Showing posts with label Nasionale Dag. Show all posts
Showing posts with label Nasionale Dag. Show all posts

Sunday, December 11

Alles kom in rooi, groen, wit en swart

Ons ry gisternaand na die Emirates Palace toe vir 'n Kersfees simfonie konsert en ek sien die liggies is nog almal op en die dorp lyk heel feestelik. Daar is 'n paar wat ek nog nie gesien het nie wat ek beslis moet gaan afneem.


Page1


Met al die feesvieringe van die land se verjaarsdag amptelik verby verlede week, lyk dit asof die mense dit nog so 'n klein bietjie wil vier en orals in die dorp is villas met vlae versier. Hier aan ons kant van die woestyn het party villas masiewe vlae.


Page3


Minder versierde motors in die strate, maar vir party is "versier"nie 'n woord nie, ek kan nie glo hoe die motors opgemaak is nie, blomme, ruikers, prentjies en enigiets wat moontlik kan.


Page4


Anders as by die huis is die winkelsentrums nie vir Kersfees versier nie, maar in nasionale kleure - maar dit gee alles nog steeds 'n feestelike gevoel. Foto onder regs was nog 'n "wereldrekord" aanslag. Die grootste landswapen gemaak van dadels. Ek neem aan die dadels is gekleur.


Page5


Dan natuurlik in die aand word alles "opgelig" as dit donker word en dit lyk so mooi. Het gisteraand die paleis se mure gesien en dit was werklik iets besonders. Selfs 'n motor versier met liggies :-).


Page2


Groot vieringe is op die 2de gehou by die sportsentrum gehou. Ek dink alles wat lankgenoeg stilgestaan het, is in vlagkleure geverf of verlig.


2867551204


Die kersie op die koek was hierdie foto wat ek in die plaaslike koerant gesien het. Die goudvissies is ook met die vlagkleure geverf. (ek weet nie is dit dieremishandeling nie)


Sterkte met julle week vir baie die laaste voor vakansie, en ander wat met vakansie gaan veilige reis.


Liefde


Friday, December 2

Die woestynland word 40 jaar oud



Elke jaar rondom 2 Desember, blog ek oor die woestynland en sy feesvieringe rondom hulle Nasionale dag. Ek wys die versierde motors, die geboue en liggies! Vanjaar het ek nog nie daarby uitgekom om regtig klomp foto's te neem nie - dis op die bucket lys vir die week.

Hierdie jaar is dit egter 'n spesiale viering want die land is 40 jaar jonk. Dis partykeer moeilik om te glo as mens sien wat hulle alles in die 40 jaar vermag het. En om te dink al die plaaslike mense ouer as 40 en selfs 50 het nog in die regte egte woestyn gebly en kamele gery en dit net nou die dag!



Ek dink hierdie land het met reg rede om groot fees te vier.

Een van my gunsteling plekke om hier af te neem is die groot moskee soos julle wat gereeld hier lees weet, en dit was een van die plekke wat deel van die vieringe is. 'n Laservertoning wat die oorlede Sheikh se visie dmv ligte wys. Hier is 'n paar foto'tjies daarvan.



Page2



Daar is twaalf tonele op die mure van die moskee gegooi wat die storie uitbeeld. Die eerste toneel was sy persoonlike gevoel oor die moskee en dit het gepaardgegaan met die swaai van ligte en klere orals oor die mure.



Page3



Dan was daar 'n toneel wat die verskillende patrone wat in die moskee gebruik is.



Page4



Die grootste kandelaar se patrone is ook gebruik en met 'n ander een die blomme wat groei simboliseer.



Page5



Ander tonele uit die hoofgebed saal is ook gewys en dan die koepels se kleure.



Page6



Palmbome was gewys wat groei verteenwoordig is oa ook gewys.



Page7



Kleure, lig, teeltonele en sterre is gebruik vir van die ander tonele.



2471966236



Hierdie foto was in die koerant en wys die ten volle verligte moskee uit die lug .... werklik iets besonders. Sal na die naweek vir julle van die ander foto's en die-land-gaan-oorboort-stories wys en vertel.



Geniet julle naweek!




Tuesday, December 7

Die UAE verjaar

Die laaste paar weke is dit nogals chaos hier in die dorp met die een feesviering op die ander.

Page6

Eers het ons die Grand Prix gehad en daarna die een na die ander beroemde en bekende kunstenaar wat ek nie ken nie, wat in die dorp optree - dit sal natuurlik aangaan tot na Nuwe Jaar. Maar saam met dit was het die land ook sy 39ste verjaarsdag gevier en vyf dae later hulle Nuwe Jaar. Orals is die winkels opgemaak en by skole is tradisionele danse opgevoer.

