Showing posts with label Kerkkamp. Show all posts
Showing posts with label Kerkkamp. Show all posts

Friday, February 26

Die lang stilte

Die afgelope paar dae was dol waar baie geseend. Dit was tien dae waaraan ons voluit met en vir ons jeug hier in die UAE gewerk het en tyd vir blog was daar nie. 'n Volledige storie oor alles sal op ons kerkblog wees, maar hierdie is vir Nelmari wat een van die kampers was en natuurlik vir julle om te sien :-). Verlede naweek het ons met 'n klomp SA kinders by 'n terrein in Sharjah gekamp en ons tema was Voluit vir Christus - Olimpiese spele.

DSC_0103

Die kerk het spesiaal vir Elriza laat kom om die "jeug-predikant" op die kamp te wees en sy het verseker haar hande vol gehad met ons baie geesdriftige klomp tieners. Hier word die kamp amptelik met die aansteek van die olimpiese-fakkel gedoen. Saam met die fakkeldraer is Elriza regs (die kortste een) en die vier groepleiers, Nelmari staan net agter haar.

DSC_0105

Die vier groepe het hard gewerk aan baniere en krete vir wanneer die kompetisie begin. Die name van die groepe was die Efesiers, Romeine, Judiers en Hebreers.

DSC_0202

Na 'n eerste nag van amper niks slaap nie en waarin ek hulle verskeie kere moes vra om bietjie sagter te raas lyk hulle maar vaal en moeg tydens die eerste sessie.

DSC_0247

Op 'n stadium deur die oggend het Elriza ook vir die leiers en 'n paar jonger kampers, 'n koordans geleer wat hulle die aand sou doen. Ek het 'n video maar sukkel om dit opgelaai te kry - gaan aanhou probeer julle moet dit sien.

DSC_0407

Nelmari en haar pelle op die kamp wat vir baie min slaap maar groot geesdrif gedurende die kamp gesorg het.

Page1_1

Die spele het vir groot pret gesorg en die kinders het dit geniet. Nelmari se groep die Romeine het gewen!

DSC_0448

Die lofprysing was met groot geesdrif gedoen, deur die seniors en ...

DSC_0167

die ander kampers.

DSC_0450

En soos ons kinders dan ook baie geesdriftig gesing het, "One way Jesus, you're the only one that I live for ...."

Page2_1

Dit was maar moeilik om na so 'n kamp totsiens vir mekaar te se en die 6 legends het klomp foto's vir "onthou's" geneem.

DSC_0011

Maar die kamp was nie die einde nie, want daarna het ons tussen die emirate gery waar Elriza orals gaan praatjies met ons jongmense hou het. Dit sal ook op ons kerkblog kom. Hier is 'n paar wat die aand in Abu Dhabi nog in die gees van die kamp nie kon ophou worship nie!

Ons is almal lekker moeg maar dit was goed om te sien hoe ons jongmense nader aan Vader wil wees en met Hom 'n spesiale liefdesverhouding wil he. Dankie vir jou aandeel hierin Elriza, hoop jy het 'n veilige vlug en ons sien uit om jou baie binnekort weer saam met ons jongmense te he. Wees gewaarsku hulle beplan al klaar die volgende kamp!

Lekker naweek julle!

