Showing posts with label Cornish. Show all posts
Showing posts with label Cornish. Show all posts

Sunday, October 11

Wat gaan in die mense se koppe aan?

Vanoggend voel ek hartlik siek vir al die stof, vuil , nie-in-standhou en gemors en voel ek het bietjie skoon en see nodig .... en daar's ek in vir 'n groot verrassing en skok!!

17197937

So 'n jaar terug (Julie 2008) het ons baie opgewonde vertel van die nuwe Abu Dhabi strand wat oopgemaak word. Nadat die nuwe strate by die Cornish gebou is, is daar sand herwin en die mooiste strande met wandelpaadjies, grasperke, afdakkies ens. ens. gebou. Ek het self hier vertel hoe ons die plek in die aand gaan beloer het.

DSC_0045

En dis wat ek vanoggend van die nuwe strand kry. Niks, absoluut niks behalwe 'n gebou en stootskrapers.

DSC_0046

Dit laat my dink aan lego bou of selfs farmtown vir die van julle wat ywerige boere is. Mens bou, hou dit so 'n tydjie en dan delete jy alles en bou net weer 'n nuwe een. Miskien het hulle gedink noudat die winter met sy 30+ temperatuur amper hier is, is dit 'n goeie tyd om aan die strand te werk. Van ons dink juis dis dan 'n goeie tyd vir swem.

DSC_0048

Miskien wil hulle net die "strand-bouers" besig hou en is dit werkskepping, miskien is dit elke keer as daar 'n nuwe baas wat iets anders wil sien of miskien is dit net stupid wees - want hoe kan mens soveel geld in 'n projek sit om dit in minder as 'n jaar net plat te stoot vir 'n nuwe, beter projek. O wag, miskien wil hulle net nie he ons moet swem nie en sal daar altyd aan die strand gewerk word.

DSC_0059

Die ander strandjie wat ons ook al baie by gaan sit het, is net hier aan die agterkant van die ou bootjie wat voor die Emirates Palace hotel geanker is en daar word ook nou aan gewerk - kyk net die hoeveelheid hyskrane. Ontwikkeling is goed, maar hierdie voel vir my net 'n bietjie teveel.

Gelukkig is die dele aan die anderkant van die Cornish waarvan ek ook al vertel het nog dieselfde. Kyk bietjie hier en hier - ek wonder hoe lank gaan dit nog wees ....

Miskien is dit nou tyd vir my om huistoe te gaan.

Geniet julle laaste dag van die naweek!

Monday, August 17

Nie so lank terug nie

Elke liewe dag wat ek in die dorp ry is daar iewers nuwe geboue wat opskiet waar ek nie eers geweet het hulle bou nie en Abu Dhabi ontwikkel met die spoed van wit waks. Net gister staan ek op die boonste vloer waar ons hare laat sny en sien hoe "nuwe" ou geboue platgeslaan word sodat groter geboue gebou kan word. Om die waarheid te se mens kan amper nie meer onthou wat daar was nie. Wys net dat mens so gewoond raak aan alles en later net nie meer die mooi geboue, tuine en goed sien nie. In die afgelope jare van blog het ek al baie van die mooi winkelsentrums en geboue en goed van die dorp vertel en selfs 'n bietjie van die ou Abu Dhabi. Vandag is ek regtig spyt dat ons nie meer van die dorp en geboue afgeneem het toe ons gekom het nie want alles het verander.


18


Die van julle wat nie weet nie, Abu Dhabi is mos 'n eiland en hoofstad van die UAE. Almal weet waar "Dubai" is (of hoe skryf almal nou weer in SA, Doebai :-) - dog ons het geleer op skool plekname verander nie) maar min mense weet van Abu Dhabi. Ons self moes op die internet kyk voordat ons baie jare terug hierheen gekom het. Nie eers 40 jaar terug nie was dit die Cornish van die dorp.


1



Ek lees in 'n baie interessant boek wat deur 'n ou wat hier grootgeword is geskryf is, dat dieselfde landjie wat ons land so aangeval het en mense in konsentrasiekampe geplaas het, het ook hier kom oorneem destyds nadat olie ontdek is. Hulle het die geld "beheer" en vir baie jare het Abu Dhabi sonder die nodige mediese fasiliteite, onderwys, elektrisiteit ens. moes klaarkom totdat die toe heerser besluit het om beheer oor hulle eie land te neem. Saam met dit het die ontwikeling begin. Die Cornish in die jare daarna.




