Tuesday, August 21

Trippie na Fuijerah 1 - Oppad, die omgewing

Nadat ons vir Amerlia 'n Abu Dhabi toer gegee het, verkeer sy onder die indruk dat ons die plekke hier ken (moenie vir haar sê dis die verkeerde indruk nie). Toe sy dus 'n weereens 'n prys met een of ander kompetisie oor die radio wen, wat verblyf in 'n hotel in Fuijerah is, moes ons opsluit vir haar die plek gaan wys. Wat ek weet is ook maar net wat ons gesien het met vorige trippies na die dorpie toe en toe het Eddie bestuur. Maar met Eddie en William wat weg is, besluit ons om tog maar te kyk of ons vrouens self sal regkom om die dorp te kry. Gelukkig was Amelia nog nooit daar nie en sou sy nie weet as ons verkeerd sou ry nie.

Ons is mos oud-Voortrekkers, en ons eerste toets kom om Amelia te gaan oplaai. Sy bly in Al-Rahba en teken vir ons die kaart. So leer ons toe ook van "oop-sand" en "toe-sand" maar kry die huis sonder om te verdwaal - hoe moeilik kan dit dan Fuijerah toe wees?

Eerste stop die Adnoc vir brandstof en koffie


As ek nou 'n bietjie geskiedenis ook kan ingooi. Fuijerah is een van die sewe emirate wat die UAE uitmaak. Dis nie 'n baie groot emiraat nie, 4de grootste van die 7 maar met 'n populasie van slegs 130,000 inwoners. Ek lees in Wikepedia die emiraat staan bekend as die "ghetto" van die UAE. Alhoewel daar baie primitiewe plekke is, is dit 'n pragtige dorp en ek stem glad nie daarmee saam nie. Maar julle sal wel later op die foto's kan sien.

By Sharjah draai ons af na Fuijerah. Die paaie is 'n plesier om te ry. Ek kon die versoeking nie weerstaan om die straatligte af te neem nie. Is dit nie pragtig nie?

Eers is alles net woestyn met groen bossies, so ver jou oog kan sien. Daar is kamele maar aan die anderkant van die pad natuurlik, miskien is dit nie hulle dag vir foto's nie. Ons ry deur klein dorpies soos Masafi en Dhaid en verby die Friday Market wat ek julle al van vertel het. (Kliek op die label en kyk weer as julle dit nie onthou nie)
Dan tref ons die berge en pragtige oases en wadi's langs die pad. Fuijerah is al emiraat wat bestaan uit berge waar die ander hoofsaaklik woestyn is. Reenval is dus hier meer as in enige ander emiraat. Juis gister was daar 'n groot reenbui waar die strate oorstroom het en vandag is daar g'n teken daarvan nie.

Die dorp Fuijerah het sy moderne geboue ook. (Ek wys 'n ander keer meer van die geboue) Hier is die Etisalat gebou. Sien al hulle kantore het die bal op die bo-kant.

Eintlik by die hotel en ons moet gou-gou ietsie gaan eet voordat ons die res van die dorp en die see aandurf ...ons wil gaan snorkel ....wat 'n grap .....maar lees die opvolg stories as julle dit wil sien ook.

Dis lyk darem nie of die water te warm gaan wees nie ... sien die hotel wys dat die swembadwater slegs 29 grade is vandag. Hou haaie nou weer van warm of koue water?

1 comment:

Anonymous said...

Ja, ons het die pad maklik gekry. Jy is 'n goeie navigator maat.