vertel inderdaad 'n storie. Deesdae benoem ek my feëtjies na die mens wat dit vir my gee!! Dit raak nou te erg, en ek hardloop uit name uit. Ek skryf ook die datum onderaan!! Die jare stap, ek moet myself nou begin help!! hahahaha

Ek is nou alweer nuuskierig mense, het julle met al julle meubels Abu Dhabi toe getrek! As julle nou terug kom SA toe, moet alles weer terug kom?

Sandra jy het al genoem jy kom terug, Charmaine gaan jy ook terug kom? Julle sal mekaar te veel mis!! hahahaha

Anonymous said...

Muriel ons het met 17 bokse gekom wat meestal klere, kinders se speelgoed en foto's was. Die werk het oorspronklik meubels gegee maar ons is besig om so stadig aan te koop vir wanneer ons eendag huistoe gaan. Van die meubels veral Marina s'n kom defnitief saam terug!

Charmaine moet maar vir haarself praat oor die terugkom en dis sal seker gebeur as sy ouma word - hoe sal sy kan wegbly van die kleinkinders! En ja ek sal haar verseker mis.

Anonymous said...

Muriel ek het met een tas hier aangekom... o ja, en een boks. En as ek teruggaan sal ek graag my meubels wil saamneem en wanneer dit is sal Vader vir my wys op die regte tyd. 'n kleinkind is die beste rede waaraan ek kan dink vir teruggaan maat. Ons sal maar steeds met blogs gesels maar ek sal jou ook mis. Muriel dis slim om die feetjies name te gee van wie dit kom en die datum ding is 'n uitstekende idee. Ek sal myself ook op so manier moet begin help. Ek het nog regte plante in die huis maar nie so baie soos feetjies nie :-) Mense dink ook dat die plante op die stoep regtig is. As jy kom tee drink sal ek skons bak maat