Monday, July 23

Toer deur Abu Dhabi - 1

Nuwe kuiermense in Abu Dhabi is maar skaars soos vark in hierdie dorp. Wanneer die geleentheid hom dus voordoen is dit lekker om weer deur die dorp se strate te ry en ander 'n bietjie die plek te wys. Amelia wat in Dubai en nou 'n entjie uit die dorp bly, het Abu Dhabi glad nog nie getoer nie, dus het ek en Charmaine haar Saterdag 'n bietjie gaan rondwys. Amelia is by ons Vrouegroep en ry elke Sondag klompe kilometers om dit by te woon. Ons kon nie alles wys nie, maar die ses uur wat ons wel op die pad was, het ons klompe dinge gesien en baie foto's geneem. Ek deel dit graag met julle oor die volgende paar dae, dat die wat nog nie ons mooi dorp gesien het nie, dit kan sien.

Die eerste stop is oppad na die skeepswerf toe. Ons stop en neem foto's van die aanbouings by die Diwan se paleis. Die eerste opmerkings van "hoe warm dit is" en "miskien moet ons nie uit die motor klim nie" word gemaak en ons het nog nie eers begin nie.
Nog nie seker wat daar gebou word nie, maar die dorp ontwikkel heeltemal onder ons uit self die see word toegebou.
Die skeepswerf waar hulle die Dhows bou. Ek het reeds van die werf vertel en as julle nog nie gelees het nie, klik op die label "skeepswerf".


Dis egter die eerste keer dat ek die hotelteken opmerk. Vir julle wat Abu Dhabi ken met sy "grand" hotelle, miskien is dit 'n budget-hotel.

Oppad vanaf die skeepswerf ry ons af in 32ste Straat wat reg doodloop in die Palace Hotel se ingang. Ons sal netnou daar 'n draai gaan maak ....
Dis 'n indrukwekkende ingang ne? Die dag as ons daar inry het ons "arrive in Abu Dhabi" want dis slegs 'n ingang vir die Royals en BBG (Baie Belangrike Gaste) en dit word slegs oopgemaak as hulle kom. Ook die pad. Sien die geel heining in die straat, dis word slegs vir BBG's oopgemaak. Ons sal netnou by die "agter-hek" ingaan.


Ons ry by die breakwater af. Hier is een van die tradisionele restaurante langs daai straat. Daai krabbelpatrone op die toring sê : Breakwater Local Caffe


Geen verskoning van hitte word aanvaar nie. Almal moet uit dat ons die Heritage Village te voet kan besoek. Lyk amper of Charmaine eers staan en die temperatuur meet. Ek kan vir haar sê dis slegs 'n koel 43 vandag.

Amelia wys die oulike fontein uit, terwyl Charmaine opgewonde raak oor die nuwe stalletjies. Sy was duidelik lank laas met kuiermense daar.
Ons moet hoede vir die son kry besluit sy. Teen Dhs10 stuk is dit 'n bargain ongelukkig moet ons die kleur van die linte vat soos dit kom. So geen kommentaar daaroor nie ok.

Amelia tel ook 'n Dhs5 winskopie op. 'n Tradisionele kierie wat sy al lankal wou gekoop het. Snaaks hoe mens elke impulsiewe aankope kan regverdig.


Duidelik het Amelia besluit wie in die groep die "tug" nodig het en wie kan haar nie gedra nie. En kyk mooi .... dis nie ek nie.

Hierdie storie vervolg more ... kom loer of ek hierdie twee onbeheerbare dames op die toer kan beheer

1 comment:

Anonymous said...

Nee maatjie, mens sê nie sulke dinge van jou vriende nie en as jy nie die kamera vasgehou het nie was dit 'n ander storie.... En ek dink dit was warmer as 43 grade. Ons het dan amper gesmelt!!

Jou foto's lyk so mooi en dis lekker om op jou werf te kuier.