2


Die heerser van die land het toe vir elke plaaslike inwoner van die land, 2 plotte grond verniet gegee. Een in die dorp in een verder uit die dorp wat vandag die industriele gebied is. Hierdie is 'n storie op sy eie wat ek later sal vertel. Daar is toe besluit om die Cornish projek aan te pak en 'n nuwe een te bou.


20


Soos altyd wanneer hulle 'n nuwe pad bou, word die omgewing met fonteine, parke, ens. saam met die projek gedoen. Hierdie is nog in die begin maar kan mens reeds sien waar die bekende volcano fontein en ander bekende bakens sou wees.




3


Maar steeds was dit nie goed genoeg nie en in 1998 word nog 'n nuwe Cornish gebou en van hierdie een is ons deel van die bouery en onthou mens baie. Julle ouens wat al lank hier is sal dit seker onthou - Kathy julle het mos net 'n kort tydjie na ons hier aangekom, het julle nie 'n foto van daai ronde pizza plek wat op die Cornish gesit het nie? Of die ou Co-op?


9



Saam met die nuwe paaie het ook 'n nuwe strand en baie bome gekom. Daai groen strook bome bo regs in die foto, is waar die pad/brug nou oorloop na die Marina Mall wat toe nog nie eers begin is nie. Die strand na daardie strook is waar die bekende Emirates paleis nou gebou is.


13



Op hierdie strook sand het die kinders vroeer jare baie vlieers gevlieg en gespeel. Kyk net hoe klein is Nelmari en William nog hier. James staan ver regs in die prentjie ook besig om te speel.


4




En om van die Cornish te vertel, moet mens die aaklige versierings oor die paaie in Desember ook noem. Wie van julle onthou dit? Hierdie was een van die beter enes, party was regtig verskriklik oordoen en lelik. Dit was om National Day te vier.


. 12


Dit was die foto van Abu Dhabi wat almal kom neem het en die dorp en Cornish wat ons leer ken het. Daai bal op die hotel en die een op Etisalat was ons baken en as mens verdwaal het, kon jy net die bal soek en weet waar jy min of meer is.


5


Die dorp het "gesettle" en die paaie het gebly waar hulle is. Ons het selfs 'n teetuin gekry langs die see waaroor ons dames baie opgewonde was. Links op die foto met die groen sonkappies op die vensters. Ek het ook al vertel hoe Charmaine met 'n kuier daar langs die water gestaan het en van haar foto's in die water geval het.




17


Die Cornish was nou mooi groen met baie bome vir skadu en plekke om te loop. Nelmari 'n bietjie ouer saam met Jessica besig om deel te neem aan 'n Terry Fox wedloop op die Cornish


19



Soos ek gese het daar was lekker plekke en mens kon so al langs die see loop. Hier kon ons ook 'n boot kry om oor te vaar na Lulu eiland vir 'n lekker braai of swem - daar was nog niks op Lulu eiland nie en mens kon sommer oorgaan. Links is daar sulke glaskoepel goed waar jy kon wag vir die boot.

8


Maar iemand het weer 'n jeuk gekry en die Cornish moes weer verander word - so saam met die bou van Marina Mall. Hierdie foto is op presies dieselfde plek as die boonste een geneem, maar hier kan julle sien ons sal nou bietjie langer vir 'n boot moet wag want weer is 'n groot deel van die see droog gele.


10


Van die nuwe Cornish het ek vertel en foto's gewys en nou is dit een groot snelweg met 6 lane beide kante toe maar steeds lekker plekkies om te loop, mooi parke en tuine en selfs 'n nuwe strand. Nelmari nou heelwat groter stap langs die Cornish. Ek dink nie daar is meer baie water oor om nog 'n Cornish te bou nie, so miskien eindig die storie nou hier.