Page7

Die arabiere gaan ook dol met motorversier en orals word hulle duur motors en 4x4 opgemaak in die kleure van die vlag. Ek wil nie eers weet hoeveel skade daar aan die verf gedoen word wanneer dit verwyder word nie.

Page1

Die mooiste deel van hierdie tyd van die jaar is die dorp is die liggies. Ek het vorige jare al hieroor geblog, (julle kan op die links kyk), maar vanjaar was daar heelwat nuwes wat aangedui het hoe jonk die land nog eintlik is. Net 39 jaar terug was dit nog 'n woestyndorp met baie sand en kamele.

Page4

Ons het so 'n bietjie in die strate gaan ry om die feesvieringe te voel en dit was feestelike chaos.

Page3

Vir my was die mooiste liggies die nuwes op die sirkels wat oa perde, valke en bote gehad het. Charmaine hulle was so gelukkig dat die sirkels sommer by hulle blyplek was. (Ook maar moeilik om 'n foto om 'n sirkel te neem)

Page5

Die middelmannetjies oppad en op die Cornish verby die Emirates Palace Hotel.

Page2

Hierdie klomp geboue wat so langs mekaar gestaan het, was regtig baie mooi en in die vlag se kleure.

Bietjie laat maar baie geluk UAE. Die ontwikkeling die laaste 39 jaar is iets ongeloofliks en self kon ons die verandering in die laaste 10+ jaar wat ons hier is sien.

Lekker week

Saturday, November 29

Die dorp is besig om wakker te word

Die UAE is besig om hulle vere reg te skud vir 'n groot feesviering en dis nie omdat ek op vakansie gaan nie. Onthou julle nog die Republiekdagvieringe by die skool? Miskien nie almal nie, maar ek onthou die standaard program van begin met die vlaglied, dan skriflesing, O God van Jakob, en die afsluiting met die Volkslied... Op die 2de Desember is dit die UAE se 37ste Nasionale Dag. Kan julle glo die land is net 37 jaar oud? In elk geval het al die skole hierdie week voordat hulle 'n paar vakansiedae het, Nasionale Dag gevier. Die kinders hou ook konsert maar baie anders as wat ons gedoen het. Almal is kleurvol aangetrek in Nasionale kleredrag en vlagkleure en dis liggies en vlae en ballonne en en en. Omdat ons baie van die royals in die skool het, en een van die Sheikhas dit bygewoon het (seuns en dogters se konserte was apart), mag daar geen foto's geneem word nie. Natuurlik kon ek so bietjie skelm voor die tyd neem. Hierdie graad 6 dogtertjies het later 'n liedjie gesing en omdat ek al vir die klompie skool gehou het, het hulle gese ek mag maar afneem en ek weet vir 'n feit hier sit 'n klein royaltjie ook. Die saal was opgemaak met die mooiste ballonne en blomme. Ook voor in die saal was daar swart leersitkamerstelle waarop die "belangrike" gaste gesit het. Ek was sommer op 'n witstoel. Ongelukkig/gelukkig vir my was baie van die BBP kinders naby en alhoewel die foto's onder moeilike omstandighede geneem is wil ek julle net bietjie van die klere wys. Kyk hierdie een se hooftooisel en dis goud en baie swaar. Ek sal 'n lekker hoofpyn kry as ek so iets moet dra. Hierdie BBP op die regterkant se rok was ongelooflik - en dan dink mens hulle dra net swart. Drie van hierdie dogters is bbp's maar ek wil julle net hulle lang hare wys. Die een met die pienk se hare hang langer as haar kniee. Die kinders het gesing, gedans en gedigte opgese en almal neem deel. Bv aan die einde van 'n gedig skree haar pelle van onder ook die laaste woord ... raaiserig mense. Die haredans was iets besonders en baie van die danse sou julle monde laat oophang het, ons dink hierdie mense is preuts, dink maar weer. Na die konsert het die hele skool 'n tradisionele ete, met nageregte en koeke geskenk deur die Sheikha geniet. In die dorp is daar ook woelinge want die liggies word opgesit. Op die sirkels, bome, middelmanne, strate, pale, enigiets wat beweeg word liggies gesit en oor 'n dag of twee gaan Abu Dhabi soos 'n pretpark lyk. Ek belowe om julle die liggies te wys. Loer hier om te sien hoe dit verlede jaar gelyk het.
Ek en Nelmari vlieg vandag SA toe vir 'n paar daggies en sal beslis vertel wat ons alles aanvang.