Liefde

Sunday, March 22

Ons oorleef die hitte

Wat 'n geseende kamp het ons die afgelope naweek beleef! Selfs die weer het saamgewerk en alhoewel dit gedurende die dag kokend warm was, was dit saans wonderlik. Op die kindergroep blog sal daar vir hulle hierdie hele week foto's en stories wees oor die kamp, so loer gerus in om te kyk na al die blessings van die naweek. 'n Totaal van 86 kinders en 12 volwassenes was op die kamp en glo my elkeen moes sy/haar deel doen. Terwyl die kinders lessies en/of sport gehad het, was daar gedurig iemand wat koelbokse met ys vol drinkgoed gemaak het sodat almal genoeg vloeistof kon inneem. Hier is Greg hard besig om die bokse te vul. Nelmari siek met griep en keelinfeksie wil op niks uitmis, veral nie as dit sport is nie. Geen seuns en dogters word vanjaar op hierdie terrein toegelaat om onder dieselfde dak te slaap nie, dus het die seuns die bykomende avontuur van tente in die woestyn gehad. En hulle is ver van die hoofgebou opgeslaan. En dis werklik woestyn, kyk net hierdie besonderse foto wat James van sy voetspoor oppad tente toe geneem het. Die jongmense het ook baie lekker gekuier in "af-tydjies". Saans was die lofprysing en sang iets om te beleef en die kinders kon nie genoeg kry nie. Die seniors was voordansers en sangers tydens die sang. En het hulle dit nie geniet nie. Waaroor lag jy so Nelmari? Soggens het die twee ou tannies die wonderlikste vriendin gehad wat hulle met tee en beskuit en 'n glimlag in die bed kom bederf het. Duisend dankie vir alles wat jy so in die stilligheid vir ons doen Vicky, jy's 'n baie spesiale vriendin en ons waardeer jou. James het ook saamgekamp en het gehelp by die "sports" gedeelte. Hier staan hy met arms vol chihauhaus. Dit was Charmaine se twee honde-seuns se eerste kamp en ek's seker sy sal nog daarvan vertel. Sien Sabeeha die oubaas het nou twee ander honde ....
Vir meer oor die kamp moet julle hier gaan lees.

Friday, February 29

Ons kamp met ons Afrikaanse jeug - deel 2

Die tweede dag was daar geen wind en sand te sien nie en almal loop rond in "koeler" klere - die somer is hier.
Die meisies in die kosry besig om in te skep. Hulle moes ook kombuisdiens doen en agterna was die terugvoer dat hulle wonderlik posistief en hulpvaardig was.
Die aand se lofprysing was weer iets besonders en al die kinders neem deel aan die bewegings van die lied.Daar word ook "konsert" gehou en die groepe voer items op wat hulle gedurende die dag geoefen het. Dit moet uit van die lesse kom en iets oor die kamp se tema wees. Hier is Nelmari se groep. Sy staan agter met 'n boek en Minri is die "ou" tannie.

Na die vorige aand se laatslaap sou mens dink dat hulle vaak is, maar nee, daar word toe nog eers gekampvuur en daarna marshmellows gebraai. Ai tog soetgoed help nie slaap nie .... Die meisies wil wakker bly want Jessica verjaar die volgende dag en hulle wil graag 12 uur vir haar sing. Ons is bekommerd of ons min slaap, maar toe ons koppie kussing vat weet ons van niks, nie eers die gesingery vir Jessica maak ons wakker nie. Ek's bly die kinders het dit nie geweet nie.Ek moet oud word want vir die eerste keer bring 'n mede-leier ('n baie jonger een moet ek bysê) vir ons koffie in die bed. Ek lê nog op my rug toe Vicky met die 3 bekers ingestap kom. Dit was lekker om jou by ons te hê Vicky en 'n groot bederf!

Die weer lyk nie te goed nie en die tente staan al weer bol in die wind. Net weer 'n bewys van hoe goed Vader na ons gekyk het, om vir ons te midde van al die slegte weer wonderlike sonskynweer te gee sodat ons die kamp en al sy aktiwiteite kan geniet en toe dit oppak tyd is, is die "winter" terug.En hier is die hele groep. Sestig kinders en klomp volwassenes na 'n baie suksesvolle kamp!!!
Terug in Dubai en ons klein motortjies word vol gelaai vir die pad terug Abu Dhabi toe. Ek dink ons kan terugkyk op 'n suksesvolle geseende kamp en uitsien na volgende jaar s'n.