Tuesday, June 19

Aand humiditeit

William en Arina het so 'n paar aande terug by die Cornish gaan stap en die volgende foto's geneem, wat ek met julle wil deel. Om foto's hierdie tyd van die jaar buite te neem is nogal 'n groot ding want die humiditeit is baie hoog, meer as 90% en alles stoom en wasem toe, so ook die kameralens.
Vroegaand ....die liggies is al almal aan. Die foto's is van 'n uitkyktoring in die parkie geneem. Die blou/grys gebou is die Bayniah towers en was vir lank die hoogste gebou in Abu Dhabi.
Na die anderkant toe. Die nie te hoe groen woonstel gebou is waar ons gunsteling supermark Abela's is. Hier kan mens darem in 'n klein vertrekkie varkspek en ribbetjies van die huis af koop. Weens die hitte nie te baie mense wat piekniek hou nie.

Dis nou donker en julle kan sien wat die humiditeit met die kamera maak.

Arina staan en uitkyk vanaf die toring. Die gebou met die liggies is een van die nuwes langs die Cornish en in die vorm van 'n "brander" gebou.
Dieselfde foto as die eerste een .... net met minder daglig en meer hitte.










Sunday, April 8

Red Bull Lugvertoning - Deel 2

Soos ek gister geskryf het, was daar duisende mense by die lugskou en die amptelike getal word vandag tussen 250 000 en 300 000 gereken. Dis KLOMP mense!!! Dit was die derde keer dat hierdie lugvertoning in Abu Dhabi gehou is, en die weer en alles het mooi saamgespeel. Hier sien ons 'n vliegtuig deur een van die seil torings wat deel van die baan uitmaak, op sy sy deurvlieg.

Die uitdunne het reeds Donderdag begin. Oorspronlik sou daar 14 vliegtuie en hulle vlieeniers deelneem en hulle is uitgedun na 8 wat aan die finaal deelgeneem het. Onder die 14 was daar ook 'n Suid-Afrikaner (Glen Dell) maar hy het dit nie na die finaal gemaak nie. (Hoop so na gisteraand se fiasko,ons krieketspan die finaal gaan maak.)

Die lande wat verteenwoordig word in hierdie wêreldkampioenskap is oa. Amerika, Hungarye, Duitsland, Nederland, Engeland, Rusland, Frankryk en Spanje. Kyk hoe mooi lyk die see en op die agtergrond van Abu Dhabi se mooi geboue.

Hier het ons op die agtergrond die kultuur "teater" wat net langs die Heritage Village gelee is.
'n Deel van die skare op die strand hou van die toertjies dop.

Hier voltooi een van die vlieers sy "roete". (Die swart, wit en geel seiltoring is die begin en/of eindpunt.)

Nog 'n vliegtuig eindig sy toertjies
Een van die ander vlieeniers maak gereed om sy roete te begin met die Emirates Paleis Hotel op die agtergrond.

Ek moet julle 'n bietjie wys hoe dit binne daardie hotel lyk...

Saturday, April 7

Red Bull Lugvertoning - Deel 1

Gister was weer tyd vir die jaarlikse Red Bull Lugvertoning op die Abu Dhabi Cornish. Vroeg al het almal begin plek soek vir die vertoning want g'n mens kan beweeg of plek kry as dit begin nie. Hier kom William en Nelmari op die strand aangestap.
Die mense het behoorlik uitgespan en klein tentjies, tafels en stoele vir piekniek was orals opgeslaan ... reg vir die vertoning
Die helikopter vlieg die roete om vir die mense te wys. Kyk hoe mooi kleur is ons see vandag met die mall op die agtergrond (Marie neem kennis!). Mens moes of lank voor die vertoning by die mall wees anders kon jy glad nie daar kom nie.
Hier is van die skare langs die see. Daar was ook 'n groot TV skerm om die vertonings van naby te volg.
Nelmari is nie so geinteresseer nie en lees terwyl sy vir die vertoning wag. William hou die wêreld deur sy sonbril dop.
Nog 'n deel van die skare. Op agtergrond van Abu Dhabi se hoe geboue.Dis amper somer en die hitte begin optel. Sonder lugversorging op die strand is dit al manier wat mens kan afkoel

Later in die dag stuur ek foto's van die vliegtuie in aksie vir die van julle wat daarvan hou om na kunsvlieg te kyk.