Verlede Donderdag is daar met groot opgewondenheid uitgesien na die Kerkkamp en alhoewel mens sou dink dat weer nie sommer 'n rol in hierdie land sou speel nie, was dit 'n koue, sanderige, winderige dag en my moed het sommer in my skoene gesak. Voel so half op my ouderdom het ek defnitief my kwota van slegte weer kampe gehad. Maar niks kon die kinders se geesdrif blus nie. Met almal op die bus kom die oproep deur dat die tente plat gewaai het en ons heelwaarskynlik in die saal sal moet slaap. Ai tog!! In Dubai kry ons slegte verkeer en ek's weereens dankbaar dat ek in Abu Dhabi bly terwyl ek konsentreer om agter die bus te bly want ek ken daai mal paaie glad nie. Toe ons na 'n uur eintlik die pad Hatta toe vat, kan ek effens ontspan. Ons ry op 'n stadium met die woestyn aan weerskante en ek sien die kinders se vrolikheid in die bus en ek besef weer hoe besonders dit is. Hier in 'n vreemde woestyn moslem land en voor my ry 'n bus met 60 van ons Afrikaanse Christenkinders oppad na 'n kerkkamp ... wow dis special.Ons arriveer in die donkerte maar dankie tog die slaapplek het beddens met duvets, lakens en kussings!!!! Die kinders vat nie lank om in te rig. Op die bus is daar gou-gou maats gemaak en met hierdie foto moes ek al geweet het hier kom 'n ding!Ons eet lekker boerewors rolletjies voordat die aandprogram begin en hierdie 7 tieners lyk uitgerus en reg vir die kamp en sy dinge. (Kyk watter beker het Nelmari gebruik James). Na aandetet is dit tyd vir kenmekaar, ysbreker en speletjies. DIe kinders geniet alles baie en gou-gou is daar niks vreemdheid tussen hulle nie. Die groepleier het omtrent probeer om hierdie 7 gesplit te kry, maar as hy weer sien is hulle saamingedeel
Ons tieners is voorsangers by die lofprysing en wanneer die kamplied geleer word, val hulle in die middel van die groep in en gou-gou word die ander deur hulle geesdrif aangesteek om saam te hop en spring en aksies uit te voer. Toe ons eindelik 01:00 bed toe, toe hop en spring hulle nog steeds en eers hier na 03:00 word hulle stil. Met 'n waarskuwing of twee van die "ou" tannies dat hulle beter môre die heeldag moet wakker bly.
Vrydag was volgeprop met lesings en aktiwiteite. Ons kamptema was Go Daniel en die kinders het ses onderwerpe gehad. Die sessies was maar 30 min lank waarna hulle 'n 15 min kleingroepie bespreking gehad het.
Selfs die wag in die kosry was pret as mens so na Nelmari se gesig kyk.
Almal verkeer nou vreetsaam met hulle kos en nagereg
Na die vorige paar dae se koue, wind en sand is die sonskyn lekker en die meisies vat 'n ruskansie, maar ek pla hulle met die kamera dat hulle nie kan slaap nie ..... wil my mos uit die slaap hou tot die oggendure!
Dan is dit tyd vir spansport en hier is hulle besig om taktiek te bespreek vir die krieketwedstryd.
Namiddag is dit weer sessies. In hierdie les doen hulle "Onwrikbare Geloof" en Charmaine speel die trustgames met hulle. Nelmari wys hier haar vertroue in die twee groepleiers.
Laat middag speel hulle weer volleybal. Hier wag Nelmari en Vicky vir die wedstryd om te begin.
Dit is nie die einde van die kamp nie, maar môre wys ek die res. Natuurlik konsentreer ek op Nelmari se foto's maar vir die ander kampers wat hulle self wil sien, gaan loer op die kindergroep se blok (link aan regterkant) vir al julle foto's!