Tuesday, August 26

Wat laat my sing - Tag

Muriel het my getag om te vertel van 8 dinge wat my maak sing ...

Kyk vir die van julle wat my ken sal weet dat jy my liewer nie wil laat sing nie. Ek's mal oor musiek maar het selfs 'n kat gehad wat my kom byt het elke keer as ek begin sing...dit moes iets beteken het?!

Maar wat sou my maak sing het as ek kon? Ek het allerhande maniere probeer om dit in groepies en onder hofies te sit, maar dit werk nie vandag vir my nie. Ek wou graag deur foto's praat maar kan hierdie dinge ook nie met 'n kamera vas vat nie, so deurmekaar sal dit wees. (In geen spesifieke orde nie - en ek hou tog so daarvan om goed in lysies te he)

Ek's lief vir die natuur en om langs die see te sit maak my gelukkig. Om die branders te sien en te ruik. Dit bring my naby aan Vader want hoe kan mens daarna kyk sonder om Sy grootheid daarin te sien. Die spesifieke tye wanneer die water kom en terugtrek, die stil wees of die groot branders, die skulpies en en en... Die paar keer wat ek al kon snorkel om Sy wonderlike skepping onder die water te kon sien! 'n Besoek aan 'n wildtuin om die diere so in hulle natuurlike habitat te sien ... ag en ek kan aangaan en aangaan oor alles wat mooi is in die natuur. Ons land se skoonheid maak my gelukkig en spesifiek die Kaap ... sy see ... die berg!!Blomme maak my gelukkig, ek's baie lief vir blomme. Party soorte meer as ander met Lelies en origidie as my gunstelinge en natuurlik die disa :-)!

Die seisoene! Ek's mal oor 'n lekker reentjie, die ruik van nat gras, koue dat mens lekker warm onder die komberse kan le, lente en sy bloeisels en selfs die son van die somer op mens se lyf.








My musiek en boeke! Ek hou van 'n mooi en nuwe tydskrif en boek. Ek wil die eerste een wees wat daarin blaai en die lekker gevoel van die nuwe blaaie wat so effens aan mekaar vassit. Dis bitter moeilik om selfs van 'n tydskrif ontslae te raak dus gee ek dit liewer vir iemand wat dan daai besluit moet neem. Lekker stories en ware verhale is 'n groot lekkerte. En altyd musiek! Musiek moet op mens groei en daarom sal ek oor en oor luister totdat dit begin mooi word. My CD en boekversameling is 'n groot lekker en ek hou daarvan om hulle so alfabeties te liaseer sodat ek presies weet watter een is nie daar nie.

Diere en my troeteldiere maak my gelukkig. As hulle so lekker kom styf inkruip om naby ounooi te wees of ek sommer 'n lekkie kry om sommer net. Dat hulle vir my sal wag om te kom sit of le net sodat hulle naby kan wees. Om hulle te sien speel en rondhardloop en sommer verspot wees is lekker. Selfs my vriendin se brakke wat hulle stertjies amper af waai as ons daar aankom en die manier waarop hulle hallo se maak my gelukkig.

My passie is verseker kinders. Om met hulle te kan werk, hulle vertroue te wen en eerlike en ware opinies uit hulle monde te hoor maak my gelukkig. 'n Kind se 'n ding soos hy/sy hom sien en daarom is ek gek oor hulle.

Familie en vriende maak my gelukkig. Elke sms, oproep of epos van die huis af is spesiaal. Ek plaas hoe vereistes op vriendskap. Ek's gelukkig om spesiale vriende te he by wie ek kan uitpak, saam lag, saam kuier, saam klein goedjies geniet en selfs saam huil. Vriende wat vir en met my bid en my Psalm 119 laat deurlees totdat ek die boodskap kry :-). My vriende is spesiaal vir my gegee en is 'n groot seening. Ek was nooit naby betrokke met my familie nie maar om 'n reunie vir hulle te reel het my gelukkig gemaak. En nou om weer kontak te he en te hou, maak my gelukkig.


My gesin maak my gelukkig. As ma raak mens maar partykeer moeilik maar as hulle gelukkig is is ek gelukkig en as hulle nie is nie is ek gelukkig as hulle met my daaroor praat en ek dit met my deel. Met die seuns wat ver is maak dit my ook gelukkig om van hulle te hoor met sms, oproepe en mails en om deel te wees van hulle lewe dmv foto's.

Eintlik is dit alles "dingetjies" wat Pappa vir my gegee het om te geniet en Hom daarin te sien want "Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid!" (Rom 11:36)

Wat my die gelukkigste van alles maak is my verhouding met Hom en dat ek weet en voel en sien en ervaar dat Hy elke sekonde van die dag met my is, in goeie en slegte tye.

"My life .... is a gif from God, what I do with i, is my gift to Him"

Ekke tag vir my maatjie, die mense wat so bevoorreg is om reen te gehad het, Desire wat die mooiste scrapbook goed maak, die nuwe sandvlooie in die dorp en as niemand jou nog getag het nie vir Eilandkind en enigiemand anders wat wil!

12 comments:

Muriel said...

Wat 'n beautiful inskrywing (((Sandra)))

Die Disa is ook een van my gunsteling blomme. Ja God is verseker te sien in die mooi van die natuur en skoonheid van die heelal!! Ons dink presies dieselfde.
Ek is ook jaloers op my nuwe boeke, ek wil eerste in daardie boek blaai.he he

En Sandra ek liaseer ook my cd's alfabeties!!

Jou inskrywing het my vandag inspirasie gegee!!! Dankie

((((Thea)))) my maatjie, sien jy wat ek bedoel??? Hier kan ons weer die geluk van blogging terug kry!!!!!

Desire Fourie said...

Sandra jou pragtige weergawe van wat jou laat sing, het 'n traan na die oppervlak gebring. Jy het hierdeur ook vir ons bloggers 'n blykie na binne jou siel gegee ... en dis 'n baie mooi siel. Ek deel ook definitief 'n hele paar dinge met jou, soos bv. jou liefde vir die natuur. Sonder waardering vir die natuur sal ons ons nooit self kan verstaan nie. Dankie dat jy my getag het. Ek sal dan ook hierdie tag aanvaar en eersdaags op Doing Life verslag doen van wat my as mens laat sing. Mooi bly.

eilandkind/islandchild said...

hi Sandra, dit is 'n baie mooi inskrywing. Jy klink gelukkig!
Ja, God maak al die verskil, ek weet nie hoe mense elke dag in die oé kan kyk sonder Hom nie.
Ek sal myne een of ander tyd skryf.

Anonymous said...

Hi maat, jou lied is sterk en pragtig soos 'n Psalm... ps 119 :-)Ek sal myne ook skryf. Eers net joune geniet en weer en weer lees.

Anonymous said...

Muriel jy hou ook van die disa?! Ek dog jou gunsteling is die Barberton Daisy :-).

Desire ek kan in jou mooi scrapbook werk sien dat jy baie lief is vir die natuur.

Anonymous said...

Eilandkind dankie vir die mooi foto's van jou eiland. Mens kan so daar sien dat Sy hand in alles is!

Maat is dit nodig dat dit so lank moet wees?! :-). EK dink ek los Ps119 vir jou en dan vat ek 'n korter enetjie, wat dink jy?

Anonymous said...

Nou ja, waar kan ek nou 'n groter "hint" kry, sal verseker vanmiddag met 'n bos wit lellies by die huis moet opdaag, net so voordat vrou-goed land uit! Gaan nie help nie, sy sal in elk geval "land-uit", maar dan darem met 'n "smile".

Anonymous said...

Sandra, en dis hoekom ek geniet om hier te kuier! Ons hou van dieselfde dinge, ons waardes is dieselfde ens. Ek praat ook makliker met prentjies (of dan foto's).

LOL vir die kat wat jou gebyt het - dis baie snaaks! Moet nie alleen voel nie. Ek kan ook nie sing nie!!

Muriel, dankie vir die drukkie vriendin!! En kan ek dan sommer ook vir julle almal hier op Sandra se blog sê dat dit my gelukkig maak om vriendinne soos julle te hê.

Anonymous said...

Dit is 'n mooi inskrywing. En beslis kan mens hierdie dinge in jou alle daagse lewe sien en ervaar wanneer mens by jou kuier.En met so mooi Famielie kom die ander dinge mos maar van self,- of hoe? En dan moet ek byvoeg jou liggie skyn helder...!

Ek skryf myne binne kort.
lekker dag

Anonymous said...

Thea baie dankie ons kuier lekker saam met julle ook!

Mariette sien uit om joune ook te lees.

eilandkind/islandchild said...

Sandra, kom haal vir jouself ietsie daar op my blog...

Anonymous said...

Diversion casinos? countersign this advanced [url=http://www.realcazinoz.com]casino[/url] advisor and wing it naval disrate online casino games like slots, blackjack, roulette, baccarat and more at www.realcazinoz.com .
you can also boot the scuttle our lately [url=http://freecasinogames2010.webs.com]casino[/url] happen upon at http://freecasinogames2010.webs.com and vanquish concluded carry observe to compressed conceive of the sphere !
another hermitical [url=http://www.ttittancasino.com]casino spiele[/url] conspire is www.ttittancasino.com , because german gamblers, rake during not hustling online casino bonus.