Sunday, July 15

Inskrywing Nr. 200 - "SMILE" EERS 'N SLAG

Vandag 'n storie vir ons vrouens. Ek weet dit is nie NOU van toepassing vir die ouens by die huis en in ander koue lande nie, maar hier in die warm plek wel - en weet jy wat dit word ook somer daar by julle een of ander tyd.


Ek het hierdie storie in 2002 van iemand ontvang en met die skoonmaak van my posbus weer daarop afgekom - en al is dit vyf jaar later is dit nog steeds van toepassing. Geniet!!


GESOEK: 'N SWEMBROEK - deur Jeanette



Ek het pas die jaarlikse marteltog wat jou tot in die afgrond verneder, agter die rug. Ons praat hier van Swembroek Koop. Toe ek 'n kind was, was baaibroeke vir grootmens-tannies spesiaal ontwerp vir vroue met 'n volwasse lyf. Met al die baleine, ondersteuning en versterking was dit eintlik meer ingenieurswonders as kledingstukke. Hulle moes als bymekaar hou en oplig, en dit het gewérk. Vandag se swembroeke van rek-lap is eintlik bedoel vir meisiekinders wat nog nie hul puberteit bereik het nie, en wie se lyfies lyk of dit fyntjies uit marmer gebeitel is. Vroue met volwasse lywe het nie juis 'n keuse nie. Hulle moet by die kraamklere-afdeling gaan toustaan en geblomde affêres met rompe aanpas sodat hul kan lyk soos die seekoeie in Walt Disney se "Fantasia". So nie moet hulle maar by die rakke met gewone swembroeke rondsnuffel en kyk watter van die stukkies rubberrek in glimkleure hulle die minste slegpas. Wat kon ek doen? Ek het maar rondgesnuffel. Ek het een uitgekies en in die martelhokkie, ook bekend as die aanpaskamer, verdwyn. Wat my eerste oor die baai-broek opgeval het, was die ongelooflike treksterkte van die rekmateriaal. Ek dink die Lycra wat in swemklere gebruik word, is deur NASA ontwikkel om klein vuurpyle met ketties te lanseer. Die bonus is dat as jy jou lyf in 'n Lycra-baaibroek kan inwurm, dit sommer ook jou organe teen 'n haai-aanval beskerm: enige haai wat dom genoeg is om aan jou middellyf te probeer hap se kakebeen sal deur die terugspringaksie afgeruk word. Ek het my in die eerste swembroek ingewurg, maar toe ek die laaste klein skouerband oorhaak, skrik ek my boeglam. My boesems was skoonveld! Ek kry toe eindelik die een, onder my linkerarmholte. Na 'n rukkie toe kom ek ook op die ander een af: platgedruk teen my sewende ribbebeen. Dis oor vandag se swembroeke nie 'n ingeboude bra het nie. Die volwasse vrou is veronderstel om haar borste oor haar borskas uit te sprei tot dit soos 'n spoedwal lyk. Ek het my spoedwal gerangskik en weer in die spieël gekyk. Die swembroek het gepas. Maar ongelukkig het dit net dié dele van my gepas wat bereid was om binne te bly. Die res van my oral uitgepeul. Ek het gelyk soos 'n stuk klei wat in 'n te klein vel kleefplastiek toegedraai is. Toe ek nog so staan en wonder waar al my ekstra dele dan vandaan kom, het die verkoopvrou om die gordyn kom loer: "O, daar's julle almal." "Ja, dis almal ek," het ek geantwoord terwyl ek my ekstra dele so bekyk. "Het julle nog iets wat ek kan aanpas?" Ek het so 'n roomkleurige een van gekreukelde materiaal aangepas. Dit het my soos ontwerpers-kleefband laat lyk. 'n Geblomde tweestuk het my soos 'n oorgroot servet in 'n servetring laat lyk. In die luiperdpatroon-eenstuk met die valletjiesrand het ek gelyk soos Tarzan wat met die verkeerde voet uit die bed geklim het. Die deftige swart baaibroek met die middellyf van netmateriaal het my laat lyk soos 'n jellievis wat rou. En die pienke? Sy bene was so hooggesny dat ek my wenkbroue met was sou moes verwyder as ek dit wou dra! Uiteindelik het ek een gekry wat pas. 'n Tweestuk met 'n kortbroek-styl onderste en 'n halternektop. Dit wasgoedkoop, gemaklik en het mooi gemaak met my knoppe en bulte. Ek het dit gekoop. By die huis het ek die etiket gelees: "Materiaal kan deurskynend raak in water." Maar dra gaan ek dit dra. Ek moet net eersleer hoe om op droë grond borsslag te swem.

No comments: