Showing posts with label skeepswerf. Show all posts
Showing posts with label skeepswerf. Show all posts

Sunday, September 16

'n Deel van die eiland uit die lug

Ek het nie vandag lang stories nie. Julle weet seker dat Abu Dhabi 'n eiland is met water regrondom en dat mens slegs op die eiland kan kom met twee brue. Kyk 'n bietjie die foto's wat van die Westelike kant (jinne ek hoop dis reg, my kompaswerk was nooit goed nie) van die eiland geneem is.

Die foto's is geneem vanaf die 13 de vloer van 'n nuwe kantoorgebou, die Sheikha Fatima Bin Mubarak gebou aan die Bateen kant van die eiland. Ver op die agtergrond kan julle die "oop" see sien wat lyk soos 'n dam.


Die baaitjie van die anderkant af. Daar by die groen grasperke is die paleis van die Diwan van Abu Dhabi.

Anderkant toe is onder andere die oop see en die dhow skeepswerf. Ek het julle al van die plek vertel. Vir die wat nie gelees het nie, kliek op die label link onder en sien wat gebeur by die skeepswerf.

Dis 'n baie mooi veilige baaitjie en mens kan amper dink dis nie see nie.

Soos dit maar by die huis ook gaan, het Abu Dhabi soos elke land ter wêreld sy dinge wat verkeerd is en is die lewe nie so beskermend hier soos wat mense dink of daar voorgehou word nie, MAAR totdat ons terug gaan huistoe, is ons geseend om in so 'n mooi dorp te bly.

Monday, July 23

Toer deur Abu Dhabi - 1

Nuwe kuiermense in Abu Dhabi is maar skaars soos vark in hierdie dorp. Wanneer die geleentheid hom dus voordoen is dit lekker om weer deur die dorp se strate te ry en ander 'n bietjie die plek te wys. Amelia wat in Dubai en nou 'n entjie uit die dorp bly, het Abu Dhabi glad nog nie getoer nie, dus het ek en Charmaine haar Saterdag 'n bietjie gaan rondwys. Amelia is by ons Vrouegroep en ry elke Sondag klompe kilometers om dit by te woon. Ons kon nie alles wys nie, maar die ses uur wat ons wel op die pad was, het ons klompe dinge gesien en baie foto's geneem. Ek deel dit graag met julle oor die volgende paar dae, dat die wat nog nie ons mooi dorp gesien het nie, dit kan sien.

Die eerste stop is oppad na die skeepswerf toe. Ons stop en neem foto's van die aanbouings by die Diwan se paleis. Die eerste opmerkings van "hoe warm dit is" en "miskien moet ons nie uit die motor klim nie" word gemaak en ons het nog nie eers begin nie.
Nog nie seker wat daar gebou word nie, maar die dorp ontwikkel heeltemal onder ons uit self die see word toegebou.
Die skeepswerf waar hulle die Dhows bou. Ek het reeds van die werf vertel en as julle nog nie gelees het nie, klik op die label "skeepswerf".


Dis egter die eerste keer dat ek die hotelteken opmerk. Vir julle wat Abu Dhabi ken met sy "grand" hotelle, miskien is dit 'n budget-hotel.

Oppad vanaf die skeepswerf ry ons af in 32ste Straat wat reg doodloop in die Palace Hotel se ingang. Ons sal netnou daar 'n draai gaan maak ....
Dis 'n indrukwekkende ingang ne? Die dag as ons daar inry het ons "arrive in Abu Dhabi" want dis slegs 'n ingang vir die Royals en BBG (Baie Belangrike Gaste) en dit word slegs oopgemaak as hulle kom. Ook die pad. Sien die geel heining in die straat, dis word slegs vir BBG's oopgemaak. Ons sal netnou by die "agter-hek" ingaan.


Ons ry by die breakwater af. Hier is een van die tradisionele restaurante langs daai straat. Daai krabbelpatrone op die toring sê : Breakwater Local Caffe


Geen verskoning van hitte word aanvaar nie. Almal moet uit dat ons die Heritage Village te voet kan besoek. Lyk amper of Charmaine eers staan en die temperatuur meet. Ek kan vir haar sê dis slegs 'n koel 43 vandag.

Amelia wys die oulike fontein uit, terwyl Charmaine opgewonde raak oor die nuwe stalletjies. Sy was duidelik lank laas met kuiermense daar.
Ons moet hoede vir die son kry besluit sy. Teen Dhs10 stuk is dit 'n bargain ongelukkig moet ons die kleur van die linte vat soos dit kom. So geen kommentaar daaroor nie ok.

Amelia tel ook 'n Dhs5 winskopie op. 'n Tradisionele kierie wat sy al lankal wou gekoop het. Snaaks hoe mens elke impulsiewe aankope kan regverdig.


Duidelik het Amelia besluit wie in die groep die "tug" nodig het en wie kan haar nie gedra nie. En kyk mooi .... dis nie ek nie.

Hierdie storie vervolg more ... kom loer of ek hierdie twee onbeheerbare dames op die toer kan beheer

Saturday, June 2

Die DHOW storie voor die storie

Ek was nog nooit iemand vir min woorde nie ... so om vir julle van die Dhow resies die naweek te vertel het ek 'n hele storie voor die tyd nodig .... vir so 'n bietjie agtergrond. Kom ek wys julle hoe lyk die Dhow skeepswerf in Abu Dhabi.

Die pad na die werf loop oor 'n "see-vinger" waar ou, en klein bootjies rustig vasgemeer lê. Doer op die agtergrond is die Diwan paleis. Daar word tans aangebouing gedoen. Omtrent die grootte van twee woonstelblokke aan elke vleuel.


Goed dit was 'n bietjie afdwaal. Om terug te kom na die dhows (houtbote) toe. Hier lê twee van die "sport modelle" nog op hulle trailertjie. Wonder of hulle deelgeneem het aan die resies wat ek more van gaan vertel.
William is natuurlik tans skool-loos en werk-loos en dit maak my kar-loos. So om foto's te gaan neem het ek 'n drywer. Hier staan hy voor die dhow skeepswerf.
ALLES op hierdie boot word van hout gemaak. Die palmbome in die dorp is nie eintlik geskik vir bootbou nie so die hout word ingevoer. Voor is klaargesnyde hout en op die agtergrond links sal julle selfs ingevoerde boomstompe sien.
Hier word die houtplanke opgesny en geskaaf vir gebruik om die boot te bou.
Kyk net die hoop saagsels. Hier is baie slaapplek vir hamsters.




Die manne onder die afdak besig om met 'n nuwe boot te begin. Kyk aan die linkerkant is die geraamte van nog 'n nuwe een.
Hierdie een het al bietjie verder gevorder.

Alles word ook met die hand gedoen. Die eienaars kom gereeld met hulle groot 4x4's die skeepswerf binnegery om te kyk hoe die boot vorder. Vir sommige is die boot ook deel van sy rykdom.

As hierdie boot eendag groot is, gaan dit 'n resiesboot wees. Mens kan dit aan sy vorm sien. Langs hom is een wat pas klaargemaak is en reeds 'n nr. 45 op het.

Hierdie boot gaan defnitief nie resies jaag nie, soos julle sal sien aan sy bou.
Klaar en onder die "afdak" wag vir eienaar se goedkeuring.



More vertel ek julle van die jaarlikse resies met die bote wat verlede naweek gehou is en waarvan die wentjek Dhs6 miljoen was. (Kan julle sien hoekom dit as deel van hulle rykdom getel word?)