Wednesday, February 27

Ons kamp met ons Afrikaanse jeug - deel 1

Verlede Donderdag is daar met groot opgewondenheid uitgesien na die Kerkkamp en alhoewel mens sou dink dat weer nie sommer 'n rol in hierdie land sou speel nie, was dit 'n koue, sanderige, winderige dag en my moed het sommer in my skoene gesak. Voel so half op my ouderdom het ek defnitief my kwota van slegte weer kampe gehad. Maar niks kon die kinders se geesdrif blus nie. Met almal op die bus kom die oproep deur dat die tente plat gewaai het en ons heelwaarskynlik in die saal sal moet slaap. Ai tog!! In Dubai kry ons slegte verkeer en ek's weereens dankbaar dat ek in Abu Dhabi bly terwyl ek konsentreer om agter die bus te bly want ek ken daai mal paaie glad nie. Toe ons na 'n uur eintlik die pad Hatta toe vat, kan ek effens ontspan. Ons ry op 'n stadium met die woestyn aan weerskante en ek sien die kinders se vrolikheid in die bus en ek besef weer hoe besonders dit is. Hier in 'n vreemde woestyn moslem land en voor my ry 'n bus met 60 van ons Afrikaanse Christenkinders oppad na 'n kerkkamp ... wow dis special.Ons arriveer in die donkerte maar dankie tog die slaapplek het beddens met duvets, lakens en kussings!!!! Die kinders vat nie lank om in te rig. Op die bus is daar gou-gou maats gemaak en met hierdie foto moes ek al geweet het hier kom 'n ding!Ons eet lekker boerewors rolletjies voordat die aandprogram begin en hierdie 7 tieners lyk uitgerus en reg vir die kamp en sy dinge. (Kyk watter beker het Nelmari gebruik James).

Na aandetet is dit tyd vir kenmekaar, ysbreker en speletjies. DIe kinders geniet alles baie en gou-gou is daar niks vreemdheid tussen hulle nie. Die groepleier het omtrent probeer om hierdie 7 gesplit te kry, maar as hy weer sien is hulle saamingedeel

Ons tieners is voorsangers by die lofprysing en wanneer die kamplied geleer word, val hulle in die middel van die groep in en gou-gou word die ander deur hulle geesdrif aangesteek om saam te hop en spring en aksies uit te voer. Toe ons eindelik 01:00 bed toe, toe hop en spring hulle nog steeds en eers hier na 03:00 word hulle stil. Met 'n waarskuwing of twee van die "ou" tannies dat hulle beter môre die heeldag moet wakker bly.

Vrydag was volgeprop met lesings en aktiwiteite. Ons kamptema was Go Daniel en die kinders het ses onderwerpe gehad. Die sessies was maar 30 min lank waarna hulle 'n 15 min kleingroepie bespreking gehad het.

Selfs die wag in die kosry was pret as mens so na Nelmari se gesig kyk.

Almal verkeer nou vreetsaam met hulle kos en nagereg

Na die vorige paar dae se koue, wind en sand is die sonskyn lekker en die meisies vat 'n ruskansie, maar ek pla hulle met die kamera dat hulle nie kan slaap nie ..... wil my mos uit die slaap hou tot die oggendure!

Dan is dit tyd vir spansport en hier is hulle besig om taktiek te bespreek vir die krieketwedstryd.

Namiddag is dit weer sessies. In hierdie les doen hulle "Onwrikbare Geloof" en Charmaine speel die trustgames met hulle. Nelmari wys hier haar vertroue in die twee groepleiers.

Laat middag speel hulle weer volleybal. Hier wag Nelmari en Vicky vir die wedstryd om te begin.

Dit is nie die einde van die kamp nie, maar môre wys ek die res. Natuurlik konsentreer ek op Nelmari se foto's maar vir die ander kampers wat hulle self wil sien, gaan loer op die kindergroep se blok (link aan regterkant) vir al julle foto's!