Monday, August 6

Nie AISA leeus nie REGTE LEEUS!!!

Hoeveel keer moes julle (ek dink ek praat hier meer met die junior-senior burgers) hoor dat mense van die buiteland sê of vra "loop die leeus in julle strate rond daar in SA"? Dan het ons altyd maar net geglimlag en gesê nee hulle's in die wildtuin, julle moet maar self kom kyk. Interessant hier vra hulle anders. "Where you from?" "South Africa" "Oh South Africa ... but your white". So ten minste weet hulle die leeus loop nie in Johannesburg se strate rond nie .... maar nou weet ek hoekom.
Die leeus bly in villas in Abu Dhabi!!!! Ja julle het reg gehoor. En die beste van alles is, hulle kom al die pad van Suid-Afrika se strate of meer korrek vanaf Bloemfontein. James dis miskien die fout met die Cheethas, hulle is eintlik Leeus?

In die winkel loop ek vir Ronel ook 'n SAfrikaner raak. Sy bly al amper so lank as ons hier in Abu Dhabi. Eers by die plaaslike veearts gewerk en later by een van die Sheikhs se jagluiperd teelprogram betrokke geraak. Sy was ook 'n paar keer al "ma" vir my katte as ons op vakansie is. Sy kan nie gesels nie sê sy want sy het baba leeutjies in die motor. Dink jou in ons reaksie ... ag moedertjie kan ons hulle sien?

Gelukkig bly Ronel net twee villas van ons af en kon ons gou gaan loer. Die tweetjies was 'n geskenk vanaf SA (Bloemfontein) aan die Sheikh en nou moet sy hulle oppas totdat hulle op hulle eie kan wees op die plaas. Hulle is BESIG en WOELIGE goetertjies. Met die inkom mag ons nie foto's neem nie want die flash kan hulle skrikmaak. Hulle is regte leeus wat jou eers ernstig beloer en dan van agteraf probeer benader. Sy sê hulle eet en kou alles op. Hulle bly by haar in die kamer en slaap in 'n kampbedjie en sy kry geen slaap nie. Hulle het haar zebravel flenters gekou - was seker 'n teleurstelling toe hulle uitvind daars g'n vleis nie. Nelmari nader hulle baie versigtig.

Na 'n hele paar minute het hulle ons half in die kamer aanvaar en is 'n paar met redelike knypbyte beloon. (Dit word met trots aan almal wat wil sien gewys) Die leeus het onmiddelik vir William uitgekies as hul gunsteling. Tydens hierdie foto het die wyfietjie op sy skoot kom sit en wat julle nie sien nie, is die mannetjie wat aan sy voet krap dat hy ook opgetel kan word.

Daar's hy die mannetjie word opgetel en vasgehou. Hy's heeltemal gemaklik in Will se arms. Hulle is sooo pragtig en mens kan maklik vergeet hierdie katjies kan nie sonder handskoene aangepak word nie. James sal dit nie 'n lekker mascot vir AISA wees nie - al die spanne sal weghardloop! Ronel het ons ook uitgenooi om later die maand die plaas te kom besoek voordat dit vir die publiek oopmaak!!! Lekker want verlede week is daar ook klein rooikatjies gebore.


Vir nog fototjies van die leeus kyk in my Photo Album regs net onder die temperatuur meter, in die Leeus folder! As hulle te klein is, dubbel click om dit groot oop te maak.

More gaan William by die "Teelsentrum" werk en hopelik baie foto's van die ander baba wild neem, ek vertel later in die week daarvan.






3 comments:

Desia said...

Hi
Weet nie hoe het ek op jou blog gekom het nie, maar dis baie interessant om te lees en sien van julle lewe daar.
Dit klink heel lekker om daar in die land van sand te woon, ons het dit ook al oorweeg, maar eers oor so drie jaar as ons jongste klaar is met skool. Al is dit net vir die hitte!
Woon nou in die land van sneeu (hoewel darem nou somer vir so 'n rukkie)
Mooi bly!

Anonymous said...

Lyk my william is heeltyd besig met 'katte'kwaad. Hoe gaan ek hom hier uit die moeilik uit hou in bloem?

Sandra said...

As Bloem jou "kan" hanteer, dan sal hulle vir Will kan hanteer. Maar jy's reg seun, hy's altyd besig met kattekwaad en hoe "kwaaier" die kat hoe beter
:-). Jy moet sien wat hy vandag gedoen het. Wys later in die week. Lief vir jou.