Thursday, August 21

Ons kuier by die Valke hospitaal 1

Ek's altyd baie opgewonde as ek 'n nuwe plek hier kan besoek. So het ons dan hierdie week kans gehad om bietjie by die valke hospitaal te gaan inloer. Die Abu Dhabi Valke hospitaal wat in 1999 geoepen is, was die eerste valke publieke hospitaal in die UAE . Gou-gou het valke van lande soos Saudi, Qatar, Kuwait en Bahrain ook hierna toe begin kom en vandag is dit bekend as die beste Valke Hospitaal ter wereld. Om die rede is die hospitaal ook 'n entjie uit die dorp, maar naby die lughawe en op die snelweg van Abu Dhabi, Al Ain, Dubai en die pad na Saudi gebou op grond geskenk deur die vorige leier Sheikh Zayed.Nou moet julle weet dat soos kamele en perde, is valke 'n baie belangrike dier vir die Emirate. Maar voor ek die storie vertel wil ek julle eers die "ontvangskamer" van die hospitaal wys. Al die pasiente was reeds ingeboek en dit was doodstil, maar ek kan net dink hoe dit hier kan lyk as al die Arabiere hulle valke inbring vir 'n ondersoek, inspuiting, veervervanging, operasie, of wat ookal. Kyk die bankies vir die valkie voor die TV ... ek wonder of hulle kyk? Die plastiek is dat hulle nie op die vloer kan mors nie.Dan is daar ook vir die klein valkies of die valkies wat wil speel en seker nie wil TV kyk nie, 'n sandbak. Mense julle sal nie glo wat hierdie ouens vir hulle valke sal doen nie. Heel eerste word ons na die valke musuem geneem waar die direkteur van die hospitaal, 'n vroudokter van Duitsland vir ons meer van die valke en spesifiek die valke van die UAE vertel. Vroeer het die Bedouine wat in die woestyn bly die valke gedurende die trek seisoen oppad Afrika toe gevang, 'n bietjie mak en gewoond aan mense gemaak en gebruik om klein diertjies soos hase en bokkies vir hulle te vang. Wanneer die ander voels dan weer terugkom, is die valke weer vrygelaat om saam met die ander na hulle broeiplekke terug te keer. Die valke is dus uitsluitlik vir jag gebruik en nie as sport soos in Europa nie. Toe die wetgewing inkom dat geen valke wild gevang mag word nie, is daar ernstig met valke begin teel en het dit ook vir die arabiere 'n sport begin word.



Dit beteken dan ook dat daar van elke valk in die land rekord gehou word en elkeen word met sy eie paspoort toegerus wat rondvlieg makliker maak.(Die eienaars hou dit, hulle vlieg nou nie met die goed in hulle snawels of handsakkies rond nie) Hulle is baie streng met die valkeienaars en as jy nie die paspoort by jou het nie, word die valk gekonfiskeer en kan dit volgens die dr maande vat voordat jy weer jou valk kan terug kry. Die valke word ook met geboorte gering en dan kry hulle nog mikrochips ingeval iemand die ring afsny. Dan word ons na die operasiesaal geneem en daar is baie pasiente wat wag vir kleiner operasie. Hierdie plek is soooo goed toegerus! Van die pasiente wat hulle beurt baie geduldig afwag. Hulle se ons kan een van die operasies bywoon en die pasient word na die tafel geneem. Dis 'n veervervangings operasie .... amper iets soos 'n "armtuck". Maar nie sommer so 'n operasie nie, want die presiese veer word uit 'n hele voorraad vere gekies om perfek by die ander in te skakel. Die instrumente tafel is reg vir die operasie en daar is allerhande goedjies op. Ou valkie kry 'n suurstofmasker om so 'n bietjie te slaap. Hulle se dat die valk 3 uur se narkose kan hanteer. Dan word die valk baie mooi bestudeer om seker te maak hoe groot en hoe lang en hoe breed die nuwe veer moet wees. Hulle maak seker dat altwee die vlerke dieselfde gaan lyk. Die nuwe veer is gekies en reg om vervang te word. Hierdie vorm is vir 'n seerpoot voordat dit in gips gesit word. Hierdie ou is vroeer geopereer en sy poot is in gips. Dit lyk snaaks ne?! Die dr se dat die "gips" baie lig is en dat die valk nog steeds kan vlieg. Ons afveervoel se operasie is klaar en hy word na die herstel-kamer geneem om wakker te word van die narkose. Hy is maar wankelrig aan die begin, maar baie gou is hy gereed en reg om ontslaan te word. Teen die aand sal hy daai nuwe veer al kan uittoets!


Natuurlik is dit nie al nie, want ons kry die kans om self die valke vas te hou, en en en nog ander goed maar daarvan vertel ek julle volgende keer.

11 comments:

Anonymous said...

Dis nou baie interessant!! Ek het lekker gelag vir die foto van die pasiƫnte wat hulle beurt sit en afwag vir hul operasie!!

Desire Fourie said...

Baie dankie vir hierdie baie interessante blik op 'n valke hospitaal - nooit gedink daar bestaan so iets nie. Die fotos vertel definitief die storie. Groete.

Anonymous said...

Thea en dan sit daai pasiente doodstil sonder om te skree.

Desire hier gebeur die goed juis waaraan mens nooit dink nie

Anonymous said...

Baie interessant! Ek sou ook graag die veervervanging wou sien! Ek het so rukkie terug 'n valk in 'n hok in een van die winkels hier in Korea gesien en het NIKS daarvan gehou nie! Moet se die ouens doen nogal moeite met die valke!

Anonymous said...

Kaalvoetinireen hierdie valkies is hulle baba's en hulle sal nie twee keer dink om geld uit te haal vir hulle gerief nie. Die dr se hulle bel hoeveel keer per dag om te hoor hoeveel gram die valkies opgetel het.

Sandmensie said...

..Sandra WAAR op dees aarde snuffel jy AL hierdie dinge uit? Is dit sintetiese vere of het hulle 'n ander valk buite gegryp en sy vere uitgeruk vir hierdie make-over?
Vicky

Anonymous said...

Vra jy dan nog Vicky!

Ek sweer Sandra stuur my die wereld vol net sodat sy nuwe dinge kan uitsnuffel. En bewaar my siel as ek sonder fotos of video by die huis aankom, Eish!

Anonymous said...

Vicky dis mos reg voor 'n mens se oe. Dis regte vere --- ek vermoed met die "verveerseisoen" tel hulle van die vere op en hou dit vir later gebruik

Eddie en jy snuffel nie rond wanneer jy so die wereld vol is nie? Ek hoop jy onthou die nuwe foto's!

Anonymous said...

Dit is beslis 'n plek die wat mens weer en weer sal besoek. My familie kan hulle solank regmaak daarvoor. Dis 'n baie goeie blog die maat.

Anonymous said...

Dankie maat. Volgende keer in die winter ne?

Muriel said...

Wow Sandra wat 'n interessante inskrywing.

Dit is wonderlik hoeveel geld hierdie mense terug sit in die natuur